Ek kan om my lewe te red nie presies onthou waar hierdie storie sy oorsprong gehad het nie. Miskien maar net by die gedagte dat ʼn mens niks meer as jou beste vir jou kinders kan doen nie. Dit het in die Huisgenoot van 11 Mei 2006 verskyn. Nou klink dit vir my ‘n bietjie melodramaties en intussen moes ek noodgedwonge afleer om in die eerste persoon te skryf. Dit kom ook uit die goeie ou dae toe tydskrifte veel langer en ernstiger stories geplaas het. Ek wonder ook of moderne jongmense nog sal reageer soos dié in my storie van ‘n skrale veertien jaar gelede.
Die laatmiddagson hang in goue gerwe in die ruimtes van die ou klipkerk. Die afwagting bewe saam met die stofdeeltjies in die sonstrepe. Hier en daar kug ‘n gas gedemp. Almal wat iets is in die klein gemeenskap — of dink hulle is iets — is hier vir die troue van die jaar.
Annie, enigste ooilam van die skatryk wolboer Gawie van Rooyen, het teen alle sinnigheid van haar ouers haar hart gesit op die bankklerk met die stywe broekies en die Elvis-haarstyl. Behalwe die brullende motorfiets en gehawende kitaar het die mannetjie niks om tot die familie se skatte toe te voeg nie.
Aan die wol-oplewing en Suid-Afrika se “witgoud” wat aan sy aanstaande skoonfamilie hul aansienlike welvaart besorg het, het Ferdinand Richter weinig erg. Hy leef in die droom van wêreldroem as sanger.
Ná baie trawasies het Gawie sy ontstemde vrou oorreed om maar bes te gee. Hy is nie verniet bekend as Gawe Gawie nie; ‘n sagsinnige man is hy. Anna is die een met die ysterwil; dis ‘n wonder dat hy haar tot bedaring gekry het.
“Netnou kry Annie dit nog in haar kop om die pad te vat met die mannetjie,” was Gawie se troefkaart, “en op die ou end sit sy ongekerk en dalk nog met ‘n broodjie in die oond ook. Al wat ‘n ouer kan doen, is om sy kind die mooiste troue te gee wat geld kan koop, en verder te bid en te hoop.” So het Gawie met sy sagte stem sy toornige vrou gepaai. Hy het geweet hoe om met haar te werk.
Die bruidskar kom stadig in die hoofstraat af. Die kragtige V8-enjin klop-klop onder die pienk enjinkap van die Ford. Mense kom uit hul huise om straataf te kyk; ou ooms op koel voorstoepe tuur met die hand oor die oë agterna.
Agterin die motor is die bruid gehul in massas wit kant en witter lelies. Haar oë skitter soos die piepklein diamantjie aan haar linkerhand. Dié ou speldekoppie is al wat Ferdi kon bekostig. Vir haar is dit egter meer as genoeg; hy het beswaarlik Wooden Heart deurgesing, toe was sy verlore. “… it was always you from the start …” Die sensuele rasperstem kompleet dié van The King.
Haar trourok is in die witste wit, soos dit hoort, ten spyte van die groeiende onrus in haar hart. Maar haar reisuitrusting is ‘n simfonie in rooi, ter viering van die liefde. En die slaapkleertjies is ragfyn en verleidelik. ‘n Vriendin in die Kaap moes haar voete deurloop om net die regte ietsie te kry; op dié dorpie is so iets nie te vinde nie. En ʼn bruid wil darem ook nie hê die hele distrik moet weet hoe lyk haar wittebroodpajamas nie.
Voor die kerk lig die wind die bruid se sluier die lug in, vou die lae van haar rok teen haar lyf vas. Die strooi- en blommemeisies straal in hul sagte pienk weergawes van die bruidstabberd. Ou tante Mooi, Hollandse modemaakster van die dorp, het nagte lank gewerk aan die drie eenderse tabberds. Met duisende fyn stekies is die uitgeknipte blomme van kant aan die wye rompe geheg, die lyfies styf om die middel ingevat, die hoë halslyne kuis afgewerk.
