RSS

Pastoor – Pat Stamatélos

22 Jul

PastoorNa boeke wat mens ruk, soos Annelie Botes se Thula Thula, Dis ek, Anna van Anchien Troskie en Swartskaap van  Odette Schoeman, sien mens amper nie kans vir nog ‘n boek oor molestering nie. Maar die reputasie van Pat Stamatélos as die skrywer van aangrypende boeke met egte karakters laat jou deurdruk.

Pastoor is beslis nie ‘n goedvoelboek nie. Nee, dis ‘n boek wat jou hart uit jou lyf wil ruk. Maar die vreeslikheid word stukkie vir stukkie vir die leser gevoer, sodat hy nie oorweldig word nie en bly voortbeur.

Die verskil van ander boeke is dat die verhaal van molestering hier slegs in die hoofkarakter se gedagtewêreld binne die konteks van haar besoeke aan ‘n baie eksentrieke sielkundige vertel word. Terwyl Kleintjie aan die een kant hulp soek vir haar depressie en aan die ander kant voortdurend sorg dat die gesprek nie by haar eintlike kwessie uitkom nie, voer sy ‘n gesprek met die pastoor wat dit aan haar gedoen het.

            Die skreiende ironie van die situasie word alreeds deur die voorblad gesuggereer – die titel Pastoor, die kerkbank, die broek en gordel vertel eintlik al die hele verhaal. Die liefdevolle herder van die gemeente, die een met die sagte stem, die empatie, die enigste persoon wat ooit vir Kleintjie positiewe insette oor haarself gegee het, die enigste een wat haar ooit liefgehad het, vir haar gesê het sy is spesiaal en mooi, is ook die een wat haar na die dieptes van die ellende geneem en daar alleen gelaat het. Dit is na my mening wat hierdie boek so spesiaal – en ook so vreeslik – maak. Mens is so geneig om die molesteerder as ‘n bose persoon te sien, iemand wat kinders wreed dwing om hulle hul sin te gee en hulle in voortdurende vrees vir hulle vergelding laat leef, sou hulle dit waag om te vertel. Maar hierdie pedofiel is juis die sagte, die goeie een, die herder, die lig in die meisietjie se donker lewe. Hy bind haar aan hom met die sagte bande van liefde, aanvaarding en aanmoediging. Dis juis hierdie bande wat haar vir jare aan hom vashou, selfs nog toe sy lankal verstaan presies wat hy aan haar doen. En dis hierdie bande wat haar wroeging soveel dieper maak, want sy is van vroeg af ten volle bewus van die verkeerdheid van wat hulle doen, maar sy kan haar nie van haar enigste bron van liefde losmaak nie.

            Kleintjie word geteken as ‘n beskadigde vrou, iemand wat haar lewe lank worstel met wat met haar gebeur het en wat ten spyte van ‘n man wat sy bes doen om te verstaan en twee gelukkige dogters, steeds nie haar verlede kan agterlaat nie. Mens herinner jouself dat dit ‘n ware verhaal is en jy hoop en bid maar net dat die ware Kleintjie deur die vertelling van die verhaal wel genesing gevind het. Die gedagte dat ‘n vrou met soveel potensiaal deur hierdie verwronge vorm van ‘liefde’ ontneem is van ‘n gelukkige lewe, wil hierdie leser se hart laat breek.

            Die verhaal is natuurlik des te meer relevant in die lig van onlangse gebeure en dit bring helaas meer vrae as antwoorde. Weeg enkele misstappe op teen die tonne goed wat so ‘n persoon in sy lewe gedoen het? Is dit sinvol om dekades na die tyd steeds vergelding te soek? Sou dit ooit genesing vir die slagoffers bring?

            Soos die verhaal van Philomena Lee in die film Philomena en die boek The lost child of Philomena Lee, laat Pastoor mens ook met nuwe oë na die kerk kyk. Dit is net soveel erger as die ergste wandade uit die koers van diegene kom wat die staf van die herder dra.

            En ja, natuurlik weet hierdie leser nie almal is so nie. Maar een vrot appel is ongelukkig genoeg om onmeetbare skade te doen.

            Daar is wel hinderlikhede in die verhaal, maar dit word oorskadu deur die groter boodskap. Die rol en selfs die egtheid van die eienaardige sielkundige is nie heeltemal duidelik nie. Die oormatige aandag aan haar kleredrag en feetjies bied ‘n skel teenstelling met die verskriklike tema, maar word soms bloot irriterend.

            Uiteindelik is dit egter net belangrik dat die nare boodskap ongelukkig moet uitgedra word: Mens kry vandag nog wolwe in skaapklere en daardie skaappakkie kan ongelukkig ook die toga van ‘n geliefde geestelike wees.

 
3 Kommentaar

Posted by op 22/07/2014 in Boeke, Lees, Skryf, Skrywers, Suid-Afrika

 

Etikette: , , , , , , ,

3 responses to “Pastoor – Pat Stamatélos

  1. Net Ek

    23/07/2014 at 08:03

    Ek het al die boeke wat jy hierbo genoem het al gelees.

    Vir een of ander rede het dit my ‘n week geneem om Pastoor klaar te lees.

     
  2. colourmecrazee

    29/07/2014 at 15:47

    goeie resensie alta. ek het ook hierdie boek gelees. was goed gewees – en dis waar wat jy se – dit word darem net stukkie vir stukkie vir ons gevoer. sy is darem ‘n baie goeie skrywer – ek het al haar boeke gelees.

     
    • Alta Cloete

      06/08/2014 at 19:55

      Dankie!🙂

       

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: