Igna Klynsmith: Wat sê die prokureur?

Wat sê die prokureurRegsake is seker van die heel onderste items op my lysie van belangstellings. Ek vermoed daar is dalk duisende soos ek wat maar net hoop hul kry nie eendag gespesialiseerde regskennis nodig nie. En wat reken die hof is ‘n plek waarvan gewone mense liewer moet wegbly.
Wat sê die prokureur? word al so lank op RSG aangebied dat baie luisteraars ten spyte van ‘n gebrek aan belangstelling al teen wil en dank ‘n stukkie regskennis hier en daar opgedoen het. Igna Klynsmith se kalm stem het al baie gedoen om die reg vir talle leke so ‘n titseltjie meer toeganklik te maak.
Die boek wat uit die een en twintig jaar se programme saamgestel is, is ‘n aanwins vir al die siele wat eintlik niks van regsake wil weet nie, maar tog diep binne-in vrekbang is mens kry dit dalk êrens nodig en dan duik jy in die hek weens jou onkunde. Hier het jy nou ‘n yslike klomp gespesialiseerde inligting tussen twee vrolike oranje buiteblaaie saamgebind – vir ingeval jy dit eendag moet lees.
Net vir die lekker is daar ‘n interessante afdeling ingevoeg met kort stories oor beroemde/berugte Suid-Afrikaanse gifmoordenaresse, ‘n paar hofsake wat die wêreld verander het (o.a. Jesus se verhoor en dié van Nelson Mandela) en ‘n paar interessante sake uit die tyd toe – ongelooflik soos dit vandag mag klink – diere wel soos mense in die hof gedaag kon word, asook ‘n paar besondere hofsake.
Afdeling B verskaf die pitkos. Vele sake word aangeraak wat wel alte dikwels regskennis van die leek vereis. Kort, saaklike en heel verstaanbare antwoorde word gegee. Ook hier is Igna se stem herkenbaar en hier en daar skyn ‘n sprankie humor in die droë regsomgewing.
Huweliksreg, grondregte en regsaspekte van aftreeoorde en tyddeel word redelik breedvoerig bespreek. Talle relevante vrae word hier beantwoord. Ander sake wat aangeraak word is plantereg, uitsettings, strafreg, vuurwapens, musiekreg, boedels en testamente.
Die keurige uitleg met duidelike opskrifte en onderafdelings werk mee om die boek vir die leek toeganklik te maak.
‘n Welkome toevoeging is die voorbeelde van ‘n lewende testament, ‘n diensooreenkoms vir huiswerkers en ‘n saamwoonooreenkoms wat in die boek ingesluit is. Soveel van ons weet hierdie dokumente is eintlik nodig, maar weet net nie waar om te begin nie.
Wat sê die prokureur? is ‘n baie welkome toevoeging tot RSG se groeiende reeks publikasies en kan ‘n gerusstellende teenwoordigheid op mens se boekrak wees.
Lesers wie se belangstelling deur die boek geprikkel is, kan gerus ook na ‘n paar potgooie uit die program gaan luister by www.rsg.co.za met die sleutelwoord regsake.
Die boek is keurig uitgegee deur Naledi en by alle goeie boekwinkels te kry.

 

 

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s