LENTESKOOL VIR SKRYWERS VAN ROMANTIESE FIKSIE
Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit, in samewerking met die liefdesverhaaluitgewers LAPA en NB, bied van Donderdag 4 tot Saterdag 6 September 2014 ’n slypskool in die skryf van liefdesverhale aan. Bekende en bekroonde skrywers van romantiese fiksie, naamlik Bernette Bergenthuin, Elsa Winckler en Sophia Kapp, asook die uitgewers Charlene Hougaard en Hester Carstens, tesame met Franci Greyling van die ATKV-Skryfskool, tree as gespreksleiers op. Liefdesverhaalsoorte soos die romanse en liefdesroman kom onder die loep.
Hierdie driedag-slypskool, aangebied op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit, is ’n praktiese slypskool vir enigiemand wat ’n liefdesverhaal wil skryf. Die inskrywingsgeld daarvoor beloop R2 500 per persoon. Dié bedrag dek ook deelverblyf in selfsorgeenhede by die PUK Astro Villa, middagetes, oggend- en middagpouseverversings en ’n funksie op Vrydagaand 5 September. ’n Beperkte hoeveelheid verblyfplekke is beskikbaar (skakel vir meer besonderhede).
Voornemende kursusgangers moet ’n kortverhaal met ’n romantiese strekking (ongeveer 1 500 woorde) of ’n eerste hoofstuk (nie meer as 3 000 woorde nie) van ’n liefdesverhaal voor die sluitingsdatum vir inskrywing op Vrydag 22 Augustus 2014 aanstuur na Kobie.VanAswegen@nwu.ac.za.
Wil jy die kursus bywoon? Skakel dan dadelik vir Kobie van Aswegen by 018 299 1783, of by bogenoemde e-posadres.
Kom leer onder die leiding van mense wat weet!
Dit moet wonderlik wees om naby genoeg te wees om sulke skryfkurses by tewoon.e kan woon. Ek dink dit het tyd geword dat SA se romanskrywers hul tassies moet pak en vir ons in Namibie ook kom kuier en die kurses aan te bied. Of hoe dink jy Alta? 🙂
Jy moet ‘n bietjie die pers en internet dophou, daar kom dan en wan Afrikaanse skrywers Namibië toe!
Ek sal so maak.