RSS

Kortverhaal: Op soek na goud

11 Mei

Op soek na goudOp soek na goud het in Huisgenoot van 27 Julie 2006 onder die naam Martjie Pieterse verskyn. OP daardie stadium het ek so woes kortverhale geskryf dat ‘n afwisseling in name nodig was. Agterna besef ek eers wat ‘n lekker tyd dit was. Alles was nog nuut en vars en elke storie wat aanvaar word, ‘n groot heerlikheid. Later het daar veel meer druk en verwagtinge bygekom. 

“OU SIEGIE, LAAT JOU TANTE Saar nou vir jou mooi vertel – jy het ‘n juweel deur jou vingers laat glip!  ‘n Juweel, seg ek jou, ‘n juwéél.”  Tant Saar se ogies trek eintlik so nou van erns, die swart hoedjie knik bevestigend op en af, op en af.

“Ek soek nie ‘n juweel nie, tante, ek soek suiwer goud,” kap ek speels terug  terwyl ek ongemerk my knellende boordjie probeer losser rem.

Pleks sy haar liewer bekommer dat sy heel moontlik die volgende een kan wees wat ons moet inspit; die ou bome in my uitgebreide familie val die laaste jare met eentonige reëlmaat.  Die groottantes en -ooms is nou almal in hul tagtigs en neëntigs; elke jaar of wat staan die familie saam om ‘n graf en kuier dan daarna ‘n hond uit ‘n bos.

Klokslag by so ‘n geleentheid hoor ek een van die ouer garde sug:  “Ja, so ‘n groot familie kom naderhand nog net by troues en begrafnisse almal bymekaar – en almal van hubare ouderdom is nou afgetrou.”  En dan met ‘n skud van die kop en meewarige kyke in my rigting:  “Almal afgetrou, behalwe onse Siegie.”

Die boordjie knel; ek het lyf aangesit van ek laas gepak en gedas vir oom Johannes se begrafnis aangetree het.  Maar daar’s nie ‘n greintjie vet aan my lyf nie; ek is nou nie jou deursnee bleek stadsjapie nie.  My togte die boendoes in is nie vir slapgat stoepsitters nie.  My onlangse trip teen Kilimandjaro se Machame-roete op – die moeilike een, nie die Coca Cola-roete wat omtrent so besig is soos die N1 in Paastyd nie – en laasjaar se agtdae-staptog deur die Naukluftberge in Namibië was geen uitsondering nie.  Ek sit nie my voet op gebaande toeristeweë nie; ek is onverpoos aan die soek na die hart van Afrika.

En ek loop hom op die mees onverwagse plekke raak.  Soms net vir ‘n oomblik, soms langer.

Maar net vir vandag wurg ek gewillig in my geduldige ou swart pakkie.  Dis my manier  van die oumense eer: om my hare en baard ‘n bietjie te laat tem en myself in my enigste pak te dwing en gaaf te wees met die familie.  Net vir ‘n dag, die dag van die begrafnis.

Die volgende dag vat ek weer my ou flenterbakkie en ry terug na my ag-tot-vyf werk, waarvan die enigste doel is om my van middele te voorsien om die volgende godverlate plek op my lysie te gaan opsoek.

Om my begin die mense traag wegdraai van die graf onder die lang sipresse; die laaste note van die plaaswerkers se sang het opgelos in die yl winterse sonlig.  Ek is lus vir ‘n bier; ek het nie nou die krag vir tee en koek en die familie se volgehoue goedbedoelde kritiek op my leefstyl en my voortgesette ongetroude status nie.

Want vandag sny die afskeid ná aan my lyf.  Dis my ouma Annie wat ons hier in die ou familiebegraafplaas langs oupa Siegfried kom weglê het.  Ouma wat na poeier en pepermente geruik het, wat my self my geliefde oliebolle leer bak het toe die ou bene nie meer die staan by die stoof kon vat nie; Ouma wie se sagte skoot en oneindige geduld ‘n vaste baken was in my omgesukkelde kindertyd.

Ouma wat die enigste een was om nie gedurig te kerm oor die onverantwoordelikheid van my ekskursies, of oor ek nie tot troue kan kom nie.  “A man must do what a man must do, my kind,” het sy graag gesê.

