Die ouma en die blikbrein

Die ouma en die blikbreinDie ouma en die blikbrein het in die Huisgenoot van 3 Desember 2009 verskyn. Dit was in die goeie ou dae toe ek nog gedink het sewentig is oud – intussen het ek dit na negentig verhoog. 🙂 Intussen moes ek ook noodgedwonge leer om minder uitroeptekens te gebruik en minder sinne met “en” of “maar” te begin …

“Ma kan nie ernstig wees nie! ‘n Rekenaar?” Ammie probeer nie eens haar verstomming wegsteek nie. “Vir Ma se sewentigste verjaardag?”

“Ja, my kind, ek is doodernstig.” Amelia probeer die irritasie en die seerkry tevergeefs verberg. “Ek is oud – nie seniel nie. Ook nie onnosel nie. Al dink julle jonges party dae so.”

Ammie se sagte blou oë is onmiddellik vol trane. “Ekskuus, Mamma, dis nie wat ek bedoel het nie. Dis net … ek weet nie of Ma …”

Amelia verteder maar weer, soos soveel kere tevore. Tussen hulle twee is dit vir Ammie se volle vyf-en-veertig lewensjare  al die ewige spel – onbegrip, skuldgevoel, trane … Is dit tussen alle ma’s en dogters so? Of is dit net hulle?

“Toemaar, ek weet, my kind. Jy bedoel nie om lelik te wees nie. Jy is maar net besig en haastig  en jy wens jou ma wil soos ander oumense stigtelik in die ouetehuis loop sit en doilies hekel en nie bly foeter met allerhande goed wat nie vir haar portuur bedoel is nie.”

Ammie sak moedeloos terug in die stoel waaruit sy van verbasing orent gekom het. “Ma hekel darem ook baie mooi,” sê sy paaiend terwyl sy nog ‘n koekie van die skinkbord neem, net om nou-nou weer daaroor te wroeg.

Ammie is tog ook ‘n ma; Mielie is volgende jaar al mondig.  Hoe is dit dan dat sy nog steeds so bitter min verstaan van haar eie ma se hart? Vir soveel dinge het sy net eenvoudig geen begrip nie. Soos vir Amelia se irritasie met die simpel bynaam van haar kleinkind en naamgenoot. Watse naam is Mielie nou vir ‘n mooi jong meisie?  Maar Ammie het daar vrede mee, soos met soveel ander dingetjies wat Amelia pla.

Soos die lastige ou man wat hier oorkant ingetrek het. Kiertsregop en kordaat, en onbehoorlik glad met die mond. Ook nie te onaansienlik nie. En as ‘n mens na die kar en die klere kyk, klaarblyklik ook nie ‘n kerkmuis nie. Maar ag, so pynlik prim en propper  – dis om van iets oor te kom.

Amelia was baie jare lank prim en propper aan die sy van haar prim en propper man. En toe hy haar vooruitgaan, was sy heeltemal, totaal verlore. Maar eindelik, stadig, stadig, het die wonder gebeur. Dit het jare geneem, maar dit het gebeur: Amelia het haar eie mens geword, onafhanklik, sterk, in niemand se skadu nie.

En toe dop haar wilde streep ook uit. Tot haar prim en propper dogter se ontsteltenis.

Eers was dit die hare. Nie stigtelik silwergrys nie. Nee, rooi – ordentlik rooi. Toe was dit haar slaapkamer. Nie ivoorwit of lentegroen nie. Nee, pers – ordentlik pers. Eindelik was dit die hele huis. Nie avokadogroen of hemelsblou nie. Daarmee sou Ammie seker nog kon saamleef. Maar Amelia het haar huis bloedrooi laat verf en daarmee haar enigste kind finaal oortuig sy is meer as net ‘n varkie kwyt.

En met elke onbehoorlikheid (volgens Ammie) wat sy aangevang het, het die lewensvreugde nog ‘n bietjie sterker daar haar are gebruis, het die lewe vir haar opnuut die moeite werd geword.  Haar liggaam mag stadig maar seker besig wees om die stryd teen die ouderdom te verloor, maar haar gees – haar gees vlieg met die vleuels van ‘n arend.

