RSS

Category Archives: Romanses

‘n Wonderlike leerskool

Laaste proestukkie: Vir altyd lente

Ongelukkig moet dit die laaste proestukkie wees. Vir altyd lente is by hierdie skakel beskikbaar (tot en met 30 April teen ‘n groot afslag): https://lapa.co.za/catalog/product/view/_ignore_category/1/id/4509/s/vir-altyd-lente-eboek/#reviews

“Surprise, surprise!” Herman roep nie saam met die twintigtal gaste uit nie, maar hou sy oë op Jennie gerig waar sy in die deur van die Blou Olifant se private eetkamer vasgesteek het. Hy het vir Lisa gesê haar idee van ’n verrassingspartytjie om Jennie op die dorp terug te verwelkom, is nie ‘n goeie een nie. Net een kyk in Jennie se bleek gesig is nodig om te weet hy was reg.

Die vrolike uitroepe sterf weg en die stilte wat daarop volg, is vinnig besig om ’n ongemaklike stilte te word. Jennie staan doodstil, haar oë wyd, die toonbeeld van verbasing. Maar sowaar as wat sy naam Herman Fick is, is dit nie ’n lekker soort verbasing nie. As mens goed kyk, sien jy iets van ’n verwilderde bokkie in daardie donkerbuin oë, ’n bokkie in die motorligte wat nie weet Read the rest of this entry »

 

Sleutelwoorde: , , , , ,

Proestukkie 2: Vir altyd lente

“Jennie! Vriendin, waar kom jy vandaan?” Roelien pluk haar voordeur wyd oop, staan op haar tone en val Jennie met haar gewone spontaniteit om die hals. Terselfdertyd roep sy oor haar skouer: “Wynand, kom kyk wie’s hier! Bring sommer vir Max ook.”

“Hallo, Roelie.” Jennie adem haar vriendin se bekende geur in, besef dan hulle is nie net twee in die omhelsing nie. “Roelien, jy’s swanger!” Onmiddellik verdring ‘n hele boel teenstrydige emosies mekaar in haar binneste.

“Jip.” Roelien lig haar los trui summier op om die klein bababoep ten toon te stel, laat val dit weer terug voor Jennie iets kan sê of doen. “Maar kom in, vriendin, en vertel. Wat gaan aan? Vir hoe lank is jy terug? Waar is die heer Wiktor? Hoekom is jy nog maerder as wat jy altyd was? Hoekom is jou oë hartseer?” Read the rest of this entry »

 

Sleutelwoorde: , , , , ,

Proestukkie 1: Vir altyd lente

Vir altyd Lente_LOWRESMy romanses het nog altyd te veel na die ernstige kant geneig. Dit is dus ‘n groot verligting dat ons deesdae meer vryheid het om ernstige kwessies in ons stories aan te raak. Maar moenie bekommerd wees nie – die liefde kom in ‘n romanse altyd heel eerste.
Vir altyd lente is besonder toepaslik in die tyd van inperking waar mens van alle kante hoor hoe gesinsgeweld toegeneem het. En ja, mans is soms aan die ontvangkant daarvan. 

“Jennifer Mouton, waar val jy uit? Ek kan nie glo wat ek sien nie!” Herman se oë is nog presies so blou soos altyd, sy glimlag skitterend genoeg om mens te verblind.

Jennie moet konsentreer om nie op die drumpel van Herman se Hare om te draai en te vlug nie. Wat het haar besiel om terug te kom Klein-Karoo toe? Sy kon doodstil in Europa gebly het; sy kon die reeds gebrekkige kontak met haar vriende in Suid-Afrika gaandeweg laat doodloop het en self haar probleme baasgeraak het. Maar nee, sy vlug stert tussen die bene terug huis toe – net om te ontdek by haar ouerhuis is daar nie vir haar veel genade nie. Hopelik verstaan haar vriende beter, of kan hulle bloot gemakliker haar foute aanvaar. “Hallo, Herman. Ja, dis regtig ek.” Sy draai haar wang vir sy Read the rest of this entry »

 

Sleutelwoorde: , , , ,

2017: Die oppe en die affe

Sommer ‘n klompie random gedagtes, in geen spesifieke volgorde nie. Net vir ingeval dit vir iemand iets kan beteken, nie om te wys hoe oulik ek is nie. Want ek is nie. Ek is ‘n soekende siel wat hard probeer sin maak uit die lewe.

