RSS

Kortverhaal: Die sonde van versuim

16 Mei

Die sonde van versuimDie sonde van versuim het in Huisgenoot van 23 Februarie 2006 verskyn en hou vir my plesierige herinneringe in. Die titel was Manlief se blink idee. 

‘n Rot word glo maklik so groot soos ‘n jong kat.  Ek het al gelees hoe rotte in die Middeleeue selfs ‘n baba in sy wiegie sou aanval.  Ek hoop en bid maar die hedendaagse Suid-Afrikaanse rotte is nie heeltemal so oorgewig en onmanierlik nie.  Of so honger nie.

Dis pikdonker.  Stikdonker.  Nagdonker.  Die sekelmaantjie is ‘n verlore strepie lig in die wye nag; die sterre beur verniet teen die oorweldigende donkerte.  Ek het nie ‘n idee waar om te trap nie; ek is gewoond aan teerstrate en beskaafde sypaadjies, nie ongelyke plaaswerwe vol slagysters van allerlei aard nie.

Langs my stap Lukas met vaste tred oor sy geboortegrond, geweerband gemaklik oor die skouer gehaak, hande selftevrede in die sakke.  Baas van sy plaas.  Hy praat eenstryk deur.  Oor alles onder die son, behalwe oor ons.

Ek struikel half oor ‘n graspol of bossie, of bol beesmis, of wat ookal.  Ek los sy arm weer net so vinnig soos ek onwillekeurig daarna gegryp het.  Vervlaks of ek aan hom sal loop en klou as hy nie belang stel nie.  Hy lag tog te lekker vir my lompheid:  “Ai, julle stadsmeisies wat nie eens op ongelyk grond kan stap nie!”

As hierdie man nie vanaand aan my vat nie, wíl hy nie aan my vat nie.

Ons bereik die skuur.  Hy beduie hoe die rotte skade doen aan die voer wat weggebêre word vir skaars tye.

Lyk my hierdie skrapse landstreek het ‘n skaarste aan meer dinge as veevoer.  Soos aan manne wat weet wanneer is dit tyd vir vry en wanneer tyd vir ongediertes jag.

Ek staan onrustig in die donker en staar na die dakbalke van die oop skuur, waar af en toe ‘n nog donkerder skadu in die donker skadu’s beweeg.  Mag die gode gee dat die grillerige gediertes nie op die grond ook rondhol nie.  My staan raak al onrustiger; ek kan nie sien wat by my voete aangaan nie.

Ek skrik my siel uit my lyf toe die skoot langs my afgaan; maak geen verskil dat dit ‘n ou ligte geweertjie is nie.  My beangsde gilletjie los op in die wye donkerte van die Karoo.  “Dêm, mis!”  Hy stoot dadelik weer ‘n patroontjie in die loop, pure pionier op die wye vlaktes van Afrika; ek sweer hy hoor die leeu se stert kwispel in die lang gras.

Is ek werklik bereid om met ‘n spul rotte mee te ding om ‘n man se aandag?

Nee, ek is nie.  Hierdie man het so pas veel meer gemis as ‘n bloeming rot; hy het die geleentheid verbeur om ‘n lieflike warm, intelligente vrou te leer ken op ‘n vlak ver verhewe bo beesmis en rottejag.

He’s just not that much into you.  Seg Oprah.  Die man voel vere vir my.  Seg ek.

En hy’t nie die ruggraat om dit vir my te sê nie.

Ek trek in my gedagtes my voetjies hoog op sodat nóg ‘n hubare man ongesteurd onder die rak kan verbystap.  En die verlies is syne.

Ek is die een wat ‘n spring sal moet spring, en vinnig ook, voor my moed my begewe.  Niemand gaan dit vír my doen nie.  En daar’s net één rigting om te spring:  WEG.

Ek draai net daar om en begin aanstap oor die werf terug huis toe.  My oë het stilweg aangepas by die donker nag; ek kan nou die bekende vorms op die werf uitmaak:  tuinheining, hoenderhokke, werfhond voor die agterdeur, buitegeboue.

Lukas roep verbaas agter my aan:  “Waar gaan jy nou, Cornelia?  Jy’s te ongeduldig, ons moet ‘n bietjie wag dat hulle gerus raak en afkom grond toe.”

