Ek het maar onlangs eers besef ek is ‘n ongeneeslike matchmaker. In die werklike lewe het ek nog nie my gawe beproef nie, maar in die storiewêreld kan ek dit nie verduur dat iemand sonder ‘n maatjie moet wees nie. Maar selfs in die wêreld van die verbeelding is dit nie aldag ewe maklik om almal vir altyd en altyd gelukkig te laat saamleef nie.
By die romanse is die skrywer se groot uitdaging om tweetjies wat vir mekaar beskore is, op geloofwaardige wyse tot die einde van die storie uitmekaar te hou. As hulle op bladsy twee al in mekaar se arms val en hulle liefde vir mekaar verklaar, is daar nie ʼn storie nie. (Dis hier waar die term “uitgestelde begeerte” ter sprake kom.) Aangesien die dae van ongeloofwaardige misverstande in romanses genadiglik verby is, is dit nie ʼn maklike ding om reg te kry nie. Tragedies en diep kwessies is nie toelaatbaar nie, want die leser van ʼn romanse kies nie haar leesstof om te wroeg nie. Sy (en soms ook hy) kies die romanse om te ontvlug en van die wêreld se ellendes te ontsnap, nie om opnuut daarmee gekonfronteer te word nie. Konflik dra ʼn storie, daarsonder is daar niks wat die leser laat omblaai nie. Om die held en heldin telkens op nuwe manier in konflik te bring, is geen geringe taak nie.
Om hierdie rede is die liefdesroman eintlik “makliker” as ʼn romanse. Hier is die skrywer vry om die hoofkarakters uitdagings te gee, groot klippe op die liefdespad te werp en dik stokke in die tweetjies se wiele te steek. Rampe en ellende (maar steeds geloofwaardig) kan maar oor hulle pad kom, diep kwessies uit die verlede kan opgerakel word en verkieslik moet die twee emosioneel groei en ryper mense word op die pad na mekaar toe. (Die behoefte aan emosionele groei by my karakters het eenvoudig ontstaan uit my besef dat ek nie karakters met ooglopende onopgelosde kwessies aan mekaar se genade kan oorlaat nie. As enige mens kan sien die twee is nie goeie troumateriaal nie, voel ek nie dis redelik teenoor my lesers om te impliseer die liefde sal alles oorwin nie. Want ongelukkig, ongelukkig oorwin die liefde selfs in stories nie altyd alle struikelblokke nie.) Groot kwessies kan maar tot ernstige konflik lei. Die leser is bereid om saam met die tweetjies deur diep waters te gaan. Solank die einde net ʼn einde van hoop is. Nee, hulle hoef nie in mekaar se arms te eindig nie. Maar hulle moet darem deeglik in daardie rigting op pad wees en die leser moet die boek kan toemaak met die vertroue dat sy karakters nou self die pad vorentoe sal kan vind.
In die Geur-boeke en die vorige twee Seisoen-boeke was daar dan ook kwessies en ellendes en geheime uit die verlede tot … ja, vervelens toe. Ek weet nie van die lesers nie (hulle is baie ordentlik), maar die skrywer was nie lus vir ʼn herhaling hiervan nie. Toe laat dit my met ʼn uitdaging: Wat moet vir Ben en Emily deur die storie dra?
Op die ou end het ek twee kwessies gekies wat my na aan die hart lê omdat ek elkeen op sy eie manier aan my eie bas gevoel het.
Die eerste is die kwessie van die sogenaamde “skaam” kankers: prostaat-, testikulêre, bors-, servikale en kolonkanker. Ja, nie eintlik ʼn tema wat ʼn mens met ʼn liefdesverhaal sou vereenselwig nie. Wat natuurlik net die uitdaging groter en interessanter gemaak het.
Die tweede is die verskynsel dat vroue wanneer ʼn swangerskap redelik vroeg skeefloop, ongelukkig nie altyd die simpatie en veral empatie in die gemeenskap kry wat hulle nodig het nie. Ek het aan my eie lyf gevoel hoe iemand dit as ʼn “ongelukkie” beskryf. Glo my, dit maak na al die jare steeds seer.
Onbeplan het nog iets hieruit voortgevloei: die rol van die pa. Ek dink pa’s word selfs vandag nog soms in sulke situasies eenkant toe geskuif. Die geskiedenis is vol stories van pa’s wat onbetrokke is by hulle kinders en nie onderhoud wil betaal nie (veral waar die pa en ma nie getroud is nie), maar ek vermoed daar is baie onvertelde stories van pa’s vir wie dit (om ʼn verskeidenheid van redes) nie gegun is nie. Net so glo ek daar word wanneer ʼn swangerskap skeefloop, dikwels nie veel aandag aan die pa se hartseer gegee nie. Of nog erger, die arme man besef dalk nie eens self hy mag maar hartseer wees nie.
Ben en Emily het dus oorgenoeg gehad om hulle mee besig te hou. Gegroei het hulle beslis, al was hulle (veral Ben) nie altyd lus daarvoor nie. En ja, ek is tevrede dat hulle die pad vorentoe self sal vind.
Vir my was dit baie spesiaal om ʼn entjie saam met hulle te stap. Dis tog immers die voorreg van ʼn skrywer: skep mense van wie jy hou en loop ʼn stukkie van hulle lewenspad saam met hulle.
Hoekom daar kolwyntjies op die prentjie is? ‘n Vrou moet mos darem ‘n soetigheidjie ook langs die pad kan vind.
As jy ‘n eksemplaar van Seisoen van vervulling wil wen, gaan kyk gerus by https://www.goodreads.com/giveaway/show/68942-seisoen-van-vervulling
Dis nou great, Alta! Hoop jy gaan sommer nog baie stories vir ons skryf.
Reblogged this on SKRYWERS SKRYF.
Wow! Mal oor jou website! Dankie vir die rolmodel wat jy vir aspirant skrywers soos ek is. Ek hoop om ook eendag jou kaliber werk te kan publiseer!
Baie dankie, Annette! Jy laat voel my klein en baie dankbaar.