Sterk genoeg vir die liefde het in Vrouekeur van 8 Desember 2017 verskyn. Die titel kom van die Springsteen-liedjie Tougher than the rest, maar dis eintlik Elandré Schwartz se weergawe wat my by die storie uitgebring het. (Dit het ook vir hom ‘n deurbraak en ‘n platekontrak gebring.) Ek plaas albei skakels aan die einde van die storie. En ek sit liewer vir Bruce in sy fleur hier op, want die skets by die storie het regtig nie reg laat geskied aan die twee mooi manne ter sprake nie.
“Op die troue van die jaar!” Barend lig sy glas met ‘n triomfantlike gebaar wat die hele restaurant insluit.
Sunita raak net liggies met haar glas aan syne, laat haar oë liewer sak. Sy kan hom eenvoudig nie behoorlik in die gesig kyk sonder dat hy raaksien hoe deurmekaar haar emosies is nie. Barend is ‘n wakker man, iemand wat die mense rondom hom baie effektief kan lees. Dis deel van sy wapenrusting wat hom so ‘n goeie sakeman maak. Die ander deel is die roekeloosheid waarmee hy versperrings uit sy pad wegvee. Al is daardie versperrings dikwels mense met hul eie nood en behoeftes en drome. Ongelooflik dat sy dit nou eers behoorlik besef.
“Jy lyk nie besonder entoesiasties nie.” Barend se donker wenkbroue trek saam in ‘n verergde frons. “Ek het darem gedink jy sal nou oor jou nonsens wees. Was ‘n maand se ‘kop-skoonmaak’ nie genoeg nie?”
Dis juis haar probleem: Die kop-skoonmaak het haar by ‘n paar ongemaklike insigte uitgebring. Sunita neem ‘n diep sluk van die beleë rooiwyn, dwing haarself om op te kyk. “Jy het nog nie eens een keer uitgevra oor my reis nie, Barend. Ek het soveel ervaar, daar is soveel wat ek jou wou vertel.”
Die frons keep nog ‘n bietjie dieper. “Ek het tog jou ellelange e-posse gelees, Sunita. Daar kan nie veel meer wees om te vertel nie. Dis vir my belangriker dat jy terug is en dat ons ons reëlings kan finaliseer.”
Die kelner wat hulle hoofgereg bring, gee haar ‘n paar oomblikke om haar woorde agtermekaar te kry. In die stilte word sy weer bewus van die musikant in die hoek oorkant haar. Hy het haar tevore al opgeval. Ernstig, intens, so opgeneem in sy musiek dat dit nie lyk of hy veel notisie neem van sy gehoor nie. So asof hy eintlik vir homself sing. Op die agtergrond, nie iemand wat oormatige aandag verwelkom nie. Hy is een van die redes hoekom sy nie omgee vir Barend se voorliefde vir die Blou Affodil nie. Seker omtrent haar ouderdom, dalk bietjie ouer. Blonde hare tot op die skouers, net deurmekaar genoeg dat sy ‘n onverklaarbare drang kry om haar vingers daardeur te trek. Leerbaadjie, afgeleefde jeans, ouerige stewels. Diep, ryk stem, lang vingers wat oor die kitaar se snare streel. Sy ken die ou Springsteen-liedjie maar te goed. “Well if you’re lookin’ for love … Honey I’m tougher than the rest …”
Sy weet nie meer of sy sterk genoeg vir die liefde is nie. Die maand se wegbreek voor hulle troue het vir haar ongemaklike insigte gebring. En nou moet sy iewers vandaan die moed kry om volgens daardie insigte op te tree.
“Ek sê …”
Sy skrik op, kyk haar verloofde in die gesig. In sy donker oë sien sy frustrasie, ergernis, dalk ook ‘n tikkie hartseer. “Daar is soveel plekke waarheen ek graag sou wou teruggaan,” kry sy dit eindelik uit. “Ek wens ons kon die troue ‘n bietjie uitstel.” Dis ‘n flou poging om te sê wat gesê moet word, maar dis beter as niks.
Sy was nie verniet bang vir Barend se reaksie nie. Sy vuis kom met so ‘n knal op die tafel neer dat almal rondom hulle se koppe opruk. “Ons wittebrood is tog lankal bespreek, Sunita. Ons gaan al die belangrike toeristeplekke in Europa doen. Wat neuk jy nou met alleen teruggaan?”
