RSS

Afskeid en verlies …

21 Jun

My gedagtes pas na die afskeid van my geliefde Hilde-hond – met behulp van wortelkoek en cappuccino … Kromrivier 006

Vandag weet ek opnuut: Verlies is deel van die lewe.

En: As jy liefkry, stel jy jou bloot aan seerkry.

Ja, ek weet ek het nie alleenreg op hierdie inligting nie. Die mens weet dit al eeue der eeue lank.

En tog hou ons aan om dinge – en mense – om ons te versamel.

En nie net te versamel nie, maar lief te kry.

Iewers diep binne glo elkeen van ons blykbaar steeds ons sal ‘n manier vind om die onafwendbare te systap.

En dis ons redding.

Want wat is die alternatief? Om op jou bed (as jy ‘n bed het) te gaan lê en vir die houe van die lewe te wag?

Nee, die meeste van ons kry dit reg om voort te stoom ten spyte van wat moet kom. (Wanneer depressie kom oorneem, verloor ons daardie energie om voort te gaan. Maar dis ‘n ander storie.)

Maar af en toe bring die lewe jou tot stilstand en raak jy opnuut bewus van die harde waarheid: As jy jou enigsins oopstel vir die lewe, is pyn onvermydelik.

Vandag is dit my hond wat ek verloor het.

Natuurlik was sy die slimste, mooiste, dierbaarste brak wat nog ooit gelewe het.

Dis baie swaar, maar ek kon ten minste die besluit neem wat haar verdere lyding gespaar het.

En ek kan hard probeer om te onthou wat ek altyd (met my tong deeglik in die kies) gepredik het: Dis net ‘n dier; dis nie ‘n mens nie.

In my geliefde Springsteen se woorde oor die belangrikheid én nietigheid van sy musiek: “It is only rock and roll, but it feels a lot like love.” Ja, Bruce, it was only a dog, but the love was very, very real. (En ja, hy het ook wolfhonde. Sowaar.)

Ek dink ook aan Hannah Cornelius se ouers se wyse woorde met dié strekking: As ons moet aanhou dink hoe sy gesterf het, gaan dit ons die afgrond in stuur. Ons kies om die mooie te onthou.

Ek hoop met my hele hart hulle kry dit reg.

En ek kies ook om die mooie te onthou.

My hond se oorweldigende liefde. Haar onvoorwaardelike vergifnis. Hoe ongelooflik móói sy was. Die intelligensie, die entoesiasme, die lewenslus, die spelerigheid, die vertroue.

Ek onthou ook (onder andere):

My ma se sagte ou stem.

My een suster en haar boerbokke.

My ander suster se hok vol konyne waarin ‘n alleen-dogtertjie kon dink en droom.

Nog ‘n suster (Ja, daar was 5!) se “Wag, laat ek jou net gou hierdie een vertel” aan die einde van ‘n gesprek.

Die trots waarmee my nefie vir ons sy Merino-ramme gewys het.

Die ondeunde seuntjie wat sy ouboet eens was.

My ou swaer se goedige irritasie met my antwoordmasjien.

En baie, baie meer.

Daar is ook dinge waaroor ek bitter jammer is. Soos elke harde woord wat ek as ongelukkige tiener teenoor my ou moeder geuiter het.

Daar is ook dinge waaroor ek woedend is. Ek is kwaad vir telers wat deur generasies heen honde teel vir ‘n sekere voorkoms en dan groot gesondheidsprobleme inteel. En ek is bitter kwaad vir elke kankersel in die wêreld, vir daardie enkele bosluis wat Kongokoors oordra, vir hartaanvalle en vir die ouderdom.

Maar nou gaan ek eers in die bed klim en die hartseer en die woede en die berou met ope arms verwelkom.

Vir ten minste ‘n uur.

Dalk moet ek sommer dadelik daarna ‘n nuwe romanse begin. Want dis die een plek waar mens die storie kan stop vóór die verliese toeslaan.

Hier is die Pinterest-blad vir my nuutste stukkie ontvlugting wat pas deur LAPA goedgekeur is: https://za.pinterest.com/altacloete/uitgelewer-aan-die-liefde/

Advertisements
 

Sleutelwoordw: , , , , , ,

2 responses to “Afskeid en verlies …

  1. Lewies Mymer

    24/06/2017 at 16:45

    Sal mens jouself die vreugde van ‘n geliefde hond ontse omdat jy eendag se afskeid vrees? Mens sal baie armer wees.

     
    • Alta Cloete

      24/06/2017 at 19:56

      Jy is heeltemal reg, Lewies. Soos mens nog veel armer sal wees as jy nie mense na aan jou toelaat nie uit vrees vir die afskeid.

       

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: