Storieboekliefde hfst. 1, derde toneel – Marile Cloete

“Dis korrek, ja.” Sy vou haar hande op haar lessenaar, kyk hom stip in die oë. Haar wimpers is nog net so lank en donker soos destyds. Sy is ouer, maar steeds so mooi soos sy as student was. Eintlik mooier, dis of haar gesig meer karakter gekry het, of daar diepte bygekom het.

“Dennis en Marlise het elkeen onafhanklik tot dieselfde slotsom gekom. Hulle is nie my adjudante nie. Dennis is meneer Barnard se assistent en Marlise is myne. Eintlik weet ek nie hoekom meneer Barnard my betrek het nie. Ek is die uitgewer vir romanses, ek bemoei my nie met letterkundige werke nie.”

“Met ander woorde jy gee toe jy en jou assistent is nie in staat om my manuskrip te beoordeel nie.”

“Ek het nie gesê ons is nie in staat om dit te doen nie, Stefan. Ek het gesê dis nie ons werk nie. Meneer Barnard het my basies gedwing om die ding te lees.”

Hy herken die staal wat destyds al onder haar sagtheid gelê het. As sy so stadig en beheers begin praat, kon jy maar weet jy gaan aan die kortste end trek. Eintlik moes sý die advokaat geword het, sy sal dodelik wees in die hof. Hy vind deesdae te dikwels dat hy innerlik sy humeur verloor en daardeur sy argumente beduiwel. Genadiglik kon hy nog altyd daarin slaag om sy ergernis vir homself te hou. ‘n Woede-uitbarsting in die hof is die laaste ding wat hy soek. Enige mens kan soms kwaad word; die kuns is om die woede nie met jou te laat weghardloop nie.

“Die ding?” Ja, hy is sowaar alweer besig om kwaad te word en hy weet dit gaan ook in hierdie geval tot sy nadeel strek. Hy foeter egter voort, pure wegholtrein. Waar dit by Cecilia kom, het hy nog altyd te maklik kop verloor. “Is dit hoe jy na jou skrywers se harde werk verwys?”

“Nee, ek respekteer my skrywers, want hulle gee nie voor om iets te wees wat hulle nie is nie. By liefdesverhaalskrywers is daar nie pretensie nie. Hulle skryf om van die harde werklikheid te ontsnap en om hulle lesers te laat ontsnap. Hulle het nie aspirasie vir ryk of beroemd word nie.”

“Ek het nie ‘die ding’ geskryf om ryk op beroemd te word nie, Cecilia.”

“Hoekom het jy dit geskryf, Stefan?” Dis asof sy effens sagter na hom kyk, asof die meisie wat hy geken het nog iewers agter die professionele front skuil.

“Ek het dit jare gelede geskryf, ná ons twee uitgemaak het.” Nou is dit tyd vir eerlik wees, al is dit moeilik. “Oom Ben het by my ma daarvan gehoor en aan my gekarring om dit voor te lê tot ek ingegee het.”

“Wat is Ben Barnard van jou, Stefan?” Fronsend, agterdogtig, die sagtheid van oomblikke gelede net ‘n illusie. “Ek ruik nepotisme hier en ek hou nie daarvan nie. Baantjies vir boeties, jy weet?”

“Hy is my ma se nuwe man, as jy dan moet weet. My stiefpa wat ek sukkel om te aanvaar.” Cecilia het nog altyd die vermoë gehad om hom te laat sê wat in sy hart is, sonder om eens te probeer. Sy kon vervlaks ‘n sielkundige ook geword het. Vir wat moes sy nou hier in die boekbedryf opduik, toe hy al opgehou soek het na haar?

 “Jou pa? Hy is …?” Sy is bleek geskrik, dit het sy nie verwag nie.

“Jip, hartaanval.”

Nou is daar trane in haar oë. “Ek is só jammer, Stefan.”

“Dankie. Dis erg genoeg – en toe gaan maak my ma dit soveel erger deur binne ‘n jaar weer te trou. Met ‘n man wat ek sukkel om te aanvaar.”

“Laat ek raai. Hy probeer jou guns wen deur jou boek uit te gee?”

“Ek vermoed so, ja. Ek moes nooit die ding vir hom gewys het nie.”

Onverwags glimlag sy. “Die ding?”

Hy glimlag teensinnig terug. “Daar het jy my.”

Die glimlag verdwyn, die professionele uitgewer is terug. “Hy gaan jou vir die wolwe gooi, Stefan. Jou roman het potensiaal, maar soos dit is, gaan die kritici jou uitmekaar skeur.”

“Dink jy ek moet probeer red wat daar te redde is? Of moet ek die hele ding liewer vergeet?”

Sy sit vorentoe, pen hom met daardie oë vas. “Jy kan dit by Ben onttrek en vir my gee, Stefan. As jy saamwerk, kan ons iets daarvan maak.”

Hy raak skoon warm van verleentheid. “Vir jou gee? Om ‘n love story daarvan te maak?” Voor hy hom kom kry, is hy op uit sy stoel. “Oor my dooie liggaam, Cecilia. My kollegas lag hulle vrek! G’n man wat sy sout werd is, hou hom met daai soort van ding op nie.”

Sy staan ook op, gaan maak sommer die deur vir hom oop ook. Net ingeval hy nie die pad uit haar kantoor vinnig genoeg kry nie. “Dan het ons niks verder vir mekaar te sê nie.”

Hy loop sonder om te groet, soos hy destyds ook geloop het.

3 gedagtes oor “Storieboekliefde hfst. 1, derde toneel – Marile Cloete

  1. Sjoe, maar die minnaar uit haar verlede is ongeskik. Bly sy het hom op sy plek gesit. En dat hy sy neus optrek vir LIEFDESVERHALE – onverskoonbaar!

Lewer kommentaar