Jy is ’n nice ou. Maar jy moet jou oë oopmaak en die reality begin sien. Dit gaan nie net oor môre nie. Dit gaan ook oor vandag en gister.
Ricardo woon in Kewtown saam sy ma, ouer broer, Anton, en sussie, Tracy, wat deurmekaar is met die gangster van die blokke, Capone. Al wat Ricardo begeer is om te gaan swot en iets te maak van sy lewe, maar eers moet hy genoeg geld maak om te kan oorleef.

Ná ’n geskietery tydens die skoolboikotte in 1985 waarin beide Anton en sy ma gewond is, besluit sy broer om by die MK aan te sluit. Voor Ricardo sy oë uitvee, is beide sy ma en broer oorlede, en eindig hy op in ’n wendyhuis agter op Capone se jaart. Geen van sy drome het waar geword nie, en soos gewoonlik het hy geen sê in wat met hom gebeur nie.
Hou jou oë wawyd oop, het sy Afrikaans-onnie almal destyds in die klas gewaarsku. Maar hoe moet hy maak, as hy nie eers vir sy girlfriend, Mentha, ’n bord warm kos kan aanbied of ’n Sealy Posturepedic vir hulle kan koop nie?
’n Meesleurende bildungsroman oor ’n jong man uit Kewtown, deur die bekroonde skrywer van As die Cape Flats kon praat.
Oor die skrywer
Brian Fredericks het in Elsiesrivier grootgeword. Hy was op skool in Elsiesrivier Hoër, en het verskeie sertifikaatkursusse voltooi in elektriese ingenieurswese by o.m. Northlink College.
Brian doen vryskutskryfwerk. Hy is opgeneem in Nuwe Stories 2, die Woordfeesbundel Bly en Die nuwe Afrikaanse Prosaboek. Hy woon in Belhar.