  • My alreeds leë nes het emosioneel gesproke nog leër geword. Dit was miskien die moeilikste ding van die jaar. ‘n Troue plus ‘n tesis het sy tol geëis. Maar ek is vasberade om nie ‘n needy ma te wees nie. Al bars dit.
  • Twee familielede ‘n maand uitmekaar verloor. Albei skokkend onverwags. Intens bewus van verganklikheid en die tydelikheid van alles en almal.
  • Die gevaar van selfbejammering deeglik besef. Siestog, arme ek sonder kleinkinders – en met geen kind in die land nie. Maklikste manier om jouself die afgrond in te stuur.
  • Die krag van dankbaarheid. Al moet jy dit forseer. Tree vir tree soggens terwyl die lyf én die gees nog in die bed wil lê en hulself jammer kry: Dan-kie-dan-kie-dan-kie …
  • Die gevoel van buite beheer wees wat angs meebring. Skrikwekkend.
  • Die genade van die regte medikasie.
  • Die genade om te sien my besluit om voorlopig op romanses te konsentreer, was die Romanse in Rock_low reskorrekte een. Die skryf en publikasie van ‘n paar plesierige liefdesverhaaltjies met lieflike, feilbare helde (feilbaar, maar steeds beeldskoon).
  • Die geleentheid van Lapa om verskillende lengtes verhale te skryf (novelle vir tydskrif, kort romanse vir Romanza Singles en lang SuperRomanza). Dit kom neer daarop om teen verskillende tempo’s elke keer die held en heldin GELOOFWAARDIG by mekaar uit te bring. Jy kan nie die storie bloot vroeër of later afsny nie. Die storie moet sy natuurlike loop neem en tot ‘n bevredigende einde kom teen die regte woordtelling. Nie so maklik nie.
  • Die voorreg om elke keer ‘n lieflike held te skep, heerlik op hom verlief te raak – en te weet my ware held is steeds fiks en gesond en kom saans steeds getrou huis toe.
  • Die lekkerte van ‘n bundeltjie met drie van my ouer romanses in een.
  • My geliefde Springsteen het voortgegaan om nuwe uitdagings die hoof te bied en 2013 Heroes 2.jpgmy te inspireer. Die grasie waarmee hy sy solo-vertonings op Broadway hanteer het my laat voel ek kan dan seker my ou klein stappies vorentoe ook aangryp.
  • Een hiervan was die optree as onderhoudsvoerder by ‘n ander skrywer se boekbekendstelling. En volgende jaar dieselfde by die Woordfees. Met ‘n manlike skrywer wat ek nie persoonlik ken nie.
  • ‘n Paar keer se wegsink in die dieptes van depressie. En genadiglik elke keer weer die opstaan en gryp na die lig. Mens leer die lig regtig, egtig waardeer.
  • Die skokkende effek wat die selfdood van Dana Snyman se verloofde op my gehad het. (Ek ken nie vir hom of haar persoonlik nie, maar ek ken sy skryfwerk goed.) Dit het my laat wonder oor die effek van ander mense se selfdood op depressievegters in die algemeen. Ek vermoed dit word heeltemal onderskat.
  • My leesprojek in die hospitaal het ‘n paar oppe en heelwat affe gehad. Dis nie so maklik om tweeuur op ‘n somermiddag aan te tree as niemand jou kontroleer nie, niemand jou toejuig nie en niemand ekstaties reageer op jou storietjie nie. (Die kinders is dikwels so getraumatiseer dat hulle min reaksie toon.) ‘n Blinkigheidjie in die ogies, ‘n skelm glimlag is dikwels my enigste beloning. Maar dan is daar die enetjie wat skaterlag vir die storie en die enetjie wie se ma entoesiasties vir hom die Xhosa-woorde sê as ek die prentjies wys.
  • ‘n Klein stukkie van die wêreld in ‘n staatshospitaal het voor my oopgegaan. Dis ‘n harde wêreld met baie moeë ma’s wat dae en weke langs hul kinders se bed omwag op die wiele om stadig te draai. Sonder iets om te doen, dikwels sonder enige ondersteuningsisteem.
  • My en ‘n vriendin se voorleesprojek by twee speelskole in die township het gemengde vreugde gebring. Die kinders is versorg en vrolik en gretig vir stories. Maar o, vandag se kiddies is woelig!
  • My werk met graad R-kleintjies wat agter is, het my hart gebreek. En my die gesig van ‘n skool in die township gewys. Daar is goeie en slegte kante aan daardie gesig. Daar is veral baie blink ogies wat aandag soek, liefde soek, stimulasie soek. Daar is talle kleintjies wat net met intensiewe begeleiding (miskien) suksesvol deur hulle skooljare gaan kom. Ek is glad nie seker ek het ‘n betekenisvolle verskil gemaak nie. Maar ten minste het hulle ‘n uur per week se liefdevolle aandag en stimulasie gekry, al is dit ‘n druppel in ‘n groot, groot see.

AS JY IN DIE PAARL WOON EN NET DIE KLEINSTE BEGEERTE HET OM IEWERS VIR ‘N KIND IETS TE BETEKEN, KONTAK MY ASB. OOR HIERDIE VRYWILLIGERSWERK. Hoe meer ons is, hoe ‘n groter verskil kan ons maak.