En ek moet swerf.  Ek kan nie anders nie.

Vir wat moet tant Saar nou oor Annagret kom sukkel op hierdie heilige dag van afskeid?

 

ANNAGRET – BEELDSKOON VAN AANSKYN EN edel van hart.  Maar ‘n ongeneeslike beheervraat.  Siegfried, jou baard en hare kort ‘n knip.  Siegfried, spandeer liewer jou geld op ‘n ordentlike ryding as op al hierdie togte na godverlate plekke.  En so aan en so voort.

Ek kon nie die woorde vind om te verduidelik dis juis waar ek vir God ontmoet nie – op daardie sogenaamde godverlate plekke.

Ek draai sommer om en klim met kerkpak en al die skurwe rantjie agter die begraafplaas ‘n entjie uit.  Ek gaan sit op ‘n klip en draai die naam om en om in my kop:  Annagret.

Met oom Samuel se bedrafnis ‘n stuk of drie jaar terug het die familie haar soos ‘n trofee vir my uitgestal.  Nie dat sy aandadig was aan die spulletjie nie; Annagret is nie ‘n meisie wat haar tot ‘n vertoonstuk sal laat verlaag nie.   Sy was die oom se fisioterapeut in die laaste maande toe die ou longe al harder protesteer het teen die platlêery.  Sy was opreg hartseer oor hom, en by die begrafnis oor sy daar wóú wees, nie om die familie se swartskaap te ontmoet nie.

Of so het ek gedink.  Later het ek agtergekom sy het wel deeglik van my geweet.  Dit het my nie gevlei nie – dit het my benoud gemaak.

In elk geval, ek was oombliklik verlore.  Sy is pragtig, sy is pret, sy’t ‘n sin vir humor, sy hou van kamp en die buitelewe.  Sy sou my dus my ekskursies die wildernis in kon vergewe.  Of selfs saamgaan.

Om ‘n lang storie kort te maak:  sy kon nie, en sy het nie.  In teorie, ja, maar nie in die praktyk nie.  Vir haar is kamp ‘n luukse karavaan op ‘n afgebakende staanplek met elektrisiteit en TV en ‘n  blinkskoon ablusieblok met warm water de lot.  Vir my is kamp ‘n verweerde tentjie tussen niks en nêrens met g’n mens in sig nie, behalwe miskien plaaslike mense wat soms nog nooit eens ‘n wit man in lewende lywe aanskou het nie.

Na ‘n paar  rampspoedige pogings om die ding saam te doen, het ons besluit ek moet maar my gang gaan, daar’s nie salf aan my te smeer nie.  Maar dit het, helaas, ook nie gewerk nie.  Sy het uitgesluit gevoel; sy kon my nie sonder verwyt laat gaan nie.

En sy kon nie ophou om my lewe te reël nie.  Siegfried dit, Siegfried dat.  Siegie sus, Siegie so.  Nimmereindigend.

Ek laat my van g’n vroumens ‘n halsbandjie omsit nie, al is sy ook die edelste onder die edelstene.  Dan maar liewer die pad alleen loop.

Dus was dit tot siens, Annagret.  Tot argwaan van die ganske familie.

Sy’t haar bande met die familie behou; genadiglik het ek haar nog nie vandag onder die begrafnisgangers gewaar nie.

 

EK LIG MY BAS TEENSINNIG van die klip en gaan durf die teedrinkende menigte in die ou plaashuis aan.

By die teekan kry tant Saar my weer beet:  “Siegie, Annagret treur nog oor jou.  Gaan maak reg, Boetie, gaan maak reg!”

By die melktert sluip tant Berta op my af:  “Siegie, jy sal moet opskud, jy raak lank in die tand.  Dis nie goed vir kleintjies om ‘n stokou pa te hê nie.”

In die rokerskring op die stoep slaan die ooms my op die rug:  “Darem een nefie wat nog nie die strop om sy nek laat sit het nie!”  Maar vanaand kruip hul knussies agter Mammie se rug in, terwyl ek alleen terugry stad toe.

Soos altyd word dit ‘n genoeglike familiekuier.  Hulle maak my mal met hul goedbedoelde kritiek, maar hulle is onlosmaaklik deel van my.

