Random gedagtes: Is jy ‘n wysneus?

Die volgende stukkie deur ene Alwill Westcott kom uit ‘n Rapport van êrens vroeg in die jaar. Ek plaas dit nie spesifiek oor die persone wat as voorbeelde genoem word nie, maar oor die baie geldige punt wat Alwill probeer maak. Ek dink ons almal is maar geneig om soms ondeurdagte uitsprake oor ander mense te maak, sonder dat ons noodwendig al die inligting ingewin het. En ons almal loop maar met vooropgestelde idees oor mense en dinge …

Mens kan nooit ophou leer nie. Of ten minste, so sê hulle. Die sê-ding geld blykbaar net vir sekere van ons.

Dit is vir my altyd vreeslik interessant hoe iemand kan besluit hulle weet genoeg van iets. Hulle sal met die grootste selfversekerdheid vir jou vertel hoe groot ‘n vuilbek Casper de Vries is: ‘Want Tant Betsie het hom een keer gaan kyk in die Staatsteater. Jissie en Tant Betsie was so ontsteld; sy kon nie glo watse kru taal die mannetjie gebruik het nie.’ So ontsteld, in fact, dat sy helemal vergeet hoe sy te kere gaan wanneer sy agter ‘n stuurwiel in klim.

Of: ‘Daai Koos Kombuis, die ou daggakop. Hy drink mos ook so baie. Weet meeste van die tyd nie watter seisoen dit is nie. En dan wil hy nog loop artikels skryf? Moenie my laat lag nie.’ Die soort opinie word heel selfvoldaan geuiter deur die tipe wat dan ook helemal vergeet hoe lekker hy spog dat hy so dronk oor die naweek was, dat hy skaars sy eie naam kon onthou of regop kon staan.

Of: ‘Daai Max du Preez, die blerrie kommunis. Hy wou mos gehad het die ANC moet oorneem. Nou dat hulle het, nou wil hy skielik kom kla. Jy’t jou bed gemaak ou maat, nou moet jy maar in hom slaap.’

Probeer so bietjie vir ‘n slag verder dink as jou eie neus. Dit is nooit ‘n goeie idee om tweedehandse nuus te aanvaar as die Heilge Evangelie nie. Jou Tant Betsie is ook maar net ‘n mens, wat die wêreld ervaar deur haar eie klein, verwronge, onopgedateerde verwysingsraamwerk. Doen so bietjie moeite en gaan vind vir jouself uit of Casper dan nou rêrig so erg vloek. Volgens my vloek hy nie veel meer as meeste ander mense nie. Ek dink dis die feit dat hy op ‘n verhoog vloek wat ander so ontstel.

En net omdat jy een keer in 1988 gelees het van hoe Koos Kombuis suip en dagga rook, maak jou nou nie die self aangestelde ekspert in alle sake rakende Kombuis nie. Snaaks genoeg het die wêreld en die tye aanbeweeg sedertdien. Ou Koos is nou getroud en het ‘n familie, en is deesdae ingestel op sy gesondheid. Dis nogal skokkend wat mens kan leer wanneer jy besef dat jy miskien tog nie alles in die lewe weet nie.

Ons leef in die era van inligting. Dis beskikbaar enige tyd, enige plek. Dit is rerig nie so moeilik om meer uit te vind oor enige onderwerp onder die son nie. Maar natuurlik moet mens dit wil doen. Jy moet die keuse maak om buite jou gemaksone te gaan en ander opinies en maniere van dink uit te probeer.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s