Storieboekliefde hfst. 1, toneel 1

“Juffrou Schoeman, kyk vir my na hierdie manuskrip, asseblief?” Ben Barnard se imposante figuur is genoeg om enige werknemer ‘n bietjie senuweeagtig te maak. Veral as jy ‘n splinternuwe werknemer is en self nog wonder of jy die pos as uitgewer van romantiese fiksie by Kanniedood-Uitgewers werd is.

Cecilia sluk ‘n slaggie en trek haar skouers doelbewus ‘n ietsie agtertoe. “Sekerlik, meneer. Is daar iets spesifieks waarvoor ek moet oplet?” Die manuskripte vir liefdesverhale word direk na haar gestuur en is nie veronderstel om met die intrapslag by die hoof van fiksie te beland nie. Sy moet dus aflei dat hierdie een ‘n letterkundige werk is.

Letterkundige manuskripte is Ben Barnard se domein. Waarom stop hy dit nou in haar hand? Werk hy regtig nog met papierweergawes van sy manuskripte? In watter eeu leef die man? Sy vermoed hier is iewers ‘n vangplek, sy kan dit net nie so vinnig raaksien nie.

“Iets waarna jy moet oplet?” Die groot man, sowaar in hierdie informeler tye elke dag steeds in ‘n donker pak by die werk, leun oor haar lessenaar en kyk fronsend af na haar toe. “Jy moet asseblief kyk of jy dink ons het hier ‘n fonds beet. Dennis weet vir my te vertel ek sit die pot mis met hierdie een, maar Dennis weet nie altyd waar Dawid die wortels begrawe het nie.”

Sy kan hom nie langer toelaat om so dominerend oor haar te troon nie. Die lessenaar tussen hulle is nie groot genoeg om haar gemaklik te laat voel nie. Sy het al opgelet hy het die manier om so oor ‘n mens se tafel na jou toe oor te leun. ‘n Simpel manier om gesag af te dwing, as jy haar vra. Niemand vra haar egter nie, sy het geen sê oor die man se gedrag nie. Sy het wel beheer oor hoe sy haar deur sy houding laat beïnvloed.

Blitsig stoot sy dus haar wieletjiestoel agteruit en kom orent voor sy antwoord. “Letterkundige werke is nie my gebied nie, meneer Barnard. Dennis is ‘n ervare uitgewer, al is hy nog jonk. Ek dink Meneer kan regtig sy oordeel vertrou.” Sy kry ‘n klein bietjie lekker toe Ben vinnig regop kom, sodat sy nie van haar geliefde pers sandale af op hom neerkyk nie. Nou kyk hulle mekaar vierkantig in die oë.

“In hierdie geval het ek ‘n tweede mening nodig. Ek wil môre hoor wat jy te sê het, hoor. Ek stuur dit vir jou per e-pos ook aan. Julle jonges wil mos heeltyd in ‘n skerm vaskyk.” Hy tik-tik op die lywige manuskrip waar dit soos ‘n dreigement op haar lessenaar lê, draai dan op sy hak om en loop uit. Die deur gaan met ‘n ferm klik agter hom toe, so asof dit vir haar wil sê sy word getoets en sy sal moet uithaal en wys.

Of miskien wil hy haar bloot teen Dennis de Wit afspeel. Almal weet Dennis het as Ben se assistent sy oog op Ben se pos en wag net dat hy aftree. Hulle twee is veronderstel om saam te werk, maar sy kry van die begin af die gevoel daar is min samewerking betrokke, maar heelwat wedywering.

Sy sit ‘n oomblik effens verslae stil, laat sak dan haar kop met ‘n sug in haar hande.

Dit voel vir haar sy word dag na dag verder oorlaai. Die eise wat aan haar gestel word, word net meer een meer. En nou nog dít ook. Dis amper tyd om huis toe te gaan, sy is gedaan en nou kom vertel die man haar hy wil môre hoor wat sy te sê het. Totsiens, rustig aandete maak. Totsiens, ‘n lekker fliek kyk om te ontspan. Totsiens, joga om beter te slaap. Totsiens, goeie nagrus. Vannag sal haar liggie deurnag moet brand. Dis nou ás dit Eskom behaag om die ligte deurnag aan te hou. Gelukkig het sy darem herlaaibare ligte, maar dit is nie die ideaal vir nag lank se lees nie.

Nou ja, van sit en staan kom niks gedaan, só het ouma Petronella graag gesê. Ouma Petronella se kleindogter het dus geen ander keuse as om haar kop op te lig en haar hand teensinnig na die gewraakte manuskrip uit te steek nie. Toe haar oog egter op die skrywer se naam val, kan sy sweer die wêreld kantel so effens op sy as.

Stefan van Huyssteen, staan dit lewensgroot, swart op wit voor haar. Sy maak haar oë ‘n slag toe, kyk dan weer, maar nee, die woorde bly waar hulle is.

 “Dit kan tog nie wees nie.” Die oomblik toe sy hardop met haarself begin praat, tref die onthou haar op die krop van haar maag. Hy kon altyd so lag vir haar as sy haarself so tussen die swottery hardop begin aanspreek.

 Sy spring op, gryp haar bottel water en stap flink vyf keer om haar lessenaar, swaai sommer haar arms ook ‘n bietjie om die ergste spanning weg te werk. Toe val sy plat, gaan oorhaastig na Facebook en tik die naam in die soekblokkie in: Stefan van Huyssteen. Daar is ‘n hele rits manne met dieselfde naam. Die eerste een is bejaard en daar gaan niks op sy profiel aan nie. Die tweede een woon in Europa, doen al sy plasings in Engels en is omtrent een groot tatoe, dis net drake en rose waar jy kyk. Die derde een is haar Stefan. Sy skrik so vir die gedagte dat sy opspring en haar stoel vervaard op sy wieletjies wegrol. Stefan van Huyssteen is lankal nie meer háár Stefan nie. Waar het die belaglike gedagte nou vandaan gekom? “Cecilia Schoeman, kalmeer tog net. Dis water onder die brug, daai dae is verby.”