  • My betrokkenheid by Paarl Homeless Cats het nog ‘n nuwe wêreld vir my oopgemaak. Ja, daar is mense wat hulle tyd (en geld) opoffer om katte wat niemand wil hê nie, te versorg, met moeite te vang en te laat steriliseer. Daar is mense wat wilde babakatte foster en makmaak en vir hulle huise soek. Daar is goeie siele by besighede wat rondloperkatte voer en ons kontak vir die vang en die steri. Ja, daar is ‘n veearts wat dikwels ‘n Saterdag opoffer om katte teen die minimumkoste te “doen.”
  • Onvermydelik het ek ontdek my hart het plek vir nog katte. Die huis en die erf ook. IMG-20171201-WA0017.jpgDie swart-en-wit orkaantjie het ek uitgesoek en makgespeel. Die tabby-en-wit lady wat letterlik op death row was, het eenvoudig net weer en weer oor ons pad gekom. Ons kan steeds nie glo niemand wou haar hê nie.
  • In Junie was daar die afskeid van ons geliefde Hilde. Amper tien jaar se lief en leed. Henri arboretumVyf jaar se saamleef met die wete van die onvermydelike einde. Die afskeid – die prys van die liefde. (En die professionele deernis van die veearts en sy mense.)
  • ‘n Maandlange reis deur Australië aan die sy van (of eintlik so ‘n tree of twee agter) 20170702_145039.jpgmy onvermoeibare, rotsvaste, kalm man. Ja, dis ‘n vreeslike vervelige land. Maar dis ook vol skoonheid en lieflike mense. Dit was vermoeiend, maar kosbaar. (En die storie van die tand het reeds sy weg gevind in twee publikasies.)
  • Die insluit van my storie Nagmusiek in ‘n bundel met kortverhale uit rooirose het my nie ryk gemaak nie, maar baie plesier verskaf. Die dagboek van LAPA met twee (baie kort!) aanhalings van my werk, was ook ‘n lekker verrassing.
  • En toe kom die liewe Lea. Vermoedelik tien jaar oud, gewoond aan min aandag en IMG-20171223-WA0003.jpgstimulasie en liefde, sag en gedwee. En sy vee ons voete onder ons uit. Sy floreer – en ons floreer. Sy mag dalk selfs die hoogtepunt van die jaar wees.
  • Die konsep van rou kos vir jou hond kom toe onverwags weer oor my pad, na ek tien jaar gelede al daarvan oortuig was, maar nie kans gesien het vir die moeite en die gemors nie. Nou eet Lea Doggobone se voorafbereide, gebalanseerde rou kos. En sy floreer. En dis goedkoper as die veeartskos wat ek die laaste tyd vir Hilde gegee het en waarop ek nie regtig enige verbetering gesien het nie.
  • Saam met Lea en die katte het die wete gekom dat ek nie reg is vir afskaal en kleiner gaan nie. Of die lyf gaan byhou, sal ons maar moet sien. Maar die gees floreer.
  • En dan was dit natuurlik die jaar van die droogte. As Karoo-kind is die konsep om spaarsaam met water te werk, nie vir my vreemd nie. Maar nou funksioneer ons op ‘n heel ander vlak. Elke druppel tel. En ons kom agter mens kan baie goed so leef. Die skrikwekkende situasie het ook sy positiewe kant: dankbaarheid vir wat ons nog altyd as vanselfsprekend aanvaar het, ‘n nuwe bewustheid van die broosheid van ons aarde en hoe ons haar verniel.

Nou is ek moeg. Daar was nog kleiner vreugdes en smarte. Maar my oorheersende ervaring is een van dankbaarheid en die gevoel dat die winste tog meer was as die verliese.

 

Sleutelwoorde: ,

‘n Man vir altyd: drie stories oor liefde en honde

'n man vir altyd_voorblad_high res.jpgDie eerste van die drie stories in hierdie omnibus het ek ‘n klompie jare gelede geskryf terwyl ek by ‘n teler vir ‘n wolfhondbaba gewag het. Ek het baie met die teler gesels, van sy opleidingsklasse vir honde bygewoon en baie geleer. En vir altyd verlief geraak op die ras, wat ek as jong meisie die eerste keer in my man se familie leer ken het. Teen die einde van daardie jaar het Hilde deel van ons familie geword en die volgende twee boeke is in die roes van my liefde vir haar geskryf. 🙂 As jy dus nie van diere en veral van honde hou nie, moet jy dalk maar verbyhou by hierdie stories.
Dis ironies dat ek die proeflees vir die omnibus moes doen in Hilde se laaste tydjie by ons. Dit was emosioneel om weer te onthou hoe ek vir haar gewag het, watter harde maar vreugdevolle werk dit was om haar mooi op te voed en hoeveel vreugde sy in ons gesin gebring het.
Henri arboretum.jpgIntussen moes ons van Hilde afskeid neem en het die liewe Lea heel onverwags in ons lewe gekom. Ek het nooit vermoed dit kan so ‘n vreugde wees om ‘n bejaarde hond in mens se hart toe te laat nie. Sy laat my, snaaks soos dit mag klink, so baie aan my ma in haar laaste jare dink: Oud, bietjie broos, al deur die lewe getrap, maar steeds sag en geduldig en sonder ‘n greintjie boosheid of bitterheid in Read the rest of this entry »

 

Sleutelwoorde: , , , ,

2016 was ‘n riller … And so say all of us …

Want to inspireLyk my dit het mode geword om vir mekaar te vertel wat ‘n dolle jaar dit was.

Tot op ‘n punt het ek hartlik meegedoen.

Maar toe besef ek moet verder dink. Ja, daar was moeilike dinge. Maar daar was altyd ‘n MAAR.

  • 2016 het begin met my eerste ervaring van angs. Angs wat jou beheer laat verloor, angs wat jou laat glo jy is nou al jou varkies kwyt, wat jou keel laat toetrek en jou hart op loop laat sit en jou vir die toekoms laat vrees.

Maar dit het verby gegaan. (Met die regte pilletjie en heelwat vasbyt.)

  • Die Swart Hond was vanjaar nie net op my spoor nie; hy het kom intrek. Hoe beskryf mens die donkerte? Dag en nag? Come rain or shine? Die doelloosheid, die moegheid, die uitsigloosheid. Terwyl jy met jou verstand goed weet jy het tonne en tonne seëninge om voor dankbaar te wees? Maar dit help jou niks. Behalwe om jou ongelooflik skuldig te laat voel.

Read the rest of this entry »

 

Sleutelwoorde: , , , , , ,

Gesoek: ‘n eietydse heldin

Princess.pngEk het onlangs weer ’n paar Afrikaanse liefdesverhale uit die jare sewentig van die vorige eeu deurgedraf.  Dit was ’n ervaring wat my ietwat gehawend gelaat het, hoewel daar ook (kortstondige) aha-oomblikke was.

