Storieboekliefde hfst. 1, derde toneel – Marile Cloete

Stefan kan homself nie keer nie. Die oomblik toe die deur agter oom Ben en die ander man toegaan, is hy op uit sy stoel en het hy sy arms vir Cecilia oopgemaak. Die manuskrip maak nie meer saak nie. Niks maak meer saak nie, behalwe dat hy haar gekry het. Op die mees onverwagte tyd op die mees onverwagte plek. “Cielie, dis so goed op jou te sien! Ek het nie ‘n idee gehad jy werk hier nie.”

 Sy ignoreer sy uitgestrekte arms, gaan sit net agter haar lessenaar en skuif haar stoel aandagtig presies soos sy dit wil hê. Toe sy opkyk, is haar blou oë koel en afsydig. “Kan ons op die manuskrip konsentreer, asseblief?” Sy kon net sowel met ‘n vreemdeling gepraat het.

Hy laat hom nie so maklik koudsit nie. “Is dit regtig al wat jy vir my te sê het? Ná al die jare?”

“Ons is nou in ‘n professionele situasie saamgegooi, kom ons maak die beste daarvan.” Haar stem is koel en afstandelik, maar hy onthou hoe dit dieper geword het in oomblikke van passie.

Hy onthou soveel dinge dat hy skaars hoor wat sy sê. “Oukei dan, as jy nou só wil wees.”

“Ek probeer net professioneel wees.”

 Hy haal diep asem, druk die beelde uit die verlede agtertoe in sy kop. “Jy dink nie my manuskrip is geskik vir publikasie nie. Jou twee adjudante stem blykbaar saam, terwyl oom Ben my laat verstaan het my poging is omtrent die beste ding ná gesnyde brood.”

3 gedagtes oor “Storieboekliefde hfst. 1, derde toneel – Marile Cloete

  1. Sjoe, maar die minnaar uit haar verlede is ongeskik. Bly sy het hom op sy plek gesit. En dat hy sy neus optrek vir LIEFDESVERHALE – onverskoonbaar!

Lewer kommentaar