Kortverhaal: Die krag van die Eva

Die krag van die EvaDie krag van die Eva was my eerste gepubliseerde storie na ek voltyds begin skryf het en het in Huisgenoot van 5 Augustus 2004 verskyn. 

”Toemaar my pop, moenie jou mooi koppie daaroor breek nie.  Ek sal sorg.”  My man vou sy bene rustig oormekaar, en bekyk die punt van sy Grasshopper met aandag.  Die skoene van ‘n man wat nie maklik byt aan verandering nie.  Selfgenoegsaam, so lyk dit vir my.

Op my beurt bekyk ek my bruidegom van twintig jaar gelede.  Daar het min van hom oorgebly.  Soos met die hare.  Of liewer, daar het heelwat bygekom.  Soos met die maag.

Daai tyd het ek gedink hy is ‘n ware man wat sy man kan staan, met ‘n oog wat nie wyk en ‘n bars kan kyk (my opregte apologie aan … Wie was dit?  AG Visser?).  Vyftien jaar ouer as ek, waardig en sterk.   Vandag weet ek hy is ‘n manlike chauvinistiese dierasie met ‘n krulstert en vet wangetjies.  En twintig jaar lank het ek willens en wetens toegelaat dat hy my liefhê (op sý manier), beskerm, versorg, oorheers, patronize, en stilletjies, stadigies van my selfvertroue, trots en kreatiwiteit beroof.

“Ek is nie ‘n pop nie.  Daar is ‘n brein ook in hierdie sogenaamde mooi koppie!”  Ek stamp die borde met mening in die rakkies van die skottelgoedmasjien.  Ek het nie oë in my agterkop nodig om te sien hoe dop my man en my jongste hulle oë meewarig vir mekaar om nie.

Hermanus sit sy geduldige dosentstem op:  “ Ek weet, my skat.  Maar dis regtig nie nodig dat jy jou vermoei met die belastingopgawe nie.  Johannes is ‘n baie bekwame adviseur.”

 Johannes is stokoud, agter die tyd en manlik.  Johannes doen al sy kliënte se opgawes vir die afgelope millennium op presies dieselfde manier.

Ek vat my likeur (elke aand sorgsaam vir my ingeskink, newwermaaind dat ek likeur haat) en verwyder myself so waardig as moontlik uit die oorlogsone.  Buite gee ek die delicious monster  ‘n stywe dop, en vroetel vir my wegsteek sigarette agter die pot.  Ek ignoreer die sorgsame en taalkundig korrekte: “Vrou, jy sal ‘n verkoue opdoen!” agter my.  Terwyl ek die gif pynlik in my longe optrek net om myself te wys ek kan dit doen, luister ek weer eens na die gewone koor in my kop:

“Dis nie nodig dat jy moet gaan werk nie.”

“Kyk jy maar net mooi na ons seuns.”

“Ek gee jou oorgenoeg vir die kruideniersware!”

“Vroumense kan g’n met geld werk nie.”

“Het jy waarlik nog ‘n rok nodig?”

I mean, waar trek ons – in die fifties van die vorige eeu?

 

“Máááá!  Ma is só uncool.  Hoekom moet ek alewig help met die wasgoed?  En die kos?  Ek is g’n vroumens nie.”  Ensovoorts, en so meer.

My agtienjarige jongstetjie se lieflike lyf praat met my net een taal: dié van smartlike verontregting.  Dié lyf huisves genoeg testosteroon om ‘n klein oorlog te begin, verpak agter ‘n indrukwekkende sixpack van soliede spiermassa.  Perfekte klein manlike chauvinistiese diertjie.  Die wangetjies dril nog net nie.

Is dít waarvoor ‘n mens rekmerke, slap tieties en slaaplose nagte verduur?  Vir ‘n kloon van jou waardige eggenoot vir wie jy hartlik moeg is?

“Ma, hou tog op met kerm oor Aids, ek weet wat ek doen.”

“Ma sou liewer wou gehad het jy moet nié doen nie, my kind.”

“Ek is nie meer ‘n kind nie, Ma, ek is amper klaar met skool en ek kan kuier net soveel soos ek wil.  Dis mos waarvoor girls daar is.  En met ‘n skelm grinnik:  “Hulle smaak dit.”

