Proestukkie 1: Vir altyd lente

Vir altyd Lente_LOWRESMy romanses het nog altyd te veel na die ernstige kant geneig. Dit is dus ‘n groot verligting dat ons deesdae meer vryheid het om ernstige kwessies in ons stories aan te raak. Maar moenie bekommerd wees nie – die liefde kom in ‘n romanse altyd heel eerste.
Vir altyd lente is besonder toepaslik in die tyd van inperking waar mens van alle kante hoor hoe gesinsgeweld toegeneem het. En ja, mans is soms aan die ontvangkant daarvan. 

“Jennifer Mouton, waar val jy uit? Ek kan nie glo wat ek sien nie!” Herman se oë is nog presies so blou soos altyd, sy glimlag skitterend genoeg om mens te verblind.

Jennie moet konsentreer om nie op die drumpel van Herman se Hare om te draai en te vlug nie. Wat het haar besiel om terug te kom Klein-Karoo toe? Sy kon doodstil in Europa gebly het; sy kon die reeds gebrekkige kontak met haar vriende in Suid-Afrika gaandeweg laat doodloop het en self haar probleme baasgeraak het. Maar nee, sy vlug stert tussen die bene terug huis toe – net om te ontdek by haar ouerhuis is daar nie vir haar veel genade nie. Hopelik verstaan haar vriende beter, of kan hulle bloot gemakliker haar foute aanvaar. “Hallo, Herman. Ja, dis regtig ek.” Sy draai haar wang vir sy soen, hou haar lyf stram in sy omhelsing.

Hy los haar vinnig, kyk met ’n frons na haar. “Hoe lyk dit dan vir my jy het loop staan en opstêrs raak in Europa? ’n Goeie agtien maande weg en ’n ou vriend mag jou nie eens behoorlik groet nie?”

Hy het nie ’n idee hoe seer sy woorde maak nie. “Jou verbeelding hardloop met jou weg, Herman,” skerm sy. “In elk geval, het jy plek vir my?”

Vrypostig soos hy nog altyd was, steek hy sy hand uit en lig haar lustelose hare van haar skouers af. “Vir jou máák ek plek. En regtig, ons sal iets moet doen. Is daar nie haarkappers in Pole nie?”

Sy staan vererg ‘n treetjie terug, sodat sy hand terugval langs sy sy. Maar nie voor hy vir ’n oomblik veerlig aan haar wang geraak het nie. Of dalk was dit bloot haar verbeelding. “Daar is lieflike haarkappers in Pole, professionele mense wat nie hulle kliënte met die intrapslag beledig nie.”

“Wel, op die oomblik lyk dit of jy met hare en al deur die meule is.” Soos sy hom ken, steur hy hom nie aan haar ergernis nie. In Herman se Hare is Herman die baas en kan hy sê net wat hy wil; so was dit altyd en so is dit blykbaar nog steeds. Omdat hy Herman is, word alles hom vergewe. “Sit gou ’n rukkie, ek fix net vir tannie Babs op.” En weg is hy, die salon in.

“Werk Sunet weer die vakansie hier?” roep sy agter hom aan. “Sy kan my sommer help. Jy’s besig, ek wil nie jou tyd in beslag neem nie.” Eintlik sien sy nie kans vir hom nie. Dis te naby, te intiem. Hy kyk te skerp. Sy kan sweer hy het alreeds gesien alles is nie pluis nie.

“O nee, so maklik gaan jy nie loskom nie.” Hy kyk laggend oor sy skouer terug. “Ek gaan jou self onder hande neem.”

Sy het geen keuse as om maar op een van die pienk stoele neer te sak en ‘n tydskrif op te tel nie. Pleks sy na ‘n ander salon gegaan het. Maar Herman se Hare was vir te lank die plek waarheen sy haar outomaties gewend het as haar hare sorg nodig het – en ook soms as sy bloot ‘n hupstootjie vir die ego nodig gehad het. Sy blaai lusteloos deur Die kuiergas terwyl sy onder haar wimpers deur na die bedrywigheid in die salon loer. Alles lyk nog min of meer soos toe sy destyds hier weg is met die gedagte om ‘n paar maande in Europa deur te bring. Sagte pienk en groen, baie plante, baie spieëls, vrolike musiek, ‘n gesels en gelag soos by ‘n kerkbasaar, met Herman steeds die middelpunt van al die plesierigheid. Baie min dinge het in die dorp verander, maar in haar het heelwat verander.       

Sy is dankbaar toe hy skaars tien minute later vir haar wink. Stilsit en dink is op die oomblik dodelik vir haar. Gedwee laat sy haar na ’n wasbak lei, verdra maar die groetery en uitvraery toe sy dogter Sunet op haar afstorm. Ja, sy is permanent terug uit Pole. Nee, sy het nog nie weer ’n pos nie. Ja, sy sal bitter graag na haar ou skool wil terugkeer. Nee, sy het nog nie by die Chief gaan hoor of daar ’n kans vir ’n pos is nie. Op haar beurt is Herman se mooie meisiekind nie suinig met inligting nie. Ja, sy is nou tweede jaar op Stellenbosch. Ja, sy en Bertie, Roelien se boetie, gaan nog uit. En het Jennie al die ander gaan groet – vir Wynand en Roelien wat intussen getroud is, en Michael en Lisa wat waarskynlik binnekort afhaak? En almal se honde? Het sy al haar eie Max by Roelien-hulle gaan afhaal? Dink sy hy sal haar onthou?

“Sunie, hou nou eers op babbel en kom was vir Jen lekker.” Herman trek sy vingers deur haar hare, kyk in die spieël stip in haar oë. “Conditioner en ’n lekker massering en dan sal ek kom kyk wat daar te redde is.”

