Hier is die ervaring van dapper depressievegter Adele Vorster ten opsigte van die behandeling van geestesiektes selfs by gerespekteerde hospitale waartoe die geseëndes met ‘n mediese fonds toegang het. Ek plaas dit in haar eie woorde en met haar toestemming, met die hoop dat dit iemand sal bewus maak van die stigma wat nog aan geestesiektes kleef en die groot skade wat mediese werkers én gewone mense uit onkunde kan veroorsaak. Intussen het Adele voortgegaan om die saak op te volg en ‘n uitnodiging gekry om met die ambulansmense te gesels. Dis ‘n voorbeeld van die goeie dinge wat kan gebeur as ons praat oor die slegte dinge wat ons ervaar.
Ek het hierdie week weer besef hoe moeilik dit is om goeie mediese sorg vir ‘n geestessiekte te kry, AL het jy ‘n mediese fonds. Ek het besluit ek gaan my storie wyd en syd verkondig in die hoop dat daar iewers een persoon in die mediese bedryf is wat dit sal lees en die volgende keer wat hul met ‘n beangste en psigotiese pasiënt werk daardie persoon met respek en empatie sal hanteer en nie met ongeduld en walging nie. En bo alles dat hul nie vir daardie persoon sal lag nie. Hoe wreed is dit om vir iemand wat in so toestand is te lag?
Ek het my Maandagaand in ‘n slegte toestand bevind. Ek het ‘n vriendin gebel en sy het vir my ‘n ambulans gebel. Ek kan nie alles onthou nie, maar ek onthou dele. Ek onthou hoe ek op die trap van die huis gesit het en myself natgepiepie het. Dan onthou ek twee ambulansmanne wat vir my lag. Ja, lag. Ek onthou ek het die een gevra om asseblief vir my te tel. Ek het nie geweet wat is waar en wat nie en wou desperaat seker maak ek verbeel my nie alles nie en gaan nie totaal in die psigose in nie, want wat as ek hierdie keer nie weer terugkom nie? Ek het gesien hoe die een ambulansman vir die ander een kyk en lag toe ek hom vra watter kleur my pajamatop is. Hoe weet ek jy is werklik? vra ek hom. Volgende onthou ek hulle stamp my seer want ek is te groot om op die stretcher te pas. Stamp stamp. Die ambulansbestuurder bel iemand en ek hoor hom weer lag. Wat is op my beursie? vra ek. Hoe weet ek ek verbeel my nie hierdie rit nie? Ek kan hierdie angs nie beskryf nie.
Volgende flash: ons is by die hospitaal. Netcare Universitas sê hulle vir my. Ja, ek noem die naam om te name en shame. Dinge is steeds so deurmekaar. Iemand baklei met my oor my mediese fonds. Ek praat met myself. Ek sê Adele, as jy al ooit in jou lewe baklei het dan is dit NOU. Jy het te ver gekom om die waansin nou te laat oorneem. Komaan, Adele, bly by nou. Bly by nou. Daar is ‘n uiters ongeskikte vrou wat my vorms laat teken, maar ek weet nie hoe of wat om te skryf nie. Ek sien weer die ambulansman, hy lag nogsteeds. My bene ruk. Hoekom het jy my gevra om te tel? vra hy. Want ek probeer desperaat by nou bly sê ek of dink ek, nie seker nie. Die vrou van die vorm sit voor ‘n rekenaar, sy kyk met disgust na my pajamas, kaal voete en sien ek het myself natgepiepie. Daar is ‘n grys dokter, kort dokter. Hy praat oor toe hy in die weermag was? Daar is ongeduldige verpleegsters. Iemand sê of vra: Is dit ‘n ou bietjie depressie? Ek lê. Op ‘n stadium loop ek. Sit by ontvangs. Ek moet huis toe gaan, hier is nie hulp nie. En ek is bang hul spuit my in en dan moet ek vir dae slaap en kan nie beweeg nie. Nee, nee. Ek moet baklei. Die gryskopdokter vra vrae, kan nie onthou wat. Ek gaan lê maar weer op die bed. Ek is papnat gepiepie, niemand gee om nie. Lê en lê en lê. Ek kry ‘n vriendin gekontak. Sy klim in haar kar en kom na my toe. Ek huil van verligting, ‘n bekende gesig. Dan is hierdie dalk tog nie ‘n droom nie. Nog vrae van dokter. Trek bloed. Na nog ‘n ewigheid ‘n drup en pille. Als is steeds ‘n droom.
Almal hanteer my of met disgust of hulle lag soos die twee ambulansmanne.
Ek vat die ambulansman se hand, ek sê vir hom: Belowe my een ding. Volgende keer as iemand jou vra om vir hulle te tel doen dit asb. Dis dalk die enigste ding wat hul anker. Kan nie onthou of hy geantwoord het nie.
Vir die verpleegpersoneel, dokters en adminassistente en vir die twee ER24-ambulansmanne: Weet asb dat hoe “mal” iemand ookal is, ‘n deel van hulle kan hoor en sien. Weet julle hoe skaam ek gekry het oor julle gelag? Julle is wreed!
Ek gaan dit nie hier los nie. Ek gaan praat en praat en praat totdat mense soos julle psigiatriese pasiënte met waardigheid, respek en empatie hanteer. Ek gaan name en shame.
En ook dankie sê vir die twee susters wat my wel so hanteer het, die een wat bloed getrek het en die een wat my drip opgesit het, wat my met menswaardigheid hanteer het.
En ook dankie aan my vriendinne vir hul bystand.
Dit gaan nou baie beter en ek is weer fighting fit. Sodat ek kan baklei vir die regte van psigiatriese pasiënte wat nie vir hulself kan baklei nie. Want ek is die bliksem in.
Sjoe, watter riller van ‘n ervaring! Baie bly sy is anderkant uit en die bliksem in. Mag dit haar krag gee om te baklei vir deernis en menswaardige behandeling! Mag daardie twee susters ryklik beloon word vir hulle empatie.
Ek is bly jy het hierdie gedeel, Alta. Baie sterkte aan Adele.