En sy was toe al die tyd daar; meteens staan sy voor my:  die juweel haarselwers. Annagret.  Klein en blond en pragtig soos altyd.  Ons het mekaar ses maande laas gesien – ‘n pynlike, finale sien ná sy my die Kilimandjaro-tog probeer verbied het, en ek natuurlik gegaan het.  Met die gevaarlikste roete.

Ons het nie veel vir mekaar te sê nie; die betowering het lankal verslaan in die aangesig van die daaglikse werklikheid.  Die daaglikse werklikheid synde natuurlik ek wat nie wil grootword en settle nie.

Na ‘n futiele tien minute se koeitjies en kalfies draai ons finaal van mekaar weg.  Ek weet ek is ‘n buffel, maar ek kan dit nie help nie:  my oorheersende gewaarwording is nog steeds dié van verligting.

 

ONVERMYDELIK BELAND EK TEEN LAATMIDDAG maar weer in die situasie wat ek haat én geniet:  aan die vertel van my omswerwinge in Afrika.  Terwyl ek teen wil en dank meegevoer word en die woorde uit my mond rol, wonder ek oor die emosies op die ou en jong gesigte om my.  En ek weet weer eens:  hulle beny my eintlik.  Hulle probeer dit net besweer deur hulle bemoeisiekheid.

As hulle maar kon weet hoe ék húlle soms beny!

My ma kom haal my daar uit:  “Sieg, Ouma se prokureur wil jou spreek, iets met die testament te doen.”

“O,” sê ek, “waar’s die ander?”

“Die ander wat?” vra die lang, dun, baie wit meisiekind met die sedige donker rokkie, bolla en bril kompleet.

“Die ander mense wat moet by wees vir die lees van die testament,” verduidelik ek geduldig.  Sy lyk na ‘n regte bloukous.  Maar sy’t swart kouse aan, en die bene is nie te onaardig nie.

Preutse mondjie, lang dun vingers op die donker materiaal van my ou pak.  “Dis net u wat betrokke is, meneer Volschenk,” en sy stuur my so ewe aan die elmboog na die klein sitkamertjie toe.

Daar maak sy my sit en trek los en lees hierdie hoogdrawende geskrif deurspek met onverstaanbare regsterme aan my voor:  “Hiermee die laaste wens en testament van die ondergetekende Anna Elizabeth Volschenk, gebore Pieterse …”

Die aanvangsreël is dan ook die laaste wat ek kan sê ek heeltemal verstaan.  Ek kan die vroumens net oopbek aanstaar.

“Hier,” gee sy die dokument vir my aan toe sy klaar is en ek g’n sprak kan sprook nie, “Lees gerus self.  Ongewoon, moet ek toegee, maar heeltemal geldig en bindend.”

Ek lees, en ek lees weer.  Ek weet nie of ek moet lag of huil nie.  My dierbare ouma Annie, die rebel van die familie – lank voor dit mode was om rebels te wees – het al haar aardse goed vir my agtergelaat.  En die’s toe heelwat meer as wat ek gedink het.

Maar daar’s ‘n vangplek.  Nee, meer as een.  ‘n Kleintjie, wat my keel van vreugde laat toetrek:  Die erfporsie is vir die uitsluitlike doel om my in staat te stel om betroubare voertuie aan te koop en my droom van ‘n klein safari-besigheid te bewaarheid.

Dankie, ouma Annie, dankie, dankie!

Die groot vangplek, die moerse vangplek, slaat my vir ‘n ses:  Die erfporsie is op dag en datum ‘n jaar na haar dood beskikbaar.  Geen probleem, behalwe vir die stertjie:  Dat ek dan wettig in die eg verbind moet wees met ‘n voorbeeldige, karaktervaste lid van die teenoorgestelde geslag.

Ek kyk op:  “Juffrou … e … sal jy met my trou?”  Laat dit nie van my gesê word dat ek nie ‘n humorsin het nie.

Sy waardeer nie my grappie nie.  Vroom steek sy die lang wit hand na my uit:  “Du Preez.  Melanie du Preez, en nee dankie, ek wil nie met jou trou nie.”  Klavierhande, dis wat hulle is.