As dit dan beteken dat sy nie trek het vir die stemmige ou man oorkant die straat nie, is dit sy verlies. En as dit beteken sy gaan op sewentig leer om met ‘n rekenaar te werk, kan dit net haar eie wins wees – met die res van die wêreld het sy in elk geval vrede.

Presies hoe vrekbang sy vir die hedendaagse tegnologie is, is ook niemand se saak nie. Feel the fear and go through it … Dis wat sy deesdae probeer doen.

“Ma, ek praat!” Ammie se stem ruk haar terug na die werklikheid. En natuurlik vra die kind presies wat sy nié moet vra nie: “En hoe gaan dit nog met oom Marinus? Ai, hy is darem maar vir my ‘n oulike man … Was julle tweetjies al ‘n slaggie uit?” As Ammie eers verkleinwoordjies begin gebruik, kan jy maar weet hier kom moeilikheid.

Asof sy ‘n kosbare aand saam met Marinus van der Beek sal vermors. Baie beter om met ‘n stomende liefdesverhaal in die kooi te klim. Minder moeite ook. Die vuurwerke én die gelukkige einde boonop gewaarborg.

“Hoekom gaan vra jy hom nie sommer self hoe dit gaan nie, Ammie? Of nog beter – hoekom skiet jý hom nie sommer vir ‘n aandjie uit nie?”

“Máá!!” Gloed op gloed stoot in Ammie se nek op. Die arme kind is tog so gepla met die warmgloede, en te koppig om te erken sy’t medikasie nodig. Ontstel jy haar, is dit nog erger. Ongelukkig is Amelia chronies besig om haar dogter te ontstel. “Is Ma nou heeltemal simpel?” snak Ammie toe sy haar asem terugkry. “Ek soek nie ‘n man nie – en veral nie ‘n óú man nie!”

“Wel, ek ook nie.”

“Maar Má … Ma is …” Sy’t Ammie nou behoorlik in ‘n hoek. En sy geniet elke oomblik daarvan.

“Ja, sê dit maar – ek is oud. Maar dit beteken nog nie ek wil met ‘n ou man opgeskeep sit nie. Of met énige man nie.”

“Ek het maar net gedink julle pas so pragtig bymekaar, Ma. Hy laat my so baie aan Pa dink …”

“My kind,” sy weeg haar woorde versigtig, “ek was baie lief vir jou pa. Maar hy …” Sy soek na beskaafde woorde, gee dan die stryd gewonne: “ … hy kon darem maar vir jou ‘n lekker pyn in die …”

“Má!! Hoe durf Ma so praat van iemand wat …”

Meteens het Amelia genoeg gehad van die sinnelose gesprek. “Die dooies het ook hulle foute gehad, my kind. Soos jy tog alte goed self weet.”

Amelia se oorlede man was nie ‘n engeltjie in die lewe nie, en sy twyfel of hy dit nou is. In haar tienerjare het Ammie roekeloos in opstand gekom teen haar pa, maar nou dat hy nie meer daar is nie, maak sy asof die son uit sy agterwêreld geskyn het.

Totaal onsinnig. Deel van die onsinnighede wat Amelia willens en wetens agtergelaat het.

“Ek loop liewer. Ma is vandag weer ekstra moeilik.” Ammie vat nog ‘n koekie, gee haar ma ‘n giftige kyk asof sy haar gedwing het. “Kan Ma nie net ‘n slag normaal wees nie? Wat is so vreemd daaraan as ek nie wil hê Ma moet in Ma se laaste jare alleen wees nie?”

Amelia verbeel haar sy sien sterretjies. Is dit dalk ‘n beroerte? “My kind, nou luister jy vir my – en jy luister mooi!” Sy sit ‘n oomblik doodstil, probeer diep en kalm asemhaal. Nee, dis nie ‘n beroerte of enige ander afgryslikheid nie, dis blote frustrasie.

“Ek soek nie ‘n man nie. Ek is nie bang vir alleen wees soos jy nie. En as ek op my oudag ‘n bietjie laat gaan – aan wie doen ek almiskie enige skade? Ek het niemand nodig om my lewe vir my te reël nie … om vir my te sê wat is gepas of wat nie … Hou óp om my te mother, my kind!”

