Proestukkie 2: Vir altyd lente

“Jennie! Vriendin, waar kom jy vandaan?” Roelien pluk haar voordeur wyd oop, staan op haar tone en val Jennie met haar gewone spontaniteit om die hals. Terselfdertyd roep sy oor haar skouer: “Wynand, kom kyk wie’s hier! Bring sommer vir Max ook.”

“Hallo, Roelie.” Jennie adem haar vriendin se bekende geur in, besef dan hulle is nie net twee in die omhelsing nie. “Roelien, jy’s swanger!” Onmiddellik verdring ‘n hele boel teenstrydige emosies mekaar in haar binneste.

“Jip.” Roelien lig haar los trui summier op om die klein bababoep ten toon te stel, laat val dit weer terug voor Jennie iets kan sê of doen. “Maar kom in, vriendin, en vertel. Wat gaan aan? Vir hoe lank is jy terug? Waar is die heer Wiktor? Hoekom is jy nog maerder as wat jy altyd was? Hoekom is jou oë hartseer?” En in dieselfde asem na agter: “Wynand! Waar is jy?”

“Hier is ek, Roelie.” Wynand verskyn in die middeldeur, lank en donker en bedaard, die perfekte teenpool vir Roelien se blonde baldadigheid. “Jennie.” Sy omhelsing is warm en opreg, sy oë kalm, maar met dieselfde vrae as Roelien s’n.

Jennie maak haar oë vir ’n oomblik toe, leun net teen sy bors. Dis so lekker om weer ’n slag teen ’n lang man te kan leun. Wiktor is bonkig, net-net so lank soos sy en fyngevoelig daaroor. Hoë skoene het sy lankal afgesweer. Onder andere. “Wynand.”

Sy word hard aarde toe gebring deur die honde wat in ’n bondel energie die gang af kom, oor die plankvloer skaats en amper haar voete onder haar uit loop. Wynand se yslike Raka, wat hom en Roelien destyds by mekaar uitgebring het, en Rollie, die bont affêretjie wat Roelien aangeneem het toe sy en Wynand besluit het om hulle lot saam te gooi. Heel agter, versigtig, huiwer Max, haar geliefde border-collie, senuweeagtig en onseker, soos altyd, maar met sy bruin oë vasgenael op haar. Sy vergeet van alles, onthou net die verlange na die warm lyf deur die lang Poolse winter, die smagting na ’n stapmaat toe die somer eindelik oor Warskau aanbreek. “Max! Kom, kom na my toe.” Sy hou haar stem sag om hom gerus te stel, maar in haar weergalm die vreugde. Toe sy haar kom kry, sit sy plat op die plankvloer en hou haar arms vir hom oop. Rondom hulle het dit stil geword, selfs Raka en Rollie het hulle opgewonde geblaf gestaak. “Kom, my honne, kom,” fluister sy. Hy kom versigtig nader, ruik-ruik tentatief aan haar uitgestrekte hande en verander dan in een groot bondel vreugde wat haar plat teen die planke laat beland, sy gretige tong oral oor haar gesig, sy warm lyf soos balsem oor haar. Sy is nie seker of haar gesig van trane of van hondesoene nat is nie.

Toe sy eindelik opkyk, staan Wynand en Roelien haar stil en aankyk. “Jennie, wat gaan aan?” begin Roelien, maar Wynand val haar in die rede.

“Kom sommer kombuis toe, Jen. Jy eet natuurlik vanaand hier. Kom, ek haal vir ons ’n rooietjie uit.” Sy donker oë sein vir haar: Wees rustig, daar is later tyd vir vrae, raak net eers tuis.

“Nie wyn vir my nie, dankie,” kry sy uit terwyl sy haar trane ongemerk probeer wegvee. Natuurlik heeltemal te laat. Niks ontsnap in elk geval Roelien se blou kykers nie. As dit nie vir Wynand se kalmte was nie, moes sy nou alreeds al die vrae beantwoord wat sy in haar vriendin se gemoed sien woed.