Ja, die perfekte jong chauvinis: my oudste liefkind, wat so lank, lank gelede – voel soos gister nog – met sy slap nekkie en nat bekkie warm en sag teen my bors gelê het.

Waar dink hulle trek ék? Twee eeue terug? Toe dit vir moeders ‘n eer was om seuns te baar en vir kanonvoer groot te maak – alles vir volk en vaderland?

En nou wil ek hulle al drie se nekke omdraai.  Of my goed vat en loop.

Ek skrik.  Wat op aarde gaan met my aan?  Die skok van die veertigste verjaardag?  Perimenopause?  Helemal menopause?  Depressie?  Doodgewone malheid?

Toe ek Hermanus se studeerkamer hoor toegaan, doen ek wat Eva deur die eeue doen as sy in die nood is, veral in die jongste eeu met selfone en gratis lugtyd beskikbaar:  bekla my (sogenaamde) lot by ‘n (sogenaamde) vriendin.

Zanté is alles wat ek, bedeesde Bellatjie, nie is nie:  Sexy, slim, brandmaer, bruingebrand, beroepsvrou, baas op haar eie plaas (soos in meenthuis) en van haar eie lewe (soos in steur haar aan g’n man nie).  Ek kan nie eens meer lekker onthou waar ek aan haar gekom het nie. Iewers uit Gr 2 op Pofadder se koers uit. Zanté was maar van altyd af met my, soos die armes, of die belastinggaarder.  Kan nie met haar nie, kan nie sonder haar nie.

Sy lees my soos ‘n boek:  “Sit jy alweer buite en rook?  Dis jou huis ook – jy kan rook waar jy wil.  Dis tyd dat jy opstaan vir jou regte!”

Ek sug:  “Watter regte?  Om by die baas te slaap?”   Sy verstik byna van verontwaardiging.

“’‘n Siek grappie, Bella.  En doen sommer eerste iets aan daai simpel boerenaam van jou.  Isabel klink darem meer na ‘n mens wat op haar eie kan asemhaal.  Van die Gertruida kan jy maar net stilbly.”

 Ja, dis wie ek is:  Isabella Gertruida Vermaas, neé Koekemoer.  Ja, van die Boesmanland se grootvoet Koekemoers.  Nie meer tuis in die Boesmanland nie, maar voorstedelik, vet, gefrustreerd en veertig.  En helaas, die voete is nog met my.

Isabella Gertruida Vermaas, wie se grootste act of rebellion is om kort-kort ‘n Engelse woord in haar sinne te gooi om haar lieflingman (waardige departemenshoof by gerespekteerde opvoedkundige instansie) se nekhare (Het varke nekhare?) te laat rys.  Waarlik bejammeringswaardig.

Ek sit die selfoon saggies neer terwyl Zanté nog voortstoom oor die making of the new woman.  Ek ken haar preke al woordeliks uit my kop.  En hulle help my niks.  Ek sit doodstil en teug aan my sigaret en ek weet ek is kinderagtig.  Dit duur ‘n rukkie voor sy gebelgd stil raak.

New woman, my voet.  Dis ‘n new man  wat hier nodig is.  Die nuwe man van die een-en-twintigste eeu.  Verfynd, in voeling met sy vroulike kant, maar ferm en fier wanneer nodig (soos wanneer sy new woman  ‘n rare oomblik van swakheid beleef, of dalk PMS).

Soos Bernard.

Nou is dit uit, al is dit net die stomme dowwe stedelike naghemel wat dit gehoor het.  En die gedokterde delicious monster.  Bernard:  die wortel van alle kwaad.

Of die put van alle plesier?

Bernard, ‘n goeie paar jaar jonger as ek.  Die spiere nog ferm en fraai.  Ongelukkig getroud ook.  Met twee pragtige, onskuldige ou kindertjies.  Hoe onskuldig die ou vroutjie is, sal ek nou nie kan sê nie.  Pragtig is sy wel, as jy van geraamtes hou.  Kan omtrent die beendere hoor ratel as sy haar entrance maak.  Maar verstaan, verstaan sy hom nie.