Ek wag nie ‘n oomblik langer nie.  Ek laat die sifdeur met genot agter my toeklap.  Geen gevaar dat sy ma sal hoor nie; die ou ore hoor nog net wat hul wíl hoor.  ‘n Dierbare tannie, maar bejaard en moeg gesorg vir ‘n seun wat maar net nie tot trou kan kom nie.  Nou weet ek hoekom:  Hy’s doodeenvoudig ‘n vrotsige vryer.  Dalk weet die tannie dit hoeka lankal.

Die oproep neem net ‘n paar oomblikke.  Natuurlik kan ek vannag by hulle kom slaap.  Ja, die buurvrou is van my eerste kuier af al ‘n vertroueling.

Almal hier is mal oor my.  Die tannie, die werkers, die bure, die hond.  Maar ek wil nie met ‘n dierbare skoonma, knap huishulp, gawe bure of ‘n lieflike waghond trou nie.  Ek wil trou met iemand wat my liefhet vir wat ek is.  En Lukas is nie daardie man nie.

Ek het op Lukas se plaas beland as deel van my universiteit se navorsingspan oor die unieke rog van die Roggeveld.  Gou-gou was ons vriende, maar daarby het dit gebly.  ‘n Boer kan nie aldag rondkuier nie, of heeldag op die foon lê nie, het ek vir hom verskonings gesoek.  My kuiers op die plaas het ek gate uit geniet.  Maar genoeg is nou eenmaal genoeg.

Doodbedaard pak ek my goedjies.  Ek stel ‘n briefie vir die groot jagter op my kopkussing.  Jy’t dalk ‘n paar rotte getref, maar vir my het jy gemis.  Cornelia.  As hy ooit tot daar sal kom soek!  Hierdie man is doodbang vir ‘n slaapkamer; hy’s ‘n ou wat liewer praat as vry.  ‘n Rare verskynsel.  Nie dat ek met vry oor die kop geslaan is nie, maar van ditjies en datjies alleen kan g’n verhouding darem aanmekaargesit wees nie.

Ek stap doodluiters die entjie in die plaaspad af tot by die hoofpad, sonder om selfs eenmaal om te kyk.  Ek kan nou duidelik sien waar om my voete neer te sit, letterlik en figuurlik.  Om my haal die bossieveld rustig asem; die roering van klein lewens in die donker maak my nie bang nie.  Vir plaasmoorde en ander nare goed sluit ek my kop vir die oomblik bottoe.

Ver agter klap nog ‘n skoot – arme rot.  Arme Lukas.  En gelukkige ekke, wat betyds die lig gesien het.

Die grootpad streep verlate oor die donker vlakte.  Ek trap onrustig rond; die eerste vlaag adrenalien sak saam met my moed tot in my skoene.  Is ek van my sinne beroof om eenvoudig in die nag die pad te vat?  Nee, nee, ek het juis tot my sinne gekom, probeer ek myself moed inpraat.

Mercia het ‘n klein baba, sukkel seker eers om hom rustig te kry.  My handpalms raak klam, my hart sit op loop; hoekom is die krieke skielik so stil? Kom, Mercia, kóm.

My selfoon lui.  Ek wip soos een met ‘n skuldige gewete, wat natuurlik waar is.  Dis Lukas; my grasietydjie is verby.  Ek druk die rooi telefoontjie met mening, voor ek my bedink.  Hy bel nie weer nie, seker lekker hardegat.  Dat irritasie nou die sterkste emosie moet wees wat ek by so ‘n eersteklas man kan uitlok.  Tragies, maar waar.

Uitkoms is egter op pad:  die naderende dreuning van ‘n voertuig vul my benoude hart met vreugde.  Tot ek besef daar is twéé dreunings: een met die grootpad langs, en een van die plaashuis wat ek agtergelaat het.  Ry, Mercia, ry!  Ek sien nie nou kans om Lukas in die gesig te kyk nie; ek staan reg met my tas.

Ampertjies ry Mercia verby.  Ek is met tas en losgoed in die bakkie voor hy behoorlik stilstaan.  Sy trek weg voor sy praat; ‘n goeie begrip wat nie eens ‘n halwe woord nodig het nie.

