
Vita du Preez se erotiese trilogie (Klaskamer, Skoolgeld en Liefdesles) is ʼn doelbewuste Afrikaanse kopknik in die rigting van Fifty Shades of Grey. Met Klaskamer (2019) wou Du Preez sien hoe die resep van E.L. James se topverkoper in Afrikaans sou lyk: ʼn liefdesverhouding tussen ʼn ryk, sjarmante man wat vertroud is met die wêreld van BDSM en ʼn jong, naïewe meisie wat ontvanklik vir dié nuwe kinkel in die liefdespel is. Alhoewel resensente gemengde gevoelens gehad het, was lesers se terugvoer deur die bank positief.
Skoolgeld volg in 2020. Met Liefdesles voltooi Vita du Preez haar erotiese trilogie oor die ongewone, verwikkelde verhouding tussen Emma en haar Karooboer, Daniel Swart. Al die elemente van Klaskamer en Skoolgeld is steeds teenwoordig – Emma se geheue is vol gate sedert haar motorongeluk drie maande tevore, maar sy en Daniel het steeds ʼn onblusbare hunkering na mekaar – maar nou word hul storie na ʼn klimaks gevoer danksy die lesse wat die liefde ons leer.
Du Preez se trilogie is nie net genotvolle ontvlugting nie, maar kan ook beskou word as ʼn genotvolle les in BDSM vir die oningeligte leser. Keurders beskou dié boek as ʼn “hoogtepunt in Afrikaanse erotiek” weens die “emosionele reikwydte en genuanseerde besinning oor verhoudings – waaronder ook ouerskap.”
Dankie, Alta, Vir jou objektiewe kommentaar, Vita