Storieboekliefde hfst. 3, toneel 2 (1)

Sjoe, hy het al vergeet hoe daardie blou oë kan blits wanneer sy haar vererg. Het hy nou te ver gegaan? wonder Stefan geamuseerd.

Dalk het hy. Cielie se gesig is geslote en haar bewegings is stokkerig toe sy afbuk en haar handsak optel. Sy stoot haar stoel agtertoe en staan op. Haar rug is pennetjieregop en haar skouers is stokstyf. Ja-nee, sy is woedend.

Goed so. As hy haar nog kwaad kan maak, beteken dit hy laat haar nie koud nie.

Haar stem is afgemete toe sy praat. “Ons is nie só verleë oor skrywers nie, Stefan. Soek maar vir jou ‘n ander uitgewer – of vra jou stiefpa om die manuskrip in sy huidige vorm te publiseer. Dankie vir die ete. Ek moet gaan.”

Stefan spring ook op. “Cielie, wag vir my. Dis nie veilig om dié tyd van die aand alleen te ry nie. Ek sal agter jou aanry tot by jou huis, dan kan ek sommer die boeke wat jy vir my wil leen, by jou kry.”

Wit tandjies vang haar onderlip vas. Dis ‘n gewoontetjie wat sy nog nie afgeleer het nie.

Stefan sluk. Heng, sy is mooi. Daardie vol lippe. Die fyn neusie. Die digte, donker wimpers om die treffende helderblou oë.

“Goed, dankie,” sê sy kortaf. Sy draai summier om en stap deur toe.

Stefan haal haastig sy beursie uit, pluk ‘n klompie banknote uit en druk dit in die hande van die verbaasde kelnerinnetjie. “Dankie, dit was lekker. Hou die kleingeld,” roep hy oor sy skouer.

Cecilia wikkel op daardie pers hoëhakskoentjies van haar en hy moet sy treë rek om haar in te haal.

Hulle stap in doodse stilte na hulle onderskeie motors.

Ja-nee, die meisie is kwaad. Of dalk bekommerd.

Is daar rede tot kommer? Krap hy nou waar dit nie jeuk nie? Soek hy nou weer moeilikheid? Cecilia Schoeman het eenslag sy hart gebreek. Is dit verstandig om weer by haar betrokke te raak?

Vervlaks, toe hy destyds op kampus die parmantige eerstejaartjie op haar geleende fiets byna disnis gery het, het hy geweet dis ‘n besondere meisie dié. Hy het die bloed van haar nerf-af knieë met sy sakdoek afgevee; daarna het hy haar fiets in sy stokou studentemotor se kattebak gelaai en haar koshuis toe geneem. Teen die tyd dat hy haar afgelaai het, het sy reeds onder sy vel ingekruip.

Hy is bevrees sy is nog steeds daar. Na al die jare kon hy dit nog nie regkry om van haar te vergeet nie.

Hy ry agter haar aan totdat sy voor die veiligheidshek van ‘n meenthuiskompleks stilhou. Sy tik ‘n kode in en ry deur.

Verdomp, moenie sê sy gaan wegry en hom uitsluit nie.

Sy hou gelukkig weer stil en draai haar ruit af. “Nommer 28,” roep sy deur die oop venster.

Nommer 28 is ‘n netjiese siersteenhuis met ‘n klein, goedversorgde tuintjie. Hy parkeer agter haar in die oprit.

Sy maak die bagasiebak oop en haal haar gimsak en haar laptop uit. Toe draai sy na hom. “Wil jy hier wag, dan gaan haal ek gou die boeke vir jou?”

Sy is formeel en afsydig, en hy glimlag innerlik. Hy ken haar goed genoeg om te weet sy is dodelik ongemaklik.

“Nee wat, ek kom sommer gou in. Moenie bang wees nie, ek sal dadelik weer loop.”

Sy antwoord nie, maar sy laat die voordeur oopstaan, en Stefan onderdruk weer ‘n glimlag. Ja-nee, beslis ongemaklik. Die boodskap is duidelik: Sy vertrou hom nie, en hy moenie lank bly nie.

Hy kyk in die sitkamer rond. Die meubels is eenvoudig maar smaakvol. Alles is pynlik netjies. Uit die sitkamer lei twee deure, die een na ‘n kombuisie, die ander waarskynlik na die slaapkamers.

“Baie mooi,” sê hy goedkeurend. “Huur jy, of het jy gekoop?”

“Ek het gekoop. Ek het heelwat gespaar terwyl ek oorsee gewerk het.”

Sy sit haar laptop en gimsak op ‘n leunstoel neer. “Wag hier, ek gaan kry gou die boeke.”

Teen die muur hang ‘n geraamde foto van Santorini, die pragtige eiland met sy wit geboue en blou koepeldakke, en meteens is jaloesie ‘n fel seer in sy binneste. Hulle twee was van plan om eendag Santorini sáám te besoek.

As sy pa se hartprobleme nie destyds begin het nie … Sy klerkskap was pas afgehandel; die firma waar hy sy klerkskap gedoen het, het hom ‘n permanente pos aangebied. hy en Cielie sou nog bymekaar gewees het. Toe kry sy pa die ligte hartaanval en hy vra Stefan moet by sy praktyk kom aansluit.

Hy is nie spyt hy het gegaan nie. Die jare wat hy en sy pa saamgewerk het, was kosbare jare.

Maar dit het hom sy verhouding met Cecilia gekos.

‘n Harde slag ruk hom terug na die hede. “Cielie? Is jy oraait?” Sonder om te dink storm hy agter haar aan.

Sy sit op haar knieë in ‘n slaapkamer met ‘n dubbelbed. Om haar lê boeke gesaai – van die dun slapbandboekies wat blykbaar sy manuskrip se voorland is.

“Is jy oraait? Het jy geval?” vra hy bekommerd.

Sy skud haar kop. “Die boeke het gegly,” mompel sy en begin om die boeke bymekaar te maak.

Hy kniel langs haar om te help.

Hulle kom saam-saam regop. Vir ‘n oomblik is hulle baie na aan mekaar. Hy ruik die hemelse blommegeur wat hy altyd met haar assosieer.

“Cielie …”

Sy staan vinnig terug en hy sug saggies. Sy mond is wrang toe hy in die kamer rondkyk. Blou gordyne, blou beddegoed, en teen die muur bokant die bed ‘n skildery wat hy herken: blou krismisrose in ‘n ronde blompot.

“Die skildery. Jy het hom nog steeds.”

Hulle het die waterverfskilderytjie by ‘n uitstalling van die kunsstudente se werk gesien. Cielie het met haar vinger oor die raam gestreel. “Dit laat my dink aan die krismisrose by my koshuis,” het sy skamerig gesê.

Hy het dadelik geweet waarna sy verwys: Die Saterdagmiddag nadat hy haar omgery het, het hy haar gaan haal en hulle het gaan stap. Terug by die koshuis het hy haar agter die struik met sy blou-pers blomme ingetrek en haar gesoen.

Hy het later teruggegaan na die uitstalling en die skildery vir haar gekoop.

 “Hoekom nie? Die kleure pas by my dekor,” sê sy koeltjies, maar sy vermy sy blik en haar wange is baie rooi.

Sy hou die stapeltjie boeke na hom uit. “Hier is ‘n paar romanses. Wees objektief as jy hulle lees, Stefan, en jy sal sien dis ‘n genre waarop ‘n mens trots kan wees.”

Hy neem die boeke by haar, maar die boonste boek gly van die stapel af. Hulle gryp gelyktydig daarna. Die boek glip tussen hulle hande deur en plof op die vloer neer, en dis haar hand wat in syne beland.

Tyd stol. Cecilia se oë is groot en donkerblou. Haar lippe is effens oop, haar gesig na syne gelig.

Sy greep op haar hande verstyf. Hy leun vorentoe. Haar asem is warm en soet teen sy gesig, en haar lippe is só naby syne.

“Wat gaan hier aan?” versplinter ‘n harde manstem skielik die stilte.

Geskryf deur Elize Davies