Sy probeer sluk aan die keurige pastagereg, maar dis asof die kos in haar mond gestol het. Hoe om te verduidelik sy wil nie die belangrikste plekke “doen” nie? Sy wil ervaar, beleef, tyd verwyl, die plaaslike kos proe, met die mense praat. Sy wil nie net saam met ‘n massa toeriste by elke beroemde plek vir foto’s poseer en dan aandraf na die volgende een nie. “Jy verstaan nie, Barend.”
In die ongemaklike stilte dring die sanger se stem weer tot haar deur. Hy sing nou Koos du Plessis se Sprokie vir ‘n stadskind. “As jy geluk en vrede wil vind … soek die neonboog se punt …” Sy weet nie meer waar is geluk en vrede vir haar te kry nie. Maar sy weet dis nie by Barend nie.
“Nee, ek verstaan hoegenaamd nie.” Hy smyt sy servet op die tafel neer, stoot sy stoel met ‘n kras geluid agteruit. “Ek loop liewer ‘n draai, voor ek dinge sê wat ek nie moet sê nie.”
Sunita dwing haarself om te probeer ontspan. Sy teug aan haar wyn en gee haar oor aan die musiek. Sy het nie krag vir verder dink nie. Toe dink sou gehelp het, het sy net gevoel. Sy het haar laat meesleur deur Barend se dinamiese persoonlikheid, sy sukses, sy besondere sjarme. Sewe warrelwindmaande – en nou weet sy nie hoe om uit die maalstroom te ontsnap nie.
Sy word uit haar gedagtes geruk deur Barend se foon wat langs sy bord aan die lui gaan. Outomaties vat sy die foon, druk die groen knoppie en bring dit na haar oor.
“Hallo, liefsteling … Wanneer verwag ek jou vanaand? Die verloofdetjie al meer inskiklik? In elk geval, ék voel besonder inskiklik …”
Sunita hou die foon voor haar gesig, staar daarna asof sy só iets wys kan word van die vreemde woorde. Al wat sy sien, is dat die oproep van Sharon af kom. En die profielfoto wys Barend se persoonlike assistent in al haar sexy glorie. Veral by die boesem langs.
“Barend? Liefie? Is alles reg?” kom die stem nou onrustig uit die onskuldige instrumentjie.
Soos in ‘n droom kyk Sunita hoe haar linkerhand met die skitterende diamant die foon weer netjies langs die bord neersit. Hitte stroom deur haar lyf, gevolg deur ‘n ysige koue. Haar hart dawer in haar keel. Benoud probeer sy op haar asemhaling konsentreer. Gaan sy hier in die openbaar ‘n paniekaanval of iets kry?
Toe sy opkyk, is dit reg in die musikant se oë. Sy blik is vraend, bekommerd. Hy het raakgesien iets het gebeur. Vir ‘n lang oomblik hou hulle oë mekaar vas. Toe knik hy vir haar, ‘n klein bemoedigende beweging wat sê: Byt net vas, dinge sal regkom.
Barend kom terug, oënskynlik kalm. Hy skuif gemaklik in sy stoel, neem ‘n sluk wyn en kyk haar met opgetrekte wenkbroue aan.
Sy sluk ‘n slaggie, weeg haar woorde mooi. Die eerste vlaag paniek het genadiglik teruggesak. Sy het juis ‘n restaurantete gekies omdat dit makliker is om in die openbaar beskaafd te bly. En die musiek kan help om ongemaklikhede te verberg.“Wat verwag jy alles van jou vrou, Barend? Getrouheid, veronderstel ek?”
“Dit spreek vanself.” Verbeel sy haar, of stoot ‘n ligte gloed onder sy sonbruin vel op?
“En verwag jy presies dieselfde van jouself ook? Of verskil dit vir ‘n man?” Sy slaag nie heeltemal daarin om die sarkasme uit haar stem te hou nie.
“Wel …” Hy rek die woord uit. Om tyd te wen, natuurlik.
Sunita sluk diep aan die rooiwyn sonder om die geur of tekstuur te registreer. Dis nou die tyd om toe te slaan. “Ek wil weet van Sharon, Barend. Hoe lank is dit al aan die gang?”
