Ek is nie besonder goed met gedigte nie (behalwe as dit deur ‘n stemkunstenaar voorgelees word) en ek was ekstra skrikkerig vir hierdie bundel. Tom Dreyer is die skrywer van verskeie letterkundige romans wat pryse gewen het en waarvan ek ongelukkig nie veel verstaan het nie. Groot is my verrassing dus toe ek hierdie bundel versigtig oopmaak en skrikkerig begin lees. Al verstaan ek nie alles nie, gryp dit my aan. En dis die belangrikste, dink ek.

Inligting van Kwela Boeke:
Fisika, die metafisiese, en selfs wetenskapfiksie word verweef in Nou in infrarooi. Soos die titel suggereer, gaan dit hier oor dit wat sigbaar is versus dit wat nié deur blote sig waarneembaar is nie. Bestaande plekke – sommige naby en ander ver – word taktiel en ewokatief in reisgedigte uitgebeeld. Hiermee saam hang die verkenning van die onsigbare: van identiteit, ’n soeke na waar jy hoort, weemoed en liefde. ’n Debuutbundel wat bekroonde skrywer Tom Dreyer onomwonde as digter vestig.