Kortverhaal: Die trourok

Die trourok VrouekeurDie trourok het in Vrouekeur van 4 Augustus 2017 verskyn en het ontstaan uit twee onverwante brokkies wat in my kop bymekaar gekom het.

“Dame, u kan dit nie op die vlug vat nie.” Die amptenaar lyk soos die meeste amptenare op die meeste lughawens lyk. Of ten minste dié wat Jennie al teengekom het. Elke tweede een van hulle was òf stuurs òf oorbewus van die belangrikheid van hulle taak.

“Hoekom nie?” Sy kan voel hoe word haar nek warm van verleentheid. Sy verbeel haar die haastige mense agter haar in die ry se oë brand die rooi nek nog rooier.

“Dis ‘n wedding-dress in die sak, nè? Mevrou kan nie ‘n wedding-dress as handbagasie neem nie.”

“Wat stel jy voor doen ek nou daarmee?” Die laaste paar weke se spanning haal haar skielik en dramaties in. Sy is tot haar siel in moeg vir mans wat vir haar vertel wat sy mag en wat sy nie mag nie. “Dit hier los vir jou om later te verkoop?”

Die man se oë trek nou van verontwaardiging. “Beskuldig Mevrou my altemit van korrupsie?”

Oeps, netnou beland sy met trourok en al in nog dieper moeilikheid as waarin sy alreeds is. Die verkeerde kant van jou gewese verloofde en julle albei se uitgebreide families is erg genoeg, dankie.  “Jammer, Meneer, dit het verkeerd uitgekom. Die laaste tyd was bietjie rof.”

Onverwags glimlag hy. “Is mos maar so met die bruide. Voor die tyd die jitters en dan lyk julle soos ‘n prentjie op die groot dag.” Hy het toe sowaar ‘n romantiese hart.

“Daar gaan nie ‘n groot dag wees nie. Die troue is afgestel.” Sy sê dit hard en duidelik, sodat al die nuuskieriges in die rondte ook sommer deeglik kan hoor.

Die amptenaar se gesig versag in simpatie. “En nou’s jy op pad terug huis toe?”

“Jip.” Sy is verby verleentheid. Sy is verby omgee. Laat die tyd net verby gaan. Laat die lewe net iewers weer normaal word.

“Ag foeitog, het die man jou verneuk?” Dis die ronde tannie agter haar wat onverwags praat.

Toe sy omkyk, is sy omring deur ‘n halfmaan simpatieke gesigte. “Nee,” kan sy eerlik sê. “Hy’t my ook nie geslaan nie. Maar hy’s nie vir my bedoel nie. Ek kon net nie voortgaan met die troue nie.”

“Better safe than sorry,” sê ‘n lang vrou met baie ringe.

“Juffroutjie, dan hoef jy mos nie die rok soos ‘n precious ding te behandel nie. As die stewards met jou sukkel, vou jy die ding op en druk hom in die bagasierak. Ek het net gemeen jy sal hom nie op jou skoot kan hou soos ‘n jacket of ‘n jersey nie.”

“Dankie, Meneer. Jy het toe sowaar ‘n hart.” Sy is lus en omhels die man, maar sy volstaan maar liewer met ‘n vlugtige aanraking van sy hand en ‘n dankbare glimlag na die geduldige siele agter haar.

“Elke mens het ‘n hart, my kind.” Dis weer die ronde tannietjie. Haar oë is sag, haar blik alles behalwe veroordelend. “Ons is net meestal te bang om hom te wys. Te bang vir seerkry, sien?”

Jennie stap met haar kop omhoog en die gewraakte rok kasueel oor haar arm vliegtuig toe. Daar is nog goedheid in die wêreld oor.

 

In die kajuit wag daar egter weer teenstand. “You cannot take this into the cabin.” Die lugwaardin het te veel grimering aan. Dit lyk of sy kan kraak as sy glimlag. Seker dié dat sy dit ten alle koste vermy. “We don’t have space to hang it.”

“I’ll put it in the overhead locker,” belowe sy vinnig. Die mense agter haar gaan sekerlik nie onbepaald geduldig wees met al die vertragings wat sy veroorsaak nie.

“But you’re gonna ruin it,” waarsku die waardin verontwaardig.

“I don’t mind ruining it.” Sy glip verby, soek naarstigtelik na haar sitplek. Al wat sy begeer, is om onsigbaar en anoniem in haar ellende te versink. En om nie meer die blerrie rok soos ‘n albatros oor haar arm te dra nie.

By haar sitplek wag die volgende uitdaging: Sy is te kort om die rok behoorlik in die oorhoofse rak te druk. En sy weet voor haar siel die ander passasiers kyk met afgryse hoe sy al die spasie inneem.

“Wag, ek help jou. Jy sê dit maak nie saak as dit so effens verdruk anderkant uitkom nie?”

“Glad nie.” Sy moet haar nek agteroor knak om die man in die gesig te kyk. Sy lang arms maak korte mette met haar probleem. “Dankie.” Die man was deel van die kringetjie omstanders in die ry agter haar. Sy glimlag is gemaklik, sonder opdringerigheid. Sy hoop maar sy kan ook weer eendag so gemaklik glimlag. Maar nie vir ‘n ander se verknorsing nie; vir dinge wat regtig snaaks is.