Dit was egter nie net nag nie, dit was ook pret. Want mens kan steeds verstaan hoekom die ou hardeband-liefdesverhale vir ’n hele paar dekades Afrikaanse vroue (maar ook heelwat mans) aan die lees gehou het. Die dinge wat die leser in ’n lekker liefdestorie soek, was almal daar: ’n aantreklike held, ’n pragtige heldin, dikwels ’n eksotiese plek. En dan natuurlik die verpligte gelukkige einde. Wat destyds gewoonlik ’n (redelik) innige soen behels het.

Aan die ander kant was dit ’n frustrerende ervaring om die boeke te herlees. Eerstens kan mens sien hoe die taal intussen ontwikkel het. Nie almal sal dit as positief sien nie, maar vir my is die gemakliker, meer informele taal en selfs die invoeging van Engelse woorde wat ons deesdae kry, ’n teken van groei. Die vryer, losser taal is vir my bloot ’n weerspieëling van ons Read the rest of this entry »

 

Sleutelwoorde: , , ,

Teen haar beterwete: Die Ontmoeting :)

Teen haar beterwete_high res (2)By die skoolhek wag die onderhoofseun getrou op sy pos, trots in sy prefekbaadjie met die ry wapentjies op die lapel. Dit het al tradisie geword dat die onderhoofseun haar ontvang en saal toe begelei, al ken sy die pad teen hierdie tyd baie goed.

“Gee vir my, dominee Jossie.”

Teensinnig gee sy die kitaarsak af. Sy kon nog nooit die seuns oortuig sy is heeltemal sterk genoeg om die ding self te dra nie. “Goed dan maar.” Terwyl hulle aanstap, groet sy links en regs. Sy wonder dikwels hoekom sy so lief geraak het vir die seunskool, sy wat sonder broers grootgeword het. Of dalk is dit juis omdat sy hier ’n paar honderd kleinboeties raakgeloop het.
Read the rest of this entry »

 

Sleutelwoorde: , , , , , ,

Lusmakertjie: Teen haar beterwete

Teen haar beterwete_high res“My kindjie, jy gaan sowaar nooit ’n man kry nie.” Ma Mabel tuur ernstig deur die bifokale lense waaraan sy so sukkel om gewoond te raak.

“My mammatjie, ek wil asseblief tog nie ’n man hê nie.” Jossie ken al hierdie deuntjie, sy steur haar nie meer daaraan nie. Die goedige gekorswel is maar deel van haar en haar ma se gemaklike en soms minder gemaklike saamwoon.

“Dis abnormaal om nie na ’n maat te soek nie.”

Dis ’n nuwe toevoeging tot haar ma se lysie klagtes. Sy is darem nog nooit tevore van abnormaliteit beskuldig nie. “Nou wie wil nou normaal wees?” lag sy moedswillig.

“Nie dat jy nog ooit buitengewoon normaal was nie.” Haar ma kyk op van die prent wat sy aan die uitknip is, bestudeer vir Read the rest of this entry »

 

Sleutelwoorde: , , , ,

Uittreksel: Eindelik liefde

Eindelik liefdeSonbruin en selfversekerd verskyn die man in die deur van die trem. Loshande die mooiste voorbeeld van die spesie waarop Anke Viljoen nog haar twee oë gelê het. Deurleefde jeans, stewels wat al ‘n paar kilo’s afgelê het, sterk gesig. Anke kan sweer die temperatuur van die koel Duitse somerdag styg ‘n paar grade toe die vroulike passasiers hom in hulle radar kry. Die enetjie naaste aan hom se gesiggie kry ‘n ligte gloed en sy vat-vat onbewustelik aan die ringetjie in haar onderlip, haar vriendin vee haar mini-rompie glad oor haar sexy paar bene. Self moet Anke konsentreer om nie aan haar hare te begin vroetel nie.

Met sy bos donker krulle, oopnekhemp met opgerolde moue en gehawende rugsak oor die skouer lyk hy soos ‘n swerwer wat nie regtig op ‘n vaal laatsomerdag in ‘n Europese stad tuishoort nie. Hy lyk soos iemand wat wye horisonne ken, iemand wat al ver geloop het en elke oomblik daarvan geniet het. Sy beny hom uit die diepte van haar hart.

Haar kans sal nog kom, sy sal nog wyd reis, veel wyer as Europa wat sy al betreklik goed ken. Die Ooste, Suid-Amerika, Kanada. Dalk vir ‘n paar jaar in die buiteland gaan werk. Vreemde plekke, verre streke, dis wat haar trek, dis wat haar geliefde ouma Santa by haar ingeprent het – hou jou kop oop, verskuif jou Read the rest of this entry »

 

Sleutelwoorde: , , , , , , , ,

Vaarwel aan 2013!

Wat my skryfwerk betref, was 2013 ʼn geseënde jaar met baie om voor dankbaar te wees.

