- Naam: Anoniem
Left: Security guards dispense hand sanitizer to shoppers entering a mall in the suburb of Noordhoek, Cape Town. Right: shoppers select fresh fruit and vegetables. - Skuilnaam as jy dit verkies: Anoniem 2
- Ouderdom: 74
- Beroep: Skrywer/fotograaf/pensionaris
- Huwelikstatus: Getroud
- Waar woon jy? Pretoria
- Alleen? Wie saam met jou? (Name is nie nodig nie.)
My man en ek woon saam.
- In watter opsig(te) beskou jy jou situasie tydens inperking as uniek of besonder uitdagend?
My man is nie baie sosiaal nie. Hy voel tevrede en gelukkig om heeldag sy passies uit te leef. Hy het ook nie baie kontak met sy kinders en hulle met hom nie. Ek kuier darem ten minste een dag per week ‘n hele oggend lank met ‘n vriendin of met my dogter. Dit was/is vir my besonder moeilik om dit nie te kan doen nie
- Hoe het jy gevoel toe die noodtoestand afgekondig is?
Baie bang. Dit was asof ‘n wolk oor my kop kom hang het.
- Hoe het jy gevoel toe algehele inperking (vlak 5) is?
Ek onthou ek het elke oggend wakker geword en dadelik onthou van die virus en dit wat moontlik vir ons mense, ons land en die wêreld in die toekoms wag. Dit was soortgelyk aan hoe mens vir lank wakker word met die wete dat ‘n geliefde dood is. Ek was ook hartseer omdat ons pas ‘n nuwe kleinkind in Ierland ryker geword het, en ons nie weet wanneer ons hulle ooit sal sien nie. Die feit dat my man baie pragmaties is, was aan die een kant gerusstellend en aan die ander kant frustrerend. Ek sou met hom wou kon gesels oor my vrese. My grootste vrees is oor wat die toekoms vir my seun en sy vriendin inhou. Hulle het ‘n gastehuis in ‘n klein dorpie. Die meeste besoekers wat hulle gekry het, was van oorsee. Onmiddellik het hulle geen inkomste gehad nie. Ek het geweet dat hulle sou swaarkry en dat ek hulle finansieel sou moes help – daar is niemand anders op wie hulle kan steun nie.
- Hoe het jy die drie dae direk voor inperking deurgebring?
Maar baie dieselfde as die dae daarna, behalwe dat ons winkel toe gegaan het om ‘n bietjie ekstra voorraad kos te koop. Ek was op krukke, so ons kon nie rondry nie. As’t ware was ek sedert 14 Januarie 2020 na my heupvervanging reeds ingeperk.
- Hoe het jou lewe met inperking op vlak 5 verander?
Aan die begin was dit baie dieselfde as voorheen omdat ek in elk geval nie baie mobiel was nie. Ons moes leer om kruideniersware aanlyn te bestel en het baie gesukkel daarmee omdat die winkels besig was. My dogter en/of haar man en kinders het ook kos vir ons kom aflaai. Ons moes tevrede wees om nie kieskeurig te wees oor wat hulle koop en hoe duur dit was nie, of met tweedebeste tevrede wees. Ek het wel kontak gemaak met ou vriendinne en familielede en lang gesprekke met hulle oor die foon gehad.
- Wat was die moeilikste tydens vlak 5?
My kinders sonder hul inkomste uit toerisme het my nagte laat wakker lê – en dit gebeur steeds en sal moontlik nog ‘n tyd lank voortduur!
Dit was vir my moeilik om nie te kon gaan stap nie, en om nie my mense te sien nie. Ek het vasgekeer gevoel in ons huis en verlang na fisiese kontak met my kinders en kleinkinders. Wanneer ek hulle gesien het, was ons op ‘n afstand van mekaar en agter maskers. Ek waardeer dit dat hulle dit vir ons beswil doen, omdat ons oud(erig) is. Voorheen het my kleindogter gereeld kom kuier en ek het dit gemis (mis dit steeds.) Dit was ook vir my erg dat nuus oor Covid-19 alle gesprekke oorheers het, selfs ons videogesprekke met die kinders in Ierland.
