Storieboekliefde hfst. 2, toneel 2 – Bets Smith

Hy lig sy hand in ‘n vredesgebaar en hoop sy gesig lyk boetvaardig genoeg.

“Konsentreer, Stefan van Huyssteen.”

Toe hy sy eie stem in die geslote ruimte hoor, besef hy hy het Cielie se gewoonte om hardop met haarself te praat, nageboots.  

Het sy storie dalk ou wonde oopgekrap? Hy kan nie onthou presies hoe hy sy pyn destyds verwoord het nie. Al wat hy wou doen is om die verlies uit sy lyf te kry. Om met iemand daaroor te praat was ondenkbaar. Skryf was die enigste alternatief.

Om alles in woorde te stel, het weke geduur maar het tog op die ou end helderheid gebring. Toe hy Die Einde tik, het hy besef dat sy liefde nie só kan eindig nie. Dat dit meer baklei werd was as tagtigduisend woorde wat afstuur op ‘n hartseer einde.

Die volgende dag het hy na haar begin soek.

Hy druk die telefoontjie op sy voertuigstuur en kies die snelbelknoppie op sy motorradio se skerm. Sy sekretaresse se formele groet vul die kajuit.

“Tannie Tina, is my volgende afspraak baie dringend?”

“Nee, Stefan. Wil jy hê ek moet mevrou Tredoux vir later vanmiddag herskeduleer?”

Tina Struwig is goud werd. Middeljarig, moederlik, kalmerend. Die ideale mens om stormagtige situasies te ontlont. “Asseblief. Ek moet my ma dringend gaan sien terwyl haar man nie by die huis is nie.”

“Dit klink onheilspellend, maar ek glo jy weet wat jy doen.” Haar stemtoon tower haar glimlaggende gesig voor sy oë op.

As hy meer tyd gehad het, het hy die hele manuskrip vanaand nog deurgelees om te sien of Cecilia se kritiek geregverdig is. Hulle kritiek, as sy werklik eerlik was daaroor dat die ander twee nie deur haar beïnvloed is nie. Dis net dat daar eenvoudig nie tyd in sy skedule is om nou die hele storie deur te werk nie.

Wat sou sy pa gesê het?

So helder asof hy by hom in die voertuig is, hoor hy die bekende stem se gebruiklike reaksie: “Vra jou ma. Sy het altyd die antwoord wat jou pas.”

Kan hy dit waag om die manuskrip vir sy ma te gee om te lees? Sy is die een mens buiten sy pa wie se oordeel hy nog altyd vertrou het. ‘n Wyse vrou en ywerige leser van ‘n verskeidenheid genres. Kan hy nog haar oordeel vertrou as sy een kort jaar ná haar jeugliefde se dood weer getrou het, en dit ná ‘n gelukkige huwelik van oor die veertig jaar? Oom Ben is wel ‘n ou jeugvriend van haar en nie ‘n Blink Stefaans wat haar uit haar geld gaan verneuk nie. Nogtans.

Die imposante ingang na Ben Barnard se huis beëindig sy mymering. Hy het ten minste nie nodig om die man in sy pa se bekende ruimte te sien nie.

Toe die hek oopswaai, ry hy in. Hy sal weet wat om te doen sodra hy sy ma sien.

Die aantreklike middeljarige vrou in die voordeur vou hom teen haar lyf vas. “Wat ‘n heerlike verrassing.” Haar reuk en die bekende koestering herroep soortgelyke insidente uit sy kinderjare. Die troos daarvan syfer deur sy lyf, versag die skok van Cielie se verwerping.

“Ek het weggeloop by die werk, want ek het Ma se onpartydige opinie dringend nodig,” val hy weg toe hulle albei in die sonkamer sit.

“Het Ben jou manuskrip afgeskiet?” Sy ma moes sy ontsteltenis aangevoel het.

“Inteendeel,” erken hy. “Oom Ben se woorde was dat dit ‘n vonds is.”

Haar wenkbroue ruk verbaas omhoog.

“Die vraag is nou of hy fonds met ‘n f of v bedoel, daarom wil ek by Ma hoor of hy net gretig is om my sover te kry om hom as ‘n pa te aanvaar.” Sy ma skud reeds haar kop, maar hy lig sy hand. “As die storie swak is en kritici trek dit uitmekaar, gaan dit nie tot sy nadeel wees nie? Of is dit juis wat hy wil hê? Almal weet hoe ‘n boek van die rakke af vlieg sodra die geleerdes mekaar in die hare vlieg oor die waarde daarvan.”

Sy skud nog steeds haar kop toe hy klaar is. “Jy ken Ben eintlik swak, Stefan. Hy is wel bietjie stywenek, selfs outyds, maar hy is in my opinie nie agteraf nie. Sy bedoeling was nog nooit om Pappa se plek in te neem of dat jy hom as ‘n pa of selfs as ‘n gesagsfiguur moet aanvaar nie. Dis ook nie wat ek wil hê nie. Jy is tog nie meer ‘n kind nie. Ek wil net graag hê julle moet mekaar respekteer.”

Sy kyk hom streng in die oë asof sy seker wil maak hy neem in wat sy sê, daarom knik hy.

“Julle hoef ook nie best buddies te wees net om my te plesier nie.” Haar oë blink skielik asof die trane vlak lê. “Ek en Ben was goeie vriende op skool, ken mekaar dus goed. Met ons weersiens het ons gepraat oor hoe skreiend eensaam mens is as jy ná ‘n gelukkige huwelik alleen agterbly. Hoe lank was jy en Cecilia in ‘n verhouding?”

Die vraag vang hom onkant. “Drie jaar, Ma.”

