Amper ‘n jaar gelede het ek eindelik ingegee en my in ‘n kliniek vir depressie laat opneem – een van die beste besluite van my lewe. Hieronder is die stukkie wat later daaroor in rooirose verskyn het. Dis baie persoonlik en dis steeds moeilik om dit te deel, maar ek doen dit in die hoop dat dit iemand wat op die rand van ‘n afgrond staan, kan help om ook daardie stap te neem.
NS. ‘n Vriendin het vir my dié blomme gestuur. Ek was een van die min pasiënte wat blomme gekry het – terwyl gewone hospitaalkamers gewoonlik oorloop van blomme. Dit sê iets oor die stigma wat nog aan opname vir geestesiektes kleef. Dis elkeen van ons se plig om teen daardie stigma te veg.
“Ek kan nie, ek kan nie!” Ek staan op my knieë langs my bed en skree magteloos in die matras in.
Op hierdie stadium is daar heelwat goed wat ek nie meer kan doen nie. Ek kan nie meer maklik lag nie. Ek sukkel om dankbaar te wees. Ek vind dit moeilik om op te hou as ek trooskos te ete kry. Ek kan kwalik die energie bymekaar skraap om soggens uit die bed te kom. My woorde het opgedroog, ek is nie meer ‘n goeie geselser nie.
Net my goeie man sien my in my nood, maar hy is magteloos om my te help.
Ek weet lankal dis net ek wat myself kan help. Vir jare het ek dit redelik goed reggekry, soms selfs uitstekend. Leefstylkeuses het ‘n groot invloed op depressie. Wat jy eet, of jy oefen, of jy iets doen wat jou lewe sinvol laat voel, of jy goeie menseverhoudings het, dit alles kan depressie ligter maak.
Maar ek is op die punt waar dit nie meer help nie. En dis hoekom daar op my rekenaar in die Google-blokkie staan: suicide methods.
Ja, dis alles daar: die verskillende metodes, die suksessyfers (wat ‘n vreeslike gedagte), die voordele en nadele van elke metode. En dis waar ek my Moses teenkom: Ek kan dit eenvoudig nie doen nie. Dis te moeilik, die kans op mislukking is te groot. Ek is te bang, of nie dapper genoeg nie, of nie desperaat genoeg nie. Ek kan dit net nie doen nie.
Dis my dilemma: Ek wil nie meer lewe nie. En ek kan nie ophou nie.
Ek weet nie hoe lank ek daar op my knieë gestaan het nie. Na minute of ure het ek my selfoon in die hande gekry, die psigiater se nommer gebel en miskien die belangrikste woorde van my lewe gefluister: “Ek het hulp nodig.”
Die volgende middag staan ek soos in ‘n droom in my kamer in die kliniek. Die kamer waar ek nie wil wees nie. Want ek moet dit met drie ander vrouens deel. In die kliniek waar ek nie wil wees nie. Daar is baie redes: Dis nog steeds vir die meeste mense ‘n skande. Ek is alleen tussen vreemdes. Daar is allerhande aktiwiteite waaraan mens verkieslik moet deelneem. Ek wil aan niks deelneem nie. Ek wil my kop toetrek en wegraak in die groot niks. Maar ek het tot hier gekom, ek moet nou eenvoudig verder.
Dis ‘n vreeslike gevoel om weer ‘n koshuiskind te word, verlore in ‘n nuwe groep. Gelukkig lyk almal rondom my min of meer netso verlore. Ons kyk versigtig na mekaar, wonder oor mekaar se stories, aanvanklik te bang om uit te vra.
Die kos is heerlik. Met elke teetyd is daar iets lekkers. Ons leef van etenstyd tot teetyd tot etenstyd. Ons staan elke oggend in ‘n ry om ons bloeddruk te laat neem. Ons staan saans in ‘n ry om ons selfone in te gee. Ons lê langs mekaar op ons matrassies vir ontspanningsoefeninge. Ons tree skrikkerig aan vir skeppende aktiwiteite. Ek maak dit duidelik dat ek nie arts en crafts doen nie. Ek kan dit nie doen nie en ek wil dit nie doen nie. Maar ek is nou eenmaal hier. Ek moet maar doen wat daar te doene is.
En stadig gebeur dit: Ek raak tuis. My kamermaats word vriendinne. Hulle Kaapse Afrikaans en humorsin kikker my op. Ons vertel versigtig deeltjies van ons stories vir mekaar. Ons maak allerhande goetertjies in die skeppende klas – en ek kom agter dis eintlik nogal lekker. Ons staan saans in ‘n ry om ons medikasie te ontvang en ek skaam my glad nie meer nie.
Ek kleur ‘n prent in. (Ek haat eintlik inkleur.) Ek bou ‘n legkaart. (Ek haat eintlik legkaarte.) Ek neem deel aan twee drumming sessies. (Ek is nie juis musikaal nie.) Ek voel gekoester as die versorgers snags met hulle flitsliggie kom kyk of ons slaap. (En eet sjokolade onder die duvet terwyl ek my oë styf toeknyp vir daai flitsliggie.)
My hart gaan oop vir die mense rondom my. Jonk, oud, dik of dun, ons is almal weerloos in ons swaarkry. En dapper, elk op sy/haar eie manier.
Na ‘n week weet ek dis tyd om huis toe te gaan. Ek huil toe ons wegry, want ek wil nie my maters los nie. Ons gaan drink koffie in die son en die wêreld gaan steeds sy gewone gang, onaangeraak deur die verskuiwing wat ongemerk in my plaasgevind het.
Want in my het iets verander. Ek weet nie presies wat en presies waarom nie. Ek weet net alles is nou ligter, helderder, sinvoller.
Ek leef nie meer omdat ek te bang is om te sterf nie. Ek leef weer omdat ek graag wíl lewe.
Dis steeds nie maklik nie. Daar kom donker dae. Maar ek vind altyd weer my brokkie son. Ek het weer krag vir my stryd teen die Groot Donkerte. Ek wil weer leef. Met nederigheid en groot dankbaarheid.
Liewe Alta
Ek het jou fb-bekendmaking gelees dat jy na ‘n kliniek toe gaan en het sedertdien baie aan jou gedink. Ek is verwonderd dat jy so kreatief kon wees al die jare terwyl jy ‘n donkerte in jou gemoed moes beveg. Dankie dat jy jou ervaring deel – ek is seker baie van jou lesers put daaruit moed vir hul eie stryd, van watter aard ook al. Ek wens ons kon die Gariep- en ander Romanzakuiers weer oorhê – dit was wonderlike tye. Liefde Ida
Alta, dankie vir hierdie wonderlike skrywe wat jy weer geplaas het. Ek moes dit vanoggend lees.
Ek is baie bly as dit vir jou iets beteken het!