
In die 1980’s verower die sanger genaamd Ober die Afrikaanse musiektoneel . . .
Hy leef daadkragtig, vra nie verskoning vir wat hy doen of wie hy is nie. Hy ontbloot sy diepste gedagtes, sy teerste gevoelens, deins nie terug vir kritiek nie. Want hy weet hy is nie die enigste wat hierdie dinge dink of voel nie; hy is die een wat die dinge wys wat ander mense wegsteek. Hy raak ons kampvegter, ons ideale self, ons gewete. En dan raak hy vergete.
Jare later belig sy vriend en agent, Sybie de Waal, Ober se lewensloop in ’n plakboek van woorde – van hulle skooldae af, deur die jare toe Obermania die publiek beetgepak het, tot die terreurdaad toe alles tot ’n einde kom.
Die onsigbare pou is ’n verhaal van ambisie en kreatiwiteit, roem en anonimiteit, vriendskap en verraad. In Zirk van den Berg se pittige, poëtiese vertelstyl.
“’n Briljante Bellville-bromance met baie bagasie.”
– Deon Maas
“’n Meesterlike storieverteller-skrywer put hier uit die oorgangstyd in Suid-Afrika en Afrikaanse musiek met wortels agter die boereworsgordyn. Wat meer wil jy hê?”
– Ilza Roggeband
Oor die skrywer
Zirk van den Berg is in Namibië gebore, het grootgeword in Suid-Afrika, en woon nou in Nieu-Seeland. Hy debuteer met ’n kortverhaalbundel, Ekstra dun vir meer gevoel, en daarna ’n roman, Wydsbeen. Sedertdien verskyn sy romans in Afrikaans én Engels. Sy roman Ek wens, ek wens is met die WA Hofmeyr-prys asook twee KykNET-Rapportpryse bekroon.