Elsa Winckler se vorige omnibus, Liefde langs die Eersterivier het lesers laat vra vir nog. LAPA het geluister. Hierdie omnibus bestaan weer uit drie van Elsa Winckler se vorige Romanzas: Waar liefde lê, Want daar’s skoenlappers en Heldergeel dag.
Waar liefde lê: In Lana se kort joernalistieke loopbaan vertrou die redakteur haar net met berigte oor celebs, tot sy die dag ’n kollega moet uithelp toe ’n omgewingskundige ’n lesing gee. Nie dat dit haar opgewonde het nie, want sy wil oor politiek verslag doen, nie oor “groen aktiviste wat bome loop en omhels” nie. Niemand het haar egter gesê hierdie groen aktivis is so lenig en het sulke blou oë nie; ook nie dat sy passie veel intiemer kan word nie. Hoe klink ’n klimekspedisie Kilimandjaro toe saam met ’n man wat nie net bome omhels nie? Die probleem is: niemand het vir hóm gesê Lana het ’n doodse vrees vir berge nie.
Want daar’s skoenlappers: Gemma is ’n mediese dokter en Nick ’n oorlogsfotograaf. Boonop is Gemma se broer met Nick se suster getroud. Hierdie twee aangetroude familielede het die talent om mekaar verkeerd op te vryf, want kort-kort is daar ’n uitval. Wat hierdie situasie ietwat eienaardig maak, is dat hulle nie hulle hande van mekaar kan afhou nie en gedurig in mekaar se gedagtes is. Toe Nick saam met ander oorlogsfotograwe in Libië gevange geneem word en Gemma terselfdertyd siek word in Haïti, is dit asof ’n onsigbare mag hulle na mekaar toe aantrek.
Heldergeel dag: Vir ’n wynmaker soos Cara is dit sommer ’n helderblou dag wanneer iets goeds gebeur. En ’n heldergeel dag wanneer daar nou regtig iets wonderliks gebeur. Met haar vriendin se broer, Henry, in die omgewing kan die geelste dag egter vaal word. In al die jare sedert sy hom leer ken het, kon hulle mekaar nie verdra nie. Of dink hulle net so omdat hulle eintlik te veel van mekaar hou? Die man se lang lys verskonings help Cara egter net mooi niks!