Van kleinsdag af is ek geseën met ‘n superskerp reuksintuig.  Ek tel dit dus onmiddellik op:  skoon, aangenaam, maar onteenseglik die aroma van ‘n Adam.

Ek kan sweer die bloed gaan staan botstil in my lyf.  Dis nie Mercia nie; die bakkie het uit verkeerde rigting aangekom.  Dit kom nou van my kinderagtigheid.

Die tweede vlaag adrenalien bruis deur my are:  “Waar de hel gaan jy met my?”  Vannag is dit klaar met my.  En wie se skuld?  Net my eie.

Sy lag is diep en aangenaam.  Klink darem beskaaf, minstens nie dronk nie.  “Net waarheen jy wil.”  Die stem lui ‘n klokkie in my verwarde brein.  ‘n Mooi stem.  Ken ek die man?

“Na die Van Tonders toe, asseblief.  Mercia is op pad om my te kom haal.”  Agter ons kom Lukas se ligte aan.  Hy móés my sien inspring het.

“Wat het Lukas jou gemaak?  Is jy beseer?  Ek ken hom nie as ‘n gewelddadige man nie?”  Die suggestie van ‘n glimlag in die stem, saam met opregte besorgdheid.  Hier ken almal vir almal; ek sweer die hele distrik weet van my.

Meteens gee my hart ‘n wilde sprong … dis die predikant.  Dewald.  Dewald Theron.  Ek was al saam met Lukas-hulle by ‘n diens; ek het die hele tyd sit en sonde doen oor hulle leraar se kom-lê-by-my kykers, die kuiltjie in sy ken, sy ekspressiewe hande.   Lukas kon my nog nooit tot enige sondige gedagtes beweeg nie.

“Vra liewer wat hy nié gedoen het nie.”

“Hoe bedoel jy?”  Dwaal ek, of klink hy verlig?  My maag maak ‘n eienaardige draai; is dít miskien hoe die immer ontwykende magic voel?

“Ek het maar net besef ek mors my tyd met hom, daar sal nooit iets van kom nie.”  Goed om dit duidelik vir myself te sê.  En vir enigiemand anders wat dalk ook wíl hoor.

In stilte draai ons by Mercia-hulle se plaaspad in.  Lukas draai agter ons in.  Van voor af kom twee kopligte teen ‘n hengse spoed aan.

Toe hy eindelik praat, is die glimlag onmiskenbaar in sy stem:  “Die sonde van versuim is in my boekies ‘n ernstige een.”

Hy flikker die ligte om Mercia se aandag te trek.  Sy hou stil.  Ons hou stil.  Lukas hou stil.  Almal klim uit.

Ek sit. Verlam.

“Naand, dominee.”  Lukas, verwarring in sy stem.

“Waar is Cornelia?  Die baba wou nie tot ruste kom nie!”  Liewe Mercia, wat my frustrasie met hierdie vryery wat nooit ‘n vryery was nie, lankal ken en deel.

“Ou vriend, lyk my jy het jou kanse verspeel.”  Dewald, ewe simpatiek.

“Lukas, Cornelia kuier by ons tot haar bus vertrek terug Bloem toe.  Ons sal sorg dat sy in die Kaap kom.”  Dierbare Mercia, als kant en klaar bedink.

Arme Lukas is heeltemal oorbluf:  “Vroumense!  Ek sal julle nooit verstaan nie.”  Ons verstaan onsself nie eens nie.

Ek klim met bewende bene uit die bakkie, swaai my tas op Mercia se identiese ryding.  “Dankie vir die kuier, Lukas.”  Ek steek my hand uit, skud syne ferm, draai om.  “Ek hoop jy kry die rotte uitgeroei.”

En aan Dewald:  “Dankie, dominee.  En ek stem saam, die sonde van versuim is ‘n baie nare ding.”  Ek klap die bakkiedeur ferm toe.

Laat dit nooit van my gesê word dat ek te papbroekig is om dinge te doen as hulle gedoen móét word nie.

In Mercia se gastekamer skakel ek my selfoon af en trek die beddegoed tot oor my ore.  Toe sy later met tee en simpatie inkom, maak ek of ek slaap.  Ek weet sy verstaan; sy sit die tee neer en gaan stil uit.