In die skielike stilte kyk hulle mekaar verstom aan. Toe steek Ammie haar hand stadig na haar ma toe uit. “Ek is jammer, Ma.”

Amelia sug. “Dis oukei, my kind.”

Onbegrip, skuldgevoelens, trane – altyd maar die ou bekende siklus.

“EN HET OUMA LEKKER VERJAAR?” Amelia kyk haar kleindogter liefdevol aan. Mielie is haar ewebeeld op daardie ouderdom – behalwe natuurlik vir die verspotte te-klein-kleertjies wat die kinders vandag dra. En die verspotte bynaam wat soos klitsgras bly sit het.

“Jy moet jou tog nie deur ‘n mansmens laat intoom nie, my kind,” ignoreer sy die vraag. Almal weet tog sy het heerlik verjaar – hulle weet net nie met hoeveel deursettingsvermoë en pynpille het sy vanoggend uit die bed gesteier nie.

Sy’t die malste sewentigste verjaardag gehad waarvan sy ooit kon droom. Dit was absoluut heerlik.

Anders as haar ma, is Mielie onmiddellik op haar ouma se golflengte. “Is dit wat Ouma gedoen het? Jou deur ‘n mansmens laat intoom?” Sy vat nog ‘n koekie en eet dit smaaklik op, sonder die geringste gewetenswroeging.

“Ja, my kind, en ek was bitter spyt, vir sy part ook.  Dink net hoeveel pret kon ek en jou oupa gehad het as ons net ‘n bietjie kon ontdooi.” Hulle was baie gelukkig, maar pret het hulle nie baie gehad nie. “En nou rafel ek op my oudag uit en gee jou arme ma grys hare.”

“Ag, Ma is meer lawaai as wol, Ouma. Sy’t op die ou end gister se ten pen bowling netsoveel geniet soos Ouma en die tannies.”

“Ek wens jou ma wil ook ‘n bietjie laat gaan, my kind. Dit sal haar goed doen, haar ‘n bietjie laat vergeet van die alleenheid wat haar so vang.”

“Ag, miskien is sy ook maar ‘n late bloomer soos Ouma. Gee haar kans …” Mielie kou knarsend aan nog ‘n koekie. “En wanneer pak ons twee die rekenaar aan?”

Amelia kyk benoud na die staalgrys gevaarte wat al netjies uitgepak en opgestel op sy spesiale tafeltjie staan. Diep in haar hart wonder sy wat haar besiel het. “Net nie vandag nie, my kind,” antwoord sy eerlik. “My lyf is so seer, my verstand sal vandag niks kan inneem nie.”

Mielie lag uit haar maag uit. “O, ek het gedink Ouma gaan vandag seer wees! Julle ou klomp het darem gister lekker baljaar – en dan praat ek nie eens van die geflirt met die jong mannetjies wat daar werk nie!”

“Was daardie witkoppie nie vir jou ook oulik nie?” Die mooie mannetjie het heerlik met al die tannies geflankeer, maar sy oë het Mielie bly volg. Hardwerkende kind, dit kon sy sien. Goeie maniere ook.

“Vrek oulik, ouma! En die gevoel is wederkerig – ons twee was gisteraand al klaar uit.” Die blou oë flits ondeund. “Nou’s ek geholpe, en Ouma het vir oom Marinus … Nou moet ons net vir Ma ‘n kêrel kry.”

“Ek hét nie vir ou Marinus nie, Mielie! Hoekom kan julle dit nie in julle koppe kry nie?” Haar hart fladder van verontwaardiging. As sy ‘n toeval kry, is dit die ou man se skuld. Sy kan net nie van hom ontslae kom nie.

“Ag, Ouma, julle pas so mooi! Amper so mooi soos ek en Marius.” Mielie lyk soos ‘n pragtige klein katjie wat pas ‘n groot piering room kafgedraf het. “Ek hoor boonop hy’s ‘n wafferse rekenaarkenner.”

Amelia rig haar waardig op in haar stoel. Maar ‘n mens lyk nie so maklik waardig met ‘n bloedrooi kop en ‘n uitspattige bont uitrusting nie. “Mielie, jy hoef nie vir my ‘n man te soek nie.”

