Tag Archives: Elize Davies

Storieboekliefde hfst. 3, tweede toneel (1) – Elize Davies

Sjoe, hy het al vergeet hoe daardie blou oë kan blits wanneer sy haar vererg. Het hy nou te ver gegaan? wonder Stefan geamuseerd.

Dalk het hy. Cielie se gesig is geslote en haar bewegings is stokkerig toe sy afbuk en haar handsak optel. Sy stoot haar stoel agtertoe en staan op. Haar rug is pennetjieregop en haar skouers is stokstyf. Ja-nee, sy is woedend.

 Goed so. As hy haar nog kwaad kan maak, beteken dit hy laat haar nie koud nie.

Storieboekliefde hfst. 3, eerste toneel (2) – Elize Davies

Sy staar grootoog na hom. “Jy het? Wanneer? Hoekom?”

“Vier maande later. Want mens gooi nie ‘n verhouding van drie jaar sommerso weg nie, verdomp.” Koffie stort oor die rand van sy koffiebeker toe hy dit op die tafel neerplak. “Al is die meisie met wie jy drie jaar lank uitgegaan het en met wie jy al jou ideale en jou toekomsdrome gedeel het, nie bereid om haar te laat bind nie. Al het sy jou huweliksaanbod van die hand gewys sonder ‘n behoorlike verduideliking.”

Verontwaardiging stoot in haar op soos warm melk op ‘n stoofplaat. O, so, nou is alles háár skuld! “Stefan, jy sê ék maak vinnige gevolgtrekkings sonder om my van die feite te vergewis, maar wat van jou? Jy het net geloop – sonder om selfs te groet. Weet jy hoe het ek gevoel? Wat moes ek doen? Agter jou aanhardloop gopse toe?”

Storieboekliefde hfst. 3, eerste toneel (1) – Elize Davies

Sy het inniglik gehoop The Rose and Crown is raserig, besig en propvol, maar nee, vandag is nie háár dag nie. Van die oomblik dat Ben die boelie Stefan se manuskrip op haar lessenaar neergeplak het, staan die gremlins mos tou om haar siel te versondig.

Die pub is stil. By die kroegtoonbank sit ‘n man met druipskouers koponderstebo en staar na die amber inhoud van sy glas. Die enigste ander besoekers is ‘n gryskopman en -vrou by een tafeltjie en ‘n groepie jongmense by ‘n ander. Dowwe beligting en romantiese agtergrondmusiek skep presies die atmosfeer wat sy wou vermy.

 Cecilia mik na ‘n tafeltjie in die middel van die vertrek, maar Stefan neem haar ferm aan die arm en stuur haar na ‘n hoektafeltjie, eenkant, privaat, weg van enige moontlike gewoel.

Een genade, Cecilia, die aand kan nie vir altyd aanhou nie. Een vinnige drankie, dan kan sy ontsnap, troos sy haarself.

Stefan gaan sit reg oorkant haar. Hy leun vorentoe en plaas sy elmboë op die tafel. Hy is so naby aan haar dat sy sy sjampoe kan ruik. Sy leun instinktief terug in haar stoel, maar dit help nie. Stefan se nabyheid is oorweldigend. Bedwelmend.

Storieboekliefde hfst. 2, derde toneel – Bets Smith

Cecilia sit die leë koffiebeker langs sy drie voorgangers neer en herlees vinnig die aanvaardingsbrief vir Bets Smith se manuskrip wat sy pas klaar gekeur het. Nadat sy op die stuurknoppie onderaan geklik het, maak sy seker die e-pos is versend. Daarna staar sy na die rekenaarskerm. Dis twee vyf en vyftig, beskuldig die tydlesing. Etenstyd het gekom en gegaan, maar die blote gedagte aan kos laat haar gril.

Elke keer as sy ‘n oproep beantwoord, vir haar koffie gaan maak of selfs net opkyk van haar werk, verskyn Stefan se beeld voor haar oë. Noudat hierdie manuskrip afhandel is en haar konsentrasie verslap, gaan die flippen man verskyn en verseg om te verdwyn.

“Kon die bleddie man nie maar ‘n boggel en ‘n boep ontwikkel het nie? Vir wat is hy nog aansienliker as toe ek geglo het daar loop geen sexier man op twee bene rond nie?”