Storieboekliefde hfst. 5, toneel 1-5

Stefan het skaars twee treë gegee toe hy die deur agter hom hoor oopgaan. Hy draai hoopvol om. Sy hart slaan tromslae in sy ore, Cielie het haar bedink. Die koue uitdrukking in haar oë laat egter sy hart in sy skoene sink.

            “Stefan, ons maak nie hier by Kanniedood aandafsprake om oor manuskripte te praat nie. En jou manuskrip is al wat ons op die oomblik gemeen het. Vergeet van môreaand; ons ontmoet hier in die konferensiekamer of ek stuur vir jou ‘n e-pos met my terugvoering.”

            Hy weet nie of dit maar net sy ingebore optimisme is nie, maar vir hom klink sy so onoortuig van haar eie woorde soos ‘n politikus wat ‘n opponent met sy beleid gelukwens.    

“Dis juis nie oor die manuskrip wat ons gaan praat nie, Cielie. Ek kon sien jy wil nie hier in die konferensiekamer vir my vertel wat in jy gedink het toe jy destyds my huweliksaanbod van die hand gewys het nie. Ek het …” Stefan bedink hom skielik. Moet hy haar vertel dat hy die aand ná die oggend se vurige ontmoeting in die koffiewinkel agter haar aan is en haar woorde oor die één man wat sy liefgehad het gehoor het? Sy sal mos dink hy is ‘n stalker, of op die minste, ‘n luistervink? Hy móét weet van wie sy gepraat het. Hy gaan deurdruk, kom wat wil.          

            Hy staan haastig nader, neem haar regterhand in albei syne voor sy dit kan wegtrek. “Cielie, ek wou jou verder kom uitvra oor die redes vir jou weiering van my aanbod … die aand ná ons …. ná die oggend se bespreking van my eerste hoofstuk.” Hy sien die blos oor Cecilia se hals sprei maar haar oë bly yskoud.

            “Het jy my sowaar agtervolg, Stefan? Dan het ek my nie verbeel ek het iets gehoor nie.” Sy pluk haar hand uit Stefan se greep.

            “Cielie, ek wou net kom praat, regtig.”

            “En toe luister jy my gesprek met my ma af.” Haar stem drup nou van die yskristalle. “Wat het jy nogal gehoor wat jy so dringend met my moet bespreek? Dit was ‘n privaat gesprek – nie vir jou ore bedoel nie.”

            Stefan wil praat, maar daar is ‘n padda in sy keel. Hy maak keel skoon en praat sagter. “Die ‘een man wat jou hart gesteel het’, was dit … ek?” Hy kyk stip in Cecilia se oë, hoopvol dat sy reguit vraag by haar ‘n eerlike reaksie sal ontlok voor sy kan ontken dat sy van hom gepraat het. 

Hy word nie teleurgestel nie. Sy keel trek toe van verbasing. Hy sien hoe haar ysige uitdrukking versag. Twee groot trane dam eers in die hoeke van daardie oë op en begin toe oor haar wange afloop. Tog net nie dit nie! Oom Ben maak hom dood as hy wat Stefan is sy gunstelinguitgewer in die gange van Kanniedood laat huil.

            Hy slaan sy een arm om Cecilia en trek haar nader. Met die ander hand vee hy versigtig die trane van haar wange af. “Sjuut, toe nou maar. Ek het my antwoord,” prewel hy in haar hare.

            “En wat gaan hier aan?”

–0–

Cecilia stoot Stefan met mening van haar af weg. Blikemmer, dit sál Dennis wees wat haar en Stefan in ‘n omhelsing verras. Die moontlike gevolge van sy rapportering aan Ben spring oor mekaar in haar kop. Dennis gaan haar onprofessionele gedrag verklap. Hy kan by die ander personeellede skinder oor haar gefoefel met ‘n skrywer wie se onbeholpe poging sy probeer regskaaf vir publikasie. Hy wil natuurlik in Ben se boekie punte opstapel deur haar af te kraak.

Sy moet ‘n flippen stokkie hiervoor steek. “Dis nie wat jy dink nie, Dennis.” Sal die man dan nie ‘n smalende uitdrukking op sy gesig kry nie!

            “Hoe sal jy weet wat ek dink, Cecilia? Of meen jy ek is te letterkundig ingestel om te verstaan as daar ‘n vrystorie reg onder my neus ontwikkel? Ek weet dis jóú afdeling daardie, maar jy en advokaat Van Huyssteen het skaars tyd gehad om tot op voorname te vorder, laat staan nog tot by vurige omhelsings in die gange!”

            Cecilia voel haar hande klam word terwyl haar nek begin kriewel. “Jy weet niks van my en Ste …. advokaat Van Huyssteen af nie. Ons is ou … vriende, wat mekaar pas weer raakgeloop het,” proes sy byna uitasem van opgekropte wrewel.

            “Juis. Hoogs onprofessioneel. As dit so is, moes jy jou uit die staanspoor onttrek het. Dis baantjies vir boeties van die ergste graad. Weet Ben ooit van jul … jul verhouding?”

            Cecilia het nog skaars haar asem ingetrek, toe spring Stefan haar voor. “Ons het op trou gestaan. Ek was … is baie lief vir Cielie, en ek sal nie toelaat dat jy jou bitsige mond oor ons verhouding uitspoel nie.”

            Sy het Stefan nog nooit so briesend gesien nie. Die vuur in sy oë sou Dennis se klere kon skroei as hy nader aan hom gestaan het.

Vir een keer het haar geëerde kollega nie woorde nie. Hy kyk haar en Stefan vir oulaas met opgetrekte neus aan en draai op sy hakke om.

            Cecilia voel soos ‘n uitgedrukte lemoen. Al kyk die man vlak voor haar haar nou boetvaardig aan, en al het die ander een hom gewip en die aftog geblaas, sien sy nie kans vir nog ‘n woord oor wat so pas gebeur het nie. “Stefan, moenie praat nie. Asseblief, gaan net. “ Toe hy mik asof hy wil nader kom, stop sy hom met ‘n opgeligte plathand en ‘n besliste kopskud.

            Hy laat sy kop sak en gehoorsaam haar wens. Waar Dennis stywerug verdwyn het, stap Stefan hangskouer in die gang af. Haar hele lyf smeek dat sy hom moet terugroep, hom troos soos hy haar getroos het, maar sy weerstaan die versoeking en vlug na haar kantoor toe.

–0–

“Ek is baie lief vir Cielie.” Stefan se woorde klop in haar kop. “… lief vir Cielie.” Hoe gaan sy vandag op enigiets anders konsentreer terwyl hierdie uitlating haar gewete aankla? Sy besef hy het die eerste die beste ding gesê wat vir Dennis kon laat verstaan dat hy nie ‘n opportunis is nie, maar sy ken hom ook goed genoeg om te weet hy sou nie oor so iets jok nie. Net soos sy haar eie hart ken. Het sy nie ‘n paar dae gelede, ook in ‘n oomblik van opwellende emosie, teenoor haar ma na Stefan verwys as die “één man wat haar hart gesteel het” nie?

            Sy kyk op haar horlosie. Dit was al lankal huis-toe-gaantyd. Marlise is òf nog besig met die “moeilike vrou” òf het lankal vertrek. En storiedraer Dennis het waarskynlik voor dooiemansdeur aangekom toe hy na Ben gaan soek het. Right, daar’s moontlik nog tyd vir krisisontlonting. Nie dat sy dink Ben gaan vir haar kwaad wees nie. Hy wil hê sy moet sy stiefseun help en dit is presies wat sy agteroorbuig om te doen.

            Die fisiese beeld wat hierdie gedagte oproep laat weer haar bloeddruk styg. Sal sy ooit weer haar gunsteling-pub kan opsoek sonder om die verstrengelde beeld van haar en Stefan op te roep? En wat van Justin? Hy kon hulle afgeloer het en die glase uit frustrasie laat val het. Sy dink vir die eerste keer sy geflirt met haar is dalk vir hom nie blote onskuldige pret soos vir haar nie. Dalk moet sy versigtiger wees om hom nie ‘n verkeerde boodskap te gee nie. Sy staan vasberade op. Ouma Petronella sou gesê het malende gedagtes is nie eens die spreekwoordelike pennie werd nie. Dis tyd om huis toe te gaan.

–0–

Stefan weet nie hoe hy by sy motor gekom het nie. Hy is te verslae om dadelik te vertrek. Hy slaan die sonskerm voor hom af en skuif die spieël oop. Dis ‘n verskrikte selfportret wat hom met oopgesperde oë aankyk. Hy reken om homself reguit in die oë te kyk sal hom help om sy greep op die realiteit terug te kry. Hy moet sin maak van die nare scene in sy stiefpa se uitgewery tussen twee uitgewers wat deur sý impulsiewe optrede vyande geword het. Van wie een boonop Cielie is. Sý Cielie.

            Behalwe die feit dat dit hom reguit teruggelei het na die verlore geliefde na wie hy al jare lank soek, het die ellendige manuskrip vir hom nog net skaamte en skande veroorsaak. Hy moes hoor die uitstorting van sy intiemste seer op papier is nie die naam van roman werd nie. Daar skort glo baie met die styl, die vokalisering, of so iets, en boonop is hy as outeur ook geneig om eerder te vertel as te wys.

            Dessitse gewys. Hy het gedink sy demonstrasie van hierdie nuwe tegniek was ‘n briljante manier om Cielie uit haar redigeermodus te kry. Vir ‘n kantelmaanoomblik in Kafeïen het hulle albei van die hele wêreld en alle manuskripte vergeet, maar die passie was kortstondig. Hul gebroke verhouding het vierkantig tussen hulle kom staan. Hý wil terugbeweeg en uitvind waarom sy hom verwerp het. Sý beur vorentoe, wil hom en haarself oortuig dit lê in die verlede en die verhouding het permanent verbrokkel.

            Vervlaks. Hy weier om dit te aanvaar. Hy soek al te lank na haar. Al kos dit hom die vernederende herskryf van sy roman in die vorm van ‘n liefdesroman, om nou maar die genadige woord vir die genre te gebruik. Romanse klink vir hom nog erger, so asof dit net ‘n gevry is en niks meer nie. Al moet hy op sy hande sit terwyl hy Cielie se kritiek in die konferensiekamer uitluister, en al bars daar ‘n bom nadat Dennis sy sappige storie versprei het. Hy gaan aanhou probeer om haar terug te wen.

            Hy skakel die enjin aan en ry vinniger huis toe as wat die wet toelaat. Sy geluk hou. Geen spietkop spring voor hom in nie en hy ry ook nie die beskonke voetganger raak wat voor hom inslinger nie. Die aand is te jonk vir slaap en sy kop buitendien te besig. Hy skink vir hom ‘n stywe dop en gaan sit onder die groot witstinkhoutboom agter sy huis.

–0–

Tot Cecilia se verligting is die uitgewery se gange verlate. Sy kom tot by haar motor in die parkeergarage in die kelder niemand teë nie en kan verlig in haar motor klim. Die hekwag groet vriendelik toe sy uitry. “Good night, Miss.”

            Die stomme man sal nie kan raai hoe min ek na hierdie aand en nag uitsien nie, mymer sy binnensmonds. Die aandverkeer het nog nie afgeneem nie, die motors kruip staan-staan in hul bane. Vrek, sy moes seker al lankal haar ma teruggebel het. Was dit gister, of eergister, toe sy oor John se suinigheid gekla het? Sy huil seker nou nog oor die baadjie wat sy nie kon koop nie.

            Cecilia onthou dat sy die gesprek oorhaastig afgesluit het omdat haar ma weer haar lewe saam met haar vierde man afgekraak en dit as die ideaal voorgehou het om ongetroud en dus totaal onafhanklik te wees. Haar ongelukkigheid oor hierdie verwronge idee van haar ma het haar laat uitblaker dat dit juis die rede was waarom sy nie die man van haar drome se huweliksaanbod aanvaar het nie.

            Op hierdie oomblik voel dit vir haar haar ma het haar lewe verwoes. “Nee, stadig ou girl, wat van die jare oorsee, die onafhanklikheid en die oulike huis wat jy kon koop met die geld vir jou vryskutwerk in Nederland?” praat sy oudergewoonte met haarself. Dit was darem nie alles gloom en doom nie. Tog bly sy bewus van ‘n hol gevoel op haar maag, asof sy ‘n ete oorgeslaan het. Dit begin soos ernstige hongerpyne voel hoe verder sy ry.

            Nog ‘n leuse van ouma Petronella was die nodigheid om konflik uit te praat. ‘n Mens gaan nie kwaad slaap nie. Haar ma het self hierdie reël tot vervelens toe moes uitleef want daar was baie rusies met haar verskillende eggenote. Cecilia kan onthou hoe dit haar ontstel het toe sy ‘n dogtertjie was; die woedende uitroepe agter haar ma en pa se toe kamerdeur, tot hy haar eendag op sy skoot getel en van sy liefde verseker het. Sy het opgehou om hom te glo toe hy die volgende oggend met twee tasse by die voordeur uit is en nooit weer teruggekom het nie.

            Dit het ‘n patroon in haar ma se lewe geword. Troue voor die landdros. Liefie-liefie. Baie gou rusie-rusie. Tasse word gepak, soms haar ma s’n. Wat vir haar ‘n nuwe skool en onbekende kinders beteken het. Die ding met John het tot dusver die langste gehou. Dalk het haar ma iets uit haar talle egskeidings geleer.

            Hoe lyk hierdie hoekwinkel dan nou vir haar bekend? Ná ‘n vinnige kyk in die truspieël, ry sy stadiger. Sy is in ‘n straat wat sy nie dadelik herken nie. Of nee, daar is die parkie waar sy en haar ma nou en dan gaan stap wanneer sy haar besoek. Sy het sowaar onbewus na haar ma se huis toe gery. Eers wil sy omdraai, maar dan besluit sy dit sal dalk goed wees om die wrok oor haar verlore liefde vir eens en vir altyd openlik te bespreek.

Geskryf deur Ida Bester