“Ek sal dit nooit waag nie, Ouma.” Maar die groot glimlag weerspreek die sedige woorde.

Mielie is lankal weg, toe sit en bekyk Amelia die rekenaar nog met bittere berou in die gesig. Met haar gekerm oor ‘n rekenaar het sy nou wraggies reg in Ammie se hand gespeel.

Sy steek ‘n versigtige vinger uit na die skakelaar. Haar lang, rooi nael lê uitbundig teen die stemmige amper-swart van die byderwetse masjien. Sy’s darem bly die goed is deesdae nie meer almal daai dodelik vaalgrys nie, so ‘n ding sou sy nie kon duld in haar huis nie.

Amelia haal diep asem en druk die knop ferm in. Die masjien begin liggies brom. Na ‘n paar oomblikke se soek spoor sy die skakelaar van die skerm ook op. Op die skerm spring ‘n duisternis van goetertjies op. Hoe’t Mielie gesê? Icons? Ja, icons. Ikone.

Maar dis so ver soos sy kom. ‘n Halfuur later gee sy moedeloos boedel oor. Met hierdie masjien gaan sy op haar eie so nooit as te nimmer regkom nie. Al wat sy gewen het, is ‘n skeelhoofpyn.

En hoe kry ‘n mens in elk geval die ding nou weer dood?

“OUMA, NEE!” MIELIE GRYP DRAMATIES na haar kop. Nie dat Amelia kan glo Mielie se kop kan seerder as haar eie wees nie. Die afgelope uur was louter hel. Soos elke les die afgelope week. En die week voor dit. “Dis eers Save as, Ouma, nie net save nie. As ‘n mens die eerste keer …”

“Ja, ja, kind. Dis nie nodig om op my te skree nie.” Amelia klou desperaat aan haar laaste bietjie waardigheid. “Wag, ek probeer weer.”

Maar sy kry die kind nie tevrede nie. “Nee, Ouma! Net klik op Save as, nie dubbel-klik nie.”

Amelia staan met haar laaste bietjie selfbeheersing mooi stadig op en stoot haar stoel ferm onder die tafel in. “My kind, dit werk nie. Nie een van ons twee gaan weer gou van hierdie trauma herstel nie.”

“Ek is vreeslik jammer, Ouma, maar ek het net nie die geduld nie.  Ek is net te gewoond …” Die vrolike kind se trane sit nou vlak. “Dis nie dat ek naar wil wees met Ouma nie …”

Amelia gaan skakel die ketel aan, haal koekies uit. Toe sê sy die verskriklike woorde:  “My kind, ek dink ek moet maar oorgee. Ek is te oud vir ‘n rekenaar.”

“Nee, Ouma, dis ék …”

Amelia voel vreemd verlig. Dis tog ook nie ‘n skande om jou beperkinge te erken nie. Sy sal liewer so daaraan dink, dan maak dit nie so seer nie.  “Die saak is afgehandel, my kind. Jou ouma het haar moses teengekom. Vertel my nou liewer hoe gaan dit met die jonge Marius.”

AG NEE, TOG NET NIE dit nie. Amelia maak nog ‘n slag seker deur die loergaatjie, vee senuweeagtig oor haar hare. Dit is weer eens Marinus van der Beek. Hierdie keer lyk dit nie of hy  die aftog gaan blaas nie. Nee, want die verspotte ou man het sowaar vir hom ‘n stoel saamgebring. Hy maak hom nou doodluiters  tuis voor haar deur, op en bloot vir die hele straat om te aanskou.

“Amelia!” roep hy luidkeels, “ek gaan sit tot jy oopmaak!”

Sy laat sak haar voorkop moedeloos teen die koel hout. Sy wil nie oopmaak nie. Sy kruip weg vir Marinus, sy kruip weg vir die wêreld.

Sy kon nie die nederlaag soos ‘n man vat nie. Of dan soos ‘n ware vrou. Die rekenaar het haar ore aangesit – en sy’t haar selfvertroue verloor. Sy’s nie eens vir haar kind of kleinkind lus nie, wat nog te sê vir hierdie lastige ou man. Wat boonop blykbaar ‘n doring met die rekenaar is, en hy’s seker ‘n goeie vyf  jaar ouer as sy.