Nou twyfel sy nie meer oor die gloed nie. Selfversekerde Barend Mouton is aan die bloos. Iets wat sy nie gedink het sy sal ooit aanskou nie. “Ek was eensaam toe jy so skielik hier weg is, Sunie. Dit het niks beteken nie. Sharon moes dit geweet het. Maar nou wil sy nie laat los nie.”
O, nou is dit die arme Sharon se skuld. Die heel laaste greintjie twyfel verlaat Sunita. Sy kan haar amper verbeel sy hoor die vlerkies klap soos dit die lenteaand in vlieg. “Ek wil nie meer met jou trou nie, Barend.”
Amper stort hy die rooiwyn op die wit tafeldoek. Sy mond val effens oop, sy oë word hard. In die dawerende stilte registreer sy die musikant se liedjie. “I’m tougher than the rest …” sing hy. Vir ‘n oomblik is sy van stryk gebring. Hy het tog al vanaand die liedjie gesing. Is dit ‘n boodskap aan haar? Wat ‘n verregaande gedagte. Maar dit help, dit help ongelooflik baie. Sy het agtergekom sy is eintlik sterker as wat sy gedink het. Sterk genoeg om ‘n selfversekerde man soos Barend teen te gaan.
“Mag ek vra hoekom?” Barend se stem drup van sarkasme.
“Natuurlik mag jy vra. Maar kom ons bestel eers nagereg.”
“Kan jy regtig nog aan poeding dink?”
“Ja, ons moet ten minste nog iets in ons mae kry na die wyn.” Eintlik soek sy die Blou Affodil se beroemde sticky toffee pudding. Trooskos by uitstek. Suiker vir die senuwees. Die romerige pasta was nie genoeg om haar te kalmeer nie. Vannag is dit sy en die Eno-bottel.
“Dis seker waar.” Hy rammel hulle bestelling aan die kelner af. Dié maak hom so gou soos kan uit die voete.
Sy neem nog ‘n sluk wyn, probeer die bewing in haar binneste tot bedaring dwing. “Ek wil nie met jou trou nie, Barend, want jy respekteer nie my begeertes en besluite nie.” Die woorde kom moeilik, maar sy druk deur. “Jy wil my na jou smaak vorm. Ek kan dit nie toelaat nie. Ek wil my eie mens wees.”
“En wat het van jou danige liefde geword?”
“Ek weet nie meer wat liefde is nie. Miskien was ek net oorweldig deur jou persoonlikheid. Jy is ‘n baie aantreklike en dinamiese man, Barend. Jy sal gou ‘n plaasvervanger kry. As dit nie Sharon is nie.”
“Dit gaan eintlik oor Sharon, nè?”
“Sy het my maar net met die besluit gehelp. Ek het reeds in Europa besef ons is besig om die fout van ons lewens te maak. Ek kon net nie die moed bymekaar geskraap kry om jou te sê nie.”
“Dis nou die grootste pot tjol wat ek nog ooit gehoor het. Al die beplanning, al die geld, die uitnodigings, die wittebrood – en nou wil jy kop uittrek oor ‘n kleinigheidjie soos ‘n PA wat te groot vir haar skoene geword het?”
Die taaierige soet poeding sal haar hierdeur moet dra, anders maak sy dit sowaar nie. Sy hou haar met haar wynglas besig, praat nie weer voor die poeding voor haar neergesit word nie. Sy het intussen ‘n hele paar keer tot honderd getel. Dit het nie veel gehelp nie. Sy is nog steeds smoorkwaad. “Moenie met my praat of ek ‘n dom kind is nie, Barend. En moenie nou van Sharon die skuldige maak nie.”
“Om wat tussen ons is, weg te gooi oor een ou misstappie, is regtig nie baie slim nie, Sunita.”
Laat sy liewer nog ‘n keer tot tien tel. Of tot honderd. Maar toe sy by dertig die tweede happie taai poeding in haar mond plaas, gebeur dit. Sy weet onmiddellik wat aangaan, want dis nie die eerste keer nie. ‘n Gekroonde voortand kan ‘n blikskottel wees. Soos blits is sy op, ‘n snesie voor haar mond. “Verskoon my gou, ek is nou weer hier.” En weg is sy, kleedkamers toe, so vinnig soos haar pers stiletto’s haar toelaat. Die pers stiletto’s wat Barend so haat, maar vanaand nog nie eens raakgesien het nie.
