Kortverhaal: Spieëltjie, spieëltjie aan die wand

SpieëltjieHierdie storie het in Lééf van Julie 2006 verskyn. 

02:47 – Ek kan sweer die nag haal asem.  Sag en dreigend, soos ‘n groot dier met vlymskerp intrekkloue in sagte kussingpote.  Ek draai my geïrriteerd los uit die deurmekaargewoelde beddegoed; in hierdie bed is vannag weer g’n rus te vinde nie.

03:17 – Ek begin vir die hoeveelste keer vasberade bid:  “Ag Here, ek is so moeg.  Groot asseblief, laat my net slaap …”  Die patetiese ou gebedjie bereik nie eens die plafon nie; hy plof moedeloos terug langs my tussen die sweterige lakens.

Ek voel my stokalleen, sielsalleen in hierdie grote stad, vasgevang binne-in ‘n ewige nag.  Ek kyk vermoeid hoe ‘n paar lustelose stadsterre hul pad oor die vaal stadshemel baan; die palmboom sug moeg voor my venster.

My vrese en verliese hou my wakker.  Nag na eindelose nag.

03:34 – Ek gaan drink die soveelste paar slukkies water.  Hoekom raak ‘n mens tog so styf as jy ouer raak?  Elke netbalenkel, elke hoogspringknie ontwaak as die son sak.  Die pyne in my lyf roep saam met die duiwels in my kop:  Deborah Benade, jy is oud, uitgedien, vergete.  En môre – of nee, dis lankal vandag – gaan jy stókoud wees.

Slaaploosheid gee plooie, dowwe oë soos dié van Lea, ‘n bitsige tong wat vure van misverstand aansteek.  Slaaploosheid gee bowenal ‘n humeur.  ‘n Humeur wat die hele dag slu op loer lê, en dan toeslaan waar dit seer maak, op die onskuldige strooitjie wat die kameel met die dowwe oë se rug knak.

Om ná ‘n slaaplose nag vir ses ure te oorleef in ‘n beknopte klaskamer met agt-en-dertig seunskinders propvol kwajongstreke en hormone, is deesdae my idee van hel op aarde.  Vyf dae per week, tien, twaalf weke per kwartaal …

03:58 – Ek begin vir die soveelste keer die ou beproefde ontspanningsoefening:  Voete eerste … trek saam, ontspan … kuite … boude … maag … trek saam, ontspan …

Toe my magie glad en ferm was – lank gelede in ‘n vorige lewe – het ek nie eens geweet dis iets om voor dankbaar te wees nie.  Ek het sommer net aanvaar ‘n gladde ferm maag is ‘n wet van die natuur.

As ‘n mens jonk is, is so baie dinge vir jou wet.  Gesondheid, geluk, liefde, noem maar op.  As jy vroualleen probeer balanseer op die smal rotslysie tussen vyftig en sestig, word jy nederig dankbaar vir elke ongeluk wat jou nié oorkom nie.  Jy weet:  die wet op ewige skoonheid en geluk het lankal verval.  Jy’t net lank geneem om dit agter te kom.

04:04 – Ek smyt die befoesde laken op die vloer en sleep my moeë lyf kombuis toe.  Ek skink ‘n roekelose glas bruisende gaskoeldrank; by kalmerende melkdrankies en heilsame rooibostee is ek lánk verby.  Kafeïen is wat ek nou moet hê.  En my koekblik.

Met my glas gif en my blik sonde slof ek terug bed toe.  Ek stryk die verfrommelde laken gelyk oor my bene en skud hulle uit op my skoot:  die stille getuies van die verval van Deborah Benade.

Lipstiffies.  Hordes van hulle.

 

“MEVROU, MOENIE.”  NET DIT.  DIE mure van my bestaan het om my ingetuimel: uitgevang.  Maar toe ek bewend en blosend opkyk in die wildvreemde man se oë,  sien ek daar geen veroordeling nie.

Ek weet nie hoe ek by die huis gekom het nie.

Ek kan nie ophou lipstiffies steel nie.  Al wil ek hóé graag.

 

EK LAAT GLY DIE GLADDE koel houertjies soos kommerkrale deur my vingers; ek pak my  ellende in hopies op die laken uit:  Shimmering sensation  vir die bedrieglike lugspieëlings op die lewenspad.  Magic sunset  vir die son wat sak oor ‘n huwelik van meer as dertig jaar.  Lucky lips vir die jonge Lucy se karmosynrooi lippe wat my man begogel het.  Harmony  wat toe nie genoeg is om ‘n huwelik deur die maer jare te dra nie.  Passion wat Hannes klaarblyklik gemis en by háár gekry het.  Eternity vir die groot leegheid wat voor my lê.

Ek smyt die hele spul in die blik en skop die onskuldige ding met ‘n yslike geklater tot in die verste hoek van die kamer.