482236_10151580992643223_1926667681_nDie uitdagings van klein openbare optredes het gewissel van ʼn leeskring wat eintlik letterkunde lees (ja, ek het effens bedreig gevoel, maar individueel was almal baie vriendelik) tot ʼn biblioteekkuier waar ek (en Kristel Loots) soos ʼn koningin ontvang is (dankie Goodwood), ʼn kuier by die grondslagfase van ʼn meisieskool (meisietjies in feetjierokkies, met net een lieflike heks), ʼn kuier by Madri Victor se skryfkursus (ek onthou haar sexy skoene!) en ʼn gesprek oor die liefde saam met Kristel Loots en Elsa Winckler in ʼn lieflike kerkie by die Tulbagh Lentefees. Elkeen spesiaal op sy eie manier. Elkeen ʼn goeie herinnering op sy eie manier. By elkeen het ek iets geleer en iets van myself ontdek.

Seisoen van Vergifnis - Copy - CopyDie tweede Seisoen-boek (Seisoen van vergifnis – Amanda en Wim se storie) het na heelwat pyn en trane in Februarie verskyn en was ook die eerste Lekkerlitboek van die jaar. Die grootste werk hieraan is natuurlik al in 2012 gedoen. Skryf is nie ʼn ding waar ʼn mens op instant gratification moet hoop nie, die beloning kom eers met verloop van tyd. Wat dit soveel soeter maak.

Die derde Seisoen-boek (Seisoen van vervulling) het met betreklik min pyn die geboorteproses, afronding en al die stappe tot by verskyning in Oktober deurgegaan. Na ʼn laagtepunt laat in 2012 moes ek die moed om die storie aan te pak diep en ver gaan haal. Dis ʼn groot vreugde dat dit toe eintlik (relatief) maklik gegaan het. Daarvoor kan ek net vir Ben en Emily dankie sê (al bestaan hulle nie regtig nie). Hulle storie het my eenvoudig aangegryp, dalk maar omdat daar soveel raakpunte met my eie storie is.

Van êrens het ek die moed (of die koppigheid) gekry om ʼn mislukte romanse van ʼn jaar of twee gelede uit die laai te haal en nie net af te stof nie, maar Read the rest of this entry »

 

Sleutelwoorde: , , , , , , , , , , ,

Skuilnaam of skrywersnaam? En hoekom?

Seisoen van GenadeIn ‘n baie interessante artikel in Die Burger word redes ondersoek waarom skrywers skuilname gebruik: http://www.dieburger.com/Vermaak/Nuus/Stories-van-pennename-20130105

Ek voeg graag ‘n paar gedagtes daarby:

Eerstens word die term skuilnaam nie meer so algemeen gebruik nie, bloot omdat min skrywers dit werklik meer geheim hou.  In ons oper samelewing waar intellektuele snobisme teenoor nie-literêre skryfwerk genadiglik stadig maar seker aan die afneem is, word skrywersname deesdae dikwels om meer praktiese redes gekies.

Die belangrikste rede is waarskynlik dié wat in die artikel genoem word, naamlik waar ‘n skrywer  in verskillende genres bedrywig is en dit vir lesers maklik wil maak om te onderskei. Ekself  skryf  liefdesromans onder my eie naam en romanses onder die skrywersnaam Marilé Cloete. ‘n Leser weet dus wat om te verwag wanneer hy ‘n spesifieke boek optel. Oorspronklik het ek albei name vir my tydskrifverhale gebruik, weens die rede wat ook in die artikel genoem word, naamlik dat Read the rest of this entry »

 

Sleutelwoorde: , , , , , , , , , ,

Eindelik: My tiende romanse

In teenstelling met wat ‘n mens geneig is om te dink, word skryf nie noodwendig makliker as jy alreeds gepubliseer het nie. Inteendeel, dit wil vir my lyk of dit veel eerder moeiliker word. Daar is dinge om mee rekening te hou … Is my tema nie maar elke keer dieselfde nie? Is my STORIE nie maar elke keer basies dieselfde nie? Verskil my karakters ooit? Handhaaf ek dieselfde kwaliteit? Is daar variasie? Is daar groei in my werk?

Om dit te demonstreer, het dit my die skryf van twee volle romanses gekos om hierdie tiende een in publikasie te sien. Die eerste poging vir die titel van Nommer 10 was my eerste romanse wat nie net gekritiseer is deur die uitgewers, maar afgekeur is. ‘n Swaar slag vir die ego … Tot jy die verslag deeglik bestudeer en agterkom: Ja, hulle was weer eens reg. Dan bêre jy hom diep in ‘n laai (waar hy nog weer eendag sal opstaan, ek belowe!) en begin met Read the rest of this entry »

 

Sleutelwoorde: , , , , , , , , , ,

Aangepas vanaf my ou skrywersblog: Kom stap saam!

Toe ek in 2004 uiteindelik die moed bymekaargeskraap het om die onderwys te verlaat en pens en pootjies in die onbekende waters van die skrywerspoel te spring, het ek nie ‘n idee gehad van die skrikwekkende, interessante en wonderlike pad wat vir my voorlê nie.
Na amper agt jaar en skuins onder die veertig tydskrifverhale, nege gepubliseerde romanses en drie liefdesromans (die vierde verskyn DV in Mei), is ek nou op die punt waar ek dit wil waag om jou te nooi om saam met my te stap en te deel in die hoogtepunte (en laagtepunte!) wat vir my mag voorlê. Ek hoop jy word ‘n gereelde besoeker en dat jy Read the rest of this entry »

 

Sleutelwoorde: , , , , , ,

Romanse: Waar sy hoort

Waar sy hoort is my agste Romanza en is deel van die boek-familie wat al destyds met die geboorte van Klein klippie ver gooi ontstaan het. (In Man van min woorde, Man met ‘n missie en Man van sy woord, asook in Liedjie vir jou verskyn dieselfde karakters telkens weer.) Die Bezuidenhout-familie het my net nie weer toegelaat om van hulle te vergeet nie. In Waar sy hoort keer die oudste suster uit Australië terug, waar sy haar ontroue man agterlaat nadat sy die keuse gemaak het om haar nie langer te laat misbruik en minag nie. Sy is ‘n sterk vrou wat verantwoordelikheid vir haar en haar kind se geluk neem, maar sy is ook vol vrese en onsekerheid oor die besluit wat sy geneem het.
Sonder dat ek bewustelik so ‘n besluit geneem het, het dit die tema van al my skryfwerk geword – die uitbeelding van ‘n doodgewone vrou wat Read the rest of this entry »

 

Sleutelwoorde: , , , , , ,

Dagboek van ‘n romanseskrywer (vervolg)

As jy belang stel in die geboorte van ‘n romanse, lees by:http://madelie.wordpress.com/dagboek-van-n-romanseskrywer/

 

Sleutelwoorde: , , ,

Dagboek van ‘n romanseskrywer (5)

Dit het die afgelope week maar swaaaar gegaan. Ek het by my beoogde getal woorde (min of meer) gebly, maar die storie wou net nooit lekker op loop gaan nie.

Lees verder (as jy lus is!) by  http://madelie.wordpress.com/2010/10/12/dagboek-van-n-romanseskrywer-5/

 

Sleutelwoorde: , , , , ,

Dagboek van ‘n romanseskrywer (2)

Dis half tien op ‘n Saterdagaand en ek het my doelwit vir die week bereik. ‘n Dag laat, maar darem. En ek kan sweer dit het iets te doen met feit dat ek so gek was om my persoonlike stryde op die internet te begin uitsaai … ‘n Mens het darem jou trots!
Van Maandag tot Woensdag het ek fluks gevorder. Behalwe dat ek soggens te lank gedraai het met allerhande noodsaaklike en minder noodsaaklike dinge wat gedoen moet word, en dan teen die middag eers pootuit voor die rekenaar beland het.
Verlede week se moord op ‘n paar honderd woorde werp nou vrugte af. Daar is meer geleentheid om spanning te laat ontstaan as sy nie so dadelik weet wie hy is nie. Vir my word hy by die dag mooier en interessanter. En ons weet mos, as die held die skrywer se hart kan sag maak, dan is sy pad oop na die leser se hart toe.
Ek besef ek moet oppas dat dit nie storie word van die heldin en haar ma se issues met mekaar nie. Dit kan sekerlik ‘n subtema wees, maar natuurlik moet dit nie die storie van die ontluikende liefde oorheers nie. Daar is ook die moontlikheid dat die heldin kan dink hy raak verlief op haar ma (wat maar so ‘n stuk of vyftien jaar ouer is as hy), maar ek weet nie of dit corny sal klink nie.
As newekarakters duik daar gelukkig twee kollegas van haar op. En bring met hulle saam hul eie vreugdes en pyne en heelwat potensiaal vir konflik en misverstande wat die sentrale liefdesverhouding kan befoeter. Maar ai, ek is so bang vir misverstande – my seuns hou hoeka vol geen intelligente mens kan regtig so onnosel word as hy/sy verlief is nie. Asof hulle nou weet …
Goed, hulle het mekaar raakgeloop, daar is spanning en opwinding in die lug. Maar nou moet daar iets GEBEUR. Prof Hans praat van die spanningslyn as die ruggraat, en elke toneel moet VERBIND wees met daardie ruggraaat, maw dit moet funksioneel wees binne die ontwikkeling van die verhouding. Vir my is dit nogal ‘n moeilike ding, want dit moenie ‘n gebeurtenis wees wat die verhaal gaan oorheers nie, dit moet net die tweetjies ‘n stappie of twee aanhelp. Maar dit moet ook nie onoortuigend wees nie …
Donderdag breek aan, die dag gaan verby en ek tik nie ‘n enkele woord nie. Daar is eenvoudig te veel mense en dinge wat aandag nodig het. Hoe om prioriteite te bepaal? Hoe om aktiwiteite af te skaal sonder om myself van mense af te sny?
Vrydag kom en gaan – nie ‘n enkele woord nie. Maar dink jy ek kan die blogs uitlos? Hoegenaamd nie! Maar dit maak nie saak nie, want dis gesprekke met kollegas wat net nie onder dieselfde dak as ek werk nie. Ek kry my kerk se koerantjie wat ek die afgelope agt jaar of so doen, op die nippertjie ingegee. En bevestig dat ek dit nog net tot Desember gaan doen. En probeer om nie skuldig te voel nie.
Saterdag kom en bring met hom saam die akademiese verslag wat ek Kleinboet belowe het om taalkundig te versorg. Gruwelik oninteressant en totaal bo my vuurmaakplek. Maar ‘n moeder is mos geskape om te wil help, dus worstel ek dapper voort.
Sesuur op die Saterdagaand breek my oomblik aan. Almal is weg op ander sendings, ek sit Springsteen se Hyde Park DVD aan en begin oorlees. Dit neem ‘n volle uur om weer in voeling met die storie te kom. En in my kop is daar nie juis inspirasie nie.
Maar soos altyd help dit om oor te lees en te begin redigeer. Een ding lei tot ‘n ander en stadig, stadig begin die storie loop. Twee en ‘n half uur later pryk daar meer as die beplande aantal woorde op my skerm. Die tweetjies is deeglik bewus van mekaar en daar is potensiaal vir ‘n paar volgende tonele wat die temperature ‘n bietjie kan opstoot.
En ek weet weer hoekom ek niks anders kan doen as skryf nie.

