Storieboekliefde: ‘n geskenk vir jou!

Meer as ’n dekade gelede het ’n klomp van destyds se Romanzaskrywers op ’n blog begin saamkuier ná Madelie Human se inisiatief. Skryf is ’n eensame werk en dit was ’n groot heerlikheid om eindelik sommige van ons mede-Romanzinas virtueel te ontmoet. Ons het die internet aan die brand gesels. Dit was heerlik om ons ervarings van die skryfproses met mekaar te deel. Uiteindelik het die bloggeselse op ’n paar onvergeetlike skrywerskuiers uitgeloop. Die bloeityd van blogs het mettertyd verby gegaan, maar ’n groot groep van ons het via Facebook kontak behou en op hoogte van mekaar se loopbane en lewens gebly.

 Een uitvloeisel van die blog was ons eerste blogromanse, Deeglik verlief. Ek kan net sê dit was ’n prettige storie – en die pret het soms ’n bakkery ingesluit. 😊Ongelukkig het die storie in die eter verdwyn, maar die goeie herinneringe aan die projek het gebly. Iewers in verlede jaar kom die gedagte toe by my op: Hoekom kan ons dit nie weer doen nie? Deur sosiale media kan ons ons storie so maklik as ’n geskenk met ons getroue lesers deel.

 Die resultaat was Storieboekliefde, ’n volbloedromanse, geskryf deur tien ervare romanseskrywers. Storieboekliefde vertel die verhaal van Cecilia, ’n jong uitgewer wat verkies om met romantiese fiksie te werk. Natuurlik is daar ook ’n held wat enige vrou kan laat drome droom en gesigte sien!

Ons het die heldin se naam en beroep gekies uit erkentlikheid aan Cecilia Britz, die moeder van die Romanzareeks, wat ’n groot rol gespeel het om elkeen van ons aan die skryf te kry en aan die skryf te hou.

 Van môre af gaan ek Storieboekliefde gratis en verniet hier op my blog met julle deel. Toneel vir toneel, elke dag ’n stukkie lekkerte. Die skakel sal ook altyd op Facebook verskyn. Daarmee sê ons baie, baie dankie aan al ons getroue lesers vir julle ondersteuning oor baie jare heen.

Die volgende nege skrywers het saam met my (as Marilé Cloete) aan die projek gewerk: Ida Bester, Malene Breytenbach, Elize Davies, Madelie Human, Kristel Loots, Susan Olivier, Bets Smith, Magdaleen Walters, Elsa Winckler. Dit is egter nie noodwendig die volgorde waarin ons die hoofstukke geskryf het nie. Ek besluit nog of ek gaan noem wie elke hoofstuk geskryf het – dalk moet ons ons lesers laat raai!

Ons hoop julle lees heerlik!

6 gedagtes oor “Storieboekliefde: ‘n geskenk vir jou!

  1. Dalk moet hierdie uitgegee word as ‘n boek of e-boek. Dit sal wonderlik wees. En dalk kan ons weer so ‘n inisiatief probeer, met nuwe skrywers wat graag wil skryf?

    1. Ongelukkig is dit afgekeur. Toe het ons besluit om dit in elk geval met lesers te deel. Indien dit as boek kon verskyn, sou ek graag weer so ‘n projek wou aanpak. Andersins nie, want dis ‘n groot werk,

      1. Ek dink tog daar is potensiaal. Dalk moet jy dit vir Trisa Hugo stuur, sy het al e-boeke uitgegee. En deesdae skryf daar gereeld ‘n paar skrywers saam.

      2. Daar is geen twyfel aan die potensiaal nie. Maar ek het besluit om nie verder energie daaraan te bestee nie. Dis vreeslik lekker om dit hier te plaas en verstommend baie reaksie te kry.

Lewer kommentaar