Min karakters het nog so hardnekkig by my gebly soos Willem en Sanet van Net ‘n mens. Met elke storm oor gaywees wat die media tref, besef ek weer eens ek het nie hulle swaarkry oordryf nie. Hulle stryd is fiksie, maar hulle stryd is ook werklikheid vir baie mense. Ook die uitweg van selfdood wat Willem gekies het, is ongelukkig alte dikwels die werklikheid vir gay mense. Riette Rust het my karakters deeglik verstaan. Hier is wat sy oorspronklik vir FMR oor Net’ n mens geskryf het:
Alta Cloete is bekend vir lekkerleesverhale. Hoewel sy al die jare romanses en liefdesromans skryf, is Net ’n mens en sy voorganger, Opdrag van oorkant, ietwat meer gewigtig. Dié skrywer skroom nie om seksuele en sosiale kwessies aan te spreek nie. Tog is Net ’n mens ’n toeganklike leeservaring. Ook ’n storie vol hoop.
Kort ná ’n bekende skrywer se dood, sterf sy uitgewer ook. Dit word duidelik dat Willem, sy prokureur, en die uitgewer se band nie bloot vriendskaplik was nie. Willem se vrou, Sanet, besef dat daar in haar huwelik iets op seksuele gebied skort, maar sy gee haar groot lyf die skuld en laat haar kosverslawing weer eens seëvier.
Die mense van die plaas Avondrust weet van Willem se homoseksualiteit, maar swyg daaroor. Wanneer Sanet se vriendin, Anneke, uiteindelik die bom loslaat, besef Sanet dat haar man tog nie so betroubaar, gelykmatig of vervelig was as wat sy geglo het nie. Was hy maar! dink sy dan.
Die egpaar se lewe val uitmekaar en hul moeilike kinders maak dinge nie juis makliker nie. Om nie eens van haar konserwatiewe, manipulerende ma, Susan, te praat nie!
Sanet se lewe verander drasties wanneer sy Willem se vriendekring beter leer ken. Daar is die sexy Lisa met die sagte hart wat kwyl oor een van Sanet se seuns; Cheryl-Anne Fortuin met die moeilike verlede en problematiese familie; asook die twee diep gelowige plaasvroue: die ietwat knorrige Theresa Beyers met die wilde hare en Anna Philander wat so graag groen Crocs dra.
En dan is daar Tessie, ’n wees dogtertjie met groot bruin oë, wat ten spyte van Sanet se opstandigheid deel word van haar grein – nes haar lyflike hunkerings en smagting na kos.
Dis opvallend dat die hoof- en newe-karakters elk op hul eie manier ontwikkel. In die proses skets Cloete ’n paar humoristiese tonele. Wat is tog beter as brandewyn om ’n partytjie in ’n plattelandse hotel mee op te kikker?
Daar is nie veel in dié roman wat pla nie, dalk net enkele clichés, soos “die bitter smagting van haar weerlose lyf”. En die woord “oriëntasie”. “Seksualiteit” is sagter en meer modern.
Met Net ’n mens sny Cloete nie net die werklikheid aan van ’n huwelik waarin ’n man eerder sal sterf voor hy bekend maak hy is gay nie, maar ook kwessies soos die letsels wat apartheid gelaat het. Sy slaag boonop meesterlik daarin om die wanpersepsies, hoekoms en skuldgevoelens rondom selfdood realisties en met medelye weer te gee. Tog word die verhaal nooit te swaar nie.
Op bladsy 268 word ’n seksuele ervaring met soveel deernis geskets, dit moet sekerlik een van die mooistes in Afrikaans wees.
Alta Cloete se skryftalent hoort nie gering geskat te word bloot omdat sy vir romantiese fiksie bekend geword het nie. Inteendeel. Net ’n mens is beslis die lees werd.
Alta, ek gaan moet lees…
Maak as en laat weet asb wat jou ervaring was!
Ek het ook die boek gelees en stem saam met elke woord van Riette se resensie. Sy vat alles so perfek raak.
🙂 x
Sodra ek weer by ñ boekwinkel uitkom, koop ek hierdie boek van jou. My liefste skoonsus en haar lewensmaat is deel van ons lewens. Ek het groter insig nodig, sodat ek my man ook bietjie kan help.
Ek is sommer lus en stuur vir jou die ekstra een wat ek nog hier het. Maar die posgeld uit die Boland sal seker iets ysliks wees?
Jasmyn hier by ons, sal jou boek hê. Ek gaan Maandag soontoe en hom koop.🌹
As hulle dit nie het nie, vra asb dat hulle dit bestel. So maak jy hulle bewus van meer boeke.