Hoekom het die man my laat wegkom?  Die arme dik, middeljarige vrou jammer gekry?  Onwetend het hy my die finale stootjie gegee tot neffens my eie persoonlike Rubicon.  Wegkom kan ek nie meer nie – vandag is die dag vir groot dink, diep dink, reguit dink.  G’n jakkalsdraaie meer nie, net eerlikheid.  En dan: aksie.

Niemand kan dit vír my doen nie.

Ek moet dit sélf doen.

O5:00 – Moedige aksie:  Ek soek lank na ‘n sweetpak wat nog min of meer pas.  Toe vat ek die pad om die blok, my en Hannes se ou staproete, elke tree ‘n herinnering.  Die voëltjies sing of dit uit die mode raak.  Ek blaas en sweet soos ‘n Comrades-atleet.

Die flinke gryskopman met die laggende herdershond knik vriendelik; ek mompel iets wat na Môre  klink en wens ek was onsigbaar.  Ek is al ‘n ent verby voor ek dit registreer:  die sonbruin hand wat die hond se leiband houvas.  “Mevrou, moenie.”  Dieselfde hand het vir ‘n oomblik op my arm gerus, dieselfde kalm bruin oë. Maar nou met ‘n uitdrukking van verbaasde herkenning.

Genade tog, die man bly in my buurt!  Waar berg ek my, waar vlug ek heen?  Het hy my herken?  Wie is hy – die apteek se eienaar, ‘n kliënt, ‘n polisieman in privaatklere?

Hoekom het hy my gewaarsku en nie aangemeld nie?  Wil die man my afpers?

Belaglike gedagte; ek is nie ‘n celebrity  nie – die beriggie sal onbeduidend wees, iewers op die middelblaaie.  Maar vernederend genoeg:  Onnie met lang vingers.  Of:  Leerkrag lus vir lipstiffies.  En dit sal elke liewe ouer en kollega en gemeentelid en die verste verlangse tante onfeilbaar bereik.  En my kinders in Londen.

Ek is nie onnosel nie.  Ek weet ek steel lipstiffies omdat my lewe sinloos geword het, ek my verliese nie kan hanteer nie, ek depressief en menopausaal en oorgewig en eensaam is.

Ek kan net nie die logika daaragter sien nie; nie dat ek nou eintlik die verpersoonliking van logika is nie.  Miskien het Lucy se helder lippe maar net vir my die simbool van my verlies geword; ek was nog nooit een vir vreeslik inkleur nie.  Hoe dit ookal sy, ek weet nie hoe om op te hou nie.

06:30 – Waaghalsige aksie:  “Ek is regtig jammer, Meneer, maar met hierdie migraine sien ek nie kans vir my klas nie.”  Ek vorder te pragtig:  eers steel, nou lieg.  Wat volgende?

10:30 – Desperate aksie: “Dokter, ek sukkel om te slaap. Ja, ek voel soms depressief.  Sielkundige?  Ek glo nie in dié mense nie, man, het jy nie liewer vir my ‘n pilletjie nie?”

Anthonie Binedell.  Adres in my woonbuurt; dis mos deesdae mode, dié spreekkamers in residensiële areas.  Seker veronderstel om die pasiënt/kliënt/slagoffer gemakliker te laat voel.  Vergeet dit.  Gooi die kaartjie in my handsak, gaan kry die pille (by dáárdie apteek – en nee, hy werk nie daar nie), klim in die kooi en slaap tot die son sak.  Salig.

20:00 – Kreatiewe aksie:  Uitgeslaap en propvol woema neem ek plegtig plaas voor my rekenaar.  Langs my lê ‘n stapeltjie boeke uit die dae toe ek nog ywerig gesoek het na die mooie en die edele in die ou lewe.

Dis die beste manier van boetedoening wat ek kon bedink.  Of dan minstens die oorspronklikste.

Ek tik ‘n hele stapel kleurvolle positiwiteitjies:  Carpe Diem – Gryp die dag … All things are difficult before they are easy …  Take responsibility for your actions and therefore your destiny …  Baie waar en baie edel, elkeen van hulle.

As ek hulle net kon toepas.            

Ek tik tot my oë brand, op pragtige duur papier, in allerhande oulike lettertipes.  Ek voel nogal heel in my skik met myself.

Ek knip en strik tot laataand.  Toe ek in die katel kruip, is my koekblik se blinklyfies elkeen mooi toegevou en vasgebind in ‘n edele boodskappie.

Die nag se verskrikking het darem so effens vervaag; ek is op pad vorentoe.

Ek weet nog net nie so lekker presies waarhéén nie.

 

TOE DIE EERSTE VOËLTJIE PIEP is ek op pad, die oggend se aflewering mooitjies in my moonbag  vasgegordel om my lyf.  So elke tweede, derde huis kry ‘n geskenkie in sy posbus.  Met elke lipstiffie wat ek weggee, raak die las op my skouers ‘n ietsie ligter.

