Storieboekliefde hfst. 2, eerste toneel – Bets Smith

Cecilia knik. “In lewende lywe.”

“En jy het hom jou eerlike opinie gegee oor daai manuskrip?” Cecilia knik weer. “Jy en Dennis albei?” Nog ‘n knik. “En hy weet wat is my opinie?” Weer ‘n knik. “O vrek, dis tiekets met ons al drie. Stiefseun én advokaat? Ons is nie net ge-fire nie, ons is so-by-so op pad tronk toe.”

“Ek het darem ook genoem dat die manuskrip potensiaal het as hy bereid is om ontslae te raak van pretensie en die aspirasies om ryk te word,” erken sy.

Marlise se oë rek nog ‘n aks groter. “Jy’t dit presies so vir hom gesê?”

Knikkie knikkop, Cecilia. Jy’s ‘n marionet met ‘n kop op ‘n veer gemonteer.

“Shame, g’n wonder die man lyk soos ‘n donnerbui wat ‘n plek soek om uit te sak nie. Dink jy nie ons was bietjie wreed nie, Cecilia?” Marlise lyk berouvol. “Jy weet hoe voel ons romanseskrywers oor hul babatjies. Dis soos om vir ‘n ma te sê haar arend is ‘n afvlerkspreeu.”

Is dit hoe jy na jou skrywers se harde werk verwys? Stefan se vraag spook by haar, dis hoekom sy self begin wonder oor haar bewoording. Sy weet uit ondervinding hoe mens oor jou eie skryfsels voel, maar dis nou gedane sake. Ouma Petronella sou gesê het dis genadiger om die pleister met een pluk af te trek, eerder as ‘n millimeter op ‘n slag wat die foltering langer uitrek.

“Heroorweeg jy jou opinie oor die storie omdat die man sag op die oog is?” daag sy haar assistent uit.

“Ek erken hy is eye-candy, maar as iemand my poging as net goed genoeg vir die snippermandjie verklaar, het ek kop eerste by Kanniedood-Uitgewers se hoogste venster uitgeduik,” sê Marlise pront.

Dit het meer gelyk of Stefan haar by die venster wou uitsmyt as homself. “Die man was nie verpletter nie, hy was kwaad. Dink ek.”

“Dis ‘n kwessie van opinie,” gee Marlise toe. “Wat van ons verwittig hom eerder baie beleefd in ‘n e-pos dat ons die manuskrip ter wille van onpartydigheid vir ‘n objektiewe opinie stuur na ‘n onafhanklike manuskripkeurder. Dan mail ek dit vir Keurder Kitty en sê sy hoef nie haar rooi pen uit te haal nie, sy moet net ‘n verslag met aanbevelings aan hom stuur.”

“Ek vermoed dit gaan die saak dalk vererger.” Cecilia trek skewemond. “Daardie onweersgesig was omdat ek gewaag het om voor te stel ek keur die storie as romanse.”

“Ja, maar dis omdat jý dit wou keur nadat jy die storie reeds dood verklaar het. ‘n Breedvoerige outopsieverslag deur ‘n vrou met sulke Bette Davis-oë soos joune sou net sy pyn uitrek.”

“Ek sal daaroor dink, maar as ek nie nou aan die werk spring nie, fire die baas my regtig.”

Toe die deur agter Marlise toeklik, sit Cecilia lamgeslaan terug teen die rugleuning. Die skok van die weersiens en die gesprek wat daarop gevolg het, tref haar nou eers behoorlik. Stefan was opvallend geskok toe hy haar herken. Hy het beslis nie die manuskrip vir sy stiefpa gegee in die hoop dat sy dit onder oë sou kry, die skrywer en storie as hulle verhaal sou herken en dit sonder meer sou aanvaar nie.

As hy die sage geskryf het net ná hulle verhouding gestrand het soos hy beweer, het dit dalk die storie geïnspireer. Die ongemaklike gedagte dat dit hulle storie is, wil haar maar nie verlaat nie. Die karakters se taalgebruik is egter formeel en hoogdrawend, beslis nie eie aan die studentetaal wat sy en Stefan destyds gepraat het nie. Die gebeure en die afloop kon dié van enige gestrande verhouding wees. As sy die moeisame verhaal stroop van pretensie en wroeging, is dit die eeue-oue relaas van misverstand, wanpersepsie en vooroordeel wat tipies is van verlore liefde.

“Right, Cecilia Schoeman, genoeg gewroeg. Spring aan die werk.”

Sy klik op Bets Smith se manuskrip en hoop die slothoofstukke hou haar aandag vas sodat sy die hele sage en sy nadraai uit haar kop kan dwing. Sit veral die openlike vreugde wat op Stefan se gesig verskyn het toe die skok verdwyn, uit jou gedagtes. Vergeet jou vlugtige begeerte om in daardie ope-arms-uitnodiging in te stap tot teen sy borskas.

Jy is nie meer die gullible juniortjie wat huitjie en muitjie vir die aantreklike senior geval het nie.

3 gedagtes oor “Storieboekliefde hfst. 2, eerste toneel – Bets Smith

  1. Ek geniet die storie terdee. Dis baie vindingryk geskryf. En wat vir my belangrik is, is dat mens die “prentjies” sien terwyl mens dit lees – asof mens ‘n film sit en kyk.

    Dis net dieper as ‘n film, want mens sien tot binne-in Celia se gedagtes.

    Baie lekker leesstof.

Lewer kommentaar