Genadiglik is sy alleen in die kleedkamer. In die spieël kyk iets veel erger as Liewe Heksie haar met verskrikte donker oë aan. Nee, nie die gawe heksie nie – liewer Dracula se kleinsus. Sy dwing haar gesig in ‘n glimlag in, staar na die haasbekmeisie in die spieël tot die trane begin loop. Maar dis verbasend genoeg nie huiltrane nie. Dis effens histeriese lagtrane. Sy het te veel wyn te vinnig gedrink. Dis pure senuwees wat so maak. Hoe moet sy haar troue finaal kanselleer met ‘n haasbek? Toe die woorde “passion gap” haar te binne skiet, begin sy opnuut giggel. Sy moet ‘n oomblik aan die wasbak vashou voor sy tot bedaring kom. Toe spoel sy haar mond plus die gewraakte kroon mooi af – en staan dan besluiteloos. Hoe nou gemaak?
Wag, dalk kan dit lossies inpas. Sy kyk ‘n slaggie oor haar skouer soos een met ‘n skuldige gewete, maar sy is steeds alleen in die vertrek. Niemand om haar verleentheid te aanskou nie. Dis darem een genade. Vinnig druk sy die tand terug op sy plek, voel-voel versigtig. Wraggies, hy sit! Vir die oomblik, natuurlik. Halleluja! Dit sal moet doen tot tyd en wyl sy by die huis kan kom. Mag die gode net gee dat die ding bly sit tot sy kon wegkom onder Barend se skerp oë uit.
Terug in die restaurant staan sy ‘n oomblik verstom. Daar is niemand by hulle tafel nie. Haar foon pieng in haar handsak. Ek het die rekening betaal. Jy kan die ring vir my pos. En ek verwag van jou om self al die reëlings te kanselleer.
‘n Meisie was seker nog nooit so dankbaar om in die steek gelaat te word nie. Sy is die verleentheid gespaar van ‘n tand wat uitskiet terwyl sy in ‘n stylvolle restaurant met ‘n stylvolle man sit en redeneer. En boonop het sy die insig gehad om met haar eie motor te kom.
Die laaste ding wat sy sien, is die kitaarman se opgetrekte wenkbroue. En die feit dat hy regtig mooi blou oë het. Oë wat haar vraend agterna kyk toe sy kop omhoog uit die restaurant stap.
Sy skakel haar foon af en probeer om die sanger in die restaurant se kalm stem op te roep terwyl sy soos in ‘n dwaal huis toe ry. Maar dit werk net gedeeltelik. Sy kan om die dood nie kalm bly nie. Sy sluk na suurstof soos ‘n vis op droë grond, ry amper oor ‘n rooi robot, voel kort-kort of die kroon nog sit. As sy vanaand die blerrie ding insluk, is haar ellende volmaak en haar begroting in sy kanon. Hopelik kan oom Ben dit môre net weer deeglik vasplak, dan is dié stukkie ellende ten minste verby. Oor die ellende om almal te vertel, al die reëlings te kanselleer, kan sy nou nie eens dink nie. Môre moet maar vir homself sorg.
By haar woonstel bêre sy die kroon noukeurig in ‘n pilhouertjie, maak ‘n groot beker kruietee, staan lank onder ‘n warm stort en huil die ergste skrik en ontnugtering uit haar uit. Toe kruip sy in die bed met haar gehawende ou teddie van lank gelede. Die hartkloppings het genadiglik verby gegaan. Na die trane bly net ‘n yslike leegheid oor. Deur die leegheid draal die woorde nog: “Well if you’re lookin’ for love … Honey I’m tougher than the rest …”
Sy was nog nooit gek oor ‘n tandarts nie. Nie regtig bang nie, daarvoor is ou dokter Booysen te goed en te gaaf. Net ongemaklik, verleë. Dis regtig nie elegant om so met ‘n oopgesperde mond vol pypies en wattetjies voor ‘n ander persoon te lê nie. As dit ‘n man is, is dit nog erger, maar sy het nog nooit ‘n vroulike tandarts teengekom nie. Behoede haar as oom Ben die dag besluit hy het genoeg gehad van ander mense se gebit en finaal na sy seehuis toe trek. As ‘n aantreklike jong man in sy plek kom, gaan soek sy vir haar ‘n ander goedige arts met ‘n magie en ‘n eindelose voorraad grappies om sy pasiënte se verleentheid te temper.