“Agge nee, het jy nou in Pole ’n geheelonthouer geword? Jy moenie sleg voel om saam met Wynand iets te drink nie. Ek is heeltemal gelukkig met my beker rooibostee.” Roelien se hand rus beskermend op haar magie.

Jennie sak op haar gewone plek langs die kombuistafel neer, Max se kop teen haar bobeen, sy oë aanbiddend op haar gerig. Hoeveel aande het hulle nie hier omgekuier nie – sy en Roelien en Lisa; Wynand, Michael en Herman; Vrydagaande ná Roelien se hondeklas, wat gou-gou bloot ’n verskoning vir ’n kuier was. “Nee, ek het nie ’n geheelonthouer geword nie, Roelie.”

Roelien se lepel bly doodstil bo die soppot op die stoof hang, Wynand bly gebukkend by die wynkas staan, kyk vraend om na haar. Dan kletter die lepel op die stoof neer en Roelien kom soos ’n warrelwind op haar af. “Jennie, jy verwag ook! Ag, hoe fantasties! Ek is so bly. Nou gaan ons weer meer gemeen hê, dalk is jou e-posse dan nie meer so skaars nie.”

Jennie streel en streel oor Max se gladde kop, die stilte word swaarder en swaarder. Toe sy eindelik opkyk, kom haar woorde moeilik, maar dis ook ’n geweldige bevryding om dit eindelik te kan sê: “Dis nie eintlik sulke goeie nuus nie, Roelie.”

“Wát? Maar hoe? Wat sê Wiktor? Moenie vir my sê hy …”

“Stadig, Roelie.” Wynand sit sy hand op sy vrou se skouer. “Dink jy ons drink eers tee of sal ons sommer dadelik eet? Ek is seker Jen sal vertel wanneer sy reg is om te vertel.”

Roelien sak asof oorwonne oorkant Jennie neer, kyk met betraande blou oë na Wynand op. “Eers tee, asseblief. Ek kan nie nou eet nie, my maagsenuwees is op ’n knop getrek.”

“Dis nie ’n beplande baba nie.” Stadig word dit warmer in Jennie. Sy is tussen vriende, hier hoef sy nie verder voor te gee nie. Hier gaan nie veroordeling wees nie.

“Ek is so jammer.” Roelien en haar veel jonger boetie Bertie het albei opgegroei met die wete dat hulle nie besonder welkom in die glanslewe van hulle ouers was nie. Dirk en Dora het wel hulle bes gedoen, maar Jennie is bewus van die las wat Roelien en Bertie altyd sal dra, die wete dat hulle nooit eerste op hulle beroemde – en soms berugte – ouers se prioriteitslysie was nie. Vir Dirkendora, soos hulle in die volksmond bekend is, sal hulle sangloopbaan en hulle openbare beeld as die ewige rebelle altyd eerste kom.

In Jennie roer ’n nuwe wete, die besef dat dit vir haar kind nie so gaan wees nie. Hierdie kind gaan onvoorwaardelik liefgehê word, al is die omstandighede nie ideaal nie. “Nee, nie beplan nie. Maar hy of sy sal dit nooit hoor soos jy en Bertie dit moes hoor nie. Dit belowe ek jou.”

“Ek is so bly. Maar wat sê Wiktor?”

Jennie vou haar hande dankbaar om die beker stomende rooibostee wat Wynand voor haar neersit. “Wiktor weet nie en hy gaan ook nooit weet nie.” Met elke woord wat sy sê, word dit vir haar duideliker hoe sy haar pad moet loop.

“Jy’s vir altyd terug, Jennie? Jy het nie net kom kuier nie?” Roelien is nou in trane, gryp sommer na die vadoek wat skuins agter haar voor die stoof hang. Wynand maak haar vingers saggies los om die lap, gee liewer ’n stuk papierhanddoek aan.

“Ek is terug. As julle my wil hê.”

Roelien plak die papier hard op die tafel neer, kom halforent in haar stoel. “Jy vra nog? Jy dink ons wil nie meer jou pelle wees nie?”