Gawie plaas sy grofgewerkte hand ‘n oomblik oor die slanke jongmeisiehand wat op sy arm rus. Saam wag hulle in die koel halfskemer van die voorportaal met die trap wat grasieus opspiraal na die orrelgalery. Die orrelis se hande huiwer bo die note van die troumars; die gaste draai in afwagting na die deur.
Die lieflike ruiker bewe in die bruid se angstige hande; haar lippe roer asof in gebed. Maar sy weet dis te laat vir bid. “Treat me nice, treat me good … treat me like you really should …” Ferdi, o Ferdi …
Ek bêre die vooraffoto’s van die stralende bruid met ‘n suggie. Agternafoto’s was daar toe nie. Ferdi het nie opgedaag nie. My ouma Annie was toe ongekerk en met ‘n broodjie in die oond daarby.
Van kleinsdag af kon ek nie genoeg kry van die verhaal nie. Die ontbrekende brokkies het my lewendige verbeelding al jare gelede bygeborduur.
Ek is vyf en twintig, ‘n ware vrou van die nuwe millennium, met twee grade, ‘n droombetrekking, ‘n plat duur aktetas en ‘n plat, duur motor. En ‘n hart so sag soos eendedons.
“Kan ek die rok maar uithaal, Ouma?” vra ek. “En die ring?” Vroeër was my ma ook deel van die jaarlikse ritueel op die herdenking van die huwelik-wat-nooit-was-nie. Maar deesdae kyk ons mekaar nie in die oë nie, en praat soos beleefde vreemdelinge met mekaar.
Ek vou die outydse wit katoenlaken met respek terug van ouma Annie se droomrok van vyftig jaar gelede. Sy haal die ringetjie teer van sy fluweelkussinkie af en pas dit aan die knokkelrige ou ringvinger. Met die ydele gebaar van ‘n jongmeisie hou sy die hand teen die lug, kyk met gekantelde kop hoe die klein steentjie skitter.
Meteeens is die sagte ou stem sterk en gebiedend: “Ansa, jy en jou ma en Henry moet dié ding uitpraat. Anders gaan jy een of albei van hulle verloor.”
Ek volg die blompatrone op die romp van die bruidstabberd met my voorvinger. Die ringetjie met die piepklein diamantjie aan my linkerhand gooi klein skerfies lig na my toe terug. Dis al wat Henry my kon gee. Vir my is dit egter genoeg meer as genoeg. Maar nie vir my ma nie.
Ouma Annie sit die ring sorgsaam in sy nessie terug, vou haar hand met die bruin ouderdomsvlekkies koesterend om die boksie. “Ansa-kind, ek gaan jou vandag ‘n ding vertel wat ek nog vir g’n sterfling gesê het nie. Nie eens vir jou ma nie.”
‘n Onrustigheid fladder op die krop van my maag. Wat kan erger wees as om in die jare vyftig van die vorige eeu voor die kansel verlaat te word, en dit nog swanger ook daarby?
Ek vind uit wat erger kan wees: om agterna, gebroke en in skande, per ongeluk uit te vind jou ma — jou eie bloedma wat jy met jou lewe sou vertrou — het jou bruidegom omgekoop om sy kitaar te vat en pad te gee. In Ferdinand se geval met ‘n platekontrak by die voorste platemaatskappy. Anna was ‘n invloedryke vrou met ‘n sterk wil. Ferdinand was ‘n kunstenaar, gefrustreerd in sy muwwe kantoortjie, smagtend na sy groot deurbraak, nie seker van sy talent nie. Hy het nie ‘n kans gehad teen haar nie.
Dit word yskoud binne-in my. My ma is trots daarop dat sy na haar ouma Anna aard. As bekende advokaat is sy invloedryk, nie iemand wat teenstand duld nie. Sal sy so iets aan my doen?
“Ek sou haar nooit vergewe het nie, Ouma!” roep ek hartstogtelik uit. Maar ek sien geen wrok op die sagte ou gesig nie.