Sunita maak seker die kroon sit nog waar sy dit vanoggend weer vasgedruk het en tree huiwerig oor die drumpel van die wagkamer. Agter die toonbank glimlag tannie Booysen skitterwit. “Môre, Sunita! Jong, dat jy nou so ‘n ding moet oorkom so kort voor jou troue … Gelukkig dat jy die kroon kon behou. Genadiglik het dokter Muller juis hierdie maand begin, anders was ons nou in ‘n verknorsing. Ek het vir Bennie vanoggend terug bed toe gejaag, ek sweer dis die nuwe griep wat hy het. Sit net so ‘n bietjie, hoor.”
Dokter Muller? ‘n Vreemdeling? Ag hel tog, nie vandag van alle dae nie. “Oom Ben het ‘n vennoot gekry?”
“Deon is baie oulik, jy sal sien. Ek is so bly die oom het hom gekry om geleidelik oor te neem. Ons wil maar die einde van die jaar klaarmaak. Jy weet, ons word nie jonger nie. Die oom se ou hande is nie meer so steady nie en dié winter was hy kort-kort olik.”
Ja, steady hande is belangrik vir ‘n tandarts en griepkieme wil sy werklik nie hê nie. Maar broos soos sy vanoggend voel, sou sy liewer bekende hande verkies het. Sy gaan sit maar, maak of sy in ‘n tydskrif verdiep raak. Dalk doen die nuwe dokter Muller darem iets aan die afgeleefde hopie leesgoed waarmee mens jou hier moet vermaak.
“Jy kan maar deurkom, Sunita.” Oom Ben se assistent was saam met haar in matriek. Danelle is salig getroud en gevestig met ‘n gawe man en ‘n dierbare dogtertjie en kan ‘n hond uit ‘n bos uit praat.
Sy staan teensinnig op. Sy is nie lus vir gesels nie. En nog minder vir die vreemde tandarts. “Dankie, Danelle.”
“Hy is gorgeous. En single,” fluister Danelle vinnig in die kort gang op pad spreekkamer toe. “Ek is glad spyt ek is gelukkig getroud!”
Ag liewe hemel tog. Dis die heel laaste ding wat sy nou nodig het – ‘n aantreklike, hubare man om met tange en suiers en dinge in haar mond rond te vroetel. Soos ‘n lam ter slagting laat sy haar sitmaak en kry die belaglike borslappie om die nek. Sy luister met ‘n halwe oor na Danelle se storie oor haar gesinnetjie se lief en leed.
“Goeiemôre! Ek is Deon Muller.”
En daar staan hy in die deur: inderdaad gorgeous verby. Sonder sy kitaar. Maar onmiskenbaar die sanger in die Blou Affodil. Sy blou oë kyk verstom in hare. Maar net vir ‘n oomblik, toe trek hy sy professionaliteit soos ‘n mantel om sy skouers. “Kom ons kyk wat ons vir jou kan doen.”
“Môre,” fluister sy verstom. O hemel, hy het haar herken. Die verleentheid trek warm en koud deur haar. Wat gaan sy sê as hy begin uitvra? Sy is nie reg om daaroor te praat nie; sy het nog nie eens haar ma vertel dat daar nie meer ‘n troue gaan wees nie. Sy het naglank tussen verwarde drome verdwaal, met elke wakkerword met haar tong in die opening gewoel en kort-kort seker gemaak die kroon is nog veilig in die pilboksie op haar bedkassie. En verder gestres oor al die reëlings wat gekanselleer moet word, al die verduidelikings wat sy sal moet gee.
Die gebreekte tand het vir haar die simbool geword van haar verpletterde drome. Hierdie mooi man kan die tand heelmaak, maar durf sy ook hoop op die herstel van haar stukkende hart, op nuwe drome?
