Storieboekliefde hfst. 5, toneel 6-7

Dit neem ‘n ruk nadat Cecilia geklop het vir Lizanne om die deur oop te maak. Sy is effens verbaas om ‘n wye glimlag oor haar ma se gesig te sien sprei. Dan is sy waarskynlik nou reeds oor die teleurstelling met John se weiering om vir haar die baadjie te koop wat sy so intens begeer het.

            “My kind, wat ‘n lekker verrassing!” Lizanne omhels Cecilia en sy kan nie anders as om haar ‘n stywe drukkie te gee nie. Wanneer laas het sy so welkom in haar ma se huis gevoel, wonder sy. En tog vertrou sy nie dadelik die vrede nie. Die ontevredenheid en geseur is seker maar net vir die oomblik onder hierdie vriendelike uiterlike verdoesel.

            Dan val haar oog op ‘n fluweelagtige swart baadjie met helder rooi rose en goudborduursel versier wat oor een van die eetkamerstoele in die oopplanvertrek hang. Dit is ‘n pragstuk wat enige modebewuste vrou se hart sal steel. Wel, ouer modebewuste vrou miskien.

            Haar ma verslap haar greep op Cecilia en staan terug. “Jy lyk moeg? Tap daardie baas van jou nog steeds bloed uit ‘n klip?”

            Sy het geen lus om nou derms uit te ryg nie. “Dis darem nie so erg nie, Ma. Vertel my eerder van die beeldskone baadjie wat daar hang. Het John se hart toe tog sag geword?”

            Lizanne kom nie eens die verandering van onderwerp agter nie. Sy stap om die baadjie liefdevol op te tel en om te draai sodat Cecilia die voorkant kan sien. “Die skelm is self terug winkel toe om dit vir my te gaan koop. ‘n Laat Valentynsgeskenk, het hy gesê.” Haar oë glinster en om haar mond speel ‘n glimlag wat Cecilia byna nie herken nie. Haar ma is sowaar gelukkiger as wat sy haar in ‘n lang tyd gesien het.

            “Kudo’s vir John, Ma. Dis mos ‘n vintage-nommertjie as ek my nie misgis nie. Moes ‘n fortuin gekos het.”

            “Dit gaan vir my nie oor die prys nie, weet jy. Wat my uitgeboul het, is die mooi gesindheid waarmee hy dit gegee het. Nogal in ‘n groot, plat boks met ‘n yslike rooi strik om.”

            “Van jou held gepraat, waar is hy?” Cecilia vermoed dat sy John dalk voorheen onnodig kras geoordeel het, maar haar ma het haar nie juis ‘n keuse gelaat nie.

            “O, hy moet ‘n probleem in die buitewyke gaan oplos. Hy’t gesê ek moet nie wag as ek wil eet … Haai, daarvan gepraat; bly vir ete. Hier is oorgenoeg vir ons al drie.”

            “Haai, Ma …” Cecilia sal hard moet dink om te onthou wanneer sy laas by haar ma geëet het. Haar besoeke is gewoonlik uit pure pligsbesef, juis omdat dit gebruik word om te kla en mor en haar man(s) swart te smeer. Sy voel egter ‘n verrassend nuwe gesindheid by Lizanne aan. Sy is … positief! Cecilia verlang skielik na die intieme verhouding wat daar tussen hulle was toe hulle, tussen haar ma se verhoudings, baie naby aan mekaar gegroei het. “Dankie, dit sal lekker wees.”

            “Nou maar sit daardie Louis Vuitton-handsak van jou neer. Jy lyk asof jy na die opening van die parlement op pad is.”

            Cecilia giggel spontaan. “Moenie glo nie. Dis ‘n Chinese namaaksel.” Hoe het haar ma binne so ‘n kort tydjie selfs ‘n humorsin ontwikkel? Toe sy haar handsak op ‘n koffietafel neersit, val haar oog op ‘n romanse van Kristel Loots met ‘n boekmerk in. “Ek is bly om te sien Ma lees uiteindelik op my aanbeveling romanses. Liewe Lisa is so ‘n plesierige storie.”

