Valentynsbruid

Valentynsbruid is nie heeltemal uit my duim gesuig nie en het in Trisa Hugo se My kort vir jou sop verskyn, waarmee sy geld ingesamel het vir liefdadigheid. Die boek vol heerlike kortverhale van ‘n groot aantal skrywers is steeds spotgoedkoop op Amazon te kry by https://www.amazon.com/s?k=my+kort+vir+jou+sop&i=stripbooks-intl-ship&ref=nb_sb_nossMy kort vir jou sop

Ag aarde, ek het vanoggend te lank gedraai, tyd gemors met onbenullighede. Soos wilde rockmusiek op YouTube, nie heeltemal geskik vir ‘n gryse ouma nie. Dis nou volgens my waardige dogters. Nou sal dit jaag kos om die eetgoedjies vir Valentynsdag betyds by die skool te kry. My effens bedorwe laatlam skaam haar dood as Ma alweer laat is. Dis haar eerste jaar van skoolhou, sy bou kliphard aan haar beeld. Haar beeld is vir haar baie belangrik.

Haar ma het nog nooit ‘n beeld gehad nie. Dis nou volgens haar.

Ek trek my funky pienk Skedonkie lekker bý die voordeur van Emma, die engel wat die eetgoed verskaf. (Ek is nie gebore in staat om eetgoed vir so ‘n okkasie te produseer nie – en dis maar een van my vele tekortkominge.) Deur die genade is Emma nie self tuis nie. Mavis is die gewilligste helper. Ons twee wikkel flink kar toe met die keurige borde eetgoed. Mary waggel waardig en krities agterna, haar hande sereen onder haar ruim boesem gevou. Ek sit die skinkbord met pasteitjies en worsrolletjies mooi stewig op die vloer voor die passasiersitplek. Ons bekyk die verdere opsies deeglik, besluit na behoorlike oorweging op die agterste venster vir die ander twee borde met fyn vis-ietsies en frikkadelletjies en nog allerhande mooi en lekker fieterjasies.

Ek trek versigtig weg. Daar’s nie baie tyd nie, om die minste te sê. Ek vat die kortpad bultaf in plaas van die lang pad bultop. Op die skuinste by die groot siersteenhuis hoor ek ‘n vreemde skuifgeluidjie. So tjiet … Met die tweede tjiet! kyk ek om. Berge val op my, heuwels bedek my.

Of liewer, miniatuur frikkadelletjies val op my, slaai en tamaties bedek my.

Ek probeer nog stadig rem, maar dis te laat. Hopeloos te laat. Die skuinste het reeds sy tol geëis. Voor my doem die dorpie se hawe met plesierbote en rooigebrande toeriste op. In my geestesoog ploeg Skedonkie ‘n pad deur hulle tot in die malse groen see en verdwyn spoedig sodat net ‘n paar verlate slaaiblare op die deining bly wieg. Ek strek ‘n wanhopige linkerhand met verwilderde gespreide vingers na agter uit. ‘n Klein tsoenami van vleisies en repies blaarslaai vlieg tussen my vingers deur.  Genadiglik is die voorste passasiersitplek ver terug geskuif. Die rugleuning kaats die kosgolf terug tot die meeste daarvan weer min of meer in die rigting van die skinkbord tot ruste kom.

Paniekerig jaag ek die entjie terug, spring uit die kar en roep: “Mary, Mary, ek het ‘n vreeslike fokop gemaak!”

Inderdaad.

Bedroë oorhandig ek drie borde vol chaos aan die vier vaardige hande.

Mary is die moer in. Sy stel dit nogal mooi: “Die goed wat ek vanmôre met ‘n lekker hart gemaak het.” Ek kners op my tande en wend my maar liewer tot die opruim van die ramptoneel. Voor in die motor is die skade nie te groot nie. Net enkele verdwaalde missiele het die vloer getref. Agter lyk dit minder goed. Ek steek my lang arms onder die sitplekke in en kom te voorskyn met etlike fondse wat ‘n mens nie normaalweg onder motorsitplekke kry nie. Genadiglik het ek myself netmooi gister te buite gegaan en Skedonkie ordentlik skoongemaak. Dit moet sekerlik ‘n bestiering wees. En ja, die vis-ietsies is inderdaad heerlik. So ook die enkele verdwaalde frikkadelletjie. En die ewe verdwaalde velletjie ham.

In die kombuis het Mary haar woede oorwin – sover ek kan agterkom – en is hulle flink besig om die saak te beredder. Met bewonderenswaardige resultate. G’n mens sal enigiets vermoed van die toertjie wat hierdie kos sopas onderneem het nie.

Les vir jong bruide: Sorg áltyd vir ekstra blaarslaai en tamaties in jou yskas. En ‘n botteltjie rooi uitjies. O ja, en maak jou motor af en toe behoorlik skoon. Of leer die bruidegom van die begin af om dit te doen – solank hy nog gewillig is om dié soort dingetjies aan te leer. (Glo my, dit hou nie.)

Vyf minute voor die pouse moet begin, trek ek waardig weg met my kosbare vrag. Mary sit op die agtersitplek met die gerestoureerde vleisbord stewig op die skoot, haar oog ferm en onwrikbaar op die vis-ietsies langs haar op die sitplek. Ek vee die angssweet van my voorkop af.

“Hier gaan die bruid!” lag Mary, haar ergernis vergete, “Die Valentynsbruid!”

4 gedagtes oor “Valentynsbruid

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s