Dis ‘n ware vriendin wat weet wanneer om stil te bly.

 

DIT VOEL MY EK HET skaars ingesluimer, toe vat my gasvrou my angstig aan die skouer.  “Jong, Lukas is hier en hy’s soos ‘n kwaai bul, hy reken jy moet kom verduidelik.”

Ek staan uit die bed uit op en loop netso in my pajamas sitkamer toe.  Miskien oortuig my oggendgesig hom dat ek ernstig is.  Ek is jou tipiese saans-gousblom-soggens-molshoop meisie.

Lukas stap gedrewe op en neer in die lieflike ou voorkamer met sy hoë plafon en dik mure.  Darem jammer dat so ‘n mooie man vir die vrouegeslag verlore moet gaan, en dit deur sy eie vrotsigheid.  Die distrik moet maar verder vrou soek vir hom, my rolletjie is uitgespeel.

“Môre, Lukas.”  Ek sak op die lekker ou bank neer, vou my bene onder my in.  Ek is klaar met voetjies langs mekaar sit soos ‘n dame om ‘n mansmens te beïndruk.

“Môre, Cornelia.”  Soos ‘n streng vader wat op ‘n verskoning wag.  Hy gaan lánk wag.

Ek hou my stem met opset lig, geselserig:  “Het jy darem toe ‘n paar rotte geskiet gekry?”  Sy oë dwaal na die los knopies by my hals, skiet skuldig weg, dwaal weer terug.  Te laat, boeta, te laat!

Hy vererg hom gruwelik, ‘n eerste in my geselskap:  “Vergeet nou van die blerrie rotte!  Vir wat loop jy weg soos ‘n sleg hond?  Dis mos nie soos ordentlike mense maak nie!  My ma is baie ontsteld, vra wat het ek jou gemaak.”  Pleks hy lankal ‘n bietjie passie getoon het.

“Jy kan jou ma gerus stel, jy’t my niks gemaak nie.  Dis juis wat jy nié gedoen het nie wat die probleem is.  Die sonde van versuim.”  Ek sal die tannie bel en verduidelik.  Ek het ‘n sterk gevoel sy gaan verstaan.

“Versuim?  Versuim om te wat?”

Ek haal diep asem.  “Versuim om eerlik te wees oor ons verhouding.”

Hy kyk my diep gebelg aan met die twee baftabloue oë van hom:  “Ek het nog nooit vir jou gelieg nie!”

“Juis.  Maar ook nie die waarheid vertel nie – die sonde van versuim.”  Dewald het dit waarlik in ‘n oomblik perfek opgesom.  Hoekom het ek dan tog so lank geneem om by die waarheid uit te kom?

“Nou as jy dan so slim is, wat is dan die danige waarheid wat ek versuim het om jou te vertel?”

“Dat jy vere voel vir my.”

‘n Rooi gloed stoot in sy bruingebrande nek op.  Uitgevang!  “Wat praat jy tog, Cornelia?”

“Jy geniet my geselskap – ek weet ek kan met ‘n klip ook gesels as ek wil.  Jy hou daarvan om die plaas vir my te wys en al die dinge te verduidelik waaroor ek onnosel en onkundig is – dit laat voel jou sterk en slim.  Jy geniet dit om die bure aan die raai te hou – almal is al gedaan vrou gesoek vir jou.  Maar vir mý voel jy niks, absoluut niks.”

“Ek is regtig jammer, Cornelia.”  Spyt kom maar altoos te laat, soos my dierbare ouma graag gesê het.

“Jy hoef my nie jammer te kry nie, Lukas, ek is hoegenaamd nie gebroke nie.  Net verlig dat ek eindelik die lig gesien het.  Waaroor jy wel jammer kan wees, is dat jy my tyd gemors het.  En dat jy te lamsakkig was om oop kaarte met my te speel.”

Ek staan op.  Sy oë bly op my lyf.  Dat so ‘n kuise pak satynpajamas nou die skille van die man se oë moet laat val!  Te laat, boeta, te laat!