“En jy is nog nie daaroor nie. Ek weet, want ek ken jou. Hoeveel erger dink jy is dit wanneer mens vir veertig jaar saam ‘n lewe gebou, ‘n huis gedeel en ‘n kind grootgemaak het? Die hartseer word stadigaan minder, maar die eensaamheid bly. Al is jou lewe hoe vol en besig, is jy waaragtig mensalleen as jy saans die deur toesluit, my kind. Ek het daardie oomblik begin vrees.” Sy vee die traan wat ontsnap het, ongeduldig weg. “Dis sagter om saam eensaam te wees. Om saam te verlang en te onthou, om ook saam te lag oor die goeie tye.”

“Ai Ma, ek het nie so daaraan gedink nie.” Hy staan op en buk om haar ‘n drukkie te gee. “Dit beteken vir my baie dat Ma daaroor oopgemaak het. Jammer dat ek soms so hardegat is.”

Sy klop-klop hom met die plathand op die rug. “Julle mansmense probeer te hard om dinge logies uit te redeneer,” sê sy toe hy terugtree. “As jy weer ‘n onderhoud voer met ‘n paartjie wat kibbel en stry oor ‘n egskeidingsooreenkoms, luister mooi hoe hulle dinge verwoord: Die man sal meestal sê ‘Ek dink sus en so oor die saak’ terwyl die vrou se weergawe ‘Ek voel sus en so daaroor’ sal wees. Moenie my daai kyk gee asof jy sê dit kom op dieselfde neer nie. Daar is ‘n hemelsbreë verskil. Toe loop nou, ek kan sien jy is haastig en ek het ‘n boek om te lees.” Haar hand gaan na die boek op die koffietafel langs haar: Alta Cloete se Opdrag van Oorkant. Tog verseker haar glimlag hom sy is lief vir hom.

Toe hy by die erf uitry, onthou hy dat hy en Cecilia soms vasgesit het. Herroep ook dat hy keer op keer vir haar gesê het sy redeneer met haar hart en nie met haar kop nie. Tydens die rit terug kantoor toe, onthou hy presies hoe dikwels hulle wel gestry het. Daardie bos rooi hare waarsku nie verniet dat sy haar nie laat domineer nie.

Sy kop sing nog van die gesprek met sy ma, nou ontdek hy in sy verlede bewyse dat sy reg is. Die gevoel dat sy eie verlede hom behoorlik teruggeruk het aarde toe uit sy ivoortoring, volg hom toe hy by die kantoor uit sy voertuig klim. Hy wou haar gaan vra om sy storie te lees, maar hulle gesprek het by iets veel belangriker uitgekom. Hy verstaan sy ma nou beter, hopelik sal dit hom help om mettertyd vir oom Ben ook te aanvaar.

In die hysbak boontoe erken hy ook dat hy die afgelope tyd toenemend agterkom dat dié sake waarby hy pro bono betrokke raak, kwessies is waarin sy emosies ‘n definitiewe rol speel. Dis hoekom hy soms ergerlik raak en heimlik sy humeur verloor. Tog is dit ook die sake waarin sy slotbetoog tot dusver meer oorredend en treffend was as andersins – dis te sê as hy die koerante en sy kollegas kan glo.

Miskien moet hy eers weer self sy manuskrip krities deurlees en ook let op hoeveel keer hy daarin impliseer dat die heldin emosioneel redeneer, of dat die held ‘n saak logies bedink. Al word die storie nie gepubliseer nie, kry hy hopelik gemoedsvrede oor die uitgewers se kritiek. Die manuskrip is immers sy eie verantwoordelikheid. Hy gaan nie sy ma op hierdie stadium opsaal met die probleem hoe om hom taktvol te sê dis ‘n pot vol strooi nie

Wat ook al met die ding gebeur, is buitendien irrelevant. Sy lewe en toekoms hang nie daarvan af nie. Dit het sy doel gedien om die pyn en ergste gif uit sy lyf te kry.

Asof Cecilia met vreemde magte saamgespan het om by hom te spook, sit Tina Struwig agteroor in haar kantoorstoel met ‘n slapbandboekie. Marilé Cloete, Tuiskoms van die hart. Wat is dit met die Cloete-skrywers vandag? Of sou dit dieselfde persoon wees wat die slapbandgoedjies onder ‘n skuilnaam skryf?

Op die ingewing van die oomblik gaan staan hy voor haar lessenaar. “Tannie Tina, sal jy my asseblief ‘n guns doen wanneer mevrou Tredoux opdaag vir haar afspraak?”

Sy knik geïnteresseerd soos hy geweet het sy sal.

“Kom asseblief saam met haar in, op voorwendsel dat jy notas moet neem. Maak dan vir my aantekeninge oor hoeveel keer ek sê ek dink sus of so, en hoeveel keer ek sê ek voel. Doen ook dieselfde met haar. Sommer in twee kolomme onder die opskrif dink en voel, sonder enige verdere detail.”

“H’m, dink en voel, sê jy.” Haar mond is op ‘n sedige plooi getrek, maar haar oë lag vir hom. “Ek maak so en hoop die eksperiment word herhaal wanneer jy twee strydende besigheidsmanne moet uitsorteer.” Sy is kennelik baie ingenome met die idee.

Nog aan die wonder oor haar entoesiasme loop hy na sy kantoor. By die deur draai hy om. “As ysbreker kan jy haar sommer vra of sy ook lief is vir lees soos jy, en wat sy die graagste lees.”

1 gedagte oor “Storieboekliefde hfst. 2, toneel 2 – Bets Smith

Lewer kommentaar