RSS

Tag Archives: skryf

Kristel Loots: Katerina se mojo

Katerina se mojoMet boeke soos Lemoenseisoen, Eendagmooi en Die ander vrou het die ervare Kristel Loots haarself in ʼn nuwe nis gevestig – dié van ʼn stem om die verhaal van die moderne vrou binne die moderne huwelik te vertel. Tradisioneel eindig die liefdesroman wanneer die tweetjies teen die sonsondergang wegstap, hand aan hand en met drome in die oë. Oor die aanpassing na die konfetti en die wittebrood trek ons gewoonlik maar die sluier. Maar nie Kristel nie. Kristel pluk die kamerdeur oop en waag dit in die situasies waar die huweliksbed ʼn slagveld word, waar uiteenlopende verwagtings en die harde realiteit van Suid-Afrika goeie mense se liefdesverhale kan laat misluk.

Die belewing van die lyflike binne die huwelik vorm – soos in die werklikheid – ʼn belangrike deel van haar verhale. Hierdie stories bevestig wat moderne vroue lankal weet: Die huwelik is geen kortpad hemel toe nie en daar is nie altyd ʼn pot goud aan die einde van die reënboog nie. En die huweliksbed is nie altyd met rose bestrooi nie.  Read the rest of this entry »

Advertisements
 

Sleutelwoordw: , , , , , , , ,

Die dooies leef – SD Fourie

Die dooies leefSD Fourie is iemand wat die Strandveld en sy mense deur en deur ken. Ek was nie verbaas om op die flapteks te verneem sy is ʼn toergids en besit haar eie museum op Franskraal nie. As dokument van ʼn vergange tyd in daardie streek en veral die lewe op die plase, is Die dooies leef net so waardevol soos sy voorganger, Die lanternswaaier.

Hoewel die boeke apart gelees kan word, volg hulle wel op mekaar. Ek leser sal aanbeveel dat mens eers Die lanternswaaier lees voor jy Die dooies leef aanpak, of jou geheue ʼn bietjie verfris as jy dit ʼn jaar of drie gelede gelees het. Hoewel daar in Die dooies leef gepoog word om die nodige agtergrondsinligting te gee, kan mens die boek baie meer geniet as jy die eerste een goed onthou. Read the rest of this entry »

 
 

Sleutelwoordw: , , , , , ,

Lentestorie: Operasie opruim

Blomme 4ʼn Parodie wat my beter helfte graag op die ou liedjie sing, het hierdie storie se beginpunt gevorm. Dit sluit aan by my eie verhouding met die lente wat nie van die beste is nie. Die voorval met die wegholmotor het met iemand in my familie gebeur. Die storie het in die Huisgenoot van 26 Oktober 2006 verskyn.

