Storieboekliefde hfst. 3, eerste toneel (1) – Elize Davies

Sy het inniglik gehoop The Rose and Crown is raserig, besig en propvol, maar nee, vandag is nie háár dag nie. Van die oomblik dat Ben die boelie Stefan se manuskrip op haar lessenaar neergeplak het, staan die gremlins mos tou om haar siel te versondig.

Die pub is stil. By die kroegtoonbank sit ‘n man met druipskouers koponderstebo en staar na die amber inhoud van sy glas. Die enigste ander besoekers is ‘n gryskopman en -vrou by een tafeltjie en ‘n groepie jongmense by ‘n ander. Dowwe beligting en romantiese agtergrondmusiek skep presies die atmosfeer wat sy wou vermy.

 Cecilia mik na ‘n tafeltjie in die middel van die vertrek, maar Stefan neem haar ferm aan die arm en stuur haar na ‘n hoektafeltjie, eenkant, privaat, weg van enige moontlike gewoel.

Een genade, Cecilia, die aand kan nie vir altyd aanhou nie. Een vinnige drankie, dan kan sy ontsnap, troos sy haarself.

Stefan gaan sit reg oorkant haar. Hy leun vorentoe en plaas sy elmboë op die tafel. Hy is so naby aan haar dat sy sy sjampoe kan ruik. Sy leun instinktief terug in haar stoel, maar dit help nie. Stefan se nabyheid is oorweldigend. Bedwelmend.

Lewer kommentaar