Storieboekliefde hfst. 3, toneel 1 (1)

Sy het inniglik gehoop The Rose and Crown is raserig, besig en propvol, maar nee, vandag is nie háár dag nie. Van die oomblik dat Ben die boelie Stefan se manuskrip op haar lessenaar neergeplak het, staan die gremlins mos tou om haar siel te versondig.

Die pub is stil. By die kroegtoonbank sit ‘n man met druipskouers koponderstebo en staar na die amber inhoud van sy glas. Die enigste ander besoekers is ‘n gryskopman en -vrou by een tafeltjie en ‘n groepie jongmense by ‘n ander. Dowwe beligting en romantiese agtergrondmusiek skep presies die atmosfeer wat sy wou vermy.

 Cecilia mik na ‘n tafeltjie in die middel van die vertrek, maar Stefan neem haar ferm aan die arm en stuur haar na ‘n hoektafeltjie, eenkant, privaat, weg van enige moontlike gewoel.

Een genade, Cecilia, die aand kan nie vir altyd aanhou nie. Een vinnige drankie, dan kan sy ontsnap, troos sy haarself.

 Stefan gaan sit reg oorkant haar. Hy leun vorentoe en plaas sy elmboë op die tafel. Hy is so naby aan haar dat sy sy sjampoe kan ruik. Sy leun instinktief terug in haar stoel, maar dit help nie. Stefan se nabyheid is oorweldigend. Bedwelmend.

Sy moes nie gekom het nie. Deksels, hoekom het sy haar laat ompraat? Hoekom laat sy toe dat hy haar ontstel? Sy is tog al lankal óór hom; sy het die hartseer en bitterheid verwerk, die herinneringe aan hulle liefde saam met ‘n paar foto’s en momento’s in ‘n boks gepak en diep agter in haar kas gebêre, en aangegaan met haar lewe.

‘n Bloedjong kelnerinnetjie met notaboekie en pen verskyn langs hulle tafel. Haar oë dwaal bewonderend en begerig oor Stefan. Mens kan haar seker nie kwalik neem nie. Die mansmens het net eenvoudig daardie effek op vroumense. Met sy hare wat swart en nat in sy nek krul en sy aandbaard wat donker op sy ken en wange uitslaan lyk hy dodelik manlik en onweerstaanbaar aantreklik.

“‘n Margarita vir jou, Cielie, of het jou smaak intussen verander?”

Hemeltjie, onthou hy sowaar nog wat haar geliefkoosde drankie is? “‘n Glas Rosé vir my, asseblief,” kies sy doelbewus iets anders.

Die kelnerin is gou terug met hulle drankies.

Stefan lig sy glas op en glimlag skeef. “Op herontmoetings.”

Sy lig haar glas woordeloos.

Stefan se oë bly op haar gesig gerig, donker en broeiend. Dit ontsenu haar en sy kyk weg. Die man by die toonbank het ‘n diep teug van sy glas geneem en beduie na die kroegman om dit weer vol te maak. Twee jong mans het ingekom en gaan sit ook by die toonbank.

Cecilia wip van skrik toe Stefan skielik haar linkerhand optel. Sy duim streel oor haar ringvinger.

Die aanraking brand soos ‘n kool vuur.

“Nog geen ring vir hierdie vinger nie?” vra hy liggies.

“Nee.” Sy pluk haar hand vinnig terug en laat dit op haar skoot sak. “Wat van jou? Verlief? Verloof? Getroud?”

“Nee.”

Die stilte rek. Sy probeer koorsagtig dink aan ‘n neutrale onderwerp, maar haar verstand staan botstil.

Die kelnerin stap verby met twee borde hoog gelaai met brosgeel aartappelskyfies en Cecilia se maag grom. Sy is skielik rasend honger. Ontbyt vanoggend was ‘n appel en die res van die dag het haar dieet bestaan uit koffie en nogmaals koffie.

“Cielie, ek weet ek het jou vir ‘n drankie genooi, maar daar was nie vandag kans vir middagete nie en ek sal nou my siel vir so ‘n bord kos verkoop. Kan ons nie maar iets eet nie? Ons is tog nou hier.”

Stefan kyk pleitend na haar. Om sy mond speel daardie onderstebo, halwe glimlaggie wat hom altyd soos ‘n stout skoolseun laat lyk. Soos altyd ontwapen dit haar heeltemal.

Hoekom nie? By die huis wag ‘n smaaklose migrogolfoond-ete vir haar.

“Goed,” swig sy. “Ek is ook nogal honger.”