“My plesier.” Hy sit teen die paadjie, sy in die middel langs hom. By die venster is alreeds ‘n ernstige Oosterse sakeman met ‘n blink swart pak, blink swart skoene en blink swart hare.

Jennie maak haar gordel vas en haar oë toe. Hoe gouer almal in die rondte die boodskap kry die vertoning is nou verby, hoe beter.

Dit werk net tot hulle in die lug is. “Verskoon my, maar wat het hy gedoen?” vra die lang man langs haar.

“I also want to know.” Die Oosterse sakeman glimlag skaam. Dis duidelik nie in sy aard om vreemdelinge oor hulle skandes en skades uit te vra nie, maar hy voel dis die uitsondering werd.

Jennie haal diep asem. “Hy het my hond laat uitsit.” Daar, dis gesê. Die rede waarom sy haar troue gekanselleer het. Die rede wat niemand kan verstaan nie.

“Could you repeat in English, please?”

Sy wens sy het meer tale geken, sodat sy dit in elkeen kon herhaal. Want die oomblik toe sy dit hardop sê, maak dit vir haar sin. “My fiancée had my dog put down.”

“Is dit al?” vra die lang man verstom.

“But why?” snak die Oosterling.

“My hond was oud en swak,” verduidelik sy in Engels. Dis nogal ironies dat sy tot op hierdie stadium meer dikwels huil oor haar Tammy-hond as oor haar gewese verloofde. Dalk bluf sy haarself, dalk is haar trane oor veel meer as die dierbare ou hond. Haar werk, haar lewe het sy opgegee om in Gauteng te gaan trou. En hier gaan sy – druipstert terug Kaap toe.

Die man se oë kyk sag na haar. “Maar nog nie oud en swak genoeg om aan die slaap te maak nie?”

“Presies.” Gerhard kon nie insien dat sy nog wou wag nie. Gerhard wou hom nie op sy wittebrood oor ‘n ou, swak hond bekommer nie. Gerhard wou nie sy huwelik met ‘n derde persoon(likheid) in die verhouding begin nie. Want Gerhard wil al die aandag vir homself hê. Sy het dit so ampertjies te laat agtergekom.

“Het jou hond nog goed geëet? Nog self beweeg? In haar omgewing belang gestel? Op jou stem gereageer?”

“Ja,” knik sy. “Ja, ja, ja. Maar sy het al pyn gehad en swaar geloop.”

“Blaasbeheer nog oukei?”

“Jip.” Sy probeer die verdwaalde traan ongemerk wegvee. Sy behoort teen hierdie tyd droog gehuil te wees.

“Dan was dit te gou. Maar was dit genoeg rede om die troue te kanselleer?”

“Hy het dit gedoen teen my uitdruklike wens. Sonder om my vooraf te laat weet. Hy  het net eenvoudig vir Tammy gevat toe ek nie by die huis was nie …” Sy kry nie meer die trane gekeer nie. “En hy kon glad nie verstaan hoekom ek so ontsteld is nie. Ek kan nie met so ‘n man trou nie.”

Die lang man se hand rus ‘n vlugtige oomblik oor hare. “Jy’s reg. Mens weet nooit watter besluit hy dalk volgende namens jou kon neem nie.”

“Jy verstaan? Jy dink nie ook ek is mal nie?” Sy gryp die hand vlugtig vas, los dit dan weer verleë.

“Ek verstaan baie goed. My eks kon nie my honde verduur nie. Vir diereliefhebbers is sulke goed belangrik.”

“En jy het haar daaroor gelos?”

“Nee, darem nie, maar dit het my van ander gevaartekens bewus gemaak.” Sy oë maak kreukeltjies as hy glimlag. Hy is ‘n man wat maklik glimlag.

“Dit was presies so met my. Skielik het ek ‘n klomp goed raakgesien wat ek voorheen geïgnoreer het.”

“Dan is dit beter so.”

“Hoe weet jy so goed na watter faktore om te kyk om die besluit te neem?”

“Ek is ‘n veearts. Ek moet amper daagliks iemand met daai besluit help.”

“En dit dan uitvoer.” Wat ‘n vreeslike werk om te doen.

“Jip. Swaarste ding in my beroep. Maar net as ek én die eienaar oortuig is. Dan sien ek dit as ‘n daad van genade.”

Jennie se gespanne lyf verslap. Meteens verstaan sy glashelder. Genadedood, dis wat sy haar huwelik toegedien het, nog voor dit ‘n huwelik was. Pynlik, maar die beste vir almal.

“En ek sou geweet het as dit tyd was vir Tammy?”

“Jy sal.” Soos sy geweet het dis tyd vir die verhouding.

Sy laat haar kop agteroor sak, sluit haar oë. Maar sy bly bewus van die lang man se lyf langs hare. Die man wat weet wat genade is.

2 gedagtes oor “Kortverhaal: Die trourok

  1. Baie dankie …baie mooi storie….niemand sal ook aan my hondekinders vat nie…mooi dag vir jou

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s