Droogte en waterskaarste: dieselfde ding?

Picture 304Hier is die eerste deel van my en Naomi Meyer van Litnet se gesprek oor die watersituasie in ons land en veral in die Wes-Kaap:

Droogte. Beteken dit vir jou dieselfde as waterskaarste? Brei asseblief ’n bietjie hierop uit. Ook jou emosies en gedagtes hieromtrent. En kinderdaeherinneringe, waar jy grootgeword het en hoe jy dit toe ervaar het.

Ek het in die Karoo (Sutherland se wêreld) grootgeword, waar droogte deel van die lewe was en steeds is. Ek onthou hoe my ma in ’n skielike donderbui gehardloop het om haar kuikens te red en dié woorde geuiter het: “Te veel reën is nog erger as te min.” Vandag kan ek daaruit aflei dat sy – soos ek – gewoond was aan periodieke droogtes, maar nooit aan ’n lewensbedreigende waterskaarste blootgestel was nie.

Ek het grootgeword met die besef dat water kosbaar is en altyd spaarsaam gebruik moet word. Vir my is die wenke wat nou gegee word, soos dat jy nie die ketel moet vol tap vir een koppie tee of dat jy die kraan moet toedraai terwyl jy jou tande borsel, hopeloos te min, hopeloos te laat. Dit – en vele ander – is dinge wat in ons huis nog altyd gedoen is. My mening is dat ons nou veel drastieser maatreëls nodig het as hierdie goedjies.

Ons het in die ’70’s, toe ek kind was, natuurlik veel meer basies geleef. Ek besef nou die standaarde vir persoonlike higiëne was eenvoudig nie so hoog soos vandag nie. Ons het in Sutherland se koue in die koshuis slegs op sportaande warm water gehad. Die tussenin aande het ons ge-top&tail in die wasbakkies. Ek onthou dat ons in die winter die lou water uit ons warmwatersakke gebruik het om ons gesig te was. Ek het twee dae aan ’n skoolhemp gedra en hare is een keer per week met vars water uit die tenk gewas. En dan wat vandag vir ons amper ondenkbaar is: die toilet is nie gespoel vir elke klein piepietjie nie!

Ek dink die tyd is ryp om permanent terug te gaan na sommige van daardie ouer praktyke. Ons was destyds honderd persent gesond en gelukkig en beslis nie vuil nie. Cleanliness is next to godliness, dis waar – maar ons sal ons standaarde ’n ietsie moet laat sak, of andersins waterlose skoonmaakplanne maak. (Ek het onlangs gehoor van Saoedi-Arabië se hele vloot vliegtuie wat met ’n waterlose middel gewas word.)

Volledige gesprek by: http://www.litnet.co.za/waterskaarste-praktiese-wenke/

5 gedagtes oor “Droogte en waterskaarste: dieselfde ding?

  1. Ek staan verstom. Hier is soveel wenke gegee om water te bespaar! En elkeen maak sin. Ons bly langs Hartbeespoortdam, so ons is nie ingestel op water besparing nie. Maar hierdie gesprek het my oë, en brein, oopgemaak.

    1. Ek is baie bly as dit vir jou sin maak. Dis eintlik maar my manier om te keer dat ek sommer by voorbaat vergaan van angs oor wat die komende somer vir ons inhou. As mens besef hoeveel jy kan doen, voel mens mos bietjie meer in beheer. Ek hoop jy het Dibi Symington se stuk ook gelees – die skakel is in my stuk. Dis ook hier op my blog. Dis eintlik sy wat my aan die dink gesit het.

      1. Ek het nie gelees nie Alta; gaan hopenlik vandag ń tydjie kry want ek moet nog ń vorige keer sn van jou ook lees. Kleindogter by my vir ń paar dae, so ek kry omtrent nie gekonsentreer op ander dinge nie!

  2. Ek het by Didi gaan lees, en my oë is groot. Ons hier langs die Harties dam sukkel ook met water; ñ jaar of twee gelede was ons waterpype kort-kort leeg. Dan kom ñ swembad handig te pas. Maar dít wat julle van skryf, dít laat my maag draai. Didi se uiteensetting maak so sin, maar goeiste, dit maak my baie benoud.

    1. Dit maak my ook benoud. Maar aan die ander kant: Sy het dit deurleef en is nog hier om haar storie te vertel. Ons kan dus ook! (Hopelik!)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s