Storieboekliefde hfst. 3, toneel 1 (2)

Sy staar grootoog na hom. “Jy het? Wanneer? Hoekom?”

“Vier maande later. Want mens gooi nie ‘n verhouding van drie jaar sommerso weg nie, verdomp.” Koffie stort oor die rand van sy koffiebeker toe hy dit op die tafel neerplak. “Al is die meisie met wie jy drie jaar lank uitgegaan het en met wie jy al jou ideale en jou toekomsdrome gedeel het, nie bereid om haar te laat bind nie. Al het sy jou huweliksaanbod van die hand gewys sonder ‘n behoorlike verduideliking.”

Verontwaardiging stoot in haar op soos warm melk op ‘n stoofplaat. O, so, nou is alles háár skuld! “Stefan, jy sê ék maak vinnige gevolgtrekkings sonder om my van die feite te vergewis, maar wat van jou? Jy het net geloop – sonder om selfs te groet. Weet jy hoe het ek gevoel? Wat moes ek doen? Agter jou aanhardloop gopse toe?”

 “My pa se praktyk was op die platteland, maar beslis nie in die gopse nie, en nee, iemand wat my verloofring en my huweliksaansoek met soveel minagting van die hand gewys het sou my seker nie soontoe gevolg het nie. Ek het in my onnoselheid gedink ons kon dinge dalk uitpraat. Dalk kon ons probeer om tot ‘n vergelyk te kom. Maar ek kon jou nêrens opspoor nie. Daar was ‘n vreemde man in jou woonstel en nuwe mense in jou ma se huis, en nie een van ons vriende het geweet waar jy was nie. Waarheen het jy nogal gevlug?”

“Ek het nêrens heen gevlug nie. Ek het gedoen wat ek altyd wou doen: Ek het die wêreld gaan verken.”

Sy hét gevlug, maar dit sal sy nooit erken nie. Sy wou wegkom – so ver as moontlik.

“O so? Waar was jy nogal? Op ‘n pakkettoer na Europa, waar mens sestien lande in vyftien dae besoek?” Sarkasme drup uit sy stem.

 “Nee. Ek het vir ses maande by ‘n sendingstasie in Zambië gaan werk.”

Stefan proeslag. “Jy het nie kans gesien vir die vervelige lewe saam met my in ‘n plattelandse dorp nie, toe gaan bly jy op ‘n sendingstasie in Zambië?”

Sy ignoreer die sarkasme. Hy hoef nie te weet sy wou haarself juis toets nie. “Daarna is ek Japan toe,” gaan sy kil voort. “Ek het ‘n jaar in Japan skoolgehou en daarna ‘n jaar in Suid-Korea. Toe het ek ‘n pos by Emerites gekry en ruk lank as lugwaardin vir hulle gewerk.”

“Wel, ek hoop dit het jou gelukkig gemaak, Cecilia.”

 “Dit het,” antwoord sy bot.

Sy jok. Dit was interessant, en selfs partykeer opwindend, maar dit was ook vreesaanjaend, dikwels moeilik, en altyd vrek eensaam. Daarby het sy voortdurend na Stefan verlang met ‘n intensiteit wat elke ander gevoel oorskadu het.

Sy kon nie anders nie. Stefan het destyds darem al ‘n paar jaar lank gewerk, maar sy het pas klaar geswot. Die toekoms het oop en lokkend voor hulle gelê. Hulle sou vir ‘n jaar of twee saam oorsee gaan werk en toer en die wêreld sien. Toe word Stefan se pa siek, en skielik is al hulle planne daarmee heen en wil hy trou en platteland toe foeter om sy pa in sy praktyk te gaan bystaan.

“‘n Mens trou nie so jonk nie. ‘n Man, ‘n huis en kinders is loodsware kettings aan jou bene. Vir die res van jou lewe verwyt jy jouself omdat jy nooit die kans gehad het om jou jongmenslewe te geniet en pret te hê nie.” Dit is die mantra waarmee sy grootgeword het. Haar ma het dit by haar ingeprent vandat sy skaars ‘n baksteen hoog was. Haar ma het geweet waarvan sy praat. Op agttien was sy getroud en swanger met Cecilia. Die huwelik was te vroeg, die huweliksmaats te onvolwasse, die gepaardgaande finansiële probleme te veel, die verantwoordelikheid van ‘n baba te moeilik. Haar ma het in ‘n neurotiese, onvergenoegde mens verander, en só is sy nog steeds: altyd soekend, wrokkig oor verspeelde geleenthede, gegriefd en ontevrede omdat ander altyd méér het as sy.

Cecilia sou nie in dieselfde strik trap nie.

Stefan sug. “Dis ‘n sinnelose gesprek dié, Cielie. Dit help nie om hierdie ou koeie weer op te grawe nie, hulle stink al. Kom ons verander liewers die onderwerp.”

“Waaroor wil jy praat?” vra sy styf.

“Ek weet ek het belowe om nie weer oor my mislukking van ‘n manuskrip te praat nie, maar ek sien ek het ‘n e-pos van jou assistent gekry. Julle het blykbaar besluit om die ding na ‘n ander keurder te stuur.”

Sy glimlag lyk wrang, en berou oor hulle fel kritiek van vanoggend krul deur haar. Hulle het sy gevoelens seergemaak. Marlise was reg: hulle wás wreed.

“Dis nie ‘n mislukking van ‘n manuskrip nie, Stefan. Ek wil om verskoning vra. Ons is gewoonlik nie so taktloos en uitgesproke oor ons skrywers se pogings nie. Ben het my heeltemal onkant gevang.”

Hy haal sy skouers op. “Ek is groot en lelik genoeg om die waarheid te hoor en te aanvaar. Ek sal oom Ben vra om die ding terug te bring. Dit sal nogal interessant wees om hom weer te lees – ek het al vergeet watter gemors ek alles geskryf het, dit was soveel jare gelede.”

“Dáár lê jou eerste fout,” verklaar Cecilia, meer op haar gemak. “Wanneer ‘n skrywer die laaste sin getik het, begin die gróót werk: om te skuur en te skaaf, te hersien en te herskryf. Ons skrywers lees en herlees hulle manuskripte sewe of agt keer – of selfs meer kere – voordat hulle dit instuur.”

“As dit van my afgehang het, het ek die vervlakste ding nooit vir oom Ben gegee nie. Nog minder moes ek dit gegee het sonder om dit self eers weer ordentlik te lees.”

“Stefan, ek moet eerlik wees, ek verwag nie ‘n positiewe verslag van die keurder nie. As ‘n letterkundige werk skiet jou manuskrip ver te kort. Ek voel egter tog jou storie het soveel potensiaal, dit sal sonde wees as dit nooit die lig sien nie. Wil jy nie maar oorweeg om dit te herskryf as ‘n korter, kompakte romanse nie?”

Sy sien hoe sy gesig verdonker en lig haar hand vinnig op. “Wag nou, luister eers voordat jy weer ontplof. Dit gaan heelwat werk meebring, want daar is sekere vereistes waaraan ‘n romanse moet voldoen. Jy sal die woordtelling met omtrent die helfte moet sny, en groot dele sal verander moet word, maar ons sal vir jou die riglyne gee en ons sal jou bystaan waar ons kan.”

“‘n Soetsappige liefdesverhaal,” sê hy spottend. “‘n Happy-ever-after storie waarin die aantreklike, ryk prins ‘n pragtige meisie ontmoet, haar van haar voete vee, al haar drake verslaan en haar wegvoer na ‘n paleis waar hulle vir ewig en altyd gelukkig woon? Liewe aarde, Cielie, dít is nie waaraan ek my naam wil koppel nie. Ek sal my gesig nooit weer in die openbaar kan wys nie.”

“Stefan van Huyssteen, moenie ‘n letterkunde snob wees nie. Ons soetsappige happy-ever-after storietjies het véél meer om die lyf as wat jy dink. En moenie dink dis iets wat elke Jan Rap en sy maat sommer in ‘n oogwink uitryg nie. Dit verg vaardigheid, skryftalent, én flippen baie werk.”

“En jy dink werklik my poging sal werk?”

“Ja, ek dink beslis so, mits daar baie skaafwerk plaasvind. Ek het ‘n hele klomp boeke van gewilde en suksesvolle romanse-skrywers soos Elsa Winckler en Madelie Human by die huis. Kom môre kantoor toe, dan gee ek vir jou ‘n paar kopieë. As jy hulle klaar gelees het, kan ons weer praat.”

Stefan staar lank na haar. Sy kan sien hoe die gedagtes agter sy bruin oë spartel.

“Nou goed,” willig hy skielik in. “Ons kan probeer, maar ek het ‘n paar voorwaardes. Nommer een: As die boek wel eendag verskyn, is dit onder ‘n skuilnaam, nie my eie naam nie.”

Sy glimlag. “Akkoord. Heelwat bekende, gerekende skrywers gebruik ander name vir hulle ‘ligter’ werke – Eleanor Baker het as Christine le Roux geskryf, en Alta Cloete se romanses verskyn onder die naam Marilé Cloete, om maar twee te noem. Hoewel dit deesdae algemene kennis is as ‘n skrywer onder verskillende name skryf. Dis glad nie meer ‘n geheim soos in die ou dae nie. Gewoonlik word dit net gebruik om tussen genres te onderskei.”

“Dan is ek in goeie geselskap,” sê hy spottend. “My tweede voorwaarde: Ek gaan definitief hulp nodig hê.”

“Dis ook nie ‘n probleem nie. Marlise, my assistent, het baie ervaring. Jy sal haar hoogste prioriteit wees tot jou manuskrip na ons sin is.”

Hy skud sy kop. “Nie Marlise nie, Cielie. Jy. Ek verwag dat jý my bystaan en raadgee wanneer ek jou ookal nodig het.”

Alarms gaan af. Gevaarligte flikker. Sy byt op haar lip. Nee, Cecilia, nee. ‘n Mens speel nie met vuur en verwag jy gaan nie jou vingers brand nie.

“En nommer drie,” gaan Stefan onverstoord voort sonder om vir ‘n antwoord te wag, “wanneer ek iets met jou moet bespreek, bepaal ék die tyd en die plek van ons vergadering.”