1 SEPTEMBER:
Dis haatlike lente
Die winter’s verby
Dis tyd dat my lewe
Weer rigting moet kry …
Elke jaar as die eerste hooikoorsaanval my kriewelend en betraand na my snesies laat gryp, begin neurie ek my eie klein parodie op die ou bekende liedjie. Daar’s niks heerliks aan die lente vir my nie; dis ‘n haatlike tyd van die jaar wat ek graag sou wou oorslaan, indien moontlik.
Ek is inderdaad ‘n rare verskynsel: ‘n welgeskape jongmens wat die lente verpes. En dis nie net oor die hooikoors nie. As al wat leef en asemhaal begin somerklere koop en hare tint en bene waks, sak ‘n groot donkerte oor my toe. As die voëlgesang soggens daardie spesifieke histeriese klankie kry, is dit vir my tyd om Declutteruit my knusse winterslaap op te staan en die lewe in die oë te kyk.
En dit stem my nie tot vreugde nie.
In die winter sluip ek stil-stil en genoeglik deur die lewe, gekussing in frokkie, jas, serp en mus, op ‘n permanente high van al die koolhidrate wat ek inneem om die koue te beveg. En in ‘n heilige vrees vir die dag van 1 September. Want op 1 September van elke jaar skil ek my lae klere af en bestyg die skaal. En dié brawe aksie bring jaarliks ‘n groot geween en gekners van tande mee.
Elke jaar neem ek my voor om ten minste op 31 Augustus te vas – indien nie die week voor die tyd nie – sodat die waarheid darem ‘n bietjie minder gewigtig kan wees. Maar keer op keer sluit ek Augustus af met ‘n stomende bord sondekos – van die soort wat verswelg in die vet en mank gaan aan vitamines – met genoeg soetigheid agterna om my arme pankreas vir maande ‘n skrik te gee.
Die ritueel van die skaal behels veel meer as die swaarlywige waarheid en die onvermydelike dieet wat daarop volg. Daardie pynlike bestyging van die skaal vroeg in die oggend, op my nugter maag, en sonder ‘n draad klere wat dalk ‘n gram of twee kan weeg, selfs voor ‘n versterkende koppie koffie, is maar net die begin.
Elke jaar op 1 September slaan ek ‘n nuwe blaadjie om. As die Kaapse Suidooster sy kieste begin bolmaak, begin ek skoonmaak, regpak en uitgooi. Declutter is mos deesdae die inding. Nou ja, ek declutter al vir ‘n vale van lánk voor een of ander slim Amerikaner met te veel aardse besittings die woord uitgedink het. Per slot van rekening is dit maar net ‘n nuwe naam vir die goeie, outydse spring cleaning waarmee ons almal grootgeword het. Al doen sommige mense hul spring cleaning in Desember of in die lang Julievakansie – dit bly nog steeds spring cleaning.
En nee, daar is nie regtig ‘n perfekte Afrikaanse woord wat dit presies so lekker sê nie. Of ja, tog: Opruim.
Operasie Opruim – dis waarmee ek myself jaarliks konfronteer.
Probleem is net – ek haat skoonmaak, regpak en uitgooi, watter naam ek ookal daaraan gee. Hoekom ek dit dan hoegenaamd doen? Masochistiese neigings? Nee, glad nie. Maar ‘n totale control freak, dis wat ek is.
En ja, daarvoor hét ons ‘n heerlike Afrikaanse woord: beheervraat.
Ek is ‘n ongeneeslike beheervraat; ek raak paniekerig as ek voel dinge eskaleer buite my beheer. So as ek alles wat ek nie gereeld gebruik of dra nie, na die Heilslese tweedehandse winkel aangepiekel het, en die res blinkskoon en ordelik in rye of groepies of enige logiese rangskikking kan staanmaak, dan voel ek weer vir ‘n tydlank piekfyn. Tot die herfs aanbreek en ek weer eens begin laatlê wanneer ek moet vroeg opstaan, sopperige liefdesverhale lees wanneer ek moet slaap, lekkers eet wanneer dit blaarslaai moet wees, goeters opgaar wanneer hul funksie verstreke is en klere op die mat los om daar wortel te skiet as hul moet kas toe of wasgoedmandjie toe.
In die somer is my woonplekkie amper pynlik netjies, met skoon, reguit lyne van meubelstuk en ornament. In die winter word die skoon ruimtes ontsier deur bonkige stukke winterkleding, wankelende stapels boeke en tydskrifte, opgefrommelde sjokoladepapiere en talle taai koffiebekers met malvalekkerkringe om die borand.
Vanjaar is die heerlike lente egter nog minder heerlik as gewoonlik; vanjaar is hy regtig haatlik.
Want vanjaar moet ek ontslae raak van George.
Ek moet hom vir Justine gee.
En dit oorleef.
Soos ‘n donderstorm is die liefde verby
En ‘n donga vol stof is al wat oorbly …
‘n Verandering van die musiek in my kop help ook nie; my troebel gees koppel blitsvinnig ‘n negatiewe emosie aan elke beeld wat ek oproep.
Laas somer het George my soos ‘n volbloed Hoëveldse storm oorval – onverwags, kragtig en ekstaties. Die afgelope winter moes ek egter magteloos toekyk hoe die storm geleidelik uitwoed, die blitse verbleek en die dreuning van die liefde dowwer en dowwer word.
Ja, die storm is besig om by my verby te trek. En hy trek in die rigting van my beste vriendin.
Nee, ek verbeel my nie. Tussen George en Justine is daar elektrisiteit. Statiese elektrisiteit wat nie meer lank staties gaan bly nie.
“n Meisie moet altyd haar trots behou,” praat my oorlede ouma nou al weke lank helder in my kop. “As jy sien dinge loop skeef, dan spring jy hom voor en jy sorg dat jý die een is wat die afsêwerk doen.” ‘n Totaal verouderde siening, komende uit die donker dae van skreiende ongelykheid tussen die geslagte.
Of is dit?
“Maar hoe sal ek weet, Ouma?” het ek destyd benoud gevra.
“Jy sal weet, my kind,” het sy met ag dekades se wysheid gesê, “Ons vrouens wéét sulke dinge.”
Ouvroustories, het ek toentertyd vererg gedink. Wat weet ‘n oumens nou van vandag se jongmense? Die liefde van my lewe sou my van my voete af swiep en vir altyd en altyd vir my lief bly. Daar sou nie sprake van trots of vrees in ons verhouding wees nie. Ons sou sáám – langs mekaar – die pad loop. Volkome gelyk. En ewe versot op mekaar.
George het my wel deeglik van my voete af geswiep. Maar nie vir altyd en altyd vir my lief gebly nie.
En my hart lê doods en swaar in my borskas. Want ek wéét, nes my ouma voorspel het. Read the rest of this entry »