Die man en die hond is op hulle pos.  Ek groet kop onderstebo, soos die skuldige wat ek is.  Toe wikkel ek half paniekerig om tog net my huis te haal, pynlik bewus van sy oë op my dikke boude in die stokou sweetpak.

Môre sal ek vroeër stap, my roete aanpas.

 

VIR AMPER DRIE WEKE GAAN dit wonderbaarlik goed.  My vreemde boetedoening laat my wel op ‘n manier beter voel.  Ek slaap snags redelik, danksy die dokter se pilletjies (Ja, ja, ek weet dis net ‘n tydelike oplossing).  Omdat ek meer rus kry, is die dae ook nie so ‘n konstante marteling nie.

Maar toe skielik, op ‘n onskuldige Donderdagmiddag in die winkelsentrum, breek alles weer uitmekaar.  Toe ek my kom kry, sit ek in my motor – sonder my kos vir die week – met ‘n blinkgladde Shimmering sensation in my sak.

Want die verlange ry my bloots.  Moet net nie vir my vra hoekom stéél nou juis help vir die seer nie.

Dis tyd om die kaartjie onder uit my handsak te gaan grawe. Ek skakel senuweeagtig, voor my moed my begewe.  Ek was in my lewe nog nie by ‘n sielkundige nie; ek skaam my morsdood.  ‘n Stem wat klink na dié van ‘n brandmaer sestienjarige deel my vriendelik mee dat daar volgende Dinsdag vir my ‘n uurtjie is by doktor Binedell.

Die dae sleep verby; die nagte is weer louter hel.  Wat sê ek vir die man?

Dinsdagmiddag trek ek ‘n paar keer uit en aan soos ‘n angstige tiener voor ‘n belangrike date.  Ek bly egter middeljarig en oorgewig, watter tabberdjie ookal die ou lyf versier.  My handpalms is klam; dit voel sweterig onder my borste.

Ek hoef niks vir die man te sê wat ek nie wíl sê nie.  Hy is ‘n professionele persoon; sekerlik is hy gewoond aan erger dinge as ‘n middeljarige vrou wat lipstiffies steel.  Soos ‘n dokter gewoond is om kaal mense te sien, is ‘n sielkundige tog seker gewoond om kaal siele te sien; dis ‘n werk soos enige ander.

Dis ‘n doodgewone huis met ‘n tuin so reg uit die Paradys. Ek wonder dadelik waar’s die slang; só suur en sinies het ek geword sonder Hannes.  Hy kon altyd die beste in elke sondige siel raaksien.

Ongelukkig toe ook in Lucy met die oë van ‘n madonna en die lyf van ‘n danser.  En klaarblyklik die sedes van ‘n straatkat.

Ek kry die slang gou-gou: Die ontvangsdame is toe nie sestien nie en ook nie brandmaer nie.   Nee, dis erger.  Sy is een van daai vreeslike effektiewe mense wat verwarde siele soos ek ontoereikend en oneffektief laat voel.  Sy regeer soos ‘n koningin oor haar klein domein, praat van Doktor asof hy haar persoonlike besitting is.  Of dalk is hy?

Ek sit en kriewel en wroeg, sukkel om iets gelees te kry, oorweeg dit om te ontsnap.  En raak tog uiteindelik verdiep in ‘n modeartikel oor die voller figuur in ‘n tydskrif propvol brandmaer modelle en vetmaakresepte.

Met die gevolg dat hy my heeltemal onverhoeds betrap.

Dit help darem dat hy self verbaas in sy spore vassteek.

Sou hy gereeld sy kliënte op straat gaan werf?

Ek het darem nog my trots; vervlaks of ek die slang die genoegdoening gaan gee van ‘n onwaardige vlug. Nee, daar’s nou net een pad, en dis vorentoe.  Dis ‘n skrale troos dat ek nie my dilemma woordeliks vir hom hoef uit te spel nie; hy’t dit mos klaar eerstehands waargeneem.

Toe ek ‘n uur later moedeloos gehuil daar uitkom, is my grimering na die maan (ja, ek dra ook deesdae oorlogsverf), maar my hart ‘n ietsie ligter.  Ek ry in ‘n dwaal huis toe.  Sien ek regtig kans vir weke lank se derms uitryg?  Is die pyn die moeite werd?

Op my stoep staan Hannes op uit die skadu’s van die prieël wat hy as jong man self geplant het:  “Deborah, ons moet praat.”

Ek vergeet van die verlange; ek onthou net die verskriklike woede.  “Praat met jou prokureur as jy wil praat.”  Ek gooi die deur in sy gesig toe.

Ek het nie ‘n prokureur nie, en ek wil ook nie een hê nie.