“Ek kon ook nie. Maar jare later, toe jou ma op haar beurt met die verkeerde man wou trou, het ek die verskriklike liefde en die verskriklike angs van ‘n ma begin verstaan. En as ‘n mens eers verstaan, dan kan jy begin vergewe. Maar toe was dit te laat; my ou moeder was nie meer met ons nie.”
“Ouma het geweet hulle was nie uitgeknip vir mekaar nie?” Klokslag het ek as kind die pad gevat na ouma Annie toe wanneer die ewige rusies losbreek.
“Ja, my kind, ek het geweet. En ek het jou ma laat begaan; jy weet self watter sterk wil sy het.” Ek het al die jare van hul ongelukkige huwelik saam met haar daarvoor geboet.”
Vir my was dit ‘n heuglike dag toe my ouers tot skei gekom het. Vandag kan ek hulle rustig elkeen op sy eie liefhê.
“Hoekom was Oumagrootjie so vreeslik teen dié Ferdi gekant?” Dis nou vir my lewensbelangrik om te weet. Die verhaal het eensklaps meer geword as bloot die hartseergeskiedenis van ‘n verlore liefde uit vergange se dae.
“Sy kon my nie regtig ‘n konkrete rede gee nie. Hy was natuurlik nie ryk nie, hy sou nooit ‘n boer se agterwêreld wees nie, maar dit was nie die werklike redes nie. My ma het die inherente swakheid in hom aangevoel. Sy’t gesê hy het dit nie in hom om ‘n toegewyde eggenoot en vader te wees nie.”
“Dit gee haar nog nie die reg om so ‘n vreeslike ding te doen nie.” Ek is deel van ‘n geslag wat gesteld is op sy regte.
“Dit het my jare gekos om te aanvaar sy wou net die beste vir my hê. En nog jare om te erken sy was reg oor Ferdinand se karakter.”
“Hoe weet Ouma dit?”
“Ek het al die lare sy lewe gevolg so goed ek kon. Hier ietsie gehoor, daar ‘n paar reëltjies op die sosiale bladsy van ʼn koerant, jare later weer ‘n kennis wat hom iewers raakgeloop het. Ten spyte van die platekontrak het hy dit nie in die musiekwêreld gemaak nie. Hy was nie ‘n vasbyter nie, met die eerste mislukking het hy opgegee. Rondgeval van die een verhouding ná die ander, nooit êrens vastigheid gevind nie, hom eintlik maar uiteindelik dood gedrink.”
“Hoe weet Ouma hy het nie al die jare oor Ouma getreur nie?”
“Geleentheid was daar volop, my kind, maar hy het nooit weer die drade probeer optel nie. Jare lank het ek vir hom soveel spore gelos net waar ek gaan, hy sou my doodmaklik kon opspoor.” Die ylblou oë word dof van die ou, ou hartseer.
“En toe op ‘n dag staan ek onverwags voor hom by die een of ander sosiale geleentheid. Hy het my in die gesig gekyk en weggedraai. Hy het my óf nie herken nie óf hy wou my nie herken nie. Nee, my kind, my ma se beste was inderdaad die beste vir my. Die pad saam met Ferdi sou ‘n swaarkrypad gewees het.”
Die ou hand streel sagkens oor die rooi boksie met die ringetjie. “Maar my bitterste verwyt is dat ek en my ma nooit vrede gemaak het nie. En dit moet jy nie in jou lewe laat gebeur nie. Die band tussen ‘n ma en haar dogter is ‘n ewige band, dit kan nie skeur sonder vreeslike pyn nie.”
‘n Lang rede van my sagte, stil ouma. Maar een wat vasslaan in my kop.
Ek ry reguit na my ma se huis toe. Ek sien die hele tyd my geliefde se beeld voor my. Die bos krulhare wat op die skouers hang, die baardjie, die oorring die argelose kleredrag. Al die dinge wat vir my ma onaanvaarbaar is. Meteens verstaan ek hoekom. Ek kan nie glo ek sien dit nou eers in nie.