 

Sleutelwoordw: , , ,

Uittreksel: Seisoen van lig en donker

Wat sou haar so vroegSeisoen4 wakker gemaak het? Miskien was dit bloot die stilte, sy is al gewoond om die eerste nag op die plaas effens onrustig te slaap. Dis mos kompleet of die stilte om jou raas, asof die sterre té geluidloos voortgly op hul baan oor die huisie in die kloof.

Dis nie dat sy nie lekker lê nie. Nee, in hierdie ou houtkateltjie lê sy altyd lekker, hiervandaan lyk die bedreigings van die lewe altyd veraf en onskadelik. In hierdie bed kon sy dit nog altyd waag om te droom, om meer te wees as Liesel van Zyl, die inkennige en wederstrewige kind van seker die twee ordentlikste mense op aarde. Onder die verbleikte ou lappieskombers laat sy haarself soms toe om dwase drome te droom oor dinge wat haar nie beskore is nie, drome vol lig en lewe en onbesorgde liefde, drome sonder die donkerte wat maar altyd op haar spoor is.

In die diep stilte van die Karoo hoor ʼn mens dinge wat in die gewone lewe by jou verby gaan. Veral in die betowerende uur voor dagbreek, die uur waarin slaap en wakker, werklikheid en fantasie alte maklik soos weerkaatsings in die swempoel bo in die kloof oor mekaar en deur mekaar gly. So het sy van kleintyd af met kuiers op die plaas soggens ʼn uur of wat tussen droom en werklikheid bly luier, gerus gestel deur die bekende kraakgeluidjies van die dubbelbed anderkant die dun skeidsmuur, later die stampgeluide wanneer haar pa opstaan en nie regtig daarin slaag om dit saggies te doen sodat haar ma nog ʼn bietjie kan Read the rest of this entry »

 

Sleutelwoordw: , , , , , , ,

Depressie: Waar begin ’n mens as jy aan jou lewe wil werk?

Beveg depressie voorblad 1 - Copy (2)Die mens se basiese behoeftes is ’n goeie beginpunt. In verskillende bronne is daar verskillende opsommings van die mens se basiese behoeftes. Dis in elk geval maar verskillende name vir dieselfde goed. Die punt is dat ’n mens doelbewus kan kyk watter van jou behoeftes word nie bevredig nie en dan iets daaraan probeer doen. Dit sluit dus aan by die gedagte dat ’n mens wel self baie aan jou gemoedstoestand kan doen en nie ’n willose slagoffer van jou emosies hoef te wees nie. Hierdie besef is dikwels vir mense die eerste tree na genesing. Die onderstaande is uit die Uncommon Knowledge-program verwerk:

Die behoefte om aandag te ontvang maar ook te gee
• Dit kan vervul word deur vriende, familie, kollegas, troeteldiere of kennisse, elk op sy eie manier. Ek dink dit sluit in om versorg te word (kyk die volgende subafdeling), maar ook om iets of iemand te hê om te versorg. Veral by vroue is die behoefte om iemand te versorg dikwels baie sterk.
• As hierdie behoefte nie bevredig word nie, is een van die gevolge dikwels dat die persoon te veel op homself en sy eensaamheid fokus. Soos ons weet, is depressie eintlik ’n baie selfgerigte siekte. As ons die hele tyd met onsself besig is, is dit maar alte maklik om al in die rondte te dink en op die negatiewe te fokus. Read the rest of this entry »

 

Sleutelwoordw: , , , , , ,

LAPA se Lekkerlit-wedstryd 2014 skop af!

Lekkerlit 2014Vanaf 15 Augustus 2014 tot 31 Januarie 2015 kies LAPA Uitgewers elke maand ’n Lekkerlit-boek, of twee. Daar sal ’n mengsel wees van spanning, romanse en avontuur.

Net een boek sal wegstap met die titel LAPA Lekkerlit-boek van die jaar.