Die snaaks is gou verby; my kop sak in my hande:  “Wat gaan ek máák?”

Melanie du Preez stoot haar bril reg op haar neus, maak haar papiere bymekaar en staan op:  “Dis maklik, kry ‘n vrou en vat haar preekstoel toe.”  En weg is sy.

 

DIE OOMBLIK TOE EK WEER my voet in die geselskap sit, toe weet ek:  Hierdie was ‘n ope geheim.  My liewe ouma Annie het die familie vooraf deeglik ingelig.  Dit strook met haar geaardheid; sy was nie een wat ‘n bom sou wou los en die familie in onenigheid dompel oor geld nie.

Wat my laat klein voel in my paar nommer twaalfs, is die besef dat hulle my die erfporsie gun.  Nie dat my ma of een van haar susters enigsins behoeftig is nie.  Inteendeel.  Maar hare het al gewaai oor veel minder pitte as wat hier ter sprake is.

“En wat sê jy nou, ou Siegie?”  Dis tannie Saar, die ou oë blink van opwinding.

“Nee, tante, ek sê maar liewer niks, net dankie.”  Ek was nog nie baie in my lewe so tjoepstil geslaan nie.

“Jy sal jou riete moet roer, Boetie!”   Tant Berta se wangetjies is eintlik pienk van plesier.

Die  ooms slaan my weer eens mildelik op die skouer:  “Boetman, jou ouma het jou darem lekker gevang!”

My ma het haar ek-weet-ek-moenie-preek-nie-maar-ek-kan-myself-nie-keer-nie gesig op:  “Boetie, moet tog net nie vir die geld alleen trou nie; die huwelik is heilig, selfs in hierdie tye nog!”

“Nee, Ma.”  Soos in die dae toe sy en ouma Annie die septer in my lewe geswaai het.  Vol opstand, maar eintlik rustig in die wete dat hulle reg is, soos gewoonlik.

“Baie geluk met jou erfporsie.”  Annagret soen my sedig op die wang.  Haar parfuum bly hang in die lug soos die ooms se veelbetekenende gelag.  My lyf reik uit na haar, maar my vrye gees bewe van benoudheid.

 

TEEN LATENSTYD BEVIND EK MY weer by die vars graf.  Maar my ouma is nie meer daar nie, net ‘n hopie grond, en massas blomme wat al klaar verlep en verlore daar uitsien.

Verlep en verlore, soos Ouma se prokureurtjie wat teen oupa Siegfried se grafsteen geleun staan.  Sy’t nou jeans en tekkies aan, en ‘n dik kabeltrui.  Die hare is los en die brilglase toegewasem van die huil.

Ek is onmiddellik verleë, wil sommer omdraai:  “Ekskuus, ek wou nie steur nie.”

Sy wuif met die hand:  “Nee bly, ek het net gou kom groet.”

Ek dag die mense van die wet is altyd koel en feitelik.  “Glo jy sy kan jou hoor?”

“Nee, nie regtig nie, maar hoe sal ons ooit weet?”

“Ek het ook maar kom dankie sê, net vir ingeval sy hoor.”

Ons leun rustig weerskante van oupa se sierlike grafsteen.  Die dag kom stil tot rus rondom ons.

“Wat gaan jy doen?”

“Jy’t my mos gesê wat ek moet doen.  Kry ‘n vrou en vat haar preekstoel toe.”

“Daar’s niks in die testament wat jou verhinder om te trou en weer te skei na jy die geld ontvang het nie.”

“Ek sien nie kans daarvoor nie. Dis nie wat Ouma in gedagte gehad het nie.”

Sy knik plegtig: “Nee, ek dink ook nie so nie.”

“Waar het jy en my ouma aan mekaar gekom?”

“Ons senior vennoot is ‘n jaar of wat gelede skielik oorlede.”  Ek herinner my nou vaagweg so-iets.  “Ek het toe jou ouma geërf.  Tot my vreugde.  Ek het nooit ‘n moederfiguur in my lewe gehad nie; sy’t my ‘n leeftyd se liefde gegee in dié kort tydjie.”  Die meisiekind huil so verdrietig dat ek haar móét vashou; sy’s onverwags sag en sy ruik flippen lekker.