Stefan wink die kelner nader. “Steak en chips vir my,” besluit hy. “Waarvoor is jy lus?”

“Steak en ‘n mengelslaai, asseblief.”

“Goed gaar?”

Sy knik.

“Ja, Stefan, my smaak het nie werklik verander nie. Ek het wel intussen die wêreld platgereis, nuwe dinge beleef en nuwe gewoontes en smake leer ken, maar ‘n margarita bly steeds my geliefkoosde drankie, ek gril steeds vir bloederige vleis, en donkerkopmans met bruin oë maak nog altyd my knieë lam,” praat sy met haarself. “Maar dit beteken nie ek gaan weer vir jou val nie. Jy het eenmaal my hart gebreek, en dit gaan nooit weer gebeur nie.”

“Hoe gaan dit met jou ma?” vra hy toe die bestelling geplaas is.

Hy vra dit uit beleefdheid, want hy ken haar ma nie baie goed nie. Hy het haar net ‘n paar keer ontmoet, toe sy nog met haar derde man getroud was.

“Dit gaan goed met haar. Sy en haar vorige man is geskei en sy is verlede jaar weer getroud. Vir die vierde keer. Sy en haar nuwe man bly ook hier in die Kaap.” Sy haal haar skouers op. “Sover hou die huwelik nog.”

Stefan se wenkbroue lig. “En ek kla oor één stiefpa?”

Die stilte sak weer op hulle toe. As hy net wou ophou om na haar te kyk! Sy blik dwaal aanhoudend oor haar gesig, asof hy haar gelaatstrekke probeer memoriseer vir ‘n moontlike uitkenningsparade.

Sy tel haar glas op en neem ‘n slukkie. Die alkohol brand ‘n warm paadjie na haar maag.

Sy dink desperaat aan iets om te sê.

Hemeltjie tog, vir wat is sy so gespanne? Ouma Petronella het altyd gesê sy kan ‘n donkie se ore van sy kop afpraat. Hoekom kan sy nou aan niks dink om te sê nie? Persoonlike sake, en enigiets wat na die verlede verwys, is taboe. Sy manuskrip ook – hoewel sy daardie teer puntjie tog wil aanraak, maar eers later, anders wip hy hom dalk en storm weer uit. Maar wat anders? Die weer? Die politiek? Vra hom uit oor sy werk, besluit sy.

Sy maak keel skoon. “Geniet jy die lewe as advokaat?”

“Ja, baie. Dit is stimulerend en bevredigend. Veral die pro bono-sake.”

“O, dan doen jy wel pro bono-werk? Ek het gedog …”

Sy blik verskerp. “Het jy gedog ek vra ‘n fortuin vir my dienste en leef heerlik op die vettigheid van die land?” val hy haar in die rede.

Ergerlikheid stuif in haar op en verf haar wange rooi. “Daardie viertrek van jou is nie juis die goedkoopste model in die mark nie, Stefan. Jou hemp en baadjie is ook beslis nie in Pep Stores gekoop nie,” snip sy.

“Jy was nog altyd geneig daartoe om te vinnig gevolgtrekkings te maak sonder om jou eers van die feite te vergewis, Cielie. Ek het wel betalende kliënte wat die wolf van die deur weghou, maar ten minste ‘n derde van my sake word pro bono gedoen.”

“Ek is bly om dit te hoor. Dit was altyd jou ideaal,” trap sy netjies oor die streep wat sy vir haarself getrek het.

“En jy, Cielie? Wat doen ‘n opgeleide onderwyseres by ‘n uitgewersmaatskappy?”

“Ek hét ‘n ruk skoolgehou, maar besluit dis nie vir my nie. My tale-agtergrond het gehelp dat ek die pos by Kanniedood-Uitgewers kry. A, hier kom ons kos,” voeg sy verlig by.

Hulle eet in relatiewe stilte.

Cecilia loer tersluiks na haar horlosie. Nie meer lank nie, dan kan sy huis toe gaan en is hierdie marteling verby.

“Dit was nou waarlik lekker,” sug Stefan toe hy sy mes en vurk neersit. “Wat van koffie?”

Sy aarsel. Sy brand om pad te gee, maar goeie maniere vereis dat sy nog ‘n rukkie wag, en buitendien, hulle moet seker nog oor die manuskrip praat. “Ja, dankie.”

“Ek het destyds na jou gaan soek, Cielie,” sê Stefan skielik uit die bloute nadat die kelnerin hulle koffie gebring het.

Geskryf deur Elize Davies