“En jy is Sunita? Gee jy om as ek jou so noem?”
Stom skud sy haar kop. Nee, sy gee nie om nie. Wat hy haar noem, is die minste van haar bekommernisse. Dat hy haar herken het, dat hy gaan uitvra oor die rampspoedige ete wat hy aanskou het, dis ‘n veel groter kwessie. En dat sy sal moet antwoord met ‘n tand wat enige oomblik kan uitspring. Of nog erger: sonder ‘n tand. Want nou enige oomblik gaan hy vra sy moet die ding uithaal.
“Jy sê jy kon die kroon behou?” Genadiglik trek hy die masker in posisie en skuif op sy wielietjiestoel skuins agter haar in. Nou hoef sy hom ten minste nie in die gesig te kyk nie. Maar sy het reeds te veel gesien: Die blonde bos hare is netjies na agter vasgemaak, die leerbaadjie is deur ‘n baie mooi handgebreide trui vervang, ‘n netjiese langbroek in die plek van die afgeleefde jeans, skoene nuut en blink. ‘n Pragtige prentjie van ‘n professionele persoon in die werkplek. Maar dit maak nie vir haar sin nie. Wat soek hy hier? Of liewer: Wat soek hy Woensdagaande in die Blou Affodil met ‘n kitaar in die hand?
“Hmm.” Is al wat sy kan uitkry.
“Maak oop, asseblief..” Sy stem is afstandelik, koel. Dalk het sy haar bloot verbeel hy het haar herken.
Met die gevoel dat sy besig is om in ‘n moeras weg te sink, maak sy haar oë styf toe en haar mond wyd oop. Maar nie voor sy die ondeunde glinstering in Danelle se oë gesien het nie. Danelle se radar het die onderstrominge opgevang en sy kan nie wag om te hoor wat aangaan nie.
Vir die volgende uur – wat vir Sunita soos ‘n jaar voel – doen hy sy ding flink en bekwaam. Sy maak oop, maak toe, volg elke instruksie stiptelik en probeer tevergeefs om nie te dink hoe sy vir hom moet lyk nie. Alles terwyl sy haar oë styf toegeknyp hou. Wat hy natuurlik verkeerd interpreteer: “Sunita, jy kan regtig maar ontspan. Ons gaan hierdie tand sommer vinnig vir jou opfix. Verdowing is nie eens nodig nie.”
Sy knik so baie dat sy naderhand soos Noddy voel. Sy sal vir flippen enigiets instem as sy net hier kan wegkom.
En eindelik is die ellende verby. “Daar’s hy, so goed soos nuut!” straal die mooie dokter Muller wat Koos Doep se musiek so goed verstaan.
“Dankie,” mompel Sunita kop onderstebo en maak dat sy wegkom. Haar binneste is so deurmekaar soos ‘n bondel sokkies in ‘n tuimeldroër. Sy is ongelooflik verlig dat hy nie uitgevra het nie, maar terselfdertyd teleurgesteld dat hy na die aanvanklike verrassing glad nie weer laat blyk het hy onthou haar nie.
Die res van die dag probeer sy uitpluis hoekom sy so verskriklik oorreageer het. Is dit net die verleentheid van ‘n jong, aantreklike man wat so in jou oopgesperde mond moet werk? Is dit omdat sy nie die kitaarspeler en die professionele persoon by mekaar kan uitbring nie? Is dit omdat die uiters onromantiese beeld van iemand wat in jou mond werk, nie strook met die romantiese prentjie van die kunstenaar met die ou jeans en die wanordelike bos hare nie? Is dit omdat hy die krisisoomblikke tussen haar en Barend sien afspeel het? Is dit omdat sy musiek haar so diep geraak het, haar eintlik gehelp het om haar sê te sê? Of is dit omdat sy kan sweer sy het vreugde op sy gesig gesien in die oomblik voor hy die masker oor sy neus en mond getrek het?
‘n Week later kom die e-pos waarvoor sy diep in haar hart die hele tyd gewag het. Daardie klein sprankie van onverklaarbare hoop het die nagmerrie van verduidelikings en kansellasies ‘n titseltjie draagliker gemaak. Aan die een kant is sy opgewonde. Aan die ander kant weet sy nie hoe om hom in die oë te kyk nie. Hoe verkeer mens sosiaal met ‘n man wat al in jou tande gevroetel het, jou met oopgesperde kake moes aanskou, met daardie gorrende spoegsuier soos ‘n flippen Kreepy Krawly oor jou onderlip gehaak?