Ek is so verlief soos twintig jaar terug.  Dalk op die Hermanus van twintig jaar terug?  Ek kan nie die ooreenkoms miskyk nie, al wil ek hoe graag.  Dieselfde stemmige waardigheid, goedgekose keurige (outydse) Afrikaanse segswyses, akademiese ronderaam brilletjie.  Ook vroeg-vroeg al senior dosent.

Maar daar hou die ooreenkoms op.  Bernard boer in die gym.  Bernard dans soos ‘n droom.  Bernard skryf gedigte.  Bernard kan kook.  En kán Bernard vry!

Dat ek nou waarlik op ‘n kollega van my man moet staan en verlief raak!  Ek dag nog ek verveel my soos gewoonlik morsdood by die gewone droë akademiese gedoe, toe kyk ek die maan en ontleed die lewe saam met die belowende nuwe jongeling in hulle midde.  En belowend wás hy!  Gedeliver ook:  gesteelde koffieuurtjies hier en daar, selfs ‘n stoute nagklubaand toe Hermanus na sy ma se galstene gaan omsien het, ‘n enkele roos met ‘n gedig diskreet afgelewer, gereelde sappige SMSe.  Alles spreek van toewyding en fyn beplanning.  En  altyd so eerbiedig teenoor Doktor.

Ek raak soos elke aand aan die slaap met Bernard se passievolle gesig voor my, dankbaar dat Hermanus weer laat werk in sy heiligdom.

Ek hoor nie die motor vertrek nie.

 

Ek dag ek het pas ingesluimer toe die telefoon se gelui deur my soete drome skeur.  Dis kwart voor 6.  Hermanus se plek langs my is leeg en koud.  Waar is die blikskottel as mens hom nodig het?

Die saaklike polisiestem ruk my helder wakker:   “Mevrou Bella Vermaas?  Is u man Hermanus Gerhardus Vermaas?” Iewers in my agterkop registreer ek ‘n geamuseerde nootjie in sy deuntjie.   Die polisie sal darem seker nie smile as hulle my vertel my man is dood nie.

“U moet asseblief u man kom haal.  Hy is nie in ‘n toestand om te bestuur nie.”  Nou is ek seker hy lag in sy mou.

My jaagtog polisiestasie toe sou Hermanus genoop het tot ‘n lesing oor waardige optrede en selfbeheersing.   Nie dat hy nou in ‘n posisie is vir preek nie!

 

Die gesig wat my begroet, sal ek in my dag des lewens nooit vergeet nie.  Daar wag nie één verrassing vir my nie.  O nee, die slag is dubbeld.  Hermanus en Bernard hang soos bloedbroers om mekaar se skouers.  Kennelik het hulle tweetjies ‘n rumoerige nag agter die blad.  En hulle is nie stil in hulle uur van nood nie.  O nee, hulle sing te pragtig, tot stigting van al die ander twyfelagtige karakters wat in verskillende stadiums van verval rondom hulle sit en lê en hang. “O, ek wil huis toe gaan, na Mamma toe … Die rivier is vol, my trane rol …”

“Ek wil hulle nie hê nie”, deel ek die grimmende jongeling agter die toonbank mee.

“Dis wat die ander mevroutjie ook sê.  Moet ek hulle maar laat bêre?”

Ek ruk byna my nek af. Nie vir die bêre nie; dis wat hulle verdien.  Maar vir die ander mevroutjie.  So wragtag, daar oorkant staan Dingetjie ook.  Besig om my met yskoue slangogies dop te hou.  Hierdie tyd van die môre netjies uitgevat in haar te klein broekie wat die uitstaan heupbeentjies wys.  Grimering de lot.  En ek lyk soos Dracula se kleinsus.

“Gee dan tog maar myne.”  Ek teken oral waar hy sy vinger druk; sal nou altwee helftes van enige koninkryk wegteken net om hier uit te kom.

Ek gryp Hermanus onsag aan die arm en begin aanstap.  Maar moenie dink die tweetjies wil geskei wees nie.  Nie eens met die tekens van handgemeenheid so duidelik op hul edele gelaatstrekke nie. O nee, dis eers ‘n roerende afskeid: “Sien Doktor môre by die werk … o gaats, dis lankal môre!  En ek sal my pote nie weer aan haar sit nie … Ha-ha …”

Hermanus weet!  Bernard het hom sowaar vertel!  As ek nie nou dood van skaamgeit nie, sal ek nooit.