My ma sien haar eie pa in my Henry. Sy glo hy gaan my in die steek laat soos haar ma in die steek gelaat is. Indien dan nie voor die kansel nie, dan wel op ander tye en plekke en maniere. Daar is baie resepte vir verraad.
Dis deesdae styf tussen my en my ma; ek val lomp met die deur in die huis: “Ma, Ouma sê Ferdi het haar nie uit vrye wil in die steek gelaat nie.” Ek het dadelik haar onverdeelde aandag; sy het nooit haar onbekende pa vergewe nie. “Grootouma Anna het Ferdi omgekoop. Ek sou dink die feit dat hy daarvoor geval het, was ‘n duidelike bewys dat sy reg was oor sy karakter.” Sy kyk my verstom aan. Dis min dat jy advokaat Goosen sprakeloos kry.
“Ouma sê sy het later verstaan haar ma wou net die beste vir haar hê. Ouma sê die verlies van die band met haar ma was erger as die verlies van haar kêrel.” Ek kyk my ma vas in die oë. “Ouma sê ek en Ma gaan dieselfde paadjie loop as ons nie vrede maak oor Henry nie.”
My ma se oë sak voor myne.
Ek vat my handsak om my ry te kry. “Ma, Henry is nie ‘n swakkeling soos jou pa nie.” Ek ry weg sonder om behoorlik te groet. Sy lyk onverwags broos teen die imposante ingang van haar praghuis.
Ek jaag na my geliefde toe en huil sy hemp sopnat. Hy vryf my rug, bring snesies, skink ‘n glasie wyn en luister rustig na my tirade. As my ma hom net kon ken soos ek hom ken! Sy weet nie hy weier om teen haar sin met my te trou nie, selfs saam met my te bly nie. As dit van my afgehang het, het ek lankal by hom ingetrek. Maar my Henry wil dinge reg doen, hy sê eenvoudig hy wil nie my ma nog meer skietgoed gee nie.
My Henry is ook ‘n toegewyde kunstenaar. Hy leef sober en werk hard. En hy pluk die vrugte daarvan. Mense staan deesdae tou vir sy ongewone nostalgiese tonele op verweerde hout en hy werk alreeds hard aan ‘n volgende konsep. Altyd op soek na nuwe maniere om die ou, ou dinge uit te druk.
My Henry lyk dalk soos ‘n takhaar, maar hy is nie ‘n joller nie, nie ‘n verneuker nie, nie ‘n swakkeling nie. Hy sal nooit ‘n boerseun met ‘n bierpens langs ‘n braaivleisvuur wees nie, maar hy is so eg soos die diamantjie aan my linkerhand. Dis wat my na hom toe aangetrek het, en dis wat my hart sy lê laat kry het in die holte van sy verfbesmeerde hand. Sy egtheid.
Op ‘n respektabele tyd ry ek gehoorsaam terug na my woonstel en klim edel en kuis in my eie enkelbed. Maar ek is siek en sat vir edel en kuis wees, ek word verteer deur my hartstogte, soos Paulus al toenterjare gesê het. En Paulus het tog duidelik gesê dis beter om te trou as om van begeerte te brand. Wie is ek nou om van hom te verskil?
Die volgende dag swyg my selfoon bot; nie eens een ou boodskappie van my ma of my geliefde nie. Ek verbreek ook nie die stilte nie; ek is woedend vir hulle albei. Ek kan mos nie kies tussen hulle nie. Ek wil — nee, ek móét — huIle altwee hê.
Na werk ry ek in ‘n vernietigende bui na Henry se plek. Vanaand moet hierdie ding tot ‘n punt kom. Maar van my plannetjies kom netmooi niks nie. Henry sit met slap handjies na die muur en staar, omring deur halwe koppies koue koffie en ongebruikte verfkwaste. Sy oë is rooi en dof en hy bly stram en onwillig in my omhelsing. Die een skrik ná die ander skiet deur my kop: Hy’t gehoor hy’t kanker, sy ma het iets oorgekom, al sy voltooide skilderye is gesteel, sy kat is doodgery.