Ek kyk hom onbewoë agterna toe hy in sy bakkie klim en ry.  Nog ‘n potensiële verhouding wat tot niks gekom het.  My voetjies is hoog en droog bokant die rak opgetrek.  My biologiese horlosie tiek soos ‘n tydbom in my ore, maar ek is weer vry, my eie mens.

Die gevoel van mislukking kom lê egter soos lood op my maag.  Hoekom het ek weer eens energie verspil op ‘n verhouding wat nêrens heen gaan nie?

Hy is ‘n gawe, goeie, aantreklike man, soos al die gawe, goeie, aantreklike mans voor hom.  Maar hy is nie dié man nie.

Waarom wil die wonderwerk, die ontmoeting tussen twee siele, die magic, nie met my gebeur nie?  Wat doen ek verkeerd?

Moenie alewig die fout by jouself soek nie, Cornelia.  Dis niemand se fout nie, jy het nog net nie jou deel raakgeloop nie.

Maar Cornelia gaan klim met ‘n seer hart terug in die bed.  Cornelia vertel graag vir haarself en andere sy is in die eerste plek ‘n méns, en in die tweede plek ‘n vrou.  Maar op hierdie sonnige somerdag is sy net ‘n vrou wat ook graag ‘n maat wil hê.

 

DIS WEER MERCIA SE HAND op my skouer wat my verskrik laat regop sit.  “Cornelia, hier is weer ‘n besoeker vir jou.  En hierdie keer gaan jy nié in jou pajamas sitkamer toe nie.”

Ek’s knorrig, nog halfpad in ‘n nare droom vol rotte en verspeelde kanse.  “Vir wat nie?  Hy’t my klaar vanoggend so gesien.”  En ewe vermakerig:  “Hy kon nie sy oë van my af hou nie.”

Sy mik om iets te sê, trek dan net haar skouers op.  “OK, nes jy wil.”  En met dié verdwyn sy in die dieptes van die ou plaashuis.

Ek slenter sitkamer toe, ongekam en ongewas en lekker dikbek.  So ‘n tweede slapie teen opstaantyd is mos net reg om ‘n mens ‘n hoofpyn en ‘n humeur te gee.

Die man met die yslike bos blomme wat omswaai van die venster is nie Lukas nie.  Verre daarvandaan.

Hy hou die massa kleur na my toe uit:  “Ek is baie versigtig vir die sonde van versuim.  Daarom wil ek dit duidelik maak dat ek nie hier is op ‘n bloot vriendskaplike sending nie.”

Uiteindelik:  ‘n man wat sy intensies duidelik kan uitspel!

Half verleë borduur hy voort aan die stof waarvan drome gemaak word:  “Jou beeld spook by my van jy daardie dag saam met Lukas-hulle in die kerk gesit het.  Maar ek kon nie in ‘n gemeentelid se slaai krap nie.”

Ek steek my gesig in die geurigheid.  Waar sou hy op hierdie kleine plekkie aan so ‘n ruiker gekom het?

“Ek het vroegmôre ‘n paar tantes opgeklop vir die blomme.   Blommense is mos vrygewige mense; hulle stem saam die situasie verg daadwerklike optrede.”

“Watter situasie?”

“Die situasie dat jy nie weer op die plaas sal kom kuier nie.”

“Jy’s reg, ek sal nie weer daar kuier nie.”

“Dink jy daar is dalk ‘n moontlikheid dat ék in Bloemfontein kan gaan kuier?”

Ek is skielik skaam, hou die blomme voor my skamel geklede lyf.  Maar hy kyk my vierkant in die oë.  Vir eers.

“Daar was nooit regtig ‘n slaai nie.  En daar is ‘n redelike moontlikheid.”  G’n nodigheid vir speletjies speel nie; hierdie man loop die reguit pad.

 

TEEN DIE TYD DAT HY my in die Kaap by die busterminus aflaai, het die redelike moontlikheid veel meer geword.  Dit het ‘n vaste, vreugdevolle sekerheid geword.

Tussen die malende mense vou hy my teer toe in sy arms.  Aan versuim maak hierdie man hom beslis nie skuldig nie.  Ek ook nie – ek soen hom onbevange  terug.

 

Sleutelwoorde: , , , ,

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: