Nag van hoop het in die Huisgenoot van 9 September 2010 verskyn. Ek onthou ons was met ‘n Australiese vroueboer wat ‘n wêreldreis gewen het, in Swellendam se omgewing. Dit was ongelooflik warm en anderkant die berg het dit gebrand. En daar was wel ‘n mooi jong man wat koeldrank gekoop het … 🙂
Die jong man wat die res van die storie geinspireer het, het sy studies voltooi en liefde en sukses gevind. Sy ma het destyds vir my sy storie – en haar belewing daarvan – vertel en ek sal dit nooit vergeet nie.
Arien bekyk die mooi seun voor die koeldrankkas ongemerk van agter haar donkerbril. Goed gebou, langerige hare in deesdae se deurmekaar styl omgewoel, stoppeltjies melkbaard op die sterk kakebeen. Beslis nie een van die omgewing se bonkige boerseuns nie. Waarskynlik ‘n student wat hier deurry op pad Kaap of Stellenbosch toe en nie kan wag om die dorpie se stof van sy flip-flops af te skud nie.
Sy sal self nie omgee om in sy skoene te staan nie; om bloot hier koeldrank te koop en verder te ry nie. Maar helaas, dis haar nie beskore nie. Sy’s aan die plaas verbind met bande van liefde en plig wat nooit losgemaak sal kan word nie.
Die jongman het sy keuse by die yskaste gemaak, stap by haar verby na die betaalpunt. Toe hy wegdraai met sy aankope, knik hy vriendelik vir haar.
Haar nek word warm van verleentheid. Het sy – wat sy ma kon gewees het – te ooglopend gestaar? Siestog, hy dink seker die outannie staan en perve hier op hom, soos die jongmense sê. Hoe kan hy dan nou weet hy herinner haar aan Anton – haar lewenslustige seunskind wat nou ‘n verbitterde man in ’n rystoel geword het?
Buite die lugverkoelde winkel slaan die warm lug omtrent jou asem uit jou lyf. Die volmaakte weer vir die wegholbrande wat deesdae deel van die Suid-Afrikaanse landskap geword het. Sy kyk onwillekeurig in die rigting van die berge wat steeds toe is van die rook. Oorkant by Franschhoek is die vuur buite beheer in die onherbergsame hoogtes bokant die dorp. Sy kan haar voorstel dat die hele Boland seker toe is onder die rookkombers. Aan hierdie kant in die Rûens is dit droog en warm en kaal.
Syself kan nie eens meer ‘n braaivleisvuur verduur sedert die verskriklike motorongeluk waarin Anton verlam en sy pa oorlede is nie. En dan kla sy oor Anton wat nie die gebeure kan verwerk nie. Syself worstel nog haar nagte om met die vraag waarom sý feitlik ongedeerd daarvan kon afkom, waarom hulle twee so hard moes getref word.
“Ma moes my vir die vuur gelos het,” het Anton daar aan die begin telkens gesê. “Pleks ek ook op slag dood was soos Pa. Dan was Ma se probleme nou baie minder.”
Sy moet by die huis kom. Die kind kan so omgekrap word as sy te lank wegbly. Sy het sy enigste skakel met die buitewêreld geword buiten die rekenaar waarvoor hy sy dae deurbring.
Sy onderdruk die begeerte om nog ‘n rukkie te sloer. O, om net weer ‘n slag in ‘n restaurant te gaan sit en die tyd om te luier met ‘n vriendin, in ‘n boekwinkel te draal tot haar siel versadig is … Maar die ritte Kaap toe is nou net dokters toe, van rondkuier in winkels is daar geen sprake nie. Anton wil nêrens gaan nie. En geld vir luukses is daar in elk geval nie meer nie.
Sy’t nie net haar man verloor in die ongeluk nie, sy het eintlik ook haar seun verloor. Van haar dinamiese, talentvolle kind het net ‘n moeë dop oorgebly. Sy studies het hy summier gestop, die plaas het vir hom ‘n wegkruipplek geword.
Sy wil hom so graag uit die modder oplig, hom terugbring na ‘n vol, ryk lewe. Maar sy’s gedaan van sukkel. Dit was ‘n eindelose somer van stof en droogte en worstel met die al die aanpassings wat skielik van haar geverg is.
Wag, basta met die donker gedagtes. Sy moet by die huis kom, die aandkos aan die gang kry. Maar toe sy by die bakkie kom, is haar sleutels skielik nêrens te vinde nie.
Vervaard dop sy haar handsak op die bakkie se neus om. ID-boek, kam, snesies, suiglekkers … a, hier’s die verlore lipstiffie … geen sleutels.
“Ekskuus tog, is dit dalk tannie s’n?” Sy swaai so verskrik om dat sy amper in hom vas is.
Hy’s feitlik perfek Anton se ouderdom. “Jammer, tannie het dit seker by die kasregister neergesit, toe vat ek dit per ongeluk toe ek loop.”
Sy kan van verbasing skaars ‘n dankie uitkry. Hy het al weggetrek, toe staar sy hom nog agterna. Dit kon haar kind gewees het wat daar ry, haastig in die rooi motortjie met ‘n mooi meisie langs hom wat vrolik na hom oplag toe hy haar koeldrank aangee.
Stadig klim sy in, trek oorversigtig weg. Vir bestuur sal sy seker voortaan altyd bang wees, al was dit Antonie wat daardie dag bestuur het.
Genade, dink net wat ‘n gesukkel dit sou afgegee het as die mannetjie net weggery het met haar sleutels. Hy sou dit op geen manier by haar kon kry nie, want hy’t nie geweet wie en wat sy is nie.
Maar sy gaan steeds nooit weet wie en wat hý is nie. Sy weet wel vannag gaan weer ‘n slapelose nag wees. Daar’s iets van die Anton van voor die ongeluk aan die jongman; iets in die stap, die manier waarop hy sy skouers waterpas hou.
Toe sy inklim, val haar oog op die posbussleutel op die sitplek langs haar. Ag, sy het wraggies weer die pos vergeet. Nie dat daar deesdae veel meer as rekenings vir haar kom nie. Sy draai tog die bakkie se neus terug dorp in, reken gou die datums uit. Ja, daar kan vir haar ‘n tydskrif wees. En ook die nuutste eksemplaar van die tydskrif vir mense met mobiliteitsgebreke waarop sy vir Anton ingeteken het. Nie dat hy dit lees nie. Die glimlaggende gesigte van gestremde mense is vir hom ‘n aanklag – hulle kon aanpas, ‘n nuwe lewe begin. En hy kon nie.
Sy voel sy kon hom nie effektief deur daardie eerste verskriklike tyd bystaan nie. Omdat syself te ontredderd was na sy pa se dood, self te oorweldig deur die verantwoordelikheid wat sy voortaan moes dra.
Ja, die tydskrif is in die posbus. Net vanaand gaan druk sy die ding in Anton se gesig. ‘n Woede kom in haar op. Sy’s gatvol gesukkel. Sy’t self baie om te verwerk, sy’t verdomp ‘n plaas om te bestuur. En hy doen niks om haar te help nie. Sit net heeldag voor die rekenaar en sinlose speletjies speel terwyl sy moet sien en kom klaar.
Vanaand gaan sy hom konfronteer. So kan dinge nie aangaan nie. Sy gaan hom wragtig uitskop as dit moet. Daar is ‘n ding soos tough love …
Sy skrik so dat sy byna haar bakkie ook omgooi toe sy die rooi motortjie in die veld sien lê. Die draai, die vervloekte draai op die stuk grondpad. Hy’s nie die eerste stedeling wat gou-gou die stukkie kortpad wou ry en hom dan met die draai misgis nie.
Alles kom in ‘n oogwink terug, die dag van die ongeluk is so helder in haar kop asof dit gister gebeur het. Die vreeslike skrik, die vlamme, die besef dat Antonie reeds dood is, haar koue paniek toe sy besef sy sal Anton voor die vlamme moet wegkry op risiko dat sy rug beseer kan wees.
Sy sien nie kans om stil te hou nie, sy sien eenvoudig nie kans nie. Maar natuurlik moet sy stilhou, deur die veld hardloop na die motor toe, haar selfoon reeds gereed in haar hand.
DAAR LÊ TEN MINSTE NIEMAND in die stuk veld waardeur sy hardloop nie. Waar’s die mooi jong man? In die motor? En die meisie … daar was ‘n meisie ook in die kar. Sy het vrolik na hom gelag toe hy met die wegtrek haar koeldrank aangee.
Toe hoor sy dit. Die snikke. Elke haartjie op haar lyf staan regop van skrik. Dis so goed soos haar eie snikke wat sy hoor, daardie dag van die ongeluk.
Die motor lê op sy sy, die meisie hang windskeef en hulpeloos in haar sitplekgordel, half bo-oor die jongman. “Ag Here…” huil die kind. “Boetie, praat met my!”
Arien steek haar arm versigtig deur die gebreekte ruit, raak saggies aan die rukkende jong skouer. “Kom,” sê sy, “kom, dan help ek jou uit.”
Sy’s naby aan haar broer se ouderdom, dalk selfs sy tweeling. Haar oë wydgesper van skok, bloed oor haar voorkop. Die ooreenkoms met die jongman is opvallend. Die meisie gryp haar hande half histeries vas. “Hy’s nie dood nie – hy haal nog asem … Ek kry nie my selfoon nie!”
Daar’s geen teken van brandstof wat uitloop nie, sover sy kan agterkom geen sprake van ‘n dreigende ontploffing nie. ‘n Wonderlike kalmte kom oor Arien. “Ek help jou nou-nou uit. Ek bel net gou eers.”
Die voordeel van die klein, hegte gemeenskap wat sy soms so verwens – sy ken almal persoonlik. Selfs ‘n paar sappige geheimpies omtrent sommige. Marius Benade wat haar kinders grootgedokter het, wat Antonie daardie verskriklike dag moes dood verklaar; die sersant wat laas met die veediefstal so behulpsaam was; die outjie van die insleepdiens wat ‘n klasmaat van Anton was.
“Hulle kom, ons gaan nou-nou al die hulp hê wat ons nodig het. Kom ons kyk of ons hierdie deur kan oopkry.” Kon die kind haar nie intussen al uitgewoel het nie? Sy kan nie die jongman bykom bo-oor sy suster nie. Ag Here, gee tog dat hy regtig net bewusteloos is. “Dis net ‘n sny op jou voorkop … mooi bokant die haarlyn … Het jy nog êrens seer? Jou rug? Jou bene?”
Die angs is terug, die verskriklike angs toe sy daardie dag moes kies of sy haar kind beweeg en sy rug verder beskadig – of hom vir die vlamme los. “Kan jy beweeg, kindjie? Kom, help my net hier …” Die deur sit vas, sy kry dit nie oop nie.
“Ek kan nie, tannie.” Dis meteens Anton se oë wat na haar kyk. Maar ook nie heeltemal nie, want hierdie oë is nou kalm. Dis die oë van iemand wat al ‘n lang pad geloop het. Of juis níé geloop het nie. “My arms is te swak … Seker maar die skrik … Gewoonlik kom ek goed reg.”
Arien se oë draai stadig na die agtersitplek van die motor. En ja, daar is dit, halfpad deur die ruit en waarskynlik sleg beskadig – die rolstoel. Sy moet teen die motor leun vir die duiseligheid. Die mooie meisiekind is verlam. Soos haar eie mooie seun.
‘n Vreeslike liefde kom oor haar, die liefde wat sy nog altyd vir haar kind gehad het. Die liefde wat deur hierdie verskriklike somer reggekry het om haar seun elke harde woord te vergeef, om elke dag van selfbejammering opgeruimd te bly, elke woedeuitbarsting kalm te hanteer.
Sy steek haar arms tussen die glassplinters deur, hou die meisie lomp vas, maak sussende geluide soos vir ‘n kleintjie wat bang is. “Dan wag ons net tot ons hulp kom, ‘n mens het mansmense nodig hiervoor. Wat is jou naam, my kind? En jou broer s’n?”
“Jackie, tannie. En Jaco. Toe ons tieners was, het ons die name gehaat … gesê dis corny … Van Heerden … Ons is van die Kaap, ons het by pelle gaan kuier …” Die meisie klou haar arms vas soos ‘n drenkeling.
