Storieboekliefde hfst. 3, toneel 2 (2)

Cecilia ruk terug asof ‘n slang haar gepik het. Nog boeke glip uit haar hande en beland op die vloer.

“Marnus?” kom sy eerste tot verhaal.

Stefan buk en tel die boeke tydsaam, een vir een op. Toe kom hy regop.

Die man wat hande-in-die-sye by die deur staan, is korter as hy, en stewiger gebou, met kort blonde hare en ‘n donker frons op sy gesig.

“Wie is dié ou, Cecilia, en wat maak julle in jou kamer?”

“Dis Stefan van Huyssteen. Hy is een van ons skrywers. Hy het boeke kom haal wat ek vir hom leen. Stefan, dis Marnus Malherbe.”

Die man se blik sak na die boeke in Stefan se hande en ‘n spottende glimlag plooi om sy mond. “Liefdesverhaaltjies? Moenie vir my sê jy skryf sulke gemors nie, ou pel.”

Hy staan vorentoe en steek sy hand na Stefan uit. Stefan verskuif die boeke na sy linkerhand en beantwoord die handdruk. Dis ‘n stewige handdruk. Oom Ben se tipe handdruk, bedoel om te intimideer en te vergruis. Gelukkig het sy pa hom geleer hoe om só ‘n greep te beantwoord.

“Wat maak jy hier, Marnus? Sou jy nie eers Saterdag gekom het nie?” Cielie klink darem nie besonder bly om die man te sien nie.

Marnus draai na Cielie en sit sy hande op haar skouers. “Ek het te veel na jou verlang. Hallo, mooi ding.” Hy soen haar op haar mond, ‘n lang, innige soen, en Stefan voel hoe die bloed na sy kop stuif totdat sy ore daarvan sing. Hy moet homself bedwing om nie die vent storm te loop nie.

Eindelik lig Marnus sy kop op, maar sy arm gly om Cielie se skouers.

Cielie is bloedrooi. Haar ken is uitdagend gelig. “Laat weet wanneer dit jou pas, dan kan ons jou manuskrip bespreek, Stefan.”

“Ek maak so, Cielie. Dankie vir ‘n heerlike aand,” voeg hy moedswillig by en sien hoe Marnus se glimlag van sy gesig afgly.

Hy los die buitedeur doelbewus oop toe hy uitstap. Die aandlug is koud teen sy warm gesig.

Verdomp. Wat is die vent van haar? Hulle is beslis nie net platoniese vriende nie; daardie soen was besitlik. Of dalk dink sy hulle is bloot vriende, maar Marnus dink beslis nie so nie.

Arrogante blikskottel.

Hy smyt die stapeltjie boeke onsag op sy kar se voorste sitplek neer, maar hy skakel nie die voertuig dadelik aan nie. Sy vingers trommel gefrustreerd op die stuurwiel.

Die speelveld is ongelyk. Marnus Malherbe het ‘n voorsprong: Hy is in Cecilia se goeie boekies, en hy het nie die komplikasies van ‘n verydelde liefde aan sy kant nie.

Hy weet nie hoe ernstig sy oor die Marnus-man is nie. Dalk het hy hom net verbeel sy is nie in haar noppies met dié se vurige groet nie.  Cecilia se wange was darem baie rooi toe sy uit daardie soen loskom. En daar lê ‘n hele klomp vergaderings saam met haar voor: vergaderings waarvan hý die plek en die tyd gaan bepaal, al moet hy sy trots in sy sak steek en oom Ben se hulp inroep. Hy het ‘n voorsprong op Marnus – sy word gedwing om tyd saam met hom te spandeer. Hy sal dit net ordentlik moet benut.

Marnus Malherbe kan gaan slaap. Stefan van Huyssteen het nog nooit van ‘n uitdaging weggeskram nie. Hy wil Cielie hê, en hy is bereid om vir haar te baklei.

Geskryf deur Elize Davies