Saartjie die spinnekop met sewe bene – Riana Scheepers

Amanda Claassens se resensie van Saartjie – ek kan dit nie beter beskryf nie:

Hoe Saartjie haar been verloor het.

’n Pragtige nuwe, eg-Afrikaanse publikasie vir kinders is vandeesmaand op die rakke. Riana Scheepers se nuutste boek vertel die verhaal van Saartjie, die spinnekop met sewe bene. Saartjie is ’n krapspinnekoppie, en loop skeef-skeef soos ’n krap. Wanneer sy haar agt pote intrek, lyk sy inderdaad ook presies soos ’n krap.
In hierdie verhaal, wat ideaal is om voor te lees aan kleuters en jong kinders, hoor ons hoe Saartjie ’n been verloor omdat iemand haar juis vir ’n krap aansien. Haar maatjie, Alten Akkedissie, het al ’n stert verloor aan die hand van dieselfde vrou. Dan is daar ook nog gif wat ’n bedreiging inhou.
Terwyl die kinders hoor van Saartjie se wedervaringe, is daar sommer ook geleentheid om te leer van kamoeflering, blomme en kleure. Elsabé Ebersöhn se illustrasies is werklik uitmuntend, kunswerke in eie reg.
Saartjie sal met reg kan pronk op elke kind se boekrak.

Lewer kommentaar