“Ek wil niemand sien nie!” roep sy moedeloos na buite. “Gaan weg, asseblief!”

“Ek is bekommerd oor jou, Amelia. Ek wil jou help.” Hy staan op, kom staan met sy oog teen die loergaatjie, sodat sy verskrik terugtree. “Ek kán jou help.”

“Ek wil nie gehelp wees nie. Die ding is te moeilik vir my.” Sy klink soos sy voel – verslae en verslane.

“Maak oop, Amelia!” Hy swaai nou ‘n handvol papiere voor die loergaatjie verby. “Dis nie jy wat te dom is  nie, dis Mielie wat nie weet hoe om ‘n oumens te leer nie.”

Dit laat ruk haar vinnig die deur oop. “Het Mielie my waaragtig met jou loop bespreek? Is dit nie genoeg dat haar ma ons die hele tyd aan mekaar uitveil nie?”

“Moenie so kwaai wees nie, Amelia.” Hy stap reguit op die rekenaar af, sleep voorbarig nog ‘n stoel nader. “Klein Amelia het vir Marius al moedeloos gehuil. Jy’s baie belangrik vir haar, sy wou jou so graag help.”

Amelia sak stadig op die een stoel neer. “Marius? Jy ken vir Marius?”

Handig skakel hy die rekenaar aan, tik hier, tik daar. “My kleinseun. Oulike kind, dink jy nie so nie? ” En die ellendige masjien spin soos ‘n kat onder sy hande. Ook nie onaardige hande nie. Vir ‘n oumens, natuurlik.

Amelia byt die vinnige woorde met moeite weg. Amelia – hy noem haar kleinkind op haar naam. Dalk is die man nie so onaardig nie. Die Marius-seun is goed grootgemaak, dit kon ‘n mens dadelik sien. En haar naamgenoot is stralend gelukkig by die mannetjie.

“Ek wil die ding nie meer hê nie. Wil jy dit nie koop nie? Of present hê nie?”

“Nee, Amelia, ek wil nie die rekenaar hê nie.” Die kyk wat hy haar gee, laat haar eers koud raak en toe gloeiend van … sy weet nie. Skok? Plesier? Want uit Marinus van der Beek se skerp blou oë straal die duidelike boodskap van presies wat hy wil hê. Of liewer, presies vir wíé hy wil hê.

“Wat laat jou dink jý sal my kan leer?” Astrant wees, dis al raat wat sy nou het. Dalk help dit sommer vir die skielike hartkloppings ook.

“Omdat ek weet hoe dit voel. Maar ek het die regte leermeester gehad.” Hy lig die pakkie papiere triomfantlik op. “Hier is jou geheim. Kom, kyk net hier.”

Amelia gee oor. Sy leun gehoorsaam nader, verskuif haar bril om die bladsy deeglik in fokus te kry. Aanskakel: Druk die groot knop ferm in. Wag ‘n paar oomblikke. ‘n Verligting kom oor haar. Sy lees vinnig verder: Om Word oop te maak: Klik op start. Wag dat die opsies verskyn. Klik op Microsoft Word – net één keer. Sy blaai vinnig deur die boekie. Elke dingetjie wat Mielie die afgelope weke tevergeefs in haar harspan probeer hamer het, is daar. Alles mooi duidelik neergetik, eenvoudig gestel, in lekker groot letters. Sodat ‘n mens dit puntjie vir puntjie kan volg. En op jy eie kan oefen tót jy dit self kan onthou, al is dit ook ‘n duisend keer.

Amelia kyk met glansende oë na hom op: “Jy dink ek sal dit kan doen?”

Hy kyk ernstig terug, maar daar’s ‘n glimlag agter sy oë: “Ek wéét jy sal dit kan doen.”

“En wat wil jy van my hê?”

“’n Lekker bord gekookte kos sal genoeg wees.” Die glimlag laat sy oë kreukel. “Voorlopig, altans.”

Natuurlik gekonkel met klein Amelia. Want kook kan sy inderdaad kook. Amelia glimlag stadig. Sonder die manlike spesie is die lewe darem ook baie vervelig.

Vir oudword sien sy nog kans. Maar vir verveling? Nooit!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s