“Ek het julle maande laas gesien, Roelie. Toe ek destyds hier weg is, het ons almal gedink dis net vir ’n toer in Europa. En toe doen besadigde Jennie die enigste mal ding in haar lewe – ontmoet die sjarmante Pool en bly summier net daar by hom. Julle het destyds gedink ek is heeltemal gek en julle het rede gehad om so te dink.”

“Ek wil nou nie verwyt nie, maar jy het ook nie juis moeite gedoen om die kommunikasie tussen ons aan die gang te hou nie.” Roelien sluk haar tee leeg, staan op en kry sopborde uit die kas agter haar. “Aan die begin het ons baie van jou gehoor, maar mettertyd het jy al hoe minder op ons almal se e-posse gereageer.”

Wynand haal stil-stil ’n vars tuisnywerheidbrood uit ’n bruin kardoes, bring plaasbotter en korrelkonfyt te voorskyn. Hy sê niks, maar Jennie voel sy empatie aan. As daar nou een man is wat weet van swaarkry, is dit Wynand. Hoe stukkend was hy nie destyds toe hy hier aangekom het ná hy sy ouers so tragies verloor het nie. As hy kon opstaan, kan sy ook. In haar geval is niemand immers dood nie. “Ek is so jammer, vriendin. Dis nie dat ek julle vergeet het nie. Inteendeel, ek het my morsdood verlang. Daai winter was iets vreesliks, hoor. Ek dink nie ek gaan ooit weer genoeg van die son kry nie.”

“Wel, dan is jy op die regte plek, Jen,” glimlag Wynand toe hy die pot sop tafel toe bring. “Weet die ander al jy’s hier?”

“Ek gaan jou nie vergewe as ek heel laaste was om agter te kom jy’s terug nie,” dreig Roelien, maar daar is nie ’n angel in haar woorde nie.

“Ek het nog net vir Herman gesien. Ek was vanoggend by die salon. Ek wou my hare kort laat knip.” Sy moet glimlag by die herinnering. “Hy het summier geweier, gesê hy sal sorg dat geen haarkapper in hierdie dorp dit waag om my hare af te sny nie.”

Roelien lag nie so lekker soos Jennie verwag het nie. Sy sit en kyk haar nadenkend aan, registreer skaars toe Wynand vir haar van die geurige groentesop inskep. “Herman het jou weggaan destyds baie gevoel, Jen.”

“O?” Dit is nuus vir haar. Met Herman en al sy gelag en gejil weet mens nie altyd wat in sy kop aangaan nie.

“Hy het nog altyd ’n sagte plekkie vir jou gehad.”

Sy asem die geur van die sop behaaglik in. “Nee wat, Herman se dogter maak al sy sagte plekkies vol.”

“Hy het ná jy weg is vir ’n tyd vreeslik onder die dorp se vrouens gebaljaar. ’n Paar harte gebreek en toe summier weer heeltemal opgehou om uit te gaan, net saam met ons gekuier soos toe jy hier was. Maar dit was of hy stiller en ernstiger was. Ons sal mooi kyk of hy sy gewone woema terugkry noudat jy weer hier aangekom het.”

Die heerlike sop verwarm haar hele binneste. “Wel, vanoggend was hy definitief nie stil óf ernstig nie.”

Wynand lig sy glas rooiwyn met ’n skelm glimlaggie. “Dan lyk dit of ons nie net vir jou nie, maar ook vir Herman teruggekry het. Kom ons drink daarop.”

Roelien lig haar leë teebeker met ’n breë glimlag en klink dit teen Wynand se glas. Jennie konsentreer maar liewer op haar sop, probeer om nie Herman se oë in die spieël te onthou nie, ook nie sy hande wat om haar skouerknoppe vou nie. Sy is tuis tussen vriende en dis al wat nou saak maak.

2 gedagtes oor “Proestukkie 2: Vir altyd lente

  1. fantasies…die dele met die hond….diere is baie beter as mense soms….my twee honed kinders s alles…mis vreeslik n kat…maar die loop te veel rond…ons kat het n lorrie voor die winkel dood gery…ek het my dood gehuil oor hom…baie dankie vir die stories….dit maak my dag

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s