Sy weet nie hoe om te maak met die gevoelens wat die twee uiterstes in haar wakker maak nie: Aan die een kant die romantiese kitaarspeler met die hare en die klere wat by die stem pas, aan die ander kant die tandarts met sy maskertjie en handskoene en kliniese instrumente? Is daar op die aarde iets minder romanties as iemand wat in jou mond werk?
En hoekom ontstel dit haar so? Sy het nog nie meer as drie woorde met die man gepraat nie. Hoe durf sy nou in romantiese terme aan hom dink? En wat sê dit van haar dat sy pas haar troureëlings gekanselleer het en nou alweer oor ‘n nuwe persoon droom?
Toe sy die e-pos oopmaak, raak alles in haar sag en week. Sy baklei nie meer met haarself nie. Sy lees net gretig.
Hallo Sunita
Ek wil graag seker maak jy is tevrede met die diens wat jy ontvang het. Sal ons dit oor die Blou Affodil se sticky toffee pudding bespreek?Ek speel môreaand tot negeuur. ‘n Soetigheidjie daarna sal lekker wees.
Groete
Deon Muller
Sy sit lank stil, vertroetel net die vreugde. Hy het haar onthou; hy wou haar net verleentheid spaar deur nie tydens die konsultasie praatjies te maak nie. Eindelik tik sy met ‘n singende hart:
Hallo Deon
Van wanneer af beveel tandartse soetigheid vir hulle kliënte aan?
Groete
Sunita
‘n Paar uur later is die antwoord daar:
Hallo Sunita
Dis werklik ‘n teken van ‘n swak tandarts. Ek beveel aan dat jy hom onmiddellik afdank.
Groete
Deon
Sy hou met groot moeite tot die aand uit voor sy terugskryf. Net een woord:
Hoekom?
Die antwoord kom blitsvinnig: Ek verkies om nie persoonlik betrokke te raak by my pasiënte nie.
Sy wik en weeg lank voor sy antwoord: Goed, jy is afgedank. En deesdae eet ek liewer malvapoeding.
Sy sorg dat sy halfnege by die blou Affodil is. Toe sy nog rondkyk vir ‘n oop tafeltjie, kom die hoofkelner haar verwelkom en word sy na ‘n tafel geneem waar sy ‘n goeie uitsig op die musikant het. Daar is ‘n kers op die tafel en ‘n enkele pienk roos op die kleinbordjie. Verras kyk sy op in Deon se gesig, bloos sowaar vuurwarm toe die blou oë hare vasvang. Sy kyk nie weer op nie. Sy bestel ‘n glasie wyn en ‘n voorgereg, sit terug en luister na die musiek en probeer nie haar gevoelens ontleed nie.
Toe hy skielik oorkant haar praat, slaan haar hart bollemakiesie. “Kan ons van vooraf begin? Sonder enige sprake van tegniese tandsake?” Sy hare val wanordelik op sy skouers, sy gesig is oop en sonder masker. En baie ernstig, ‘n bietjie skaam ook.
Sy steek haar hand uit. “Hallo, ek is Sunita Hamman. Ek hou van jou musiek.”
Haar hand raak weg in syne. Hy het regte kitaarvingers, skraal, maar sterk. “Hallo, ek is Deon Muller. Ek speel kitaar om van mense se monde weg te kom.”
“Haat jy dan jou werk?” vra sy spontaan. Sy kan nog nie die twee kante van die man bymekaar uitbring nie.
Hy sak oorkant haar neer, neem die glas wyn wat die kelner hom aanbied. “Ja, baie. Dis interessant, die tegnologie is fassinerend, dis ‘n uitdagend, dis lekker om mense hul glimlag terug te gee. Maar mens moet iets hê om dit mee te balanseer.”
“Dit kan ek verstaan.”
Hy kug, skuif sy wynglas, kyk dan op in haar oë. “Sunita, wil jy my vertel wat tussen jou en jou verloofde gebeur het?”