Ek los haar verleë.  Netnou dink sy ek het haar in gedagte vir die trouery.

 

EK KON HAAR TOE NIE vir lank gelos kry nie.  Ek het aanhou en aanhou teruggaan met die flouste van flou verskonings.  En my eie hart nie geken nie.

Intussen het ek en Annagret weer probeer.  En weer gefaal.  Selfde ou storie van kontrole en opstand en uitbreek.  Met Annagret – juweel wat sy is – kon ek nie trou nie, nie sonder om my siel te verloor nie.

Dis toe ek van die moordende tog in die Sahara terugkeer, dat dit my tussen die oë getref het.  Ek het eerste vir Melanie gaan groet.  Sy’t gehuil toe sy my sien.  Maar nie ‘n woord van verwyt nie.   Dit was so goed; ek is laataand eers daar weg na Annagret toe.

Dié was gatvol vir my en my dinge.  Die ring summier neergesmyt en my meegedeel ek moet maar vir Melanie kansel toe sleep, dis tog wat Ouma eintlik in gedagte gehad het.

Sowat van onnoselheid!  En ek het nogal destyds my graad gecum.

Die stukkie goud was toe al die tyd reg onder my neus.

Melanie het nie hard to get gespeel nie.  Sy’t net een voorwaarde gehad:  Ons trou die dag ná die eerste herdenking van Ouma se afsterwe.

Ek was verslae.  My drome, my drome!

Sy was onversetlik.  Daar’s ander maniere om geld in die hande te kry.  Ja, soos om ‘n bank te beroof, het ek myself jammer gekry.  Nee, soos lenings en harde werk en borgskappe, het sy my getroef.

Ek het hardegat getrek en Midde-Afrika se oorlogdeurdrenkte bosse ingevaar, en stert tussen die bene teruggekom.

Ek kon nie sonder haar nie.

Troudatum dus vasgestel.  Die dag ná Ouma se sterfdatum.  Volgende Saterdag.

My laaste Saterdagaand as ‘n vry man lê voor my.  Ek gaan my gewilliglik die strop om die nek laat bind.  Sonder my erfporsie.

Ek sit my bier neer en haal my voete traag van die balkonmuurtjie af toe die telefoon binne begin lui.  Dalk tog Melanie wat besluit het sy’s nie meer lus vir haar henne-aand nie.

Ek kan nie ‘n enkele aand sonder die meisiekind nie.  My lus vir trips die boendoes in het (vir die oomblik) skoon verdamp.  En as die gees weer oor my vaardig word, sal sy my laat gaan, soos sy my Sahara toe laat gaan het, en Midde-Afrika toe.  Sy sal huil as ek weggaan en huil as ek terugkom, maar sy sal my laat gaan.  Sonder verwyt.

Melanie verstaan dat ‘n mens soms moet wegraak.  Soos sy wegraak in haar musiek en die wondermooie komposisies wat sy skep, so moet ek wegraak in Afrika.  En so kan ons altyd weer onsself en mekaar vind.

Dis my ma:  “Siegie, opskud!  Die bruid wag!”

Dit word lam in my, stil om my.  “Mááá!?” kwaak ek.

“Jou troue, Boetie, jou troue begin oor ‘n halfuur.”  Ma se lag en huil het nog altyd naby mekaar gelê.

Ek probeer tevergeefs die kloutjie by die oortjie bring:  “Ma, ek trou volgende Saterdag.”

Ma lag en huil nou beurtelings.  Of tegelyk, ek weet nie:  “Siegie, ons wou net seker maak jy wil régtig met haar trou.”

Hulle het wragtig dubbele reëlings getref, net om my te toets.

“Ons?  Wie de hel is Ma se ons?”  Ek bewe van woede.  Manipuleerders, die hele lot van hulle.

“Almal wat jou liefhet, Boetie.”  Nou loop die trane vryelik.

My oë voel self meteens ‘n ietwat waterig.

Die woede verlaat my so vinnig soos dit my oorweldig het:  “Ek kom, Ma.”

Suiwer goud laat ‘n mens nie deur jou vingers glip nie.

 

Sleutelwoorde: , , , ,

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: