Storieboekliefde hfst. 1, tweede toneel – Marile Cloete

Dankie, dankie, dankie! Dis presies wat sy ook dink. Sy stuur sommer gou die hele manuskrip aan, sy weet Marlise sal graag wil verder lees om seker te maak.

Toe sy in die gang af draf kantoor toe, is Marlise ook alreeds by haar lessenaar, druk aan die konsentreer op die skerm voor haar. Sy het waarskynlik vinnig klaargemaak en reguit kantoor toe gegaan, haar oggendroetine heel omvergegooi ter wille van Cecilia se krisis. Waar kan mens ‘n beter assistent kry?

Die oomblik toe sy haar kantoordeur agter haar toemaak, e-pos sy haar bondige verslag vir Ben en maak Bets Smith se nuwe manuskrip op haar rekenaar oop. Djin in ‘n koffiekan – wat ‘n lekker titel. Dis mos nou die soort skryfwerk waaraan sy haar tyd wil wy, nie die gewroeg wat sy laas nag moes deur worstel nie. Wat die nag se werk regtig ‘n nagmerrie gemaak het, is die nare gevoel dat sy eintlik die hoofkarakter in die manuskrip is.

Nee, sy gaan nie verder hieroor mopper nie. Sy sal fokus op dit waarmee sy goed is: romanses. Die maand voor sy in hierdie pos ingestap het, het sy Kanniedood-Uitgewers se aanbod van romantiese fiksie van ‘n kant af deurgewerk. Haarself amper bankrot gekoop, maar dit was die moeite werd. Nou weet sy alreeds wie is die staatmakers, wie werk stadig en deeglik, wie produseer teen ‘n ongelooflike spoed. Sy weet alreeds dit gaan louter plesier wees om aan hierdie manuskrip te werk.

Sy is egter skaars ‘n halfuur aan die gang, toe staan Ben Barnard voor haar deur. Dit is al erg genoeg, maar dis nie al nie. ‘n Halwe tree agter Ben staan Stefan van Huyssteen. Háár Stefan, al is hy lankal nie meer hare nie.

“Juffrou Schoeman, ek stem nie saam met jou verslag nie,” val Ben ook sommer weg.

Cecilia haal diep asem, tel blitsvinnig in haar kop tot tien en toe nog ‘n keer tot tien, kry darem haar asem terug: “Wil Meneer ons nie eers bekend stel nie? Ek neem aan dis die skrywer hierdie?”

So ja, sy gaan beslis nie laat blyk hulle ken mekaar nie, al is die skok in Stefan se oë duidelik sigbaar. Gelukkig fokus Ben op haar, so hy sien niks raak nie.

“O ja, natuurlik. Cecilia Schoeman, Stefan van Huyssteen. Advokaat Stefan van Huyssteen.”

Sy steek haar hand na Stefan uit, mompel iets wat vir “aangename kennis” moet deurgaan en wys hulle moet sit. Haar hart sit op loop en sy voel ‘n klammigheid in haar nek uitslaan.

 Stefan se hand vou ‘n oomblik om hare, sy oë hou hare vas. “Aangename kennis, Cecilia.” Sy hand is nog netso bekend, sy stem so diep soos destyds.

Genadiglik onderbreek ‘n haastig klop aan haar deur die ongemaklike oomblik. Dennis kom ook sommer in, duidelik op die oorlogspad. “Cecilia, moenie dat Ben jou boelie nie. Hierdie manuskrip is nie geskik om uit te gee nie en hy weet dit.

“Ek stem saam met jou, Dennis, en ek het vir Ben ‘n verslag gestuur. Ek het ook Marlise se mening gevra en sy stem saam.”

“Het julle ooit die ding gelees? Of het julle sommer net besluit dis ‘n oorlog dié en dis nou drie teen een?” Ben kyk heen en weer tussen haar en Dennis asof hy hulle tot ‘n geveg uitdaag. Pure ou bul wat hom teen die jonges moet verdedig.

“Ons het dit beslis gelees,” koor sy en Dennis uit een mond. “Marlise het vroegogend begin en is steeds aan die lees. Sy het egter alreeds haar mening vir my gegee,” voeg sy by. Sy wil nie baklei nie. Sy wil net haar werk doen. Daarby begin sy teen haar sin so effens jammer voel vir Stefan. Hy is duidelik verleë, kyk net fronsend van die een na die ander. As selfs ‘n gladdebek advokaat nie ‘n woord kan uitkry nie, moet jy weet hoe sake staan.

Hierdie situasie sal sy moet ontlont en vinnig ook. Net jammer haar verstand staan botstil en ‘n sonbesie sing sy liedjie in haar ore. Al wat sy nou nog moet doen is om flou te val, dan is haar ellende volmaak.

“Oom Ben, kan ek en júffrou Schoeman miskien op ons eie die saak bespreek? Hierdie situasie is regtig vir my ‘n verleentheid.” Stefan het klaarblyklik sy stem teruggekry.

“Wel, moenie sê ek het nie my bes gedoen vir jou nie.” Ben staan summier op en loop deur toe.

“Dis ‘n goeie plan.” Dennis knik vir haar en stap ook uit. Nie hy of Ben het ‘n idee in watter nagmerrie hulle haar nou ingooi nie.

4 gedagtes oor “Storieboekliefde hfst. 1, tweede toneel – Marile Cloete

  1. Hallo Alta

    Ek geniet die boek alreeds, al is daar nog net twee hoofstukke uit.

    Ek moet ongelukkig net ‘n foutjie uitwys. Waar Ben vir Cecilia voorstel, sê hy haar van is Steyn, ipv Schoeman.

    Baie dankie vir lekker leesgenot.

    Groete van nog ‘n Paarliet Natascha Olivier

    1. Baie dankie!
      Dit is so dat die manuskrip nie professioneel geredigeer is nie, so foutjies is nie onmoontlik nie. Ek maak dadelik reg.

Lewer kommentaar