 

Ek weet nie lekker hoe ons by die huis kom nie.  Ek is so benoud, ek hiperventileer behoorlik.

Gerhard wag ons by die deur in.  In sy agtien jare het sy pa en ma nog nooit op sulke onvoorspelbare uitstappies gegaan nie.

Die kind staar in stomme verwondering na sy pa. Maar dis nie skaamte wat ek op sy gesig sien verskyn nie.  Dis bewondering!  Hy vergeet skoon om cool te wees:  “Daai oog gaan ‘n shiner wees, Pa!  Waar kom Pa aan hom?”

“Ek het jou ma se eer gaan red, my seun.  Die mannetjie was besig om van haar ‘n totale gek te maak.”  Die ridder neem dankbaar die pak bevrore ertjies van sy seun en hou dit liefdevol op sy lieflike shiner.

Hermanus het geweet van my en Bernard!  Sy nagtelike tog was om Bernard te gaan konfronteer!

My waardige eggenoot, 55 onfikse jare oud, het my lover van 20 jaar jonger gaan (probeer) aanrand ter wille van my!  Die gedagte sypel stadig deur my dowwe brein, deur my ledemate tot in my diepste wese:  My man gee soveel om dat hy, die aartspasifis, bereid was om tot geweld oor te gaan.

Nou is ek nie meer kwaad nie.  Nou is ek net skuldig.

“Ma, wat presies gaan hier aan?”  Dié kind van my ken ‘n rot as hy hom ruik.

“Vat jy my kar en sorg dat jy by die skool kom, Ma sal hier sorg.”  Snaaks genoeg gehoorsaam hy.  Die splinternuwe lisensie brand hoeka ‘n gat in sy beursie.

Ek wag fier en sterk vir die ontploffing.  Toe niks gebeur nie, haal ek diep asem en gaan tot aksie oor.

 

Ek vat my man hierdie keer met respek aan die arm.  Ek verpleeg sy wonde en ek sit hom sorgsaam in die bed.  Sy protes is net vir die show.  Sy fut is uit.  Hy is nou bloot ‘n moeë middeljarige akademikus wat probeer ridder speel het.  Hy het net nie ‘n clue hoe beïndruk sy prinses is nie.

Net voor hy insluimer, mompel hy slaperig: “Hierso.  Ek dag ek sal eendag ‘n bundeltjie daarvan maak.”  ‘n Stokou, verfrommelde boekie kom uit sy sak te voorskyn.

Ek gaan sit by die kombuistoonbank en probeer my skuld verdrink in swart koffie en selfbejammering.  Ek lees die boekie se liefdesgedigte oor en oor. Hier en daar is datums by.  Dit strek oor al die jare van ons verhouding.  My man se siel lê oop voor my.  En kán hy dig!

Ek huil my lekker uit oor die hoeveelste beker koffie.  Toe ek daar opstaan, is ek sterk.  ‘n Bietjie war paint op die wangbene en lippe, en ek is reg vir Fase Een.

Ek stoomroller ons huisdokter se kwaai ontvangsdame sodat sy oorkruis kyk na haar woordverwerker van pure ergernis, en ek kom daar uit met ‘n brief dat Dr. Vermaas ‘n maand se ruskans moet kry ten einde uitbranding en akute stres hok te slaan. Die liewe dokter se laaste woorde bly hang in my kop:  “Mevrou, jou man is van ‘n vroeër geslag as jy.  Ons ou klomp sukkel maar nog met al die eise van die nuwe samelewing.  Ons is grootgemaak vir een ding, en probeer nou ‘n ander wees.  Dit veroorsaak dikwels groot spanning.”

Terwyl die adrenalien nog deur my are bruis, gaan druk ek die brief onder die fakulteitshoof se krom neus.  Die ou heer is verbasend tegemoetkomend:  “U eggenoot is oorsensitief vir die persoonlike probleme wat sy studente graag op hom kom afpak.  Hy is ‘n klankbord vir talle jongmense.”  Sensitief.  Klankbord.  Op watter planeet  was ek?

