
Miskien was dit die belangrikste kenmerk van hul huwelik: eerlikheid.
Wanneer Josua een middag toevallig vir Eva de Winter in ’n Rotterdamse koffiewinkel ontmoet, voel dit vir hom onwerklik dat ’n begaafde én beeldskone regsgeleerde soos sy in ’n verhouding sou belangstel. Maar sy getuienis vroeër in ’n hofsitting oor selfone se afluistervermoë interesseer haar – dit lei tot verdere afsprake, en algaande word hulle vriende. Dis eers ná hul huwelik voltrek is dat Josua begin begryp daar is iets onpeilbaars aan Eva. Die belangrikste kenmerk van hul huwelik was aanvanklik eerlikheid, of so het hy gedink. Hoeveel raaisels het sy van hom weerhou, en wat hy eindelik slegs met die hulp van obskure soekenjins oor haarkon naspeur?
Die verleiding van Eva de Winter is ’n ragfyn bestekopname van die grysland in ’n huwelik, en tegelyk ’n verkenning van die skaduagtige en manipulerende wêreld van farmaseutika en big data. Deur die skrywer van o.m. Gevaarlike land (1990), Herinnering aan Agnes (1995) en Wederkoms: Die lewe en geskiedenis van Jannes Hoop (2009).
Die verleding van Eva de Winter was ‘n finalis in die onlangse Groot Afrikaanse Romanwedstryd.
Oor die skrywer
Louis Krüger is op Upington gebore. Hy studeer teologie en Afrikaans/Nederlands aan Universiteit Stellenbosch, en in 1984 verhuis hy na Nederland. Hy is predikant by die Koningskerk in Rotterdam. Sy debuutroman, Die skerpskutter, is met die Eugène Maraisprys bekroon. Hierna volg verskeie romans, waarvan ‘n hele paar ook in Nederlands vertaal word.