Nee, nee, nee, nee, skud hy sy kop op elke angstige vraag.
Ek is naderhand op my knieë voor hom, my kop op sy skoot. “Henry, sê vir my wat dit is. Ek wil dit beter maak vir jou.”
Die gewone warmte is weg uit sy stem: “Hierdie ding sal jy nie sommer beter kan maak nie, my lief.”
“Jy’t my nie meer lief nie!” Ek weet ek is teatraal, maar dit traak my niks.
Nee, skud hy darem sy kop.
‘n Skilpad los glo nie waar hy vasgebyt het nie: ‘n mens moet blykbaar sy kop afsny om hom van jou vinger af te kry. Vanaand is ek die moeder van alle skilpaaie. Hierdie saak laat los ek nie.
Doelgerig gaan ek tot aksie oor. Ek ruim van ‘n kant af op, gooi die vensters oop, dra rooibostee aan, sit rustige musiek op, kook ‘n uithalermaaltyd en drink self meer rooiwyn as wat ek normaalweg in ‘n maand verbruik. Maar laatnag raak my geliefde op sy ateljeebank aan die slaap sonder dat ek ‘n snars wyser is.
Ek ry nie woonstel toe nie. Ek sluimer alleen en onrustig in my geliefde se bed, my selfoon gestel vir douvoordag. Toe gaan stort ek en borsel my hare tot dit kraak van die elektrisiteit.
Die arme man het nie ‘n kans teen my nie. Sy lyf neem oor nog voor sy oë oop is. Laakbaar, ek stem saam.
Maar hy roep sowaar halt en los die bom terwyl hy hom losdraai uit my wanhopige arms. “Jou ma het my probeer omkoop om jou te los.”
“Wát?” Ek skiet orent soos ‘n iemand wat sy vinger in ‘n kragprop gedruk het. Maar toe my voete die koue teëls tref, toe sien ek die lig.
Ek gaan rangskik myself mooitjies in die enigste leunstoel, my bates onbeskaamd uitgestal vir die man van my hart. “O, en wat het jy toe besluit?” vra ek, dik van die lag.
Ek skrik, so kwaad word hy. “@#$@, Ansa, is jy dan so gek soos jou ma? Dink jy ek sal dit vir een oomblik oorweeg?” Ek het hom nog selde hoor vloek, hy is regtig baie ontsteld.
Ek hap nog in die lug, toe land my motorsleutels op my onbeskermde bates. “Ek dink jy moet liewer ry, Ans.”
Tyd vir aksie. Ek gryp my foon en gil op my ma: “Ma, kom na Henry se plek toe. Onmiddellik!” Ek het in my lewe nog nie so met haar gepraat nie.
My ma, ‘n ongeneeslike laatslaper, is sesuur op ‘n Saterdagoggend gestewel en gespoor, so wakker soos die spreekwoordelike haas. En in ‘n vreeslike goeie bui: “Ek is nou daar, Ansa-kind.” Stiltetjie, en toe: “Ek bring vonkelwyn saam.”
My Henry is niemand se gek nie; hy lees op my gesig presies hoe die wind waai. Net ‘n oomblik verdonker sy oë, net ‘n oomblik, toe breek die vreugde deur. Hy het sy aanstaande skoonma se toets met vlieënde vaandels geslaag. Ons wieg ʼn oomblik dronk van verligting in mekaar se arms.
Toe begin ons holderstebolder ons klere bymekaargryp. My ma is op kalmer dae as vandag ‘n derduiwel agter ‘n stuurwiel, sy gaan nou-nou hier wees. Tussendeur bel ek nog so met die een duim vir ouma Annie ook. Sy het klaarblyklik by haar telefoon sit en wag.
“Dis reg so, my kind, jy met liefde in my rok trou,” sê my ouma Annie met vreugde in haar stem.