LAPA glo lesers en skrywers stap hand aan hand: daarom wen die Lekkerlit-boek van 2015 se skrywer R5 000, een gelukkige ATKV-leser R2 500 kontant én een Facebook-deelnemer ook R2 500 kontant.

Hoe neem LAPA se Facebook-gemeenskap deel?

  • Leser moet asseblief LAPA se Facebook-blad LIKE sodat hulle die aankondigings kan kry.
  • LAPA sal elke maand die Lekkerlitboek(e) en ’n vraag oor die boek(e) op LAPA se Facebook-blad aankondig.
  • Lesers beantwoord ’n vraag uit die boek en e-pos die antwoord na marib@lapa.co.za.
  • Deelnemers wat die vraag korrek beantwoord, sal outomaties in aanmerking kom vir die geluktrekking van R2 500 kontant aan die einde van Februarie 2015

Die Lekkerlit-boeke wat gekies is:

  • Augustus = Slim leuens (Lien Roux-de Jager) + Seisoen van lig en donker (Alta Cloete)
  • September = Donker spoor (Martin Steyn)
  • Oktober = Stilleto’s van staal (Bernette Bergenthuin)
  • November = Ewebeeld (Chanette Paul)
  • Desember = Die 13de kaart (Madelein Rust)
  • Januarie = Waar boosheid broei (Peet Venter)

In Februarie sal deelnemers die kans kry om te stem vir hulle gunstelingboek.

Op 1 Maart gebeur die volgende:

  • Die Lekkerlit-boek en -skrywer word aangekondig
  • Die ATKV-wenner word aangekondig
  • Die Facebook-wenner word aangekondig

As jy nog nie LAPA se Facebook-blad ge-LIKE het nie, gaan doen dit dadelik by: https://www.facebook.com/LAPA.Uitgewers?fref=ts

 

 

 

 

 

Sleutelwoordw: , , , , , , ,

Lekker liefdesroman: Waar die son omdraai – Vita du Preez

Vita du PreeWaar die son omdraaiz het reeds in 1996 begin skryf en is ʼn ervare hand in romantiese fiksie. Na verskeie romanses en tien jaar se werk as vertaler van Mills & Boon en Harlequin Intrigue-titels is sy nou terug met ʼn volwaardige liefdesroman.

Waar die son omdraai spring weg met ʼn insident wat die vroulike hoofkarakter se lewe in ʼn nuwe rigting stuur. Met ʼn geskende gesig is daar vir sepiester Thea Jonker geen toekoms op die kassie meer nie. Soekend na nuwe sin meld sy vir vrywillige diens in Mosambiek aan.
Matt Barnard is eweneens in Mosambiek om te probeer bepaal watter rigting sy lewe moet inslaan. Sal ʼn lewe as monnik hom kan bevry van die spoke van die verlede en die vrae waarmee hy worstel?

Getrou aan die tradisie van die goeie liefdesroman vind hierdie twee sterk, moderne, maar gefolterde mense by mekaar aanklank en moet hulle verskeie struikelblokke oorkom voor die liefde kan seëvier. In Vita du Preez is hier egter ʼn volwasse stem aan die woord en die pad wat Thea en Matt loop, is besaai met struikelblokke wat oortuig en wat uit die karakters self ontstaan. Hier is nie plek vir ongeloofwaardige misverstande of kleinlike gebeure soos siniese teenstanders van romantiese fiksie geneig is om te verwag nie. Die karakters reageer op innerlike motivering en word nie deur blote lus of lis gedryf nie.

Die lyflike is egter deel van elke ware of verbeelde liefdesverhaal en ook hier bly dit nie uit nie. Soos in die werklike lewe moet Thea en Matt ook die gevolge van hulle dade konfronteer en hanteer. Weer eens word ʼn maklike oplossing nie gegee nie en moet die karakters eers ver paaie stap om uiteindelik as meer volwasse mense met ʼn helder toekomsvisie by mekaar uit te kom.

“Waar die son omdraai
is skaamteloos geskryf om as liefdesroman te vermaak. Tog, soos in soveel ander goeie boeke deesdae, is hier ʼn denkende skrywer aan die woord wat haar karakters se ontwikkeling só menslik maak dat mens nie anders kan as om iets by hulle te leer nie.” (Izak de Vries, LAPA Uitgewers).

Waar die son omdraai word sterk aanbeveel vir almal wat hou van ʼn realistiese verhaal met ʼn gesonde skootjie romantiek daarby ingeroer.

 

 

 
 

Sleutelwoordw: , , , , , ,