ARIEN HANG HALF DEUR DIE stukkende venster en huil saam met die jongmeisie. Sy huil vir die eerste keer in maande, sy huil al die skrik en verwyt en magteloosheid uit haar uit.
Toe Marius Benade by hulle kom, gee hy haar net een kyk. “Dis goed dat jy huil, ek’s lankal bekommerd oor jou.”
Sy antwoord nie, staan net eenkant toe toe hy oor die meisie buk. Al die jare was Marius hulle huisvriend, al die jare het sy geweet hy het hulle twee se jeugliefde nooit heeltemal verleer nie. Sedert Antonie se dood het hy teruggetrek, nooit deur woord of daad laat blyk hy verwag iets van haar nie. Maar nou is dit duidelik in sy oë – die besorgdheid, veel meer as dié van ‘n dokter vir sy pasiënt.
Liewer prakties wees.“Ek sal haar sommer hospitaal toe vat,” besluit sy. “En dan plaas toe tot haar mense kom.”
Anton beantwoord haar oproep dikbek, moeilik omdat sy so laat is. Sy draai nie doekies om nie, luister skaars na sy gemor. “Hier was ‘n ongeluk … die meisie is feitlik ongedeerd, maar sy’s verlam. Haar broer is bewusteloos, ons weet nog nie hoe ernstig …”
Dit ruk hom darem uit sy apatie. “Verlam? Hoe weet ma? Die dokters moet tog eers …” En sy weet daardie dag is onmiddellik ook in sy kop – die dag van die finale diagnose.
“Nee, nee, sy’s ‘n parapleeg … Ek dink haar rolstoel is beskadig.” Toe begin sy weer magteloos huil. “Dis haar tweelingboetie … Ek is heel simpel geskrik, my kind … Kan jy ons by die hospitaal kry, asseblief?”
“Ek kom, Ma.” Arien kyk half verdwaas na die dooie selfoon in haar hand. Geen redenasies nie, geen verskonings nie – net: Ek kom, Ma.
Dankie, Here.
“Arien! Ons bring haar.” Dis Marius se stem. Die jong konstabel staan met die pragtige meisie in sy arms. Daar’s reeds ‘n depper op haar kopwond, die bloed is gestop. Haar bene hang slap oor sy arms.
“Kom, kom ons maak jou lekker gemaklik. Laat sak haar net mooi op die sitplek, ek sal …” Maar Jackie het alreeds haar bene met ‘n flink beweging self ingesit. “Moet sy hospitaal toe, Marius? Kan jy nie sommer by my plek na haar kyk nie?”
“Nee, eers Ongevalle toe, ek moet haar goed deurkyk.”
“Tannie, ek moet my ma-hulle bel, maar ek is so geskrik … ”
“Ek sal dit doen,” hoor sy haarself sê. “Maar kom ons kry jou eers by die hospitaal.”
Hoe Anton so vinnig in sy kar gekom het, weet sy nie, maar hy wag klaar by die hospitaal, saam met ‘n verpleegkundige met ‘n rolstoel.
“Tannie! Wie’s dit?” Verbasing op Jackie se gesig. En ‘n soort blydskap.
“Dis my seun.”
“Ai tannie, en hy’s so mooi. Hoe lank is hy al verlam?” Sy kan haar verwonder hoe maklik die woord oor die meisie se lippe kom. Syself kan dit amper nog nie sê nie, praat liewer óm die onderwerp. Anton vermy dit heeltemal.
“Net meer as ‘n jaar. Die aanpassing gaan maar swaar. Ek sukkel met hom …” Wat ‘n verligting om dit te sê voor iemand wat sal verstaan.
Jackie kyk haar ernstig aan, sê met nadruk: “’n Jaar is hopeloos te kort, tannie. Julle is te haastig met hom. ‘n Jaar na my ongeluk was ek nog ‘n totale wrak.”
Die verpleegkundige wil nog help, toe’s Jackie self uit die motor en in die rolstoel, begin self aanbeweeg na die ingang. “Nee, los, ek kom reg,” beduie sy toe hulle wil help.
Arien staan verslae. Sy’t gedink Anton is hopeloos, sy’t nie genoeg raad ingewin nie. Daar’s hoop vir hulle …
“My kind, het jy gehoor?” Sy kyk meteens met ander oë na haar seun.
“Ek het gehoor, Ma.” Iets flikker in sy oë. Dalk nuwe hoop?
“Kom saam binnetoe, jy kan dalk help.”
“Daai girl het geen hulp nodig nie.” Anton kyk die meisie agterna met ‘n vreemde uitdrukking op sy gesig, druk dan die knoppie van die elektriese stoel. “Ek het ‘n fout gemaak om die elektriese stoel te kry. Sien ma hoe mooi skraal is sy, hoe lekker sterk is haar arms?”
Sy weet self dit was ‘n fout. Maar sy wou dit so graag vir hom maklik maak. Anton het plomp geword, hy sukkel met die verplasing van sy gewig in en uit die stoel. Dis ‘n gesukkel om êrens te kom. Nou kom hy feitlik nêrens meer nie.
TERUG BY DIE MOTOR IS dit dieselfde storie, op die plaas ook. Selfs in haar geskokte, beseerde toestand weier Jackie enige hulp of gekloek om haar. En met reg ook, want sy’s so effektief soos … Soos wat? Arien moet dit erken, en Anton self seker ook – so effektief soos Anton nié is nie.
Uiteindelik terug op die plaas dring Jackie aan om eers te gaan stort. Self. “Ag, dis wonderlik dat alles so lekker ingerig is, tannie! Ekskuus, Anton, ek bedoel nie ek’s bly jy’s ‘n parapleeg nie, ek bedoel net …”
“Toemaar, ek verstaan.” Anton was die hele tyd stil, sy oë volg elke beweging van die meisie. Sy kyk is intens, brandend. Hy’s die een wat haar bagasie vir haar kamer toe neem, besorg verneem wat sy nog nodig het.
Arien is nie verbaas toe Marius Benade vroegaand stil by hulle kom aansluit nie. Saam sit hul by die kombuistafel met die koffiekan tussen hulle. Op die oomblik is daar niks wat hulle kan doen, behalwe om Jackie gemaklik en rustig te hou nie. Jaco het reeds bygekom en is met die ambulans weg Kaap toe. Sy beserings is redelik ernstig, maar nie lewensbedreigend nie. Die tweeling se pa is op pad om Jackie te kom haal, hulle ma sal Jaco by die hospitaal inwag.
‘n Diep dankbaarheid het Arien gevul. Wat ‘n nag van tragedie kon gewees het, het vir haar ‘n nag van hoop geword.
Dis Anton wat later met ‘n beker rooibostee aan Jackie se kamerdeur gaan klop. Arien dink dis die eerste keer dat hy self ‘n koppie tee maak sedert die ongeluk. Hy bly lank weg, sy hoor hulle stemme.
Toe hy uitkom, lyk hy anders, ligter. “Ma, sy swot voltyds, sy bly in die nuwe koshuis wat twee kamers vir parapleë het … Hel, Ma, ek’s ‘n misoes.”
Arien is alweer aan die huil en skaam haar nie eens nie. “Ons was te haastig met jou, my kind.”
“Dis wat ek ook vir julle sê.” Marius se stem is sonder verwyt. Hy’s ‘n goeie man, dink Arien, ‘n baie goeie man.
“Ek is jammer ek was so moeilik, Ma, ek sal …”
“Dis niks, my kind.” Haar kind, haar Anton-kind, is terug by haar.
Toe die tweeling se pa laataand aankom, is Anton die een wat hom by die motor gaan ontmoet. En Marius Benade die een wat saam met haar op die stoep bly staan. “Vanaand was ‘n deurbraak vir Anton, Arien,” sê hy sag.
“Ek dink ook so,” antwoord sy dankbaar.
“En dalk vir ons twee ook?” Daar’s hoop in sy stem.
“Miskien, Marius, miskien tog wel,” antwoord sy versigtig.
Dit het inderdaad vir haar ‘n nag van hoop geword.
Hoop. Daardie wonderlike woord. En jy beskryf dit so deeglik. Dankie.
Dankie, Willem! Waardeer.
Baie dankie n pragtige storie so hartseer…..met n pragtige einde…mooi naweek vir jou en baie dankie vir my stories
Baie dankie, Marietjie – ek het nogal gewonder of dit nie te hartseer is nie!