Naglank worstel ek met die beeld van my man wat maer en oud geword het.  Sênou hy wil terugkom?  Sênou Lucky lips  se geluk het gedraai?

 

DWARSDEUR DIE SOMER BETREE EK weekliks die klippiespaadjie tussen geurende laventelbosse wat my na Anthonie se koelteblou spreekkamer lei.  My emosies wipplank tussen angs en ekstase.  Angs vir watter wurms ons nou weer vandag gaan oopkrap;  ekstase omdat ek soveel jare weer sotlik, soetlik en salig verlief is.

Is dít wat Lucy in Hannes ontketen het?  Hierdie hartkloppings en bewerasie en magtelose beheptheid wat ek nog altyd as die jeug se voorreg (of vloek) beskou het?  Staan ek ook maar agter die deur terwyl ek hóm veroordeel?

Anthonie is ‘n treurende wewenaar en Vera toe nie die slang in die paradys nie.  Nee, sy is ‘n doodgewone vrou wat hom al lank liefhet en geduldig (of wanhopig) wag op die dag dat hy gaan opkyk en haar raaksien.  Die ysterhand waarmee sy sy kliënte regeer is eintlik die sagte hand waarmee sy haar liefde vir hom aanbied.

Snags slaap ek minder as ooit.  Ek stowe deur die eindelose nagte in hulpelose verlange na my man en nog hulpeloser begeerte na my sielkundige.

Van Hannes kom vir maande lank g’n taal of tyding nie.

Tot die dag dat Lucy op my drumpel staan.

Agterna moet ek vir myself ‘n sopie sjerrie skink uit die bietjie wat oor is van vergane winteraande voor die kaggel met my man.

My man wat sy hand gelig het teen sy houvrou.

Angstig probeer ek die beelde van Lucy se blitsbesoek herroep:  Die grimering net ‘n ietsie te swaar, die helder mond meteens banaal.  En haar hare moeg, soos haar oë.  En die toppie wat span oor die hoogswanger buik.

Sy dra die seun wat ek hom nie wou gee nie; drie dogters was vir my genoeg.

Sy’t hom gesê sy gaan die kind laat aanneem; hy’t beserk geraak en haar aangeval. En sy wat Lucy is, wil net aangaan met haar lewe.

Só eenvoudig is dit vir haar.  Maar ék weet my man moet na aan breekpunt wees.

Ek tel die maande op my vingers af:  die dag toe ek hom op my stoep gekry het, was dus die tyd toe aborsie nog ‘n opsie was.  Op ‘n manier moes hy haar daaruit gepraat gekry het.  Of die beslissing vertraag het tot dit te laat was.

Die armsalige meisiekind het nie rekening gehou met Hannes se dikwels onversetlike koppigheid nie.  As hy ‘n ding begin het, sien hy hom deur.

Ek ook.  Veral as dit my huwelik is wat ter sprake kom.

Anthonie reageer heftig en raai my vurig aan om my uit die hele ding te hou.  My verliefdheid verflou aanmerklik; hy het werklik nie ‘n idee van ware lojaliteit nie.

Te midde van ‘n klasprojek vol gom en gemors en gesellige chaos kom die oplossing op ‘n dag glashelder voor my staan.  Ek sak swakkies neer op die naaste bank  en snak melodramaties na ‘n glas water.  My twaalfjarige cool kids drom bekommerd om my; hulle is nie gewoond Mrs B gee haar oor aan floutes en bewerasies nie.

Maar toe Mrs B daar opstaan, toe’s sy op volle spoed; alles het meteens vir my in plek geval.

Anthonie vergas my op ‘n uiters onprofessionele woedeuitbarsting oor wat hy my “dwase onbesonnenheid” noem.  Toe ek die laaste keer in die klippiespaadjie tussen die laventelbosse afstap, is ek verlos van my verliefdheid.

Ek is egter ook verlos van ‘n hele boel ander narighede.  Selfbejammering, onnodige skuldgevoelens en ‘n fiksasie met lipstiffies, om maar net ‘n paar te noem.  En daarvoor sal ek Anthonie ewig dankbaar bly.

Ek skaf vir my ‘n prokureur aan.  Maar egskeiding is nie op my agenda nie. For better or for worse, het ek destyds  in ‘n roes van geluksaligheid beloof.  Vir bottter of vir wors, het ons mekaar in die goeie tye graag herinner.

Toe ek die dag voor Hannes en Lucy se deur staan, is ek nie meer die patetiese winkeldief wat dink die lewe skuld haar iets nie.  Ek weet waarheen ek op pad is.  En alleen gaan ek nie loop nie.

Ek neem vir Hannes sak en pak terug huis toe.

Ek glo soos my man, as ‘n mens ‘n ding begin, moet jy hom klaarmaak: Ons moet onmiddellik werk maak van die babakamer.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s