Kon die man nie maar sy profiel privaat gemaak het dat sy niks daarvan kon sien nie? Sy het tog destyds die versoeking weerstaan om op hom te spioeneer deur sosiale media, hom onmiddellik van al haar platforms verwyder toe hulle uitgemaak het. Maar hier is hy steeds: Lank en lenig, donker bos krulhare, broeiende bruin oë onder swaar wenkbroue. Amperse arendsneus, ferm kakebeen, soenbare mond. Sy spring op asof ‘n slang haar gepik het en drafstap gang af na die koffiemasjien toe. Vir hierdie situasie is water nie genoeg nie.

 “Gaan jy nie vanaand huis toe nie?” Marlise Steyn kom net verby toe sy op pad terug kantoor toe is, alreeds krampagtig aan die sluk aan haar swart, bitter koffie.

“Ekstra werk gekry, sal nog bietjie moet inhaal.” Sy probeer om nie te ooglopend te vlug nie, maar sy sien nie nou kans om te verduidelik nie. Marlise is nie net haar assistent nie, maar is ook die naaste aan ‘n vriendin wat sy al hier gemaak het. Daar is egter nog baie dinge wat hulle nie van mekaar weet nie. Sy is nie van plan om nou van haar verlore liefde, haar groot liefde, haar enigste liefde te vertel nie.       

“Moet ek nie bly om te help nie?”

“Dankie, maar ek sal regkom.” Marlise is altyd bereid om die ekstra myl te loop, maar sy kan haar nie by hierdie ding betrek nie. Dis vir haar wat Ben aan die toets is en sy sal self moet uithaal en wys.

Terug in haar kantoor gaan sit sy met haar koffie, rol deur Stefan se profiel. Daar is nie veel foto’s nie, maar dié wat daar is, ruk aan haar hart. Stefan te perd in ‘n wuiwende grasveld, Stefan op ‘n staptog, Stefan met sy toga voor ‘n imponerende hofgebou. Hy het dus geword wat hy wou wees: advokaat Stefan van Huyssteen. Die een wat vir die underdog sou veg, vir dié wat nie duur regshulp kan bekostig nie. Wel, as sy die pragtige perd en die duur nutsvoertuig op van die foto’s so bekyk, bied advokaat Van Huyssteen beslis nie sy dienste spotgoedkoop aan nie. Ten minste lyk dit nie of hy sy geld op meisies uitgee nie. Of miskien verkies hy net om nie sy liefdeslewe op sosiale media uit te stal nie.

Dalk is dit glad nie eens hy wat die manuskrip ingestuur het nie. Haastig gaan sy na die volgende profiele, hopende daar skuil dalk iewers ‘n wannabe skrywer wat iets meld van sy manuskrip. So gelukkig is sy egter nie. Die vierde profiel is dié van ‘n spierpaleis wat by die een dooie bok na die ander poseer. Dié daarna lewer ook niks op nie. Sy maak die program sugtend toe. Spekulasie sal niks help nie, sy sal moet fokus en vannag die manuskrip deeglik deurwerk, môre ‘n objektiewe beoordeling daarvan aan Ben voorlê. Daar kan tog meer as een Stefan van Huyssteen bestaan wat eenvoudig nie op Facebook is nie. Vir al wat sy weet, is die land propvol Van Huyssteens met letterkundige aspirasies. Sy het hulle nog net nie raakgeloop nie, want sy werk nie met skrywers met hoë aspirasies nie. Sy werk met romantiese siele wat die wrede wêreld vir hulself en hulle lesers ‘n beter plek wil maak met mooi stories wat hoopvol eindig. Haar skrywers het nie ‘n letterkundeprys in die oog nie, hulle skryf omdat dit vir hulle lekker is en omdat hulle die stories in hulle kop graag met ander romantiese mense wil deel.

 Sy sluk haar koffie leeg, trek die manuskrip nader en laat die blaaie deur haar vingers gly. Haar oog vang hier en daar iets, ‘n woord of ‘n frase, maar niks wat haar opgewonde maak nie. Daar is groot woorde en lomp sinne wat net aan en aan gaan, plus ‘n donker toneel waar iemand vreeslik wroeg oor verlore kanse en verraad. Moedeloos druk sy die manuskrip in haar rekenaarsak en maak reg om huis toe te gaan.

 Voor sy ry, stuur sy vir Marnus ‘n haastige boodskap, net vir ingeval hy dit in sy kop kry om vanaand te kom kuier. Oorlaai met bykomende werk. Bietjie moedeloos. Sal hopelik naweek kan kuier.

Toe sy ‘n halfuur later voor haar meenthuis stilhou, is daar nog nie ‘n antwoord van Marnus nie. Sy het egter nie vanaand tyd vir wonder oor sy doen en late nie. Hulle is buitendien nie vasgemaak aan mekaar nie; dis nie dat daar regtig ‘n verhouding tussen hulle is nie. Soms dink sy dis bloot vir hulle albei gerieflik om iemand te hê wat af en toe die alleenheid met ‘n ete of uitstappie kan verbreek. Vanaand is dit sy en Stefan van Huyssteen se manuskrip, wat sy eintlik in haar kop alreeds afgeskryf het. Sy sal moet lig trap, mooi lees en versigtig beoordeel, maar sy weet by voorbaat Ben gaan nie hou van wat sy te sê gaan hê nie.

Geskryf deur Alta (Marile) Cloete