Sy sluk, weet nie hoe om dit te formuleer nie. Vryf oor die wit strepie om haar ringvinger. Die vernedering van die openbare spektakel maak nog seer. “Ek het na die woorde sit en soek om die verlowing te verbreek. En toe gaan hy kleedkamer toe en ek antwoord sy sekretaresse se oproep. Sy héél private sekretaresse, kom ek toe agter. Dit was die finale strooi.”
“Ek het gesien jy is baie ontsteld.”
“Kyk jy altyd na die gaste in die restaurant? Wat sien jy alles raak?”
“Nee, ek is nie veel van ‘n entertainer nie. Ek verskaf agtergrondmusiek. Maar vir jou het ek raakgesien. Lankal, voor jy vir ‘n tyd weg was. Julle het gereeld hier kom eet.”
“Barend is ‘n creature of habit.”
“En ‘n ontroue verloofde.”
“Dis reg, ja. Hy is ook dominerend en selfsugtig.”
Sy glimlag is skamerig. “Ek is nie dominerend of besonder selfsugtig nie.”
“En wat is jy wel?”
“Ek is eerlik en ‘n harde werker en ‘n opregte mens.” Hy sluk weer, skuif sy wynglas effens na links, dan weer terug. “En ek is verlief op jou.”
“Hokaai!” Sy keer verskrik met haar hande. “Ek het ‘n week gelede my verlowing verbreek. Ek kan nie nou al weer …”
“Ek is jammer, dit was voortvarend van my. Ek gaan jou nie onder druk plaas nie. Ek wil net graag jou vriend wees.”
“Daarmee kan ek saamleef.”
“Het jy al ‘n idee wat jou toekoms inhou?”
“Sodra al die reëlings gekanselleer is, vat ek die pad terug Europa toe. Ek is reeds besig met my visumaansoek vir die Schengen-lande. Ek het in Europa besef ek kan nie met Barend trou nie. Hopelik kry ek nog antwoorde daar.”
“Ek sal hier wees as jy terugkom. Elke Woensdag- en Saterdagaand.”
“Ek sal onthou. Maar nou moet ek gaan.” Sy moet wegkom voor sy onverantwoordelik raak. Die man se sagtheid spreek haar aan, sy eerlikheid, sy omgee. Geen poging om haar te stoomroller nie, geen druk nie, net ‘n eerlike poging tot begrip.
Sy voel sy oë op haar rug toe sy uitstap. Maar dit maak haar nie ongemaklik nie.
Dis kort voor Kersfees toe sy stil-stil by dieselfde tafeltjie inskuif. Dit lyk of die hoofkelner haar onthou, sy word flink en vinnig van ‘n glasie wyn en ‘n spyskaart voorsien. Deon is op sy plek, besig met Moenie van Theuns Jordaan. Waar ek ookal wegdraai … Moenie my alleen laat loop nie … Sy loer onder haar wimpers deur na hom; sy het nie die moed om sy aandag te trek nie. Wie sê hy onthou haar ooit? Dalk het sy haar heeltemal misgis.
‘n Onverwagte vals akkoord laat haar kop opruk. Hy het haar raakgesien. Die vreugde op sy gesig is mooier as enigiets wat sy in Europa gesien het. Mooier as die mere van Kroasië, mooier as die mooiste katedraal in Parys, mooier as die kasteel by Heidelberg. Haar verwarde hart kom stadig tot rus. Sy sit agteroor en teug rustig aan haar wyn. Sy is nie verbaas toe die eerste akkoorde van die ou liedjie opklink nie: “Well if you’re lookin’ for love … Honey I’m tougher than the rest …”
Toe hy opkyk in haar gesig, kan sy sonder voorbehoud vir hom glimlag. Ja, dit het tyd geneem, maar sy is weer sterk genoeg vir die liefde.
En sy het met haar terugkoms uit Europa alreeds vir haar ‘n nuwe tandarts gekry. ‘n Gawe omie met ‘n boepie en ‘n bles en ‘n onuitputlike voorraad flouerige grappies. Al wat sy nou nog in haar lewe kortkom, is ‘n man wat nie net met oortuiging oor die liefde kan sing nie, maar dit ook in die praktyk kan uitleef.