            “Dis eintlik John wat hulle verslind,” verras haar ma haar.“Hy geniet dit so baie, ek sal dit moet probeer.”

Nadat hulle in die sitkamergedeelte saam koffie gedrink het, dra haar ma die opskepbakke eetkamertafel toe waar sy intussen nog ‘n plek gedek het. Die geure verklap dat haar beroemde gevulde skaapboud en ‘n aartappel-en-uigebak met room en kaas op die spyskaart is.

            “Sjoe, Moeder, het julle die predikant verwag?” Die troetelnaam van haar jeug het spontaan uitgeglip.

            Lizanne bloos sowaar. “Nee man, ek het … dis oor die baadjie. Ek wou vir John wys hoeveel ek die geskenk waardeer. Maar skep gerus, voor die kos koud word.”

             Cecilia ontspan in die gemoedelike atmosfeer. Dalk staan sy vanaand meer as ooit tevore ‘n kans om eerlike antwoorde uit haar ma te kry oor die redes vir haar teenkanting teen te vroeg trou. Die omstandighede van haar eie jeugtroue en Cecilia se geboorte was nog altyd taboe. Cecilia het wel as tiener al uitgewerk dat sy ses maande ná die troudatum haar opwagting gemaak het, sonder dat sy ooit vertel is dat sy ‘n premie was.

            “Ma, waarom is Ma so absoluut gekant teen vroeg trou?” waag sy dit. “Was jy en Pa nie ten minste aan die begin gelukkig nie?”

            Die glinstering is weg uit Lizanne se oë en die onvergenoegde trek is terug om haar mond. Sy sit haar mes en vurk stadig op haar bord terug, asof diep in gedagte. “Meis, Pa was nie jou regte pa nie. Ek is jammer dat ek …”

            Die suising in haar ore doof die res van haar ma se woorde uit. Was dit ander omstandighede, sou die lang vergete troetelnaam haar hart versag het, maar nou laat dit haar yskoud. Sy is nie haar grootmaakpa se kind nie? Wie s’n dan?

            Vlug sal nou niks oplos nie. Dan is dit veg wat voorlê. “My magtig, Ma. Dis nuus wat die meeste ouers in puberteit vir hul buite-egtelike kind vertel. Hoe kon Ma dit so lank vir my wegsteek?”

            Nou is haar ma ook kwaad. “Moenie banaal wees nie, Cecilia. Jy was die produk van ‘n baie egte en hegte jeugliefde; die eerste man wat my hart gesteel het.”

            Die feit dat haar ma háár woorde gebruik om na haar onbekende biologiese pa te verwys, laat Cecilia rooi sien. “Moenie spot nie, Ma. Dis heilige grond.”

            “Ek spot nie, kind. Ek wil hê jy moet weet dat ek dieselfde pad as jy geloop het. Ek is verhinder om met my eerste ware geliefde te trou.”

            “O, was Ouma ook gekant teen vroeg trou?” Cecilia is self verbaas oor hoe hatig die sarkastiese vraag uitkom maar sy kon dit nie keer nie.

            Lizanne se mond trek styf en haar antwoord is byna onhoorbaar.“Hy is in die Grensoorlog dood.”

            Die stilte in die vertrek laat Cecilia wonder of sy skielik doof geword het. Dood. Weg. Sy sal nooit haar eie pa kan ontmoet, leer ken nie.

            “Was Pa ooit lief vir ons?” Of was haar hele kindertyd ook ‘n leuen?

            “O ja, baie.” Haar ma kyk haar reguit in die oë, hare blink van die emosie van die oomblik. “Hy het geweet jy is aan die kom en hy het jou as sy eie beskou.”

            “Waarom is julle dan geskei?”

            “Oor my … ontevredenheid. Niks of niemand was ooit goed genoeg vir my nie. Ek was aan die soek … is nog steeds aan die soek … na die één wat die terroriste van my weggeneem het. Die een na wie ek seker steeds aan die soek is.”