“Oukei, Papsie.” Dis duidelik dat Sunet brand om nog uit te vra, maar sy bly gehoorsaam stil en konsentreer om dit ’n behoorlike kopmassering te maak.

Toe Herman weer agter Jennie staan, is sy so ontspanne dat sy moet soek na die energie om te sê wat sy gekom het om te sê. “Ek wil hê jy moet die hele spulletjie afsny, Herman.”

“Wát?” Sy uitroep is so hard dat almal na hulle kyk. Hy laat hom natuurlik glad nie afsit nie, lig haar nat hare met albei hare op, spreek sy gehoor met oortuiging toe: “Mense, hoor wat sê hierdie vrou – ek moet hierdie ongelooflike bos hare afknip. Dis die belaglikste ding wat ek in ’n lang tyd gehoor het. Jen, jy het die lieflikste hare. Hulle het net ’n goeie dosis tender loving care nodig. Ek gaan hulle verdomp nie afknip nie.”

Dis nie net haar hare wat tender loving care nodig het nie. Terwyl sy veg teen die trane wat agter haar ooglede opstoot, probeer sy haar man staan: “Blaas dit dan net effens droog, dan gaan ek na iemand anders toe. Hier is sekerlik nog ‘n haarkapper op die dorp wat na sy of haar kliënte se versoeke luister.”

“Ja, hier’s ’n hele paar wat jou kop geel of groen ook sal maak, net vir die geld. Ou Daantjie wat destyds vir Lisa so gestalk het is een van hulle. Maar voor jy by een van hulle kan uitkom, het ek die hele lot klaar gebel en mooi vertel wat hulle alles sal oorkom as hulle hierdie bos hare van jou afsny net oor jy die gier gekry het.”

Sy kan nie help om te glimlag nie. “Is Daantjie darem al rustiger, nou dat Lisa en Michael op trou staan? En het hy nog die papegaai?” O, hoe heerlik is dit om weer hier in die Klein-Karoo te wees, waar die lug altyd blou is en baie dorpenaars mekaar nog ken en die volstruise snags brom en die son in die middel van die winter steeds verblindend skyn.

“Jip, die ou is nog hier, papegaai en al. Maar hy het genadiglik ’n liefde op die lyf geloop, Lisa is nie meer in sy visier nie. Ek dink Michael het hom ook ’n dingetjie of twee vertel. Dié is maar so stil en stemmig, hy kan sy woord goed doen as dit moet. Veral natuurlik waar dit sy Lisa aangaan.”

“Is hulle gelukkig, Herman?” Sy het die kommunikasie met die vriendegroep met opset agteruit laat gaan, sy is nie op hoogte van almal se doen en late nie.

Herman kyk haar hande op die heupe aan. “Wil jy vir my sê jy het nog nie gaan groet nie?”

“Ek het gisteraand eers hier aangekom, daar was nog nie kans vir gaan hallo sê nie.” Die waarheid is dat sy moed nodig het om almal weer in die gesig te kyk. Aan die rampspoedige paar dae by haar ouers wil sy nie eens dink nie.

“En toe kom jy heel eerste vir jou hare? Ek het nog altyd geweet jy’s ‘n meisiekind wat haar prioriteite reg het.”

Sy wou ’n stelling maak deur die spulletjie te laat afsny, maar nou wil die ellendeling haar nie help nie. Dink nog steeds hy het ’n vry sê oor almal. “Wat gaan jy nogal aan Daantjie of enigiemand anders doen as hy my hare afknip?”

Herman lag, fleks sy spiere oordadig. “Ek sal hom foeter, natuurlik.”

Hy is natuurlik heeltemal in staat daartoe om iemand anders te foeter, as hy so ‘n bevlieging sou kry. Spiere is daar genoeg onder die spierwit T-hemp. Testosteroon is daar sekerlik ook genoeg in die fikse lyf. “Jy’t sweerlik nog nooit iemand in jou lewe geslaan nie, Herman,” proes sy.

Oor haar kop hou die blou oë hare vas in die spieël. “Ek het! In graad tien toe ek in beroepsvoorligting gesê het ek gaan ’n haarkapper word en die hele spulletjie soos hiënas aan die lag geraak het.”

“En toe? Toe vat jy die hele klas aan?”

“Nope, net die grootste boelie. Toe’s die res van hulle tjoepstil.” Terwyl hy praat, het hy ongemerk haar nat hare begin deurkam, sy bewegings ritmies, strelend. “Jennie, laat ek vandag net die punte vir jou knip en die spulletjie lekker uitdun, toe? As jy oor ’n week nog steeds wil laat sny, doen ek dit vir jou verniet. Dink net eers daaroor. Oukei?”

Haar fut is uit. “Oukei. As dit jou dan nou soveel plesier sal gee.”

“So moet ’n bek mos praat. Sunet, bring vir Jennie ’n lekker beker rooibos, ’seblief. Jen, maak nou toe jou oë en ontspan.”

“Moet ek my tee ook met toe oë drink?” kan sy nie help om te terg nie.

Hy skater sodat al die koppe weer na hulle toe draai. “Daar’s hy – sy het nog nie al haar woema verloor nie. Welkom tuis, Jennifer.” Net daar voor almal druk hy ’n vinnige soen op haar nat hare terwyl sy hande vlugtig om haar skouerknoppe vou.

Sy maak haar oë toe, laat haar lyf doelbewus ontspan. Vir ’n rukkie gaan sy glo alles is nog presies soos dit was toe sy hier weg is vir ’n uitgebreide toer in Europa. Net vir hierdie rukkie met die gerusstellende geluide van die salon rondom haar en Herman se bekwame hande in haar hare.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s