 

Sleutelwoorde: , , , , , , , ,

Dagboek van ‘n romanseskrywer

As jy dink dit kan plesierig wees om ‘n skrywer se lyding en vreugde te deel, kyk by een van die onderstaande skakels:

http://madelie.wordpress.com/2010/09/10/dagboek-van-n-romanseskrywer/

https://altacloete.wordpress.com/skryfdinge/dagboek-van-n-romanseskrywer/

 

Sleutelwoorde: , , , ,

Die wereld van YouTube

As daar nog iemand in die land is wat nog nie my debuut op YouTube gesien het nie, hier is die skakel: http://www.youtube.com/watch?v=Lgggx07VaVw

Toe ek klaar gecringe het oor die ouderdom wat so sigbaar is, het ek begin dink oor die moontlikhede van YouTube as reklamemiddel ook vir skrywers. Die aaklige waarheid is dat meer as honderd mense binne ‘n paar dae die video gesien het. ‘n Vinnige loer het getoon dat die groot geeste soos Etienne van Heerden, Antjie Krog, Marlene van Niekerk reeds deeglik op YouTube teenwoordig is. Dit is dus sekerlik ‘n kanaal wat die skrywers van ontspanningslektuur ook moet ondersoek. Erens vandaan sal ek die moed moet kry om meer van my boeke so te adverteer. Maar dalk eers gaan vir ‘n lipo suction of so-iets …

 

Sleutelwoorde: , , , , , ,

Is dit regtig WERK waarmee ek my besig hou?

Ek het besluit die antwoord op hierdie vraag lê in jou eie benadering tot die saak. As ek nou terugkyk, besef ek ek was self nie doodseker van die antwoord toe ek destyds tuis begin werk het nie.

‘n Vriend het eenmaal opgemerk dis belangrik om so ‘n ietsie te hê om te doen – en hy’s nie ‘n gemene mens nie, hy het net nie verstaan dis vir my ‘n saak van erns nie. En ek het nie die moed gehad om hom reg te help nie! Vandag sou ek hom nie daarmee laat wegkom nie, maar ekself het ‘n lang pad gekom sedert daardie dag.

Ek moes eers ‘n mate van sukses behaal en sien ek verdien darem genoeg om ook ‘n bydrae tot die gesin se finansies te maak voor ek regtig begin glo het in my werk. Dit beïnvloed die manier waarop jy oor jou werk praat – en dit beïnvloed wat ander mense daarvan dink.

Voordele is daar baie. Die grootste voordeel? Geen baas wat die lugkastele bou en jy moet hulle pienk verf nie – jy kan jou eie lugkastele bou en hulle self enige kleur verf waarvoor jy lus is. Geen dodelike roetine, geen spitsverkeer, geen kritiese kollegas nie, geen kantoorpolitiek, nie lang ure vasgekeer in ‘n kantoor nie. Niemand is geskok as jy onwelvoeglik geklee gaan in die somer of in die winter met jou skootrekenaar binne-in die bed klim nie. Niemand kyk hoeveel koppies tee jy drink nie, niemand loer oor jou skouer of skinder by die ander oor jou nie. Jy kan die voëltjies deur jou venster kyk na hartelus, jy kan ‘n boom omhels, jy kan see toe ry en na die branders kyk – as jy wil.

Ek is ‘n op-en-af mens wat met rukke en stote werk. ‘n Vaste roetine werk nie vir my so goed soos vir iemand anders wat ‘n meer gelykmatige geaardheid het en wat vir lang tydperke kan konsentreer nie. By die huis kan ek my oppe en affe bestuur soos dit my pas.

Kortom – jy kan doen wat jý wil, nie wat iemand anders wil nie. (Binne perke, natuurlik!)

Nadele? Ja, ‘n paar … soos dat die no work, no pay beginsel ongelukkig geld. En al ruik die blommetjies hoe lekker – hulle betaal nie so goed nie!

Snaaks, ek kan nou aan geen verdere nadele dink nie! As hulle daar is, word hulle eenvoudig oorheers deur al die geweldige gevoel van vryheid wat ek ervaar.

As ek al die positiewer dinge moet probeer opsom, kan ek net sê dat jy beheer oor jou eie lewe kan neem wanneer jy van die huis af werk. Jy kan doen wát jy wil, wanneer jy wil, hoe jy wil – solank jy net die verlangde resultate lewer, gee niemand om nie (dis nou behalwe die kat en die kanarie wat honger ly en die man en die kinders wat afgeskeep voel wanneer jy die heeldag die blomme geruik het en nou skielik twintig uur aanmekaar moet werk!)

O ja, daar is nog een nadeel: Jy kan baie alleen raak. Daar is nie die groepsgevoel wat ‘n mens ervaar wanneer jy saam met ander mense werk nie (al maak hulle jou soms gek). Daarvoor is sms’e en e-pos vir my onontbeerlik as maniere om in kontak met die buitewêreld te bly. Maar die grootste geluk wat my getref het, is die Romanzaskrywersblog waaraan ek saam met mede-skrywers van Lapa se Romanzareeks behoort. Ons het vir mekaar kollegas geword en ons deel die daaglikse vreugdes en pyne van ‘n lewe agter ‘n rekenaar met net jouself as geselskap.

Wenke? Jy het ‘n goeie skoot dissipline nodig. En jy moet regtig glo in wat jy doen. As jy diep binne-in voel dis eintlik nie ‘n regte werk nie, gaan ander mense ook so dink.

My werksdag begin in teorie so teen negeuur wanneer die kind en die man weggehelp is, die diere kosgegee en die lyf geoefen is, die wasgoed op die draad en die hondehare gestofsuig. In die praktyk lui die telefoon sodra ek aan die gang is, iemand wat ondersteuning nodig het kom kuier, die son skyn so lekker buite, daar is dringende administratiewe goed wat gedoen moet word en die rekenings moet betaal word. En skielik is dit vyfuur en jy was die hele dag druk besig, maar daar is nie ‘n steek WERK gedoen nie.

Die grootste voordeel? Die algehele vryheid. (Maar ons weet almal vryheid bring verantwoordelikheid …)

 

Sleutelwoorde: , , , , , , , , , , , ,

Skryfdinge: Die limelight …

Met verloop van ‘n klomp jare het ek dit reggekry om ‘n klompie tydskrifverhale, ‘n paar romanses en ‘n enkele liefdesroman te publiseer. Alles goed en wel, maar nou het die tyd aangebreek om te begin teruggee.  Heel regverdig – niemand kan tog net ontvang nie, en ek het veral die afgelope vier jaar baie ontvang van ‘n hele verskeidenheid mense.
Dus is ek nou oppad na my eerste verskyning by die Lenteskryfskool vir liefdesverhale wat deur Potch se Skryfskool en Lapa aangebied word. Vier jaar gelede was ek ‘n kursusganger en vanjaar is ek aan die ander kant van die tafel. ‘n Yslike voorreg – en uiters angswekkend!
Wel, die speech/praatjie/lesing is geskryf, die slideshow is met groot smarte aanmekaargesit, ek is ingelui (ingelei??) in die wonderbare werkinge van ‘n dataprojektor … En nou moet ek net inspring en swem.
So eenvoudig.
Hoekom moet ‘n eerste dan tog altyd so skrikwekkend wees?

 

Sleutelwoorde: , , , , , , ,

Nuwe romanse

Marile Cloete se nuutste romanse is deur Lapa aanvaar en sal in Januarie 2011 verskyn. Daar is hierdie keer nie ‘n donker man met ‘n kitaar in nie, maar wel ‘n blonde volstruisnavorser en ‘n expat uit Australie wat terugkeer na SA. En natuurlik is daar ‘n diertjie in. (Nee, dis nie ‘n volstruis nie!) Die titel is Waar ek hoort, wat interessant genoeg ook die titel van my heel eerste kortverhaal in Sarie was – ‘n goeie kwarteeu gelede.

Terloops, ek hoop jy sien iets eienaardigs aan hierdie volstruis …

 

Sleutelwoorde: , , , ,

Romanse: Liedjie vir jou

My nuutste romanse speel in Noorwee af (waarheen ek nou weer oppad is). By hierdie skakel is die eerste toneeltjie:  https://altacloete.wordpress.com/skryfwerk/romanses/n-liedjie-vir-jou/
Die boek verskyn hierdie maand en behoort binnekort by CNA en Exclusive beskikbaar te wees, asook op Kalahari.net en op Loot.

 

Sleutelwoorde: , , , , , , , ,

Wil jy ‘n liefdesverhaal skryf? Hier’s jou kans!

 

Sleutelwoorde: , , , , , , , , , ,

ATKV-Skryfskool – Potchefstroom

 

Sleutelwoorde: , , , , , , , ,

Kuier met skrywers!

 

Sleutelwoorde: , , , , ,

Nog romanses deur Marile Cloete

Man van min woorde, Man met ‘n missie en Man van sy woord vorm ‘n eenheid, met karakters wat in al drie stories voorkom. Die hoofkarakters van die verhale val in verskillende ouderdomsgroepe. Dit was vir my ‘n uitdaging om ‘n held en heldin in hul laat twintigs of vroee dertigs te skep, maar ook die tweetjies wat nog studente is en die ouer paar wat al ‘n paar foute in hul lewens gemaak het.

Kliek gerus op die onderskeie titels onder Romanses hier langsaan vir uittreksels.

 

Sleutelwoorde: , , , , ,

Romanses deur Marile Cloete

‘n Romanse is ‘n korterige verhaal waarin die ontwikkeling van die liefdesverhouding tussen die twee hoofkarakters sentraal staan. Dit word deesdae erken as ‘n genre met sy eie meriete wat ‘n plekkie in die son verdien naas ander genres soos liefdesromans, spanningsromans, letterkundige werk, ens. Die doel daarvan is ontspanning en ontvlugting en dit probeer niks anders wees nie. En nee, die boeke word nie volgens ‘n resep geskryf nie, is nie almal eenders nie, is nie hygromans nie, is nie vol swak skryfwerk nie – kortom, is nie minderwaardig nie. En dis nie omdat ek skaam is vir wat ek skryf dat die boeke onder ‘n skrywersnaam (skuilnaam is uit die oude doos!) verskyn nie, maar bloot om dit te onderskei van die liefdesromans wat ek ook skryf.

Kliek op die onderskeie titels hier langsaan om die eerste hoofstukke van my eerste drie romanses te lees. (En ja, dis al wat jy te siene gaan kry, want hulle is lankal uitverkoop … Dalk is jy gelukkig om by jou plaaslike biblioteek een op te spoor!)

 

Sleutelwoorde: , , , , , , , ,