            Skielik verstaan Cecilia alles. Haar ma se onlogiese oortuiging dat dinge beter kan uitwerk as jongmense langer wag voor hulle trou, die wisseling van mans en die snedige rassisme wat nou en dan kop uitsteek. Alles die gevolg van ‘n weggerukte geliefde.

            Toe sy opstaan, is haar keel te dik vir praat. Sy gaan staan agter Lizanne se stoel en omhels haar. Sy druk ‘n soen in haar nek. Die sagte parfuumreuk maak emosies in haar los wat al baie lank onderdruk word.

            Cecilia kom orent om te verhoed dat haar trane in haar ma se nek drup en gaan sit weer op haar stoel. Haar ma sit met ‘n snesie oor haar oë gedruk.

            “Maar nou moet Ma my asseblief verskoon, ek moet nog ‘n hoofstuk van Ste … ‘n nuwe skrywer vanaand gaan krit.” Om nie te praat van al die emosionele skokke wat sy moet probeer verwerk nie.

            “Jy’t dan skaars aan jou kos geraak!”

            “Ek is jammer, mag ek dit asseblief saamvat, as dit nie te ongeskik is nie?”

            “Natuurlik, en ek sit nog van alles by dan het jy padkos vir môre.” Hul grapwoord vir skoolkos laat die knop in haar keel weer swel.

            Die jarelange konflik en onmin het hulle soveel kosbare oomblikke laat verloor maar dalk is daar nog genadetyd om dit in te haal.   

–0–

Cecilia sukkel die heelpad huis toe om haar nuwe identiteit nugter te beskyf. Sy het nooit geweet sy is ‘n halwe weeskind nie. Die man wat haar grootgemaak het, was nie haar pa nie maar net nog een in ‘n ry van stiefpa’s met wie sy geen of net ‘n oppervlakkige kenverhouding gehad het. En tog dink sy die man wat sy nou nog Pa sal noem as sy hom sou raakloop, was regtig lief vir haar. Sy vermoed sy sou baie meer mans-issues gehad het as dit nie so was nie. Sy steek die sleutel in haar voordeur maar dit wil nie draai nie. Wat de … Het sy nie vanoggend die deur gesluit nie? Sy is dadelik onrustig. Haal die pepersproei uit haar handsak en hou dit gereed. Sy skakel nie die ligte aan nie sodat haar oë aan die donker kan gewoond raak.

            Tussen die voorportaal en sitkamer stok sy tot stilstand. In die verste hoek van die vertrek, waar sy weet haar gemaklike luistoel staan, gloei die vuurkolletjie van ‘n sigaret. Sy beweeg stadig na die ligskakelaar toe. Met die aansitknoppie onder haar vinger en die pepersproeikannetjie voor haar uitgehou, skakel sy die lig aan en bulder in haar strengste stem: “Sit doodstil of ek verblind jou.” Sy wens benoud sy kon sê “skiet jou”, maar die inbreker sal dadelik sien sy het nie ‘n vuurwapen in haar hand nie.

            “Hou jou perde vas!” roep ‘n manstem. “Dis ek, Marnus.” Koud, afgemete. Glad nie verskonend omdat hy in haar persoonlike ruimte betrap is nie.

            Deksels. Sy moes nooit vir hom ‘n sleutel gegee het nie, maar hy het aangehou tot sy vredesonthalwe maar toegegee het. Sy het hopeloos te veel vir hom toegegee om die vrede te bewaar, want ja, sy was maar altyd effens bang vir sy humeur. In elk geval moes sy dit reeds teruggevra het.

            “Jy het tog nie gedink ek sal my soos ‘n straatbrak laat wegjaag nie, het jy Ce-ci-li-a. Die manier waarop hy haar naam beklemtoon, maar haar ‘n bietjie bang. Hy wys vanaand vir haar ‘n onaangename kant wat sy nog nie dikwels gesien het nie.

Geskryf deur Ida Bester