Bernard is sowaar op kantoor.  Arme drommel, Dingetjie het hom huis toe gevat en toe summier uitgeboender kantoor toe.  Hy lyk ellendig.  Hy lyk soos die swakkeling wat hy is.  Ek staan mooi regop voor die lessenaar en sê my woorde van bevryding helder en kalm:  “Ek wil jou nooit weer sien nie.  Daar’s ‘n groot verskil tussen liefde en lus.  Ek ek is ook nie eens meer lus nie.”

Fase Een is afgehandel.

Die volgende dag takel ek Fase Twee.

Ek sê vir my man Hermanus is ‘n vakansieplek, nie ‘n man van die een-en-twintigste eeu nie.

Herman spartel maar effentjies toe ek hom vir die eerste sessie sielkundige toe sleep.  Hy oorleef dit ook.  Sê selfs hier en daar ‘n woord.

Ek skakel die mediese fonds en reël vir die uitgawes.  Herman sê dis verstandig om vooraf te reël.

Ek vat die belastingpapiere na die nuwe vrou toe oor wie almal praat.  Herman kry nie die stuipe nie.

My dae van onderdanig wees is verby.  Ek is ‘n new woman wat weet wat ek wil hê:  ek wil my man hê.

Sukkel-sukkel begin ons weer dinge vir mekaar sê.

Daar is groot misverstande:  “Bella, jy het nooit vir my gesê jy is ongelukkig nie.  Ek het jou die sekuriteit en beskerming probeer gee wat jy in die kinderhuis nie gekry het nie.”

Daar is klein irritasies:  “Ek haat dit as jy my Pop noem.  Ek is te groot vir ‘n blooming pop.”

Daar is verwyte:  “Ek steek al die jare my gedigte vir jou weg. Jy’t gelag vir die eerste een wat ek jou gewys het.”

Daar is verrassings:  “Sy vrou het my kom sê.  Weke gelede al. Sy ken al die patroon.”

Ek voel vernederd:  “So julle twee het vir my en Bernard sit en bespreek.”

Herman voel diep vernederd:  “Jy het van my ‘n gek gemaak in my werkkring.”

Daar is beskuldigings:  “Jy het my soos ‘n kind behandel.”

Daar is feite:  “Jy het jou soos ‘n kind gedra.”

Daar is kleinlikheid:  “Jy is so sedig en ernstig en prekerig – dit maak my mal!”

Daar is waarheid wat seermaak:  “Ek het nie meer my vrese en emosies met jou probeer bespreek nie, want jy het geen geduld daarmee gehad nie.”

En eindelik:  “Herman, gee my nog ‘n kans.”

En hy, asof dit logies is:  “Maar natuurlik, my skat.”

Maar hoe hulle twee van handgemeen tot drinkebroers gevorder het, kry ek nooit uit hom nie.  Net iets van onderhandelingsvaardighede en lewenswysheid.  Oor daardie nag is ‘n sluier getrek.

 

Kort voor lank is die sielkundigetjie oorbodig.  Ons kan nou op eie stoom lekker veg sonder ‘n amptelike skeidsregter.  Herman het darem ook die vrykuns nog nie heeltemal afgeleer nie.  Net bietjie verroes.  Niks wat oefening nie kan regmaak nie.

Die seuns is meer by die huis as tevore.  Hulle is selfs soms in die kombuis.  Uit eie vrye wil.   Hulle slaan nie meer heeltemal in koue sweet uit as ‘n afdroogdoek na hulle kant toe kom nie.

 Ek sê hard en duidelik dat ek likeur haat, enige likeur.

Ek koop vir Herman ‘n paar lieflike bonkige dure cool skoene.  Hy vind hulle verbasend gemaklik.

Ek begin universiteitsjaarboeke bestudeer.  Ek besluit op Joernalistiek.

Ons hoor Bernard het die Departement skielik verlaat.  Sonder die vroutjie met die kaal heupbene en die lieflike kindertjies.  Sy het kennelik ook haar eie krag ontdek.

Ek weet nou:  Vrouekrag lê nie in die lyf nie.  Maak nie saak of daai lyf Boesmanland-voete het, of ratel van die maergeit nie.  Vrouekrag lê in die hart.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s