Storieboekliefde hfst. 2, derde toneel – Bets Smith

Stilte is haar enigste antwoord, daarom staan sy op en gaan maak vir haar nog koffie. “Dan werk jy hom maar weer uit jou kop uit, ou girl.”

Sy maak die lys nuwe manuskripte oop. Spoedleeskursusse en harde leeswerk het haar leesspoed verfyn tot sy twee manuskripte per dag kan deurwerk as sy haar daarop instel. Wanneer die skryfstyl egter die vloei elke tweede paragraaf rem of as perspektiefwisseling haar teen die mure uitdryf, kry sy net een storie onder die knie.

Vinnig rol sy deur die lys af tot by ‘n bekende naam en klik sodat die manuskrip oopmaak. Elize Davies se boeke lees lekker, die storie behoort haar aandag vas te hou en die skryfstyl sal nie haar geduld beproef nie. Die titel vang dadelik die oog: ‘n Wetenskaplike benadering. Nie ‘n tipiese titel vir ‘n romanse nie, maar dit prikkel juis haar belangstelling.

Marlise loer om die deur en wys na die vyf bekers op die lessenaar. “Gaan jy die res van jou lewe hier uitkamp tot jy ‘n bruin geraamte is van al die kafeïen? Jy’t vandag niks vir middagete geëet nie, net koffie gedrink.” Cecilia gluur vir haar, maar Marlise tik veelseggend op haar horlosie. “Jy moenie so laat oppak dat jy alleen hier uitwoerts nie. It ain’t safe, babe,” vermaan Marlise in haar beste skollie-uitspraak.

Die tyd onder aan haar skerm slaan oor na vier vyf en vyftig. “Ek maak net gou …”

“Vergeet dit.” Marlise stoot die deur wyer oop en sit haar hande op haar heupe. “Die dokument sal môre oopmaak waar jy laas was. Ek wag hier sodat ons saam-saam kan uitloop.”

“Jy het toe die advokaat se manuskrip vir Kitty gepos en verduidelik wat ons wil hê sy moet doen, nè?” vra Cecilia terwyl die hyser minute later afry na die parkeerterrein. Die laptop wat oor haar skouer gehaak is, ontlok ergerlike kyke van Marlise.

“Jip, en ‘n diplomaties-bewoorde e-pos vir hom gestuur, in my naam, maar ek het my tjap wat pertinent verklaar ek’s jou assistent, onder aangelap.” Marlise tik met haar voorvinger teen die rekenaar. “Dié is seker ‘n noodmaatreël omdat jy weet jy gaan vanaand nie ‘n oog toemaak ná al daai koffie nie.”

Cecilia glimlag vaag maar draai by haar motor impulsief na haar assistent en gee haar ‘n vinnige druk. “Dankie vir jou vroegoggendhulp met die advokaat se manuskrip. Geniet jou aand en môreoggend se draffie, maar gee tog daai nice man van jou ‘n behoorlike soen. Hy’s een van die bestes.”

“Haai, Cielie …” Marlise gaap haar oorstelp aan. “Hopelik treat Marnus jou vanaand op ‘n lekker ete wat daai koffie verdun sodat jy vannag kan slaap. Jou oë staan regtig stokstyf ná die oordosis opkikkers.”

Haar oë voel werklik of hulle uit haar kop wil spring toe sy haar motortjie aanskakel. “Reguit gym toe met jou, ou girl. Sweet dit uit, dis al raad. Dan is jy boonop moeg genoeg om vannag te slaap, want Marnus gaan nie opdaag nie. Hy kom mos gelukkig eers Saterdag terug. Of só het hy vir my gesê. Lyk my hierdie manuskrip het jou kop so deurmekaar dat jy nie eens met jou vriend se bewegings kan byhou nie.” Normaalweg vermy sy die gim ná werk, maar vandag is ‘n noodgeval. Sy moet eenvoudig op ‘n manier die spanning uit haar lyf kry.

Die verkeer is reeds besig om af te neem sodat sy gouer by die gim kom as wat sy verwag het. Handsak en laptop oor die skouer loop sy die portaal binne en drafstap na die kleedkamer waar haar toesluitkas met gimklere is. Minute later is sy op ‘n spinfiets. Eers toe sy veertig minute later natgesweet en uitasem is, kyk sy vlugtig op. Die lang muurspieël voor haar kaats die beeld van die gimnasium se oefenruimte na haar terug. Die bekende lyf waarmee dit haar konfronteer, kan sy nie miskyk nie.

Stefan se aandag is gelukkig by die roeimasjien wat hy met soveel mening gebruik dat dit lyk asof hy daarmee huis toe wil vaar.

“Hoe tipies. Murphy sê as enigiets verkeerd kan gaan, sal dit. En dit het.”

“Askies, juffrou?” Die tiener wat verbyloop, briek en staar na haar.

“Sommer niks.” Stefan van Huyssteen in al sy glorie, die verkeerdste ding wat haar hier aan die einde van haar dag kan tref. Hy is natgesweet, net soos sy. Sy lyk kapoet; hy lyk na die toonbeeld van gesondheid wat nog ure lank kan aanhou.

Sy sug radeloos, maar die man verdwyn nie, al kyk sy weg. As sy haar oë toemaak, is sy beeld selfs duideliker. Hy is nie ‘n spiertier soos ‘n liggaamsbouer nie. Nee, syne is die lenige spiere van ‘n swemmer, spiere wat meer met gene te doen het as met oefengewigte.

Uit hierdie plek moet sy wegkom voor hy opkyk en haar raaksien.

Op voorwendsel dat sy haar gesig afdroog, hou sy haar gimhanddoek so dat hy haar nie in die spieël kan herken as hy dalk opkyk nie, skarrel na die deurgang en pyl op die kleedkamer af.

“Soos ‘n verskrikte muis,” bestraf sy haarself terwyl sy stort. Die water wat oor haar lyf loop, kalmeer haar tog sodat sy rustiger klaarmaak. Met die klam klere in haar gimsak, haar handsak en laptop oor haar skouer, koers sy ‘n halfuur later na die uitgang.

“Hou op worrie, hy oefen nog,” praat sy haarself moed in.

Die buitedeur is reeds in sig toe sy na die spieël in die oefenlokaal loer om seker te maak dis presies wat hy doen. Die volgende oomblik loop sy hard in iemand vas. Toe sterk arms haar vasvat om te keer dat sy val of dat haar besittings op die portaalvloer beland, weet sy dis hy.

“Goeienaand, juffrou Schoeman.” Sy weet nie of hy sarkasties is met die formele aanspreekvorm nie. Aangetrek soos toe hulle vroeër in haar kantoor ontmoet het, lyk hy baie meer op sy gemak as wat sy voel. Sy hare is nat en hy ruik vars ná sy stort.

Herinneringe aan hoe hy altyd eeue voor haar gereed was vir ‘n afspraak, maar tog gelyk het asof hy ure aan sy voorkoms gewy het, tref haar in die ribbes.

“Naand, Stefan, jy het vinnig klaargemaak.” Cecilia, is jy breindood om so luiters uit te lap dat jy hom daar binne al raakgesien het?

“Jy ook.” Die effense glimlag erken haar glips. “Ek het jou nog nooit voorheen hier opgemerk nie.”

Dan gaan hulle beskaafd optree. “Ek het normaalweg soggens spinklas, maar vandag was bietjie deurmekaar. Ek moes net nog ‘n sessie inkry.” En hoe. Die deurmekaargeit is skynbaar ook nog nie verby nie.

“Het jy ‘n afspraak, of kan ons ‘n drankie gaan drink by The Rose and Crown?”

Beslis nie, nee. Veral nie by die intieme klein pub, net ná ‘n spinsessie én op ‘n leë maag nie. “Ek voel dis dalk nie ‘n goeie idee nie.” Beslis en gewis nie. Slegste idee denkbaar.

Die fyn glimlaggie verklap hy het oor iets binnepret. “As ek belowe om nie ‘n woord te rep oor die verlede en veral nie die useless manuskrip op te haal nie?”

Ag jimmel tog, daardie sjokoladestem kon haar nog altyd oorhaal om dinge te doen wat sy geweet het op haar gaan boemerang. “In daardie geval … Maar net een en daarna gaan ek huis toe.” Sy kan altyd iewers langs die pad wegdraai en huis toe jaag as die geleentheid hom voordoen.

Tot haar ergernis haak hy haar gimsak en laptop van haar skouer af, maar sy oë lag haar uit toe sy haar mond oopmaak om te protesteer. In stilte stap hulle tot by haar motortjie, waar hy die deur vir haar oophou toe sy die sluitstelsel deaktiveer. Daarna sit hy haar sakke in die bagasiebak.

“En moenie wegjaag huis toe asof ek ‘n predator is wat jou roofies wil injaag, jou gaan vermoor en jou iewers in ‘n vlak graf sal inspit nie.”

Sy hap nog na asem toe hy haar deur sagkens toedruk, ‘n groet salueer en wegloop na waar sy voertuig straat-af geparkeer staan.

“Wat het jou besiel, Cecilia?” Sy kap met haar plathand teen die stuurwiel. Die een wat beweer weerlig slaan nie tweemaal op dieselfde plek nie, moet gefusilleer word. Hier kom ‘n ding wat net rampspoedig kan eindig.

2 gedagtes oor “Storieboekliefde hfst. 2, derde toneel – Bets Smith

Lewer kommentaar