Hendrik skiet uiteindelik ’n sluwe rondloperhond. Die eerste koeël mis rakelings, maar die tweede is sekuur. Nou is die oud-soldaat in ’n goeie bui. Dit is byna Kersfees en dinge tussen hom en Amalia wil-wil lyk of dit kan uitwerk.
Toe gebeur dit: Die plaaslike speurder, Buthelezi, daag op en slaan Hendrik in boeie. Die klag? Sy buurman se seun is dood en daardie opslagkoeël word verdink.
Dadelik word hierdie insident ’n rasse-voorval, want die seun is swart. Die gemeenskap is woedend en die onbevoegde blanke speurder wil wys dat hy nie ’n wit man sal laat wegkom met moord nie.
Hendrik weet hy het die seun nie geskiet nie, maar hoe bewys hy dit?
Die teks is briljant, want so gereeld gebeur dit dat stinkryk mense wegstap van ’n moordsaak op grond van tegniese punte. Die publiek voel dan verraai. Nou gooi Breytenbach die leser in die diepkant in, want ons het simpatie met Hendrik, maar die redes waarom die reg nou skynbaar onreg pleeg teenoor hom, is presies dieselfde wat ons as gewone sterflinge vra wanneer tegniese detail in hofsake ter sprake kom.
Saam met Hendrik beleef ons magteloosheid in die stinkende tronk- en hofselle terwyl die regslui en die polisie kibbel.
Breytenbach is ’n regsgeleerde en met hierdie boek sleep sy die leser saam met haar. Dit is ’n naelbyter, want natuurlik wil almal weet hoe die seun gesterf het. Gaan Hendrik oud word in die tronk?
Stukkie vir stukkie word die gebeure aanmekaar gelas en die reg se tentakels word beleef soos nog nooit te vore in Afrikaans nie.
Dibi Breytenbach se eerste twee boeke was goed. Hierdie een plaas haar onder die voorste krimiskrywers in ons land. Heiliger sal ewe goed verstaan word in plekke soos die VSA waar die onreg van die regsproses dikwels afhang van ’n mens se geld, aldan nie.
LAPA Persvrystelling
Ek gaan dit lees!!!