- Wat is vir jou positief tydens vlak 5?
Dis vreemd om te erken, maar die wete dat almal oor die hele wereld in dieselfde bootjie is, help op ‘n manier. Ek het ook meer uitgereik na mense wat ek lanklaas gesien het.
- Hoe het die mense gevaar wat saam met jou ingeperk was?
My man: Goed. Pragmaties. Aanvaar alles, kla nie. “Dinge is soos dit is en daar is niks wat ons daaraan kan doen nie.” Ek huil nie maklik nie, maar een aand het sy houding my in stilte (weg van hom af) lank laat tjank. Dit was darem ook die pyn na my operasie, die magteloosheid om van krukke en later ‘n kierie afhanklik te wees, die gesukkel daarmee, en die wete dat ek nie ‘n fisioterapeut kon sien om oefeninge te kry om my toestand te verlig nie. Dit was dus ‘n goeie skoot selfbejammering en eensaamheid, want dit sou gehelp het as hy dit sou kon begryp.
My kinders: nie so goed nie, veral my seun. Ek moet baie moed inpraat, geld stuur.
- Hoe het jy die verlenging van vlak 5 ervaar?
Moedeloosheid. Tot ‘n mate gelatenheid.
- Wat het jy die meeste gemis op vlak 5?
Kontak met ander mense.
- Hoe het die verandering na vlak 4 jou geraak?
Ek is nie lief vir inkopies doen nie, so dit het my nie geraak dat sekere winkels weer oop was nie. Die toerisme-bedryf was (is) steeds in sy peetjie.
- Waaroor was jy bly met die verlaging na vlak 4?
Ek is bly dat meer mense kon gaan werk. Ek het nie skoolgaande kinders of kleinkinders nie, so ek is nie geraak of die skole oop of toe is nie, alhoewel ek die ouers baie jammer kry. Ek is bly dat my kleindogter kon terugkeer na hulle blyplek in Gauteng en dat hulle eindelik kon trek na die huis wat hulle gekoop het. Ons maak self ons huis skoon en doen ons eie huiswerk, so dit het ons nie geraak nie.
Op vlak 4 kon ek ‘n biokinetikus gaan sien en met oefeninge begin. Dit help my baie.
My man het gedurende Vlak 5 niks gedrink nie (hy het nie vooraf voorraad gekoop nie) en dit was nie vir hom moeilik nie. Maar ek was namens hom dankbaar dat hy weer whiskey kon koop en geniet na vlak 4.
Ek was ook bly dat ons meer dikwels enige tyd van die dag kon gaan stap.
Ons het kort trippies in die woonbuurte naby ons begin neem net om uit die huis te kom en om die motor se battery aan die gang te hou.
- Waaroor was jy kwaad met die verlaging na vlak 4?
Ek dink dit is belaglik (namens my seun en sy vriendin) dat rokers steeds nie sigarette mag koop nie. Baie min mense hou daarvan om gedwing te word om op te hou rook. Die swartmark gedy.
- Is jy iemand wat voor inperking gereeld geoefen het?
Voor my heupvervanging het ons nogal dikwels gestap, maar nie lang ente nie.
- Het jy tydens vlak 5 geoefen?
Amper niks.
- Hoe het jy dit gedoen?
Ek het wel in die huis begin loop. My toestand was darem anders.
- Hoe het jy die drie ure oefentyd op vlak 4 ervaar?
Ek is bly ter wille van die mense wat hou van oefen. Dit was goed om mense op fietse en te voet in die straat te sien.
- Hoe het die verlaging na vlak 3 jou geraak?
Ons het nog net een keer takeaways bestel – en dit was heerlik! Verder het ons nou die kuns om via die internet te koop heeltemal bemeester en bederf onsself soms met klaarvoorbereide kos. Ons het een dag na ‘n delicatessen gegaan en biltong en melktert en droëwors gaan koop en soos konings geëet. (My man gaan alleen in met sy masker aan, in ‘n stil tyd. Ek sit in die motor.) Wanneer iemand namens ons kos koop, koop ons net die nodigste om die koper nie te belas nie. Vir soetigheid was ek selfs daartoe gedryf om tweemaal sjokoladekoek te bak en eenkeer ‘n lemoenkoek. Ek het jare laas gebak.
- Waaroor was jy bly toe vlak 3 aanbreek?
Dis goed om te sien dat daar beweging in die omgewing is. Tuiniers, huiswerkers, die buurtpatrollie ry weer snags. Drie van ons bure het begin aanbou of restoureer. My man spring weekliks (versigtig en gemasker) gou by die garage-winkel in en koop vars brood en melk. Eenkeer was ek selfs saam met my dogter na ‘n kwekery en alhoewel ons nie kon sit en eet nie, het ons dit geniet om tussen die plante deur te loop.
- Waaroor was jy kwaad toe vlak 3 aanbreek?
Ek skat dat rook nog steeds nie toegelaat word nie.
- Hoe vaar jy op hierdie stadium (na 100 dae) oor die algemeen emosioneel?
Ek het myself emosioneel begin ophef deur my tuin te herbeplan – die grasperk uit te haal en ‘n waterwyse tuin aan te lê. Dis lekker om planne te maak, om ‘n doelwit te hê, al gaan dit miskien nie gou gebeur nie. Die bekommernis oor my mense bly, maar ten minste het ek geliefdes om my oor te bekommer.
- Is jy finansieel erg geraak?
My man en ek het afsonderlike inkomstes wat dit vir ons makliker maak. Maar my spaargeld is erg geknou deur die hulp wat ek steeds moet/wil verleen aan my seun-hulle.
- Wat is nou vir jou die moeilikste?
Die bekommernis oor my kinders. My eks-skoondogter se ma is in hierdie tyd oorlede (nie aan Covid nie). Sy kon haar nie gaan besoek nie, en mag steeds nie haar pa sien nie.
- Wat kan jy uit die ervaring haal wat positief is?
Ek kom agter dat ek nog altyd ‘n positiewe mens is. Tog het ek ook nodig om my hart soms oop te maak. Dit lyk asof ek dit hier doen.
- Bly jy op datum met die Covid 19-situasie in SA?
Ja.
- Deur watter medium? Hoe gereeld kyk/luister jy na nuus oor Covid 19?
Ek lees ‘n paar keer per dag koerant op Netwerk24, luister radio, kyk elke aand nuus op TV, luister na die president se toesprake.
- Hoe beïnvloed die voortdurende nuus oor die virus jou emosioneel?
Die getalle wat so vinnig vermeerder ontstel my. Ek lees die ervarings van mense wat Covid-19 onder lede gehad het. Dis skrikwekkend! Ek wil dit nie kry nie, al moet ek nog vir ‘n paar maande lank byna ‘n kluisenaar wees. Gelukkig ‘n kluisenaar saam met ‘n liewe, opgewekte en blymoedige man. Ek weet nie of ek dit alleen sou kon hanteer nie. Ons is gelukkig gesond, maar ek wil ver wegbly van die hospitaal in hierdie tyd.
- Bly jy op hoogte van die oorsese situasie?
Ja.
- Is daar spesifieke lande waarin jy belangstel?
Ierland, Australië, VSA, Brittanje, Switserland.
- Hoekom?
Ek het familielede in al hierdie lande.
- Hoe beïnvloed die stygende sterftesyfer in SA jou?
Dit maak my baie bang. Ek probeer aanhou glo dat ons dit nie sal kry nie, omdat ons so versigtig is. Die hospitale in Gauteng raak vol. As ons dit kry, sal ons mekaar moet verpleeg. Maar ek weet dis nie genoeg om dit net te glo nie. Dit kan gebeur. Ek kry die mense wat so dig op mekaar bly baie jammer, soos ook die gesondheidswerkers. En dit tydens die winter en beurtkrag.
- Wat sou jy anders doen as jy nou die ervaring van vooraf kon begin?
Niks nie.
- Wat sal jy presies dieselfde doen as jy van vooraf kon begin?
Maskers dra, afstand behou, hande was, alles wat in die huis inkom ontsmet. Tuis bly.
- Ken jy iemand wat Covid 19 opgedoen en herstel het?
Nee.
- Het iemand na aan jou al aan Covid 19 gesterf?
Nee