Die verskyning van e-boeke en e-lesers word beskou as die grootste revolusie in die boekewêreld sedert die eerste drukperse in die vyftiende eeu begin funksioneer het. Dis nogal ʼn mondvol, maar ek dink daar is waarheid in.
Oor die voordele van e-boeke kan ʼn mens lank uitwei. Ek dink ʼn mens moet dalk tussen voordele vir die uitgewer/skrywer (verkoper) en voordele vir die leser (koper) onderskei.
Vir die verkoper is die ooglopende voordeel natuurlik dat die uitgawes wat met die druk, bind en verspreiding van papierboeke te make het, met e-boeke uitgeskakel word. ʼn Mens se eerste reaksie is dus dat dit beslis baie goedkoper as papierboeke behoort te wees. Wat ʼn mens maklik vergeet, is dat daar steeds papierboeke gedruk moet word, want baie lesers verkies dit nog en dit is waarop die tradisionele uitgewers gebou is. In ons land is daar natuurlik ook baie potensiële lesers wat nie ʼn e-leser of rekenaar kan bekostig nie. (Nou kan ʼn mens weer wonder of hulle in elk geval ʼn boek kan bekostig, maar dis weer ʼn ander kwessie.) Die groot vrees is natuurlik dat die vraag na papierboeke so klein gaan word dat hulle vir niemand meer bekostigbaar sal wees nie. (So ver ek weet, bring digitale drukwerk mee dat die getal wat gedruk word, nie meer so ʼn groot invloed op die koste het nie. Tot watter mate dit al by die tradisionele drukkerye gebruik word, weet ek nie. Ek vermoed dis nog meestal kleiner, nuwe maatskappye wat in digitale drukwerk en verwante dienste spesialiseer.)
E-boeke word ook nie oud en vergeel nie, word nie deur goggas aangeval nie (behalwe die virtuele soort), kan nie in pakkamers en tydens vervoer beskadig word nie, raak nie uit voorraad nie, bly lê nie êrens as kos vir die vismotte as dit nie verkoop nie. Al hierdie dinge kan die uitgewer se risiko kleiner maak.
Vir die leser (koper) is die voordele legio. Die onmiddellike beskikbaarheid is vir my een van die grootste lekkertes. Solank jy ʼn flentertjie van die internet kan bykom, kan jy nag of dat ʼn boek van enige plek in die wêreld jou leesstof aflaai. As jy laataand iets raaklees waaroor jy meer wil weet, kan jy binne ʼn paar minute boeke daaroor opspoor en aflaai. Wat dit aan die stand van ons kredietkaarte kan doen, moet ʼn mens ongelukkig ook in berekening bring. Met die magdom gratis kopieë en verlaagde pryse wat daagliks wissel, kan ʼn mens darem baie spaar as jy net jou oë oophou.
Uitgewers kan nou ook ʼn drukfoutjie herstel en verouderde inhoud opdateer. Boonop kan die prys verander word na gelang van die verkoper se behoefte of strategie.
Natuurlik moet die koper die aanvanklike koste aangaan om ʼn e-leser aan te skaf en moet hy darem ʼn rekenaar hê om dit by te laai. Daar is ook alreeds ʼn magdom toebehore beskikbaar wat jou ʼn klomp geld uit die sak kan jaag.
E-boeke kan honderde (of meer) boeke huisves, is ideaal om mee te reis, die lettertipe kan verstel word na gelang van die leser se behoefte, dit bied ʼn funksie om teks te onderstreep (waarop ek versot is) en selfs ʼn woordeboekfunksie (waarop ek absoluut versot is). Daarby het boekwurms ook nie die probleem van pakplek vir hulle boeke nie.
Vir my is die enigste nadele die feit dat die e-lesers vir my so lelik is en dat ʼn mens nie die boeke kan uitleen nie. Myne is ʼn nare grys kleur en ek was te suinig om die duur ‘skin’ aan te skaf waarmee ʼn mens dit kan opkikker. ʼn Duurder model wat kleur ook kan hanteer, sal seker sagter op die oog wees. Die lekkerte van boeke leen en uitleen is iets wat ek met die e-leser mis, maar hopelik bring dit skrywers ʼn ietsie meer in die sak as lesers nie boeke so maklik kan leen nie. (In Amerika is daar wel vir Kindle ʼn leenfunksie.)
As ʼn mens die magdom voordele vir die leser in ag neem, hou die redenasie dat e-boeke noodwendig baie goedkoper as papierboeke moet wees, nie meer heeltemal stand nie. Dit lyk net redelik dat die leser bereid moet wees om vir hierdie ekstra voordele ook te betaal.
Wanneer ʼn mens na die pryse van Afrikaanse e-boeke kyk, kan jy sien dat al die betrokkenes nog besig is om die water te toets. Daar is ook verskille tussen die tradisionele uitgewers en skrywers wat self hulle werk publiseer. En natuurlik hoef dieselfde boek nie van dag tot dag dieselfde te kos nie. Met ʼn paar klieke kan die prys en selfs die voorblad verander word.
My eie mening? Dis meer ʼn droom as ʼn mening: Dat boeke eendag so goedkoop sal wees dat ʼn ma sonder huiwering ʼn paar boeke saam met die brood en melk in die winkeltrollie sal pak. Op die oomblik is boeke ʼn luukse in ons land. Dit bring mee dat die rykdom van kennis en ervaring wat boeke meebring, ook ʼn luukse is. En dit kan ons nie bekostig nie.
Ek kry die gevoel niemand weet nog waarheen die boekbedryf gaan ontwikkel nie en elke rolspeler maak maar die skuiwe wat hy reken hom die meeste finansiële voordeel sal bring. Ek hoop en glo maar dit sal ook tot voordeel van die skrywer én die leser wees.
Oor een ding kan ons egter nie stry nie: Die wêreld is ʼn flippen interessante plek en die koms van e-boeke het dit nog interessanter gemaak.
NS. Vir almal wat voel hulle is te lief vir ʼn boek om ooit ʼn e-leser te gebruik: Dis nie ʼn kwessie van óf die een óf die ander nie. Jy hoef nie tussen twee geliefdes te kies nie, jy kan albei tevrede hou. Elke leser ontwikkel sy eie stelsel. Self lees ek op die oomblik meestal Engels op Kindle en Afrikaans op papier, bloot omdat relatief min Afrikaans nog op Amazon beskikbaar is. Ek vind ook dat nie-fiksie vir my moeiliker as e-boek lees as fiksie, omdat dit nie altyd so maklik is om ʼn spesifieke plek op spoor te soos in ʼn papierboek nie. Dié nadeel word egter weer uitgeskakel deur die yslike besparing aan posgeld as ʼn boek van oorsee bestel moet word.
Ek koop al my e-boeke op Kalahari. Daar is E-boeke maklik R100 goedkoper as die gedrukte boek, en dit sluit nie die posgeld in nie.
Ek vind dit is die afgelope tyd darem goedkoper as ‘n jaar of so gelede.
Waarmee lees jou kalari-boeke?
Ek het aanvanklik ‘n Gobii by kalahari gekoop. Dis lekker goedkoop en ek wou eers kyk of ek die ding gaan gebruik, of dit vir my werk. Die Gobii het egter ‘n manier om te vries en jou uit die program te gooi.
Ek het nou ‘n Samsung Note 8, waarop ek kalahari se leser gelaai het. Dit werk fantasties. Ek gebruik nou maar nie ander lesers ook nie, want ek VERGEET my boeke wat op ander plekke lê, 🙂
Ek lees BAIE BAIE meer vandat ek die leser het. Die Gobii werk steeds goed en ek sal dit aanbeveel vir iemand wat nie te duur wil betaal nie. Mens moet net gereeld “uit die boek” gaan, om sodoende jou plek te “save”.
e-Boeke vind ek tog goedkoper. Maar ek begryp ook daat daar totaal ander prosesse betrokke is as net drukwerk. As mense besef wat die werk verbonde aan die verwerking van e-boeke is, sal hulle verstaan. Dan is daar ook die toerusting en programme om dit mee te doen. Verder is die DRM proses geweldig duur. DIe program alleen kos $8000, en moet jaarliks opdateer word. Verder is daar ook koste per boek. Admin prosesse van verspreiders is niks anders as met gedrukte boeke nie.
‘n Mens kan ook maklik vergeet dat die voorbereiding van die manuskrip vir e-boeke net soos vir papierboeke gedoen moet word.
Ek is net dankbaar bly dat daar e-boeke is. Ek het die geduld-ry totaal misgeloop en nou kan ek met e-boeke sommer dadelik kry wat ek wil hê. Maar natuurlik is die nadeel dat my beursie nou BAIE platter is 😉 Ek ondersteun darem steeds die